Hoe om belangstelling in die anderstalige veld te ontwikkel
1. Watter geleentheid ontstaan terwyl ons die predikingswerk in ons toegewese gebied doen?
1 Jesus Christus het voorspel dat die goeie nuus in die hele aarde verkondig sou word “as ’n getuienis vir al die nasies”. Elke bedienaar wat aan die predikings- en onderrigtingswerk deelneem, besef hoe belangrik hierdie woorde is (Matt. 24:14; 28:19, 20). Terwyl ons preek en dissipels maak, ontmoet ons dalk mense van verskillende nasionaliteite wat ’n ander taal as ons praat. Hulle verdien ook ’n geleentheid om die Koninkryksboodskap te hoor en ferm standpunt vir die waarheid in te neem voordat die vreesinboesemende dag van Jehovah aanbreek (Mal. 3:18). Hoe kan ons belangstelling in die anderstalige veld in ons toegewese gebied ontwikkel?
2. Hoe volg ons Jehovah na wanneer ons met mense praat wat ’n ander taal gebruik?
2 Weerspieël Jehovah se beskouing van dié wat ’n ander taal praat: Om Jehovah se liefde onpartydig teenoor almal in ons gebied te weerspieël, moet ons ’n opregte begeerte hê om mense te help om tot ’n juiste kennis van die ware God, Jehovah, te kom ongeag watter taal hulle praat (Ps. 83:18; Hand. 10:34, 35). Hoewel ons ons hoofsaaklik toespits op dié wat die taal praat van die gemeente waarin ons is, moet ons ook die behoeftes in ag neem van dié wat ’n ander taal praat en moet ons op die uitkyk wees na maniere om God se Koninkryksboodskap aan hulle bekend te maak. As ons diegene wat ’n ander taal praat, oor die hoof sien, sou dit nie in ooreenstemming met Jehovah se voorneme wees dat ’n getuienis aan mense van alle nasies gegee moet word nie. Hoe kan ons dan mense help wat nie ons taal praat nie?
3. Watter nuttige hulpmiddel het ons ontvang, en hoe kan ons ons voorberei om dit te gebruik?
3 Gebruik Good News for People of All Nations: Hierdie boekie is saamgestel om gebruik te word wanneer ons persone ontmoet wat ’n ander taal praat. Hou hierdie boekie te alle tye byderhand, raak vertroud met die verskillende kenmerke daarvan en wees voorbereid om dit te gebruik. Vir vinnige verwysing kan jy die verskillende tale merk wat in julle gebied voorkom. As lektuur in hierdie tale beskikbaar is, sal dit dalk prakties wees om ’n paar items te kry wat jy by die persoon kan laat nadat jy die boodskap in die boekie gebruik het.
4. Hoe kan die Nations-boekie in ons bediening gebruik word?
4 As jy iemand in die bediening ontmoet wat ’n ander taal praat en jy nie seker is watter taal dit is nie, kan jy begin deur na die boekie se voorblad te wys. Blaai na die wêreldkaart op die binneblad, wys na jouself en na die land waar jy woon, en dui aan dat jy graag wil weet waarvandaan die huisbewoner kom en watter taal hy praat. Nadat jy vasgestel het wat sy taal is, kan jy na die inhoudsopgawe blaai, die regte bladsy vind, die huisbewoner se aandag op die vetgedrukte sin boaan die bladsy vestig en dan aandui dat jy wil hê dat hy die boodskap moet lees. Wanneer hy klaar is, kan jy vir hom ’n traktaat in sy taal aanbied of na die sin wys wat in grys gemerk is, wat meld dat jy bereid is om terug te kom met ’n publikasie in die huisbewoner se eie taal. Wys dan na die vetgedrukte woorde “my naam”, en sê jou naam duidelik. Wys na die vetgedrukte woorde “jou naam”, en wag vir die huisbewoner se antwoord. Tref definitiewe reëlings vir ’n herbesoek.
5. Watter opvolgwerk moet gedoen word sodat daar behoorlik omgesien word na belangstellendes wat ’n ander taal praat?
5 Reëlings vir ’n herbesoek: Ons moet alles in ons vermoë doen om mense te besoek wat belangstelling in die Koninkryksboodskap toon, ongeag watter taal hulle praat. Sodra ons seker is dat iemand in God en sy Woord, die Bybel, belangstel, moet ons ’n Volg asseblief op-vorm (S-43) invul en dit so gou as moontlik vir die gemeentelike sekretaris gee om dit na die takkantoor te stuur sodat hierdie belangstellende besoek kan word deur iemand wat sy taal praat. Die takkantoor sal dan die vorm na die gepaste taalgroep stuur. Wanneer hulle die vorm ontvang, sal hulle sonder versuim met die persoon in aanraking kom. Die sekretaris kan ’n afskrif van die vorm vir die diensopsiener gee sodat hy op hoogte gehou kan word van die belangstelling wat mense uit ’n bepaalde taalgroep toon. Hierdie vorm moet slegs gebruik word wanneer die individu opregte belangstelling toon.
6. Watter verantwoordelikheid het ons as ons ’n belangstellende ontmoet wat ’n ander taal praat?
6 Nadat die S-43-vorm ingestuur is, kan dit dalk ’n ruk neem voordat die belangstellende besoek word deur ’n aangewese verkondiger wat sy taal praat. Daarom kan die verkondiger wat die S-43-vorm ingegee het, die belangstelling verder ontwikkel totdat iemand wat die persoon se taal praat, met hom in aanraking kom. In party gevalle kan ’n Bybelstudie met die belangstellende gehou word. Maar hoe kan ’n verkondiger gedurende hierdie oorgangstydperk lektuur verkry in die taal wat die belangstellende praat?
7. Watter voorsiening is daar om lektuur te verkry in die taal van mense wat ons dalk ontmoet?
7 Lektuur in ander tale: Gemeentes moenie ’n groot voorraad lektuur in ander tale aanhou nie. Maar as die diensopsiener vasgestel het dat mense uit ’n sekere taalgroep belangstelling begin toon, sal hy dalk besluit om ’n klein hoeveelheid lektuur in daardie taal vir die verkondigers se gebruik in voorraad te hou. As daar geen lektuur by die gemeente beskikbaar is nie, kan dit aangevra word. Dit neem dalk ’n geruime tyd voordat lektuur in ’n spesifieke taal ontvang word. Daarom word voorsiening gemaak om lektuur van www.watchtower.org af uit te druk. Daar is ’n verskeidenheid publikasies in honderde tale beskikbaar wat die verkondiger of die belangstellende dadelik kan oopmaak. Hierdie voorsiening sal ongetwyfeld nuttig wees om die belangstelling van diegene wat ’n ander taal praat, verder te ontwikkel.
8. Watter rol speel die gemeente daarin om die belangstelling van persone wat ’n ander taal praat, verder te ontwikkel?
8 Rol van die gemeente: In party gevalle waar ’n redelike groot anderstalige gemeenskap ontwikkel, is daar dalk nie ’n nabygeleë gemeente wat vergaderinge in daardie taal hou nie. Gevolglik moet belangstellendes wat ’n ander taal praat, genooi word om julle vergaderinge by te woon. Die hartlike verwelkoming en persoonlike belangstelling wat hulle ontvang, sal hulle dalk aanmoedig om vergaderinge gereeld by te woon. Aan die begin sal taal en kultuur dalk ’n skeidsmuur wees; maar sulke skeidsmure word afgebreek deur ware Christelike liefde in die wêreldwye assosiasie van Jehovah se Getuies (Sef. 3:9; Joh. 13:35). Praat jy ’n ander taal vlot? As dit die geval is en jy bereid is om besoeke in daardie taal op te volg, moet jy asseblief jou gemeentelike sekretaris daarvan inlig sodat hierdie inligting aan die takkantoor aangestuur kan word. Dit sal nuttig wees wanneer die takkantoor op soek is na ’n verkondiger wat die belangstelling kan ontwikkel.
9. Wanneer is ’n taalklas vir verkondigers dalk nodig, en hoe word daar te werk gegaan?
9 Taalkursusse: Wanneer jy persone help wat ’n ander taal praat, sal dit goed wees om hulle aan te spoor om vergaderinge in hulle eie taal te begin bywoon, indien dit redelikerwys moontlik vir hulle is om dit te doen. Maar as dit nie moontlik is nie, kan verkondigers besluit om die ander taal te leer sodat hulle belangstellendes beter kan help. As daar geen nabygeleë gemeente is nie, sal die takkantoor dalk besluit dat dit goed sal wees om ’n taalklas te hou weens die groot immigrante- of anderstalige gemeenskap. Indien wel, sal die takkantoor moontlik nabygeleë gemeentes in kennis stel van die behoefte wat daar bestaan en reël dat ’n aankondiging gedoen word in verband met ’n taalklas. Dié wat aansoek doen om die taalkursus by te woon, moet van plan wees om na die groep of gemeente oor te gaan sodat hulle kan help om daardie veld te ontwikkel.
10. Wanneer kan ’n anderstalige groep gevorm word, en hoe word daar te werk gegaan?
10 Hoe om ’n groep te vorm: Om ’n groep in ’n bepaalde taal te vorm, moet dit aan vier basiese vereistes voldoen. (1) Daar moet genoegsame belangstelling en potensiaal vir groei in ’n spesifieke taal wees. (2) ’n Klein kerngroep van verkondigers moet die taal ken of die taal aanleer. (3) ’n Ervare ouer man of bedieningskneg moet beskikbaar wees om die leiding te neem en ten minste een weeklikse vergadering in daardie taal te hou. (4) ’n Liggaam van ouer manne moet bereid wees om die groep te ondersteun. Wanneer daar tot ’n redelike mate aan hierdie vereistes voldoen word, sal die liggaam van ouer manne dan na die takkantoor skryf oor die besonderhede van die groep en sal hulle formele erkenning aanvra as ’n gemeente wat ’n anderstalige groep ondersteun. (Sien Georganiseer, bl. 106-107.) Die ouer man of bedieningskneg wat die leiding neem, sal as die “groepopsiener” of “groepkneg” beskou word, en hy het die verantwoordelikheid om na die groep om te sien.
11. Waarom is dit so ’n groot voorreg om belangstelling in die anderstalige veld in ons toegewese gebied te ontwikkel?
11 Om die anderstalige veld in ons toegewese gebied te ontwikkel, is ’n belangrike deel van die wêreldwye predikingsveldtog wat ons Voorbeeld, Jesus Christus, aan die gang gesit het. Mag ons ons deel ywerig doen en sien hoe Jehovah voortgaan om die nasies te skud en dié wat begeerlik is in sy oë, in te bring (Hag. 2:7). Hoe bevredigend is dit tog vir ons om ons volle samewerking hierin te gee! Mag Jehovah ons verenigde pogings seën om belangstelling in die anderstalige veld in ons onderskeie gebiede te ontwikkel, terwyl ons altyd in gedagte hou dat God dit kan laat groei ondanks taalgrense!—1 Kor. 3:6-9.