Die 1990s’—’n dekade van onsekerheid
DIE begin van die negentigerjare het nuwe verwagtinge vir wêreldvrede gebring. Maar dit het ook ongeëwenaarde onsekerheid en verwarring gebring.
Daar is byvoorbeeld groot onsekerheid oor wat in nasies sal gebeur wat mislukte staatsbeplande ekonomieë laat vaar. ’n Aantal van hierdie lande is besig om na vrye kapitalisme te beweeg. Maar baie nasies wat reeds kapitalisties is, het te kampe met heersende armoede en werkloosheid, hoë inflasie en skuld. Selfs die Verenigde State het ontsaglike binnelandse skuld—sowat agtbiljoen rand—en is ook die grootste debiteurland in die wêreldhandel.
’n Hoofartikel in die New York Times het die volgende opgemerk oor een gevolg van die wêreld se ekonomiese probleme: “Daar is meer brandarm mense in die wêreld as ooit tevore.”
Baie het hulleself, gedeeltelik as gevolg van toenemende onsekerheid, in selfsugtigheid verskans: die ek-eerste-houding, materiële hebsug, die begeerte na onmiddellike bevrediging ongeag die gevolge. Algemene dwelmmisbruik is ’n bewys hiervan. Christopher Lasch, ’n professor in die geskiedenis aan die Universiteit van Rochester, het dit so gestel: “Die morele waardes van ons kultuur het in duie gestort.”
Internasionaal erkende ekonoom Arjo Klamer sê: “Kunstenaars, ekonome, sakemanne en gesinne het vertroue in modernistiese sekerhede verloor. . . . Ontnugtering het die emosie geword wat mense van alle kringe en vakgebiede deel.” Hy het gesê dat “verwarring heers”, en het bygevoeg: “Verbrokkeling. Leegheid. Ironie. Chaos. Dit is van die woorde wat nou in die mode is. Hulle omskryf die ingewikkelde web van post-modernisme waarin die hedendaagse mens verlore is.”
Die ellende op aarde bewys dat die wêreld se politieke, ekonomiese en maatskaplike stelsels nie blywende oplossings vir vandag se ontsaglike probleme en onsekerhede het nie. Maar hierdie presiese situasie is vir ons tyd in Bybelprofesieë voorspel. Let op ’n paar voorbeelde: ‘In die laaste dae sal daar swaar tye kom.’ “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid . . . en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom.”—2 Timotheüs 3:1; Lukas 21:25, 26.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Fotografía de Publicaciones Capriles, Caracas, Venezuela