Kan jy die nuus wat jy kry, vertrou?
OP 10 Mei 1927 het ’n spesiale uitgawe van die Franse koerant La Presse berig dat die eerste suksesvolle ononderbroke vlug oor die Atlantiese Oseaan deur twee Franse vlieëniers, Nungesser en Coli, onderneem is. Op die voorblad was foto’s van die twee vlieëniers sowel as besonderhede oor hulle aankoms in New York. Maar hierdie storie was ’n versinsel. Die vliegtuig het in werklikheid neergestort, en die vlieëniers het gesterf.
Valse nuusberigte kom nietemin algemener voor as wat die meeste mense miskien dink. In 1983 is vertroulike notas, wat veronderstel was om Hitler s’n te wees, in belangrike weeklikse tydskrifte, veral in Frankryk en Wes-Duitsland, gepubliseer. Dit was blykbaar vervalsings.
In 1980 is daar eweneens ’n verslag oor ’n jong dwelmverslaafde in die Washington Post gepubliseer. Die joernalis het vir daardie berig ’n Pulitzer-prys, die hoogste toekenning aan ’n joernalis in die Verenigde State, verwerf. Later is daar ontdek dat die berig vals, ’n versinsel, is. Die joernalis het, onder druk van diegene wat die saak ondersoek het, haar bedanking ingedien en gesê: “Ek vra my koerant, my beroep, die Pulitzer-raad en alle waarheidsoekers om verskoning.”
Nuusversinsels, of valse berigte, is nietemin nie die enigste struikelblokke wat verhinder dat ’n mens die waarheid oor wat in die wêreld gebeur te hore kom nie.
Nuuskeuring en -aanbieding
Joernaliste en redakteurs kies dikwels nuus wat die publiek fassineer maar wat dalk nie werklik belangrik is nie. Hulle gee voorkeur aan nuus wat sensasioneel is of die aandag trek sodat hulle groter sirkulasie en gewildheid kan geniet. Sterre in die vermaaklikheids- en sportwêreld word op die voorgrond gebring, ongeag watter soort rolmodelle hulle vir die jeug is. As een van hulle dus ’n verhouding aanknoop, trou of sterf, kom dit dikwels in die nuus.
Televisienuus vertoon gewoonlik onderwerpe wat visuele aantrekkingskrag het. Volgens ’n berig in die tydskrif TV Guide het die hoof van ’n groot televisie-uitsaaifirma “gesê dat hy ‘tonele’ in die uitsendings wil hê—aangrypende sensasietonele om die kyker in elke berig te behaag”. Dit is inderdaad gewoonlik belangriker om die kykers te boei as wat dit is om die publiek op te voed.
Die manier waarop gebeure weergegee word, bring dalk nie die volle gedagte tuis nie. ’n Weeklikse byvoegsel by die Franse dagblad Le Monde het byvoorbeeld berig dat “drie televisiestelle in net vyftien dae [in Frankryk] ontplof het”. Hoewel dit as iets ongewoons aangebied is, was die getal ontploffings van televisiestelle vir daardie periode van 15 dae in werklikheid minder as gewoonlik.
Belangrike nuus word somtyds dalk ook op ’n subjektiewe manier aangebied. Parade Magazine berig dat amptenare en politici dikwels “hulle bedrog deur die media oordra en die nuus verdraai om jou denkwyse te beïnvloed. Hulle gebruik net sekere feite in plaas van die volle waarheid.”
Dit pla talle nuuskommentators. Die Franse Encyclopædia Universalis sê: “Sedert die einde van die tagtigerjare word die belangrike media, en veral die televisie, allerweë veroordeel deur beroepsmense en leke, deur die gewone man en deur bekende persoonlikhede weens wat gesê word en wat nie gesê word nie, weens die manier waarop dit gesê word en weens verskillende insinuasies.”
Die vrye uitruiling van nuus op wêreldskaal is ook ’n probleem, en dit was die onderwerp van ’n skerp woordewisseling by UNESCO (die Verenigde Volke se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur). Ontwikkelende lande het gekla dat hulle net in die nuus genoem word wanneer rampe hulle tref of wanneer daar ernstige politieke probleme is. Nadat ’n artikel in die Franse dagblad Le Monde gesê het dat sekere Westerse koerante heelwat meer nuus oor lande in die Noordelike Halfrond as oor dié in die Suidelike Halfrond bevat, sê dit: “Dit het aanleiding gegee tot ’n ernstige wanbalans wat die openbare mening in nywerheidslande sowel as in ontwikkelende lande beïnvloed.”
Pressiegroepe
Die druk wat adverteerders op nuusredakteurs uitoefen, beïnvloed ook die nuus wat die publiek ontvang. In die veertigerjare het ’n Amerikaanse tydskrif advertensies van klaviervervaardigers verloor toe dit ’n artikel gepubliseer het oor die voordele van die gebruik van die ghitaar om sang te begelei. Later het die tydskrif ’n hoofartikel gepubliseer wat die klavier hoog aangeslaan het! Die betreklike skaarste aan artikels wat op die gevare van rook wys, is dus nie verbasend as ons in aanmerking neem vir hoeveel tydskrifte sigaretadvertensies ’n groot bron van inkomste is nie.
Die lesers of kykers self is nog ’n pressiegroep. Raymond Castans, vorige direkteur van ’n gewilde Franse radiostasie, het verduidelik dat luisteraars meestal konserwatief is, en dat daar dus versigtig te werk gegaan moes word om hulle nie te ontstel nie. Is dit dus verbasend dat onaangename feite oor ’n sekere godsdiens verswyg of verdoesel word in ’n land waar daardie godsdiens oorheersend is?
Ekstremistiese groepe of persone wat dink dat hulle menings nie genoeg aandag in die media gegee word nie, oefen ook druk uit. ’n Paar jaar gelede het die terroriste wat Aldo Moro, die gewese eerste minister van Italië, ontvoer het, daarop aangedring dat hulle eise volle dekking op die televisie, oor die radio en in Italiaanse koerante gegee word. Terroriste wat vliegtuie kaap en gyselaars aanhou, kom eweneens in die TV-nuus en verkry sodoende die publisiteit wat hulle soek.
Beriggewers word soms daarvan beskuldig dat hulle konformisties is, dat hulle bestaande stelsels en menings laat voortbestaan. Maar kan ons verwag dat ’n bedryf wat soveel lesers of luisteraars moontlik wil werf idees en beskouings sal voorstaan wat strydig is met dié van die meeste mense wat deur hulle bedien word?
’n Verwante probleem is dat stygende pryse in baie lande veroorsaak het dat dagblaaie saamgesmelt het, en sodoende het dit “persryke” in die hande van groepies of selfs een persoon tot gevolg gehad. As die aantal eienaars aanhou verminder, sal dit die verskeidenheid van gedrukte menings beperk.
Uitwerking op die publiek
Die nuusmedia het ook daartoe bygedra om maatskaplike norme te vorm. Dit word gedoen deur sedelike standaarde en leefwyses wat net ’n paar jaar gelede verwerp sou word as aanvaarbaar voor te stel.
In die vroeë tagtigerjare het ’n middeljarige man, een van Jehovah se Getuies, byvoorbeeld ’n gesprek oor homoseksualiteit gevoer met sy vader, wat destyds nie ver van San Francisco, Kalifornië, gewoon het nie. Die vader het vroeër in sy lewe aan sy seun verduidelik dat hy homoseksuele gedrag as skokkend beskou. Maar toe, dekades later, nadat hy deur die nuusmedia beïnvloed is, het die bejaarde vader homoseksualiteit as ’n aanvaarbare alternatiewe leefwyse verdedig.
Die Ensiklopedie van sosiologie (Frans) sê: “Dit is heel moontlik dat die radio en die televisie . . . nuwe idees inskerp, dat dit nuwe of verontrustende neigings aanmoedig. Weens ’n voorliefde vir sensasieberigte hemel hierdie media dit van die begin af op en oordryf dit die belangrikheid daarvan.”
Wat kan ons doen as ons nie wil hê dat ons norme deur die media gevorm moet word nie? Ons moet die wyse raad volg wat in die Bybel gevind word. Dit is omdat die standaarde en beginsels daarin vir enige gemeenskap te eniger tyd in die geskiedenis geldig bly. Hulle help ons boonop om te verstaan hoe belangrik dit is om deur God se standaarde gevorm te word en nie deur die gewilde idees van die hedendaagse wêreld nie.—Jesaja 48:17; Romeine 12:2; Efesiërs 4:22-24.
Die Skrif verduidelik boonop ’n belangrike aspek van die nuus waarvan die media gewoonlik nie kennis dra nie. Kom ons ondersoek hierdie aspek in die volgende artikel.
[Prent op bladsy 7]
Die ekstremistiese bewegings kry die publisiteit wat hulle wil hê
[Erkenning]
Photo ANSA