Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 8/22 bl. 19-27
  • Iets nuuts in internasionale konstruksie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Iets nuuts in internasionale konstruksie
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die vervulling van Bybelprofesie
  • Uitbreiding van die Koninkrykswerk
  • Die nuwe program voorsien in ’n behoefte
  • Hoe om vir diens te kwalifiseer
  • Vrouens se bydrae
  • Dankbaar vir die voorreg om te kan werk
  • Opslaankonstruksie
  • Ingenieurskantore
  • Onlangse konstruksieprojekte
  • ’n Behoefte word vroegtydig raakgesien
  • Voorbereiding vir toekomstige behoeftes
  • Verenigde bouwerk op wêreldskaal
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Julle móét dit eenvoudig doen”
    Ontwaak!—1991
  • Verenigde optrede vir wêreldwye bouwerk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Hulle dien die internasionale Christenbroederskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 8/22 bl. 19-27

Iets nuuts in internasionale konstruksie

BAIE mense word beïndruk deur konstruksieprojekte soos die Egiptiese piramides en die Chinese Muur. Moderne 400 meter hoë wolkekrabbers is eweneens ontsagwekkend. En tog is aspekte van ’n ander bouprogram net so verbasend.

Vrywilligers is tans besig met bouwerk aan tientalle reuseprojekte wêreldwyd. Die meeste van hierdie vrywilligers woon in die lande waar die geboue opgerig word. Maar aangesien bykomende hulp dikwels nodig is, het werkers uit ander lande al miljoene rande gespandeer om op eie koste na die vergeleë konstruksieterreine te reis. Baie van hierdie vrywilligers gee hulle vakansie prys om te werk; ander neem onbetaalde verlof by hulle werk en verbeur gevolglik ’n aansienlike inkomste.

Hierdie merkwaardige verlening van hulp is die gevolg van ’n internasionale program vir vrywillige konstruksiewerkers wat van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gekoördineer word. Sedert die begin van hierdie konstruksieprogram in November 1985 het meer as 3 000 mense al op eie koste na oor die 30 werkterreine in Noord- en Suid-Amerika, Australië, Afrika, Europa en verskeie eilande gereis.

Sowat 600 internasionale vrywilligers werk tans in naastenby 25 lande. Meer as 400 van hulle is op langtermyntoewysings van ’n jaar of langer, en hulle word “Internasionale dienaars” genoem. Die res is op korttermyntoewysings wat van twee weke tot drie maande duur.

Waarom bied al hierdie werkers hulle vaardighede en arbeid gratis aan? Wat beskou hulle as so belangrik dat hulle bereid is om hierdie persoonlike opofferinge te maak?

Die vervulling van Bybelprofesie

Die rede vir die wonderlike reaksie op die internasionale konstruksieprogram word gevind in die antwoord op ’n vraag. Meer as 1 900 jaar gelede het Jesus Christus se apostels vir hom gevra: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Nadat hy dinge soos wydverspreide oorloë, voedselskaarstes, pessiektes en aardbewings beskryf het, het Jesus gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:3, 14.

Die vrywillige werkers is oortuig daarvan dat Jesus se profesie nou in vervulling gaan. Daarom doen hulle graag alles in hulle vermoë om die verkondiging van die Koninkryk te bevorder voor die einde van hierdie stelsel aanbreek. Die internasionale konstruksieprogram is tot stand gebring sodat hierdie mense se pogings om fasiliteite te bou vir die druk en verspreiding van die Koninkryksboodskap gekoördineer kan word.

Uitbreiding van die Koninkrykswerk

Verlede jaar is 678 509 507 eksemplare van Die Wagtoring en die Ontwaak!, wat die aandag vestig op God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom, in fasiliteite van Jehovah se Getuies gedruk. Dit beteken dat heelwat meer as tweemiljoen tydskrifte—soos die een wat jy nou lees—elke werksdag gedruk word! Daar word boonop elke jaar tienmiljoene Bybels, boeke, boekies en brosjures gedruk en versprei.

Die grootste drukkerye is geleë by die internasionale hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, en verder noord naby Wallkill, New York. Maar in die vyftiger- en sestigerjare is daar ook baie drukkerye buite die Verenigde State gebou. Teen 1970 is Die Wagtoring en die Ontwaak! gevolglik by fasiliteite van Jehovah se Getuies in Duitsland, Suid-Afrika, Kanada, Engeland, Switserland, Denemarke, Finland en Frankryk gedruk.

Daarna, in 1972 en 1973, is daar ook begin om die tydskrifte in drukkerye van Jehovah se Getuies in ses ander lande te druk: Japan, Brasilië, Australië, Ghana, Nigerië en die Filippyne. In die daaropvolgende jare, namate die Koninkrykswerk toegeneem het, is daar begin om nuwe takkantore met selfs groter drukkerye te bou. Dit sal jou ’n idee gee van die tempo waarteen die uitbreiding plaasvind as jy in ag neem dat takkantoorkomplekse met nuwe drukkerye vir Die Wagtoring en Ontwaak! op die volgende datums toegewy is:

Griekeland, 16 Januarie 1979; Swede, 23 Desember 1980; Brasilië, 21 Maart 1981; Kanada, 10 Oktober 1981; Italië, 24 April 1982; Republiek Korea, 8 Mei 1982; Japan, 15 Mei 1982; Australië, 19 Maart 1983; Denemarke, 21 Mei 1983; Spanje, 9 Oktober 1983; Nederland, 29 Oktober 1983; Duitsland, 21 April 1984; Indië, 20 Januarie 1985 en Suid-Afrika, 21 Maart 1987.

Verder was daar toewydings van nuwe takkantore of van groot aanbouings aan ouer takkantore in Côte d’Ivoire, 27 Februarie 1982; Tahiti, 15 April 1983; Engeland, 2 Oktober 1983; Finland, 5 Mei 1984; Noorweë, 19 Mei 1984; Martinique, 22 Augustus 1984; Peru, 27 Januarie 1985; Mexiko, 13 April 1985; Venezuela, 21 April 1985 en Frankryk, 4 Mei 1985.

Hoewel dele van die konstruksiewerk aan ’n paar takkantore deur betaalde vakmanne gedoen is wat nie Getuies is nie, het Jehovah se Getuies oor die algemeen die meeste van die werk self gedoen. Hulle het by die duisende gekom om hulle dienste aan te bied, al het baie van hulle nie ervaring in die boubedryf gehad nie.

Namate die Koninkryksprediking van Jehovah se Getuies bly uitbrei het, was groter fasiliteite nodig. Hoe kon hulle doeltreffender gebou word?

Die nuwe program voorsien in ’n behoefte

Om die fenomenale groei van dié internasionale konstruksiewerksaamhede te organiseer en daaraan bystand te verleen, is die spesiale vrywilligersprogram voorgestel en ontwikkel. “Spesifieke ambagte word op spesifieke tye gedurende ’n konstruksieprojek verlang”, het een van die opsieners van die program verduidelik. “Jy het nie ’n dakwerker nodig wanneer die fondament gegooi word nie. Gevolglik is die kantoor vir internasionale werkers in Brooklyn, New York, gestig om die werksaamhede te koördineer.”

Die Brooklyn-kantoor tree dan as tussenganger op wanneer ambagsmanne nodig is. Dit voorsien in die behoeftes van die konstruksieprojekte oor die hele wêreld deur die nodige werkers na daardie konstruksieprojekte te stuur. Toe die aanbouings aan die woongebou van die takkantoor in Mexiko in 1988 byna voltooi was, is Brooklyn byvoorbeeld gevra om opgeleide tapytlêers te stuur. Binne enkele minute het die kantoor vier ervare tapytlêers gevind wat hulle diens met graagte aangebied het. Toe die tyd in Januarie 1989 aanbreek om die aanbouings by die takkantoor toe te wy, was die tapyte gelê en het hulle pragtig gelyk.

Hoe om vir diens te kwalifiseer

Voordat ’n werker aan die internasionale vrywilligersprogram kan deelneem, moet hy eers daarvoor kwalifiseer. Alle vrywilligers moet toegewyde, gedoopte Getuies van Jehovah wees. In die Verenigde State moet die voornemende vrywilliger eers by een van die fasiliteite van Jehovah se Getuies in New York dien. Dit skep ’n geleentheid om sy werkgewoontes en -vermoëns te evalueer. Daarna kan hy genooi word om ’n aansoekvorm vir die program in te vul. Hoewel voornemende vrywilligers se vrouens gewoonlik nie genooi word om saam met hulle mans in New York te dien nie, kan hulle ook vir die program in aanmerking kom en ’n aansoekvorm invul.

Jehovah se Getuies in ander lande kan aansoek doen om aan die program deel te neem deur ’n aansoekvorm van hulle plaaslike takkantoor aan te vra. Hierdie aansoekvorm word dan gestuur aan die kantoor by die Brooklyn-hoofkwartier wat die internasionale dienaars en ander internasionale vrywillige werkers se werksaamhede koördineer. Die aansoeker word dan in kennis gestel wanneer hulle sy werksvaardighede nodig het.

Vrouens se bydrae

Hoewel konstruksiewerkers se vrouens gewoonlik nie in ’n ambag opgelei is nie, is baie al opgelei om betonstaal met draad vas te bind, om teëls te lê en te voeg, asook om skuur- en verfwerk te doen. Ander sien om na noodsaaklike huishoudelike take. Op dié manier dra almal op ’n voortreflike wyse by tot die werksaamhede op konstruksieterreine wêreldwyd.

Een vrou wat saam met haar man aan die konstruksie van die nuwe takkantoor in Puerto Rico gewerk het, het onlangs aan die Brooklyn-kantoor geskryf: “Ons het op 1 Januarie 1991 vir ons maand lange toewysing daar aangekom. Ek het saam met die span gewerk wat die betonstaal in matte gebind het. Dit was verreweg die hardste fisiese werk wat ek nog gedoen het. Dit het basies behels dat ’n mens gebuk staan en staalstawe met ’n tang en ’n rol draad aanmekaarbind—en dit nog die hele dag lank!

“Die eerste paar dae het my hardehoed bly afval, en ek het my handskoene wat te groot was, keer op keer aan die mat vasgebind. Maar uiteindelik het ek die kuns bemeester. Vyf of ses hegpleisters het my blase beskerm. Ek het geleer hoe om afmetings op planne te lees, slaglyne af te druk en die staal vir elke mat uit te lê. Dit was werklik bevredigende werk. Baie van die werk wat ek gewoonlik elke dag doen, moet oor en oor gedoen word—skoonmaak, koskook, wasgoed was, ensovoorts. Maar daardie staalmatte word in mure gesit wat sal bly staan solank die takkantoor staan. Dit is ’n lonende gedagte!”

Dankbaar vir die voorreg om te kan werk

’n Opsiener van hierdie internasionale konstruksiewerk het gesê: “Dit is die merkwaardigste ding wat jy jou kan voorstel. Mense gebruik hulle vakansie om op eie koste na vergeleë werksterreine te reis. Daar werk hulle moontlik harder en langer ure as wat hulle die hele jaar lank gewerk het. En wanneer hulle tuis kom, skryf hulle aan ons om ons vir die voorreg te bedank!”

’n Brief wat onlangs ontvang is, sê byvoorbeeld: “Ons skryf om julle te bedank vir die groot voorreg wat ons gehad het om drie maande lank aan die takkantoor in die Filippyne te kon werk. Soos ons verwag het, was ons aan die einde van elke werksdag fisies moeg, maar ons was geestelik baie deur die voortreflike omgang opgebou. Ons het dit geniet om baie van die ander vrywilligers wat daar was te leer ken, en ons was baie beïndruk deur die plaaslike Getuies saam met wie ons gewerk het. Ons het hulle werklik leer liefkry, en hulle was vir ons ’n uitbreiding van ons gesin.”

’n Egpaar wat na Ecuador gegaan het, het geskryf: “Ons het geleer om sonder prulkos klaar te kom, om in net ’n bietjie water te bad en om in koue water te skeer en te stort. Ons het nie besef hoeveel ons denke deur reklame beïnvloed is nie. Ons het ons bes by die werksterrein gelewer, maar ons het daar weggegaan met baie meer as wat ons gegee het. Volgens die standaarde in die Verenigde State is ons Ecuadoriaanse broers materieel arm, maar hulle geestelikheid en waardering vir die predikingswerk is buitengewoon. Ons kan nie in woorde beskryf hoe ons oor hierdie voorreg voel nie.”

Opslaankonstruksie

’n Unieke kenmerk van die internasionale konstruksiewerk is die gebruik van die opslaanmetode. Hierdie metode bestaan daaruit dat groot, staalgewapende betonmuurpanele op die terrein gegiet word. Hierdie panele kan tot drie verdiepings hoog wees en tot 20 ton weeg. Die panele word óf op die vloerblad van die gebou, óf op ’n nabygeleë gietblad gegiet.

Ses of agt panele kan opmekaar gestapel word. Wanneer die panele sterk genoeg is—gewoonlik ná sewe dae—word ’n hyskraan gebruik om hulle in hul plek op te lig. Panele word nou vir buite- sowel as binnemure gebruik, asook vir meerverdiepinggeboue. Honderde van hierdie panele is byvoorbeeld in die 11 verdieping hoë takkantoor in die Filippyne gebruik. Die gladde, voorafgegiete betonpanele hoef net geverf te word.

Hierdie konstruksiemetode bespaar nie net tyd nie, maar onervare werkers kan goed gebruik word. ’n Handelsblad, Concrete, het die volgende oor die oprigting van die nuwe fabriek van Jehovah se Getuies in Engeland gesê: “Opslaankonstruksie was veral geskik vir hulle behoeftes as gevolg van die eenvoud van dié boumetode . . . Besparing aan tyd en op die koste was nog altyd die stelsel se vernaamste voordeel.”

Die tydskrif het voorts van opslaankonstruksie gesê: “Die geskiktheid van dié metode vir die konstruksie van groot mure (lasdraend en nielasdraend) oor ’n kort tydperk, sowel as die gebruik van plaaslike arbeid wat nie buitengewoon baie toesig vereis nie, maak die metode vinnig en ekonomies.” Hoe gepas is dit tog dat die nuwe konstruksieprogram van hierdie eenvoudige, doeltreffende konstruksiemetode gebruik maak!

Ingenieurskantore

’n Groot ingenieurskantoor by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, bied die nodige leiding vir hierdie internasionale konstruksieprogram. Heelwat meer as honderd ingenieurs, konstruksie-ontwerpers en tekenaars—lede van die hoofkwartierpersoneel—werk daar aan die bouplanne. Om met die verhoogde arbeidslas te help, is streekingenieurskantore onlangs in Japan, Australië en Europa geopen.

In 1987 is CAD (rekenaargesteunde ontwerp) in gebruik geneem om planne te teken. ’n Tipiese CAD-werkstasie bestaan uit verskeie stukke toerusting. Wanneer hulle saam gebruik word, maak hierdie toerusting dit moontlik om planne op ’n rekenaar te teken, pleks van met die hand op ’n tekenbord. Meer as 65 CAD-werkstasies word tans by Brooklyn en by die takkantore gebruik.

Aangesien planne in die rekenaar se geheue bewaar kan word, kan ontwerpe van vorige projekte in nuwe tekeninge gebruik word. Dit dra by tot groter produktiwiteit, asook tot die standaardisering van ontwerpe en konstruksiemetodes.

Onlangse konstruksieprojekte

Namate die Ingenieurskantoor in Brooklyn groter geword het, het die gedagte ook al hoe meer begin posvat om vrywilligers vir die werk te organiseer. ’n Mens kan sê dat die program in 1985 ontstaan het toe werkers van ander lande met die bou van die takkantoor in Panama gehelp het. Dit het verder ontwikkel toe Peru hulp nodig gehad het met ’n groot aanbouing aan sy takkantoor. En die program het werklik eers met die oprigting van die takkantore in Costa Rica en Nigerië begin vorm aanneem. Kort voor lank is daar begin om sleutelpersoneel te stuur om met projekte oor die hele wêreld te help.

Internasionale dienaars en ander vrywilligers het nou al met die bou van talle nuwe takkantore gehelp, sowel as met aanbouings aan ouer takkantore, met inbegrip van dié wat sedert die begin van 1986 voltooi is. In die afgelope vyf jaar of wat is projekte voltooi en toegewy in Panama, Costa Rica, Chili, Mexiko, Nieu-Seeland, Haïti, Liberië, Oostenryk, Ecuador, Papoea-Nieu-Guinee, Guyana, Ghana, Hawaii, Portugal, Hongkong, Ciprus, Peru, El Salvador, Mauritius, Japan, Honduras, Guatemala, Nigerië, Argentinië, Australië, Nieu-Caledonië, Fidji, die Filippyne en Griekeland.

Baie hiervan was reusekonstruksieprojekte. In Nigerië het daar as ’t ware ’n klein dorpie op ’n stuk grond van 57 hektaar verrys. ’n Fabriek van 140 meter lank en 70 meter breed is gebou, asook woongeboue wat meer as 400 mense huisves, ’n kantoor, ’n motorhawe en ander geboue. Net die konstruksiemateriaal wat van die Verenigde State af gestuur is, was genoeg om 347 vraghouers te vul, wat 3,5 kilometer lank sou wees as hulle in ’n lang ry agter mekaar geplaas is!

Soms staan geestelikes die bouprojekte teë. In Griekeland het die geestelikes in Maart 1989 40 busvragte vol protesteerders gelei, maar die polisie het die Getuies se wetlike regte ondersteun, en die protes het op niks uitgeloop nie. Die nuwe takkantoor, met ’n groot nuwe fabriek en 22 woongeboue wat meer as 170 mense kan huisves, is die afgelope lente voltooi en toegewy.

In Frankryk het die Biskop van Evreux, Jacques Gaillot, protes aangeteken teen die planne vir ’n groot nuwe takkantoor vir Jehovah se Getuies in Louviers. Hy het gesê dat die openbare bediening van die Getuies nie “mense se menswaardigheid respekteer” nie. Maar ander is dit nie met die biskop eens nie. Hulle meen dat Jehovah se Getuies die reg moet hê om hulle fasiliteite te vergroot, net soos hulle in baie plekke wêreldwyd doen. Internasionale vrywillige konstruksiewerkers werk tans aan takkantoorprojekte in Colombia, Puerto Rico, Zambië, Brasilië, Engeland, Kanada, die Dominikaanse Republiek, Ecuador, Pole, Guadeloupe, Thailand, die Benedewindse Eilande, die Bahamas, Wes-Samoa, Tahiti, die Salomons-eilande, Venezuela, Republiek Korea, Suid-Afrika en Duitsland. Ander projekte is nog in die ontwerpfase, onder andere nuwe takkantore of aanbouings aan bestaande takkantore in Frankryk, Spanje, Mexiko, Sri Lanka, Taiwan en Suriname.

’n Behoefte word vroegtydig raakgesien

Toe die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies in 1988 ’n 50 persent vergroting van die takkantoor in Duitsland goedgekeur het, het sommige waarnemers die aanbouing as uitermatig groot beskou. Maar in 1989 en 1990 is Jehovah se Getuies se predikingswerk in Pole, Hongarye, Oos-Duitsland en Roemenië wettig verklaar of is hulle toegelaat om ongehinderd voort te gaan. En op 27 Maart vanjaar is Jehovah se Getuies deur die Sowjetunie as ’n godsdiensorganisasie erken.

Oor die 250 000 mense in Oos-Europese lande het verlede jaar byeenkomste van Jehovah se Getuies bygewoon, en hulle was gretig om Bybellektuur te ontvang. “In net twee maande”, het die 1991 Britannica Book of the Year gesê, “het die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Wes-Duitsland 275 ton Bybellektuur, wat 115 000 Bybels ingesluit het, na Oos-Duitsland alleen gestuur.” Dit is dus nou duidelik dat die takkantoor in Duitsland elke stukkie van die goedgekeurde uitbreiding nodig het en dat dit dringend nodig is!

Voorbereiding vir toekomstige behoeftes

Soos jy jou kan voorstel, verg dit geweldige inspanning om, in vervulling van Jesus se profesie, ‘hierdie goeie nuus van die Koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig voor die einde kom’ (Mattheüs 24:14, NW). En wêreldwyd is ware Christene besig om hulle só in te span. Hulle doen alles in hulle vermoë om die Koninkryksboodskap op ’n goed georganiseerde manier aan alle nasies beskikbaar te stel.

Om dit te kan doen, is Jehovah se Getuies besig om hulle vermoë om Bybellektuur by hulle wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, te publiseer, uit te brei. Hulle is tans besig om ’n 30 verdieping hoë gebou in Sandsstraat 90 op te rig, wat nog duisend lede van die hoofkwartierpersoneel sal kan huisves, en in 1993 voltooi sal wees.

Die grootste bouprojek is egter die een wat sowat 110 kilometer van die stad New York, naby Patterson, New York, aan die gang is. “Wanneer [Jehovah se Getuies] iewers in 1996 daarmee klaar is”, het The New York Times van 7 April 1991 berig, “sal hulle ses wooneenhede van twee tot vyf verdiepings hoog, met 624 vertrekke, gebou het, asook ’n motorhuis vir 450 motors, ’n hotel met 144 kamers, ’n enorme kombuis en eetsaal waar 1 600 mense op een slag bedien kan word, ’n kantoorgebou, ’n klaskamergebou en verskeie diensgeboue.” Honderde vrywilligers werk sonder vergoeding om hierdie reusesentrum vir Koninkryksonderrig te bou.

’n Wonderlike bouprogram is waarlik in elke deel van die aarde aan die gang—en dit word geheel en al deur vrywilligers gekoördineer en uitgevoer. Dít is inderdaad iets nuuts in internasionale konstruksiewerk!

[Prent op bladsy 21]

Die bind van betonstaal is ’n deel van konstruksiewerk

[Prente op bladsy 23]

Met opslaankonstruksie kan betonpanele die een bo-op die ander gevorm word. Wanneer die panele sterk genoeg is, word hulle in hulle plek gelig

[Prente op bladsy 24]

Die nuwe takkantoor-kompleks in Pole word in Brooklyn nagegaan.

Argitekstekeninge word met behulp van ’n rekenaar voorberei

[Prente op bladsy 25]

Takkantoorkomplekse wat vir Puerto Rico, Zambië en die Benedewindse Eilande beplan is

[Prent op bladsy 26]

Vrywilligers werk by die konstruksieprojek in ’n Europese land

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel