Die betekenis van die nuus van vandag
KYK na ’n koerant of skakel die televisie aan. Wat lees, hoor of sien jy? Berigte oor moord, verkragting, dwelms, gesinsverbrokkeling, coups, revolusies, skandale, sake wat toegesmeer word, siektes soos Vigs, aardbewings, hongerte, hongersnood. Dit is sonder uitsondering die nuus van die dag. ’n Lewensbelangrike aspek van die nuus word nietemin gewoonlik oor die hoof gesien, en selfs wanneer dit gemeld word, word dit gou weggepraat.
Gedurende sy eerste termyn as Amerikaanse president het Ronald Reagan byvoorbeeld van “Armageddon” gepraat, en gesê: “Ek kan nie anders as om te wonder of—of ons die geslag is wat daardie dinge gaan sien gebeur nie.” Later het hy egter die saak op die agtergrond geskuif en volgehou dat hy nooit gesê het dat “ons volgens Armageddon moet beplan” nie.
Die Bybelboek Openbaring vertel nogtans dat Armageddon gaan kom, en verduidelik dat “die konings van die aarde en die hele wêreld” versamel gaan word “vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Die Bybel sê voorts dat die nasies versamel sal word “op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon”.—Openbaring 16:14, 16.
Wanneer sal daardie geweldige oorlog van die groot dag van die almagtige God kom? Sal dit in ons dag wees? Selfs Ronald Reagan is beweeg om te sê: “Ek weet nie of julle onlangs na enige van daardie profesieë gekyk het nie, maar, glo my, hulle beskryf gewis die tye waarin ons leef.”
Nuus van groot belang
Beskou self die volgende Bybelprofesie: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae [van hierdie stelsel van dinge] swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Timotheüs 3:1-5). Sal jy sê dat hierdie profesie nou in vervulling gaan?
Jesus het vervolgens, toe hy gepraat het van sy toekomstige teenwoordigheid en die einde van hierdie stelsel van dinge, geprofeteer: “Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë . . . Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. . . . En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:3-12). Sal jy nie ook saamstem dat hierdie profesie vervul word nie?
Jesus het die volgende illustrasie vertel, sodat sy volgelinge wat gedurende die tyd van die vervulling van hierdie profesieë leef, sou besef wat dit in werklikheid beteken: “Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge [in werklikheid die einste gebeure wat ons vandag sien plaasvind] sien gebeur.”—Lukas 21:29-31.
Daar is ongetwyfeld oorvloedige getuienis dat ons in die tyd leef wanneer die koms van God se Koninkryk en sy oorlog van Armageddon baie naby is! Terwyl die nuuskanale van die wêreld hierdie lewensbelangrike nuus byna geheel en al ignoreer, verkondig Jehovah se Getuies dit wêreldwyd. Hierdie goeie nuus wat hulle verkondig, is nie net dat God die aarde van alle korrupsie gaan reinig nie, maar dat die hele aarde, onder die bewind van sy Koninkryksregering, in ’n pragtige paradys omskep gaan word.
Met betrekking tot hierdie aangeleenthede beloof die Bybel: “Want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddeloses sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.” En verder: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Spreuke 2:21, 22; Psalm 37:11, 29.
Sal jy graag beter ingelig wil word oor die bewyse dat die vervulling van hierdie wonderlike profesieë baie naby is? Indien wel, maak dit aan Jehovah se Getuies bekend. Hulle sal jou met graagte help verstaan dat die nuus van vandag in werklikheid beteken dat God se Koninkryk naby is, ja, dat ’n nuwe wêreld van geregtigheid ophande is.
[Foto-erkennings op bladsy 9]
Nordhausen/slave camp: USAF Official Photo; Starving child: WHO photo by W. Cutting; Industrial plant: WHO photo by P. Almasy