Watter taal word die meeste gepraat?
As jy aan die algemeenste internasionale taal dink, sal jy waarskynlik “Engels” op daardie vraag antwoord. Maar volgens 1990 se World Almanac and Book of Facts is Mandarynetaal, wat deur sowat 844 miljoen mense gepraat word, die taal wat die mensdom die meeste gebruik. Daarteenoor praat 437 miljoen mense, wat reg rondom die aarde versprei is, Engels. Watter taal dink jy neem die derde plek in die wêreld in? Frans of Spaans? Nee. Dit is Hindi, wat deur 338 miljoen mense, hoofsaaklik in Indië, gepraat word. Hindi en Oerdoe, wat, hoofsaaklik in Pakistan, deur 90 miljoen mense gepraat word, “is in wese dieselfde taal, Hindoestani”, volgens dieselfde publikasie.