Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 5/1 bl. 25-27
  • Hulle dien die internasionale Christenbroederskap

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle dien die internasionale Christenbroederskap
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die uitdagings
  • Deelname aan die bediening verg moed
  • ’n Selfopofferende gees
  • Iets nuuts in internasionale konstruksie
    Ontwaak!—1991
  • Verenigde bouwerk op wêreldskaal
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Koninkryksaalbouwerk—’n belangrike aspek van heilige diens
    Ons Koninkryksbediening—2006
  • Liefde in aksie—’n Maraton-noodlenigingspoging
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 5/1 bl. 25-27

Hulle dien die internasionale Christenbroederskap

HET jy al die uitdrukkings “internasionale dienaars” en “internasionale vrywilligers” gehoor? Getuies van Jehovah wat deel is van hierdie vrywilligergroepe, gebruik hulle tyd en vaardighede om fasiliteite te help bou waar die Bybel se Koninkryksboodskap gedruk en versprei word. Hulle help ook met die bou van Byeenkomssale en Koninkryksale, wat as sentrums vir Bybelonderrig dien. Hierdie vrywilligers help tans met bouprojekte in 34 lande, hoofsaaklik in lande met beperkte middele. Watter spesiale voorregte en vreugdes geniet hierdie bedienaars terwyl hulle die internasionale Christenbroederskap dien? Hoe voel hulle oor die “heilige diens” wat hulle verrig? (Openbaring 7:9, 15). Kom ons vra ’n paar vrywilligers wat in Mexiko gedien het.

Die eerste groep vrywilligers van ander lande het in Mei 1992 in Mexiko aangekom. Kort daarna het hulle met die uitbreiding van die takkantoor begin, wat toesig hou oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Mexiko. Die uitbreiding het 14 nuwe geboue ingesluit, waaronder woongeboue vir vrywilligers wat by die takkantoor dien, ’n drukkery en ’n kantoorgebou.

Meer as 730 vrywilligers van Kanada, Groot-Brittanje, die Verenigde State en ander lande het skouer aan skouer saam met honderde vrywilligers uit alle dele van Mexiko aan hierdie bouprojek gewerk. Daarbenewens het meer as 28 000 Getuies van sowat 1 600 gemeentes naby die takkantoor oor naweke met die bouwerk gehelp. Almal het met ’n gewillige gees gewerk en hulle vaardighede gebruik. Hulle het dit as ’n voorreg beskou om Jehovah op hierdie manier te dien. Gedurende die bouprojek het hulle die geïnspireerde woorde in Psalm 127:1 in gedagte gehou: “As Jehovah nie die huis bou nie, het die bouers tevergeefs hard daaraan gewerk.”

Die uitdagings

Voor watter uitdagings kom internasionale vrywilligers te staan terwyl hulle in ’n buitelandse toewysing dien? Hier is van hulle kommentare. Curtis en Sally, ’n egpaar van die Verenigde State, het gehelp met bouprojekte in Duitsland, Indië, Mexiko, Paraguay, Roemenië, Rusland, Senegal en Zambië. Curtis vertel: “Die eerste uitdaging was om ons dogter, wat as ’n pionier [voltydse bedienaar] gedien het, sowel as ons tuisgemeente in Minnesota, agter te laat. Ek en my vrou was 24 jaar in daardie gemeente, en ons was baie gelukkig daar.”

Sally sê: “Om in vreemde omstandighede te lewe, is ’n uitdaging, vir ’n vrou dalk meer as vir ’n man, maar ek het geleer dat dit moontlik is om aan te pas. Ek het selfs geleer om insekte, hordes van hulle, te verdra!” Sy voeg by: “In een land het tien van ons ’n woonstel sonder ’n kombuis en met net twee badkamers gedeel. Daar het ek geleer om geduldiger te wees.”

Om ’n nuwe taal aan te leer, is nog ’n uitdaging wat inspanning en nederigheid verg. Sharon, wat al in verskillende lande saam met haar man op bouprojekte gehelp het, sê: “Dit is ’n uitdaging as jy nie die taal kan praat van die land waar jy dien nie. In die begin is dit moeilik om na aan jou geestelike broers en susters te kom omdat jy sukkel om jou gevoelens uit te druk. Dit is frustrerend. Maar die broers wat ons in ons buitelandse toewysings leer ken, is baie geduldig met ons en is opreg besorg oor ons welsyn. Kort voor lank kommunikeer ons op die een of ander manier.”

Deelname aan die bediening verg moed

Hoewel hierdie selfopofferende vrywilligers baie tot die vordering van die bouwerk bydra, besef hulle dat hulle allereers verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk is. Daarom het hulle ’n volle deelname aan die predikingswerk saam met hulle gemeentes. Åke en Ing-Mari, ’n egpaar wat met bouprojekte in Guadeloupe, Malawi, Mexiko en Nigerië gehelp het, erken dat dit moed verg om die predikingswerk in ’n vreemde land in ’n ander taal te doen.

Ing-Mari sê: “Aanvanklik was ons deelname maar beperk, aangesien ons altyd die plaaslike Getuies vergesel het en hulle dikwels die praatwerk laat doen het omdat ons te selfbewus was. Maar een oggend het ons besluit om alleen velddiens te gaan doen. Ons was maar skrikkerig en ons harte het in ons keel geklop. Ons het ’n jong vrou ontmoet wat na my voorbereide aanbieding geluister het. Ek het ’n teks gelees en vir haar lektuur aangebied. Toe wou die vrou weet: ‘Kan ek maar iets vra? Een van my familielede studeer die Bybel saam met Jehovah se Getuies. Hoe kan ek ook ’n studie kry?’ Ek was sprakeloos. Toe ek weer tot verhaal kom, het ek haar ’n Bybelstudie aangebied.”

Ing-Mari voeg by: “Stel jou net my vreugde en my dankbaarheid teenoor Jehovah voor omdat hy ons inisiatief en ons begeerte om ander van die waarheid te vertel, geseën het.” Hierdie vrou het goeie vordering gemaak en is as ’n Getuie by ’n streekbyeenkoms in Mexikostad gedoop. Åke en Ing-Mari som hulle bediening so op: “Dit is vir ons ’n wonderlike voorreg om op die verskillende bouprojekte te werk, maar niks oortref die vreugde en bevrediging wat dit meebring om iemand te help om die waarheid aan te neem nie.”

’n Selfopofferende gees

Ons gee toe dat vrywilligers wat hulle familie en vriende agterlaat, opofferings maak om hulle broers in vreemde lande te dien, maar hulle ondervind ook onoortreflike vreugdes. Wat is hierdie vreugdes?

Howard, wat saam met sy vrou, Pamela, gedien het in Angola, Colombia, Ecuador, El Salvador, Guyana, Mexiko en Puerto Rico, verduidelik: “Dit is ’n voorreg om broers en susters in verskillende lande te ontmoet en persoonlik die band van liefde te ervaar wat daar in ons internasionale broederskap bestaan. Ons lees dikwels daarvan, maar wanneer jy saam met broers van verskillende kulture en agtergronde woon en werk, waardeer jy ons kosbare broederskap selfs meer.”

Gary, wat met bouprojekte in Colombia, Costa Rica, Ecuador, Mexiko en Zambië gehelp het, voel ook dat hy grootliks by hierdie program baat gevind het. Hy vertel: “Die opleiding wat ek deur die jare heen ontvang het weens assosiasie met ryp broers by die takkantore in die lande waarheen ek gestuur is, het my gehelp om beter toegerus te wees vir die uitdagings wat my toewysings bied. Dit is geloofversterkend, want dit bied ’n geleentheid om die eenheid te ervaar wat Jehovah se wêreldwye organisasie kenmerk—’n eenheid wat verskille in taal, ras of kultuur oorbrug.”

Intussen is die bouwerk in Mexiko voltooi, en die vergrote takkantoorfasiliteite is vanjaar toegewy. Beweeg deur hulle liefde vir God het internasionale dienaars en internasionale vrywilligers ’n groot bydrae gelewer tot die uitbreiding van ware aanbidding in Mexiko en elders. Hulle gewillige en selfopofferende gees om die internasionale Christenbroederskap te dien, word hoog op prys gestel deur Jehovah se Getuies in alle wêrelddele.

[Prent op bladsy 25]

Ecuador

[Prent op bladsy 25]

Colombia

[Prent op bladsy 25]

Angola

[Prent op bladsy 26]

Die tuin by die takkantoor

[Prent op bladsy 26]

Werk begin aan die nuwe fasiliteite by die Mexiko-takkantoor

[Prent op bladsy 26]

Onder: Lede van die bouspan voor ’n deel van die nuwe fasiliteite

[Prent op bladsy 27]

Vrywilligers neem graag saam met plaaslike gemeentes aan die predikingswerk deel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel