Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 9/8 bl. 17-21
  • Van Hitler se leër tot ’n bediening in Spanje

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van Hitler se leër tot ’n bediening in Spanje
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nazi-breinspoeling en -geweld
  • My rol in die Tweede Wêreldoorlog
  • My beskouing verander vir goed
  • Voltydse Betheldiens
  • Lokomotiefkombuis
  • Sendingdiens in Afrika en Spanje
  • My haat het in liefde verander
    Ontwaak!—1995
  • Ons het nie Hitler se oorlog gesteun nie
    Ontwaak!—1994
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 9/8 bl. 17-21

Van Hitler se leër tot ’n bediening in Spanje

Soos vertel deur Georg Reuter (bo, wat die vlag vashou)

WAT is die sin van die lewe? Daar kom ’n tyd in die meeste van ons se lewe wanneer ons daardie belangrike vraag vra. Die dood van ’n familielid, ’n ernstige ongeluk of net die probleme wat met die ouderdom gepaard gaan, kan ons noodsaak om oor die hoekoms en waaroms van ons bestaan na te dink.

In my geval het dit in die somer van 1930 gebeur, toe ek net ses jaar oud was. Ek het by my ouers in die stad Essen, Duitsland, gewoon. Ek sal nooit vergeet hoe my onbesorgde wêreld verpletter is die dag toe ek ons kanarie waarvoor ons so lief was dood in sy kou aangetref het nie. ‘Hoe kon dit gebeur?’ het ek my afgevra. ‘Hy het altyd so pragtig gesing.’

Ek het die dooie voëltjie versigtig in ’n leë blik gesit en hom in ons tuin begrawe. Maar ek kon dit nie vergeet nie. Hoewel weke en maande verbygegaan het, het ek oor sy lot bly peins totdat ek my nuuskierigheid nie langer kon bedwing nie. Ek het vasbeslote tuin toe gestap en die blik opgegrawe. Hoe verbaas was ek tog toe ek dit oopmaak! Die voëltjie was nie meer daar nie. Al wat oorgebly het, was ’n paar beentjies en vere. Het ’n voël se lewe niks meer behels as dit nie? En wat van ons? Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?

My vrae het destyds onbeantwoord gebly. Maar wat ek nie geweet het nie, was dat daar verskriklike gebeure gedreig het, gebeure wat my nog vuriger na die antwoorde op daardie kwellende vrae van my kinderjare laat soek het.

Nazi-breinspoeling en -geweld

Die jare het verbygesnel, en ek het ’n vakleerling in die boubedryf geword. Hitler het intussen aan die bewind gekom en sy propagandamasjinerie het teen die hoogste versnelling gewerk om die volk te breinspoel. Mense het “Heil Hitler!” pleks van “Goeiemôre” gesê. Daar was oral uniforms: die Jungvolk (Jongmense), die Hitler-Jugend (Hitlerjeug), die Bund Deutscher Mädchen (Bond van Duitse Meisies), die SA (Sturmabteilungen, of stormtroepe) en die SS (Schutzstaffel, Hitler se keurlyfwag). En ek onthou die ontelbare parades, die musiek en die fanfare in die strate duidelik—dit was ’n opwindende tyd vir ’n ontvanklike kind.

Ek het weldra aan dié dinge begin deelneem aangesien ek deur die algemene entoesiasme meegesleep is. Nasionalistiese slagspreuke soos: “Vandag is Duitsland ons s’n; môre sal die hele wêreld ons s’n wees”, en: “Die vlag is belangriker as die dood” was aan die orde van die dag. Ek was ’n liggelowige tiener en het dit eenvoudig geglo.

Maar die Nazi-regime het selfs in daardie vroeë jare ’n lelike sy gehad. Een oggend in November 1938 het ek ’n Joodse sinagoge in vlamme sien staan. Daar het eienaardig genoeg brandweermanne rondgestaan, maar hulle het geen vinger verroer om die brand te blus nie. Daardie selfde dag was die hoofinkoopsentrum die ene gebreekte glas. Joodse winkels is geplunder en verniel tydens wat later as Kristallnacht (Kristalnag) bekend geword het. Die SS het hierdie dade georganiseer as “spontane betogings” van volksprotes teen die Jode. Jodehaat is oral verkondig.

My rol in die Tweede Wêreldoorlog

Op 1 September 1939, toe ek 16 jaar oud was, het ek die verskriklike aankondiging oor die radio gehoor: Duitse troepe het die Poolse grens oorgesteek. Die inval in Pole het begin, en die Tweede Wêreldoorlog het uitgebreek.

Toe ek my vakleerlingskap voltooi het, het ek by die Duitse leër aangesluit. Na my aanvangsopleiding is ek na Pole gestuur, waar ek aanskou het hoe die Joodse ghetto van Warschau afgebrand is. Ek het treine oorlaai met patetiese mense op pad na die verskriklike konsentrasiekampe gesien. Dit het gelyk of daar iets vreesliks skort, maar ek het my bedenkinge uit my gedagtes gesit. Ek het nog op die Führer se onfeilbare wysheid vertrou.

Ek is kort na die Duitse inval in die Sowjetunie na die Kaukasiese streek gestuur. Hoe hartseer was dit tog om so ’n pragtige gebied deurweek met die bloed van oorlog te sien! Toe het die verskriklike winter van 1942-43, waarop die Duitse leër heeltemal onvoorbereid was, aangebreek. Ons kon nie eers ons dooie makkers in die bevrore grond begrawe nie. Daardie winter het die einde van ons opmars beteken—ons het die slag van Stalingrad verloor; ons het ’n hele leër verloor. Hoewel Hitler se propaganda ons terugtrekking as ’n vasstelling van “veilige grense” beskryf het, wou ons as soldate net so gou moontlik by die huis kom. Daardie harde werklikhede van oorlog het my eindelik oortuig dat Hitler se grootse drome niks minder as oppervlakkige skyn was nie.

Tydens die terugtrekking uit die USSR is ek deur skrapnel getref. Dit het ’n ernstige borswond veroorsaak, en ek is na ’n militêre hospitaal geneem. Daar het ek van aangesig tot aangesig gekom met die verskriklike nadraai van die oorlog: die verminkte soldate, die wanhoop en die volslae sinloosheid van dit alles. My gedagtes het na daardie dooie kanarie teruggekeer. Was daar werklik enige verskil tussen mense en diere?

Ek was een van die gelukkiges. My wonde het genees, en ek het ook lewend uit die oorlog gekom. Aan die einde van die oorlog is ek na ’n Franse krygsgevangenekamp gestuur, maar ek kon eindelik terugkeer na my familie, wat almal daardie vreeslike jare oorleef het.

My beskouing verander vir goed

My ouers en my broer het tydens my lang afwesigheid Getuies van Jehovah geword, en ons het ons dus spoedig in lang gesprekke oor godsdiens verdiep. Ek kon nie in ’n God glo wat soveel goddeloosheid en lyding sou toelaat nie. As Duitse soldate het ons ’n gordel met ’n gespe gedra waarop die woorde “God met ons” gegraveer was. Maar waar was God toe ons gely en gesterf het, het ek gevra? Die geestelikes het ons die versekering gegee dat Hitler ’n gawe van God was, maar danksy hom was ons land ’n puinhoop.

My pa het die Bybel as grondslag vir sy verduideliking gebruik en my geduldig gewys waarom ons in sulke moeilike tye leef. Hy het my help verstaan dat God nie kant kies in mense-oorloë nie en dat Hy binnekort “oorloë [sal] laat ophou tot by die einde van die aarde” (Psalm 46:10). Hy het my uit die Skrif gewys dat daar nie “’n voorkeur van die mens bo die veediere is” wat die dood betref nie.—Prediker 3:19.

Die volgende Sondag het my ouers my genooi om hulle na ’n openbare toespraak te vergesel wat deur Jehovah se Getuies gehou sou word. Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Die vergadering is by ’n skool gehou waar ons op klein bankies moes sit. Ek het geen begeerte gehad om terug te gaan skool toe nie, maar hier was ek, met my lang bene onder een van daardie piepklein bankies ingevou. Maar die toespraak was so interessant dat ek van my ongemak vergeet het. Ek het gesien dat die hele gehoor tydens die tweede uur ywerig deelgeneem het aan die bespreking van ’n Bybelonderwerp deur die vrae te beantwoord wat deur die persoon gestel is wat die vergadering gelei het.

Na die vergadering het baie van dié wat daar was my kom verwelkom. Hulle opregte vriendelikheid het my diep geraak. Ek was ’n taamlik strawwe roker, en daarom het die feit dat niemand gerook het nie my dadelik opgeval.

Van toe af het ek al die Getuies se vergaderinge bygewoon en selfs kommentaar gelewer. Dinge het eindelik vir my begin duidelik word. Ek het besef dat ons nie God die skuld kan gee vir al die bloedvergieting van die Tweede Wêreldoorlog nie. Ek het geleer dat dit sy doel was om ’n aardwye paradys met ewige seëninge vir die gehoorsame mensdom te bewerkstellig. En daar was plek vir my in daardie goddelike voorneme as ek dit wou hê.

Dit was beslis ’n boodskap wat die moeite werd was om te verkondig. Hitler het oor sy “Duisendjarige Ryk” gespog maar het net 12 jaar lank regeer—en met watter aaklige gevolge! Dit is Christus pleks van Hitler, of, inderdaad enige ander menseheerser, wat ’n duisendjarige ryk oor die aarde kan en sal oprig nadat hy alle vorme van goddeloosheid wat die mens tans teister, verwyder het.—Openbaring 20:4.

Daardie wonderlike hoop het my aangegryp, en ek kon nie wag om my vriende van hierdie dinge te vertel nie. Ek het eindelik die ware sin van die lewe gevind. Ek moes natuurlik eers ophou rook, iets wat glad nie vir my maklik was nie. Maar ek het ’n datum gestel, en van toe af geweier om my met tabak te besoedel. Ek het besef dat daar van my as bedienaar van God vereis word om my “van alle besoedeling van die vlees en die gees” te bevry.—2 Korinthiërs 7:1.

Voltydse Betheldiens

Ek het kort na my toewyding en doop saam met my broer as ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies begin werk. Ons was twaalfuur in die middag klaar met ons sekulêre werk en dan het ons fietsgery na die gebied waar ons moes preek. Hoewel ons gedurende daardie vroeë na-oorlogse jare byna geen lektuur gehad het nie, het ons so goed ons kon omgesien na die belangstelling wat ons gevind het en tydskrifte, boeke of brosjures tydelik by mense gelaat sodat soveel moontlik by die boodskap kon baat vind. Maar hierdie situasie sou weldra verander.

Broer Nathan H. Knorr, wat toe president van die Wagtoringgenootskap was, het Duitsland kort tevore besoek en gesien dat daar ’n behoefte aan meer lektuur was. Die eerste besendings het spoedig uit Brooklyn aangekom, wat meer werk by die takkantoor in Duitsland beteken het om hierdie lektuur aan al die gemeentes te besorg. Ek en my broer het eendag ’n telegram gekry wat gesê het: “Kom dadelik na die Bybelhuis [Bethel].”

Ek kan onthou dat ek vir my broer gesê het dat so ’n toewysing ons beslis die geleentheid sou gee om die Bybel byna heeldag te studeer. Maar sulke wanbegrippe van Bethel is gou die nek ingeslaan toe daar by ons aankoms vir ons gesê is: “Ons het een man vir die drukkery en een vir die Versendafdeling nodig! Dink asseblief daaroor, en besluit dan wie hom vir watter werk gaan aanbied.” Ek het in die Versendafdeling beland en my broer in die drukkery.

Gedurende daardie besige dae het ons baie min tyd gehad om die Bybel te lees. Soms het ons dag en nag gewerk om al die lektuur betyds na die gemeentes te stuur. Ons omgang met getroue broers, soos Erich Frost, Konrad Franke en August Peters, wat almal baie jare in konsentrasiekampe deurgebring het, het nietemin grootliks tot ons geestelike groei bygedra.

In die afdeling waar ek gewerk het, was daar ’n jong suster, Magdalena Kusserow. Sy het vier jaar lank in ’n konsentrasiekamp gely omdat sy geweier het om die “Heil Hitler!”-saluut te gee, terwyl ek na ’n Franse krygsgevangenekamp gestuur is omdat ek mislei is om in die belang van daardie ideaal te veg. Die waarheid van God se Woord het ons nietemin bymekaargebring. Ons het dieselfde doelstellings gehad, en ons het besluit dat ons God saam wil dien.a

Lokomotiefkombuis

Ons was gretig om ons voltydse diens na ons troue voort te sit omdat ons geweet het dat daar soveel werk is om te doen. En ons is met talle interessante toewysings geseën. Byvoorbeeld: Ek is in 1951 toegewys om toesig te hou oor die Kafeteria-afdeling tydens die driedaagse byeenkoms in Frankfurt am Main, waar ons beplan het om sowat 35 000 afgevaardigdes te voed.

’n Ontsaglike taak het voorgelê—om met so min toerusting so ’n groot klomp mense van warm maaltye te voorsien. Maar ons het op die idee gekom om 51 groot stoomketels te gebruik wat met behulp van ’n stoomlokomotief verhit kon word. Waar sou ons ’n lokomotief kry? Ons het die spoorwegmaatskappy eindelik oorreed om ons een van hulle s’n te leen, en ’n firma in Frankfurt am Main het vir ons ’n paar laedrukkleppe gemaak. Dit het beteken dat die lokomotief stoom teen net die regte druk om te kan kook, kon lewer.

Wat ’n verligting was dit tog vir ons almal toe ’n proefloop die dag voor die byeenkoms baie geslaag was! Daar was omvattende koerantberigte wat hierdie “nuwe uitvinding” om groot skares kos te gee beskryf het, tesame met foto’s van ons kombuis en die lokomotief. Die “Rein Aanbidding”-byeenkoms, wat uiteindelik deur meer as 47 000 bygewoon is, het dus baie gunstige publisiteit gekry.

Terwyl ek nog by daardie byeenkoms was, het ek die uitnodiging ontvang om as ’n reisende verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap te dien. Ek en my vrou het eers in die kringwerk gedien en elke week ’n ander gemeente besoek, en toe het ek in die streekwerk gedien en hele kringe by byeenkomste besoek. Wat ’n voorreg was dit tog om saam met broers soos Martin Poetzinger (wat later ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies geword het), H. Dickmann en R. Kelsey te werk. Ons het soveel by hierdie ryp broers geleer. Elke dag wat ons saam met hulle deurgebring het, was ’n seën omdat elkeen ons iets anders kon leer.

Sendingdiens in Afrika en Spanje

In 1961 het ek die voorreg gehad om die Wagtoring- Bybelskool Gilead in Brooklyn, New York, by te woon, in ’n klas wat hoofsaaklik uit broers bestaan het en tien maande geduur het. Gedurende daardie tyd het my vrou, wat my nie kon vergesel nie, in Duitsland agtergebly. Hoewel ons van mekaar geskei was, het ons ons ondervindinge in ons gereelde briewe aan mekaar vertel, en die tyd het derhalwe sommer verbygevlieg.

Ons sendingtoewysing was Togo, ’n landjie in Wes-Afrika. Daar moes ons ’n nuwe taal, Ewe, leer, sodat ons die harte van die mense van daardie land kon bereik. Dit was beslis die moeite werd. Vir die gasvrye mense van Togo is enige buitelander ’n vriend, maar as hy hulle taal praat, beskou hulle hom as hul broer.

Kort na ons aankoms in Togo het ek ’n Bybelstudie begin hou met ’n jong Afrikaan genaamd Abraham, wat ’n bietjie Engels kon praat. Hy het my weldra in die predikingswerk vergesel, en hy was my van onskatbare hulp om die Bybel se boodskap aan Ewe-sprekende mense te verduidelik.

Ons het die boek Van die verlore paradys tot die herwonne paradys, wat baie prente bevat het en ideaal was om Bybelstudies te hou, goed gebruik. Dit was nogtans vir die eenvoudige, landelike mense moeilik om party van die idees te verstaan. Hoe kon hulle die getal 144 000 wat in Openbaring hoofstuk 7 gemeld word, verstaan as hulle net muntstukke van 25, 50 of, op die meeste, 100 frank geken het? My metgesel was gekonfyt daarin om sy vingers, en as dit nodig was ook sy tone, te gebruik om hierdie probleem te oorkom. En af en toe het ons in die sand geteken.

Ons was baie hartseer toe ons, weens gesondheidsprobleme, na Europa moes terugkeer, eers na Luxemburg en toe na Duitsland. Maar die sendinggees was steeds in ons hart, en na ’n kort rukkie het ons beplan om te verhuis na waar daar hulp nodig was—na Spanje.

Nadat ek nog ’n taal geleer het, het ons weer die voorreg gehad om ons geestelike broers in die kringwerk te dien, en om ’n jaar lank by die bouperseel van die nuwe Bethelhuis naby Madrid te bestee. Dit het my en Magdalena baie bevrediging gegee om hier in Spanje te dien. Hoewel ons nie meer so sterk is soos voorheen nie, is ons lewe sinvol omdat ons aanhou leer en aanhou om wat ons geleer het aan ander te vertel.

As ek terugkyk, kan ek sê dat my soektog na die sin van die lewe grootliks beloon is. Ek het gesien hoe verkeerd dit is om op mense soos Hitler te vertrou, en toe ek eers die waarheid van die Bybel leer ken het, het ek my aan God toegewy. Watter bevrediging het dit my tog gegee! Ek weet nou dat my toekoms nie soos dié van die dooie kanarie hoef te wees nie. Ek het die hoop op ’n sinvolle lewe wat nooit kortgeknip sal word nie!—Openbaring 21:1-4.

[Voetnoot]

a Magdalena Kusserow Reuter se lewensverhaal het in Die Wagtoring van 1 September 1985 verskyn.

[Prent op bladsy 18]

Georg en Magdalena Reuter in Spanje

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel