Jongmense vra . . .
My ouers gaan uitmekaar—Wat moet ek doen?
“My pa het ons vier kinders een aand uitgeneem vir roomys. Sy stem het skielik baie formeel geraak. Hy het vir ons gesê: ‘Ek en julle ma kom nie met mekaar oor die weg nie, daarom gaan ek weg. Ek sal miskien hierdie somer terug wees.’ Nie een van ons het iets gesê nie. Sy tasse moes alreeds gepak gewees het, want toe hy ons by die huis aflaai, het hy nie ingekom nie. Ons het uit die motor geklim en in die oprit gestaan en ons oë uitgehuil terwyl my pa weggery het.”—Tom.a
TOM se ouers het nooit weer na mekaar toe teruggegaan nie. Maar op daardie tydstip het Tom glad nie geweet of hulle dit sou doen of nie.
Randy se ouers daarenteen, is meer kere uitmekaar as wat hy kan onthou. “Pa het partykeer vir ’n maand of twee op ’n keer weggegaan”, sê hy. “Dan het hy teruggekom, en ’n ruk lank sou dit goed gaan. Dan was hy skielik weer weg.”
Egskeiding klink so droewig, so finaal. Maar wanneer jou ouers net uitmekaar is, en jy nog nie weet of hulle gaan skei of nie, kan die onsekerheid aan jou knaag. Baie ouers, soos Randy s’n, gaan weer na mekaar toe terug, maar later gaan hulle weer uitmekaar. Volgens die boek Divorced Families loop nagenoeg 50 persent van skeidings op ten minste ’n tydelike versoening uit. Maar soos egskeidingsnavorsers Judith Wallerstein en Sandra Blakeslee opmerk: “Egskeiding word dikwels voorafgegaan deur etlike skeidings, wat elkeen lyk asof dit beslissend is maar wat dan nie finaal is nie. Dit kan kinders verwar en hulle laat dink dat hulle ’n versoening kan verwag.”
Die woorde ‘Ek kom miskien terug’ klink so veelbelowend. Maar daar is vrae wat pynlik in die lug bly hang. Jy wonder: ‘Sal my ouers op die ou end skei? Hoe kan ek die gevoelens verwerk wat my nou verskeur?’
Hoe om jou deur die storm te stuur
Jy is moontlik aanvanklik terneergedruk, moeg, en kan nie konsentreer nie, of soms is jy dalk smoorkwaad. Of miskien is dit asof jy niks voel nie. Hierdie is almal algemene reaksies op ’n kritieke situasie—een wat vandag alte dikwels voorkom. Hoewel God se Woord egpare aanmoedig om bymekaar te bly en hulle probleme op te los, het die wêreld se gesindheid teenoor die huwelik baie versleg (1 Korinthiërs 7:10-16). Die kanse dat ’n huwelik vandag sal slaag, is hoogstens 50 persent. Soos die Bybel lank gelede voorspel het, het ons eeu ’n drastiese afname in die “natuurlike liefde” ervaar wat vroeër so algemeen onder gesinne voorgekom het.b—2 Timotheüs 3:3.
Hoe kan jy dit verwerk? Wat jy deurmaak, kan met ’n storm in jou lewe vergelyk word. As jy só daaraan dink, kan dit jou op twee maniere help. Eerstens, geen storm duur vir ewig nie. Die emosionele pyn wat jy nou ervaar, sal mettertyd, soos in die geval van alle storms, bedaar. En tweedens, jy kan jouself deur hierdie storm stuur. Jy hoef nie ‘onder te gaan’ nie. Maar net soos ’n skip tydens ’n storm die rotse moet vermy, is daar verskeie rotsagtige gevare wat waarlik moeilikheid kan beteken. Kom ons bespreek ’n paar.
Valse verwagtinge
Een so ’n gevaar sou wees om jou hart daarop te sit om jou ouers weer bymekaar te kry. Anne sê: “Nadat my ouers uitmekaar is, het hulle ons soms nog saam uitgeneem. Ek en my suster het dan vir mekaar gefluister: ‘Kom ons hardloop vooruit en los hierdie twee alleen.’ Maar”, sug sy, “ek glo nie dit het gewerk nie. Hulle het nooit weer na mekaar toe teruggekom nie.”
Soos Spreuke 13:12 sê: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek.” Onthou, jy het nie beheer oor wat jou ouers doen nie. Jy het nie veroorsaak dat hulle uitmekaar is nie, en na alle waarskynlikheid kan jy ook nie tussenbeide tree en hulle huwelik red nie.—Sien ook Spreuke 26:17.
Die gevaar van haat
Woede en haat kan die dodelikste “rotse” wees waarmee jy in hierdie storm te doen sal kry. Tom onthou sy gevoelens toe hy 12 was. “Ek het werklike woede teenoor my pa begin voel. Ek hou nie daarvan om die woord ‘haat’ te gebruik nie, maar ek het ’n verskriklike wrok gekoester. Ek kon nie verstaan hoe hy vir ons kon omgee as hy ons verlaat het nie. En ek dink dat ek vir myself gesê het dat dit nou my beurt is om hom te laat weet hoe ek voel.”
Huwelikskeiding is selde ’n wedersydse besluit; dit is dus natuurlik dat een ouer volgens jou dalk meer blaam dra. Dit kan selfs wees dat een van jou ouers God se wet om getrou te wees aan hul huweliksmaat oortree het (Hebreërs 13:4). Maar hoe moet jy in elk geval die ouer beskou wat blykbaar meer skuld dra? Moet jy daardie ouer haat of probeer om ten behoewe van die veronregte ouer wraak te neem?
Onthou eerstens dat skeiding selde so eenvoudig is soos een ouer wat heeltemal “sleg” is en die ander een wat heeltemal “goed” is. Jou ouers het jou heel moontlik nie alles omtrent hulle huwelik of die verbrokkeling daarvan vertel nie; hulle verstaan dit moontlik nie eers self nie. Moet dus nie ’n situasie veroordeel waarvan jy nie al die feite het nie (Spreuke 18:13). Gelukkig is God die Regter in al sulke aangeleenthede. Hy stel jou nie as die regter of die bestrawwer van jou ouers aan nie. Wat ’n verligting is dit tog nie! Wie van ons kan werklik só ’n verantwoordelikheid dra?—Romeine 12:19.
Dit is weliswaar moeilik om woede te onderdruk; en dit is heel natuurlik dat jy op die oomblik hewig ontsteld is. Maar as jy woede en wraaksug voed, kan dit jou persoonlikheid geleidelik vergiftig. Die Bybel sê dat ‘’n rustige hart die lewe vir die vlees is’. ’n Kalm hart is tog seker nie vol bitterheid nie. Dit is geen wonder dat die Bybel vir ons sê om ‘die toorn te laat staan en die grimmigheid te verlaat’ nie (Spreuke 14:30; Psalm 37:8). Verder is die Bybel se gebod om jou ouers te eer selfs geldig wanneer jou ouers jou in die steek gelaat het.—Lukas 18:20.
Tom het dus probeer om sy woede te bowe te kom. Hy sê nou: “Dit is maklik om ’n wrok te koester en by jouself te dink: ‘Hy’s die een wat verkeerd opgetree het. Dis net reg dat ek hom haat.’ Maar ek het myself begin afvra: ‘Is dit werklik reg?’ En ek het besef dat dit nie reg is nie. Jy kan nie as Christen ’n wrok koester nie.”
Wanneer die Bybel sê dat jy die toorn moet laat staan, raai dit jou natuurlik nie aan om voor te gee dat jou toorn nie bestaan nie. As jou ouers se optrede jou seergemaak het, kan jy gerus probeer om met hulle daaroor te praat, en hulle eerbiedig probeer bewus maak van jou beskouing.—Sien Spreuke 15:22, 23; 16:21.
Vasgevang in die middel
‘Maar hoe verwerk ek hierdie gevoel dat ek as gevolg van my ouers in twee geskeur word?’ vra jy dalk. Dit kan besonder moeilik wees om hierdie “rots” te vermy. Randy sê: “Wat ek die meeste gevrees het oor my besoeke aan my pa was dat my ma my na elke besoek deeglik uitgevra het. En sy het dinge regtig verdraai om hom in ’n slegte lig te stel. Ek het dan gesê: ‘Ag, Ma! Waarom doen Ma dit? Los my uit!’ En dan het sy kwaad geword en my gedwing om haar vrae te beantwoord.”
Soms gebruik ouers hulle kinders om grimmige boodskappe van die een na die ander oor te dra of selfs om op mekaar te spioeneer! Een vrou wou uitvind hoeveel geld haar vervreemde man het. Sy en haar tienjarige seuntjie het dus ’n venster in die vader se huis met ’n inbreekyster oopgebreek, en die seuntjie het toe ingeklim om sy vader se tjekboek te steel. “Ons sal hom kry!” het die seuntjie met ooglopende genoegdoening gesê.
Dit is onredelik van jou ouers om jou as ’n instrument vir wraak te probeer gebruik. Maar onthou dat hulle ontsaglike emosionele verwarring ondervind. Wees dus so geduldig moontlik met hulle. Praat met hulle. Jy kan moontlik iets sê soos: ‘Ma en Pa, ek is lief vir julle albei. Moet my dus asseblief nie gebruik om mekaar seer te maak nie.’ Nie dat jy ontegemoetkomend moet wees, en moet weier om enige boodskappe van die een aan die ander oor te dra nie. Maar as jou ouers wraaksugtig of hatig raak, is dit tyd om tussen hulle uit te kom.—Spreuke 26:17.
Om dieselfde rede sal dit skynheilig wees om een ouer teen die ander uit te speel tot jou eie voordeel, en dinge te sê soos: “Ek wil by Ma gaan bly. Sy laat my altyd doen wat ek wil.” Ouers voel moontlik na ’n skeiding baie skuldig oor die spanning waaraan hulle hul kinders onderwerp het en hou desperaat aan hulle vas. Jongmense wat bewus is van die mag wat hulle op dié manier oor hulle ouers het, kan moontlik in die versoeking kom om dit te misbruik. Maar jy wil tog sekerlik nie manipulerend wees nie.
Om ’n storm te oorleef behels egter meer as om net die rotse te vermy. ’n Toekomstige artikel sal verskeie positiewe stappe bespreek wat jy kan doen om jou te help om jou ouers se skeiding te verwerk.
[Voetnote]
a Party van die name is verander.
b Sien die artikel “Hoekom is Ma en Pa uitmekaar?” in Ontwaak! se nommer van 22 Oktober 1987 vir ’n bespreking van die oorsake van huweliksverbrokkeling. Sien ook die artikels “Jongmense vra . . . ” in die nommers van 22 Desember 1987 en 22 Mei 1988.
[Lokteks op bladsy 11]
Wat jy deurmaak, kan met ’n storm in jou lewe vergelyk word. Deur só daaraan te dink, kan dit jou help om daardeur te kom, want geen storm duur vir ewig nie
[Lokteks op bladsy 12]
Dit is moeilik om woede te onderdruk; en dit is heel natuurlik dat jy op die oomblik baie ontsteld is. Maar as jy woede en wraaksug voed, kan dit jou persoonlikheid geleidelik vergiftig