’N Wêreld buite beheer
Die mens se koorsagtige najaging van onmiddellike bevrediging het tot gevolg dat hy beheer verloor het. Beskou net ’n paar voorbeelde:
Ekologies: Die mens verwoes die omgewing. Op die lang termyn kan die gevolge rampspoedig wees; op die kort termyn beteken dit egter geld vir die nywerheid sowel as die regering wanneer die aarde se hulpbronne geplunder word en daar min gedoen word om besoedeling te beperk. Die verwoesting duur dus voort, ten spyte van die besware van omgewingsdeskundiges.
Ekonomies: Rondom die wêreld leen nasies meer en meer geld en hoop hulle skuld op ter wille van die ekonomiese behoeftes van die oomblik. Hulle ignoreer onverskillig die sombere waarskuwings van ekonome—dat die rente op al daardie lenings later ’n ondraaglike las kan word, of dat ’n wêreldekonomie wat op wêreldskuld gebou is onheilspellend wankelrig is en ineen kan stort as arm lande versuim om hulle lenings terug te betaal.
Moreel: Mense wat dwelms en alkohol misbruik, dobbelaars, alle soorte misdadigers, egbrekers, hoereerders—wie sal ontken dat hulle getalle vandag oor die hele wêreld toeneem? Hulle is ’n uiteenlopende groep met ’n gemeenskaplike gesindheid: Hulle wil dit NOU hê! Hetsy “dit” seks, geld, mag of net ’n bedwelming is, baie mense is bereid om hulle huwelik, gesin, gewete, finansiële sekuriteit, gesondheid, reputasie, selfs hulle lewe, weg te gooi ter wille van sulke kortstondige genietinge.
Dit is nouliks oordrywing om te sê dat die wêreld van vandag buite beheer is en deur ’n feitlik kinderagtige hebsug aangedryf word. Party stry opreg teen die kortsigtigheid wat so algemeen in die wêreld voorkom. Maar die kragte wat versiendheid en selfbeheersing in ons almal ondermyn, is baie sterker en alomteenwoordig.
Ondermynende invloede
Die hedendaagse mens, veral dié in die meer geïndustrialiseerde nasies, word gedurig deur die media aan ’n propagandavloed blootgestel. Hetsy deur middel van die televisie, radio, rolprente, tydskrifte of koerante, onmiddellike bevrediging word op ’n bedrewe wyse bevorder.
Advertensies doen ’n beroep op jou om te koop, koop, koop—en om aansoek te doen om kredietkaarte sodat jy nou, nou, nou kan koop. Tallose produkte is net ’n telefoonoproep ver. Dit lyk of die advertensies gerusstellend voorstel: ‘Moenie bekommerd wees nie—betaal later!’ Hulle is met ’n feitlik bonatuurlike vaardigheid daarop gemik om die sinne te verlei. Blaai jy deur ’n tydskrif, ruik jy net parfuum. Sit jy die radio aan, maal ’n advertensie dae lank in jou kop. Sit jy die TV aan, gryp die kleurryke beelde jou verbeelding aan. Soos in musiekvideo’s flits die beelde vinnig genoeg verby dat selfs mense wat swak konsentreer daardeur geboei word.
Die televisie doen meer as om net onmiddellike bevrediging te adverteer. Dit maak dit moontlik. Deur net ’n knoppie te druk, word die begeerte om vermaak te word, bevredig. Dit vermaak jou dikwels deur te wys hoe mense hulle eie drange bevredig. Die man van aksie wend hom tot geweld wanneer sy opponente ‘dit verdien’. Die vrypostige kind verneder sy ouers met onbedagsame kwinkslae. Die sinlike romantikus swig maklik voor egbreuk of voorhuwelikse seks. Die TV veroordeel selde hierdie karakters vir hulle gebrek aan selfbeheersing; dit hemel hulle op en verheerlik hulle met dramatiese glorie of ’n goedkeurende koor van nagemaakte gelag.
’n Onlangse artikel in The Atlantic Monthly het ook gesê dat die Hollywood-rolprent van vandag “’n skouspel is wat noukeurig daarop gemik is om by elke enkele oomblik bevrediging te verskaf”, en “een rolprent na die ander se luide boodskap is herhaaldelik: ‘Jy kan dit alles hê!’” Dit lyk of niks hedendaagse gehore meer bevredig as geweld nie. Die artikel beweer dat rolprente in die verlede “die kyker se drang om saam te begin skop, onderdruk het”, terwyl “rolprentgeweld nou eerder hoofsaaklik gebruik word om die kyker uit te nooi om die gevoel om dood te maak, te slaan en te vermink, te geniet”. Trouens, aksie en geweld het die verhaal en dialoog in rolprente so verdring dat die draaiboeke vandag op skrif 25 persent korter is as in die veertigerjare, al is die rolprente self net so lank.
Die wêreld se godsdienste is in ’n ideale posisie om die mensdom uit hierdie dwase ‘manie vir die oomblik’ te help. Maar so baie godsdiensleiers is blykbaar vasgevang in hulle eie soeke na onmiddellike bevrediging. Hoe dikwels lees ons nie hoe hulle mag en invloed in die politieke arena najaag nie, of hoe hulle die guns van hulle eiesinnige kuddes probeer win deur sedelike standaarde af te water, of hoe hulle selfs die Bybel gebruik as ’n regverdige dekmantel waaragter hulle skuil, sodat hulle skynheilig die dinge kan doen wat hulle wil. In plaas daarvan om onmiddellike bevrediging te ontmasker vir wat dit dikwels is—’n deel van die verlokking van sonde—het hulle hulle by ander ‘sedeleiers’ geskaar wat die begrip sonde as onbelangrik afmaak deur dit te herdefinieer met vleiende eufemismes, soos ‘oorgeërfde probleme’ en ‘alternatiewe lewenstyle’.—Sien venster op bladsy 8.
’n Instrument om die neiging teë te werk
Hoe kan ons hierdie gesindheid in die wêreld teëstaan? Hoe kan ons besluite neem sonder om uitermate deur die verlokking van onmiddellike bevrediging beïnvloed te word? Die antwoord verras jou dalk: Die Bybel kan ons help. In teenstelling met wat baie mense dalk dink, is die Bybel nie teen plesier gekant nie. Die Bybel staan nie asketisme of strenge selfverloëning voor nie. Inteendeel, die Bybel leer ons hoe ons gelukkige lewens kan lei en plesier op sy regte plek kan hou.
Die Bybel beskryf die Skepper as “die gelukkige God”, wat ‘bly is oor sy werke’ (1 Timotheüs 1:11, NW; Psalm 104:31). Prediker 3:1 sê aangaande mense: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd.” Dit sluit, volgens die daaropvolgende verse, ’n tyd in om te lag, ’n tyd om van vreugde rond te spring, ’n tyd om te omhels en ’n tyd om lief te hê. Spreuke 5:18, 19 verheerlik selfs die prag van seksuele genot tussen man en vrou wanneer dit aan mans sê: “Verheug jou oor die vrou van jou jeug.” Dit is dus duidelik dat bevrediging nie altyd verkeerd is nie, en dat alle vorme van bevrediging nie arbitrêr as verkeerd beskou moet word nie. Maar selfbeheersing ontbreek dikwels.—Galasiërs 5:22, 23.
Ons moet ons eie plesier in die regte perspektief sien. Ons moet die regte prioriteite hê. Om God te behaag moet voor ons eie plesier gestel word; dit moet eerste in ons lewe kom. Liefde vir ons medemens kom volgende (Mattheüs 6:33; 22:36-40). As ons God en ons naaste werklik liefhet, sal ons ons eie bevrediging met graagte ná hierdie twee prioriteite stel.
Prioriteite wat op die Bybel gebaseer is, sal ons ook help om ferm nee te sê vir bevrediging wanneer ons moet. Ons sal dronkenskap, owerspel, hoerery, dobbelary, hebsug, dwelmmisbruik en geweld uitskakel. Hierdie sondes bied elkeen op hulle manier onmiddellike bevrediging, maar hulle mishaag God en benadeel ons medemens. God se wette teen hierdie sondes is ’n gewisse teken van sy liefde vir ons, want op die lange duur betaal die sondaar ’n duur prys. Die prys kan siekte, ’n gebroke gesin of armoede wees. Dit kan so finaal soos die dood wees of so tragies soos ’n oppervlakkige en onvervulde lewe.
Volg goeie voorbeelde na
God wil hê ons moet gelukkige, produktiewe lewens lei; sy Woord bevat baie voorbeelde van mans en vroue wat dit wel gedoen het. In baie gevalle het hulle geloof en liefde vir God hulle beweeg om hulle eie bevrediging uit te stel. (Sien Hebreërs, hoofstuk 11.) Moses is ’n goeie voorbeeld hiervan. Aangesien hy grootgemaak is as die seun van Farao se dogter in eertydse Egipte, is ’n lewe van bevrediging vir hom in die vooruitsig gestel. Mag, invloed, rykdom en baie seksuele geleenthede kon sonder twyfel alles syne gewees het as hy in Farao se huishouding gebly het. In plaas daarvan het hy hom geskaar aan die kant van die nasie Israel wat verag is en in slawerny was. Waarom?
Hebreërs 11:25 sê dat hy verkies het “om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê”. Moses het besef wat onmiddellike bevrediging werklik is. Onmiddellik. Tydelik. Gou verby. Pleks van hom toe te spits op dinge wat hom tydelike plesier kon verskaf, het hy dus ’n leefwyse nagestreef wat tot ’n gelukkige toekoms sou lei. Soos Hebreërs 11:26 sê: “Hy het uitgesien na die beloning.” Daardie beloning en ook die Beloner was vir hom ’n werklikheid. Vers 27 lui: “Hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.”
Party sal dalk spot met die keuse wat Moses gemaak het. Party sal dalk sê dat hulle die rykdom, die mag, die roem sou gekies het. Maar dink daaroor na: Sou ons ooit van Moses geweet het as hy die weg van onmiddellike bevrediging gekies het? Sou sy Egiptiese naam in ’n museum behoue gebly het as ’n hiëroglief op ’n gebarste, verweerde steen wat ’n onbekende kleinigheid is en waarvan net ’n handjievol argeoloë weet? Of sou dit heel waarskynlik begrawe en vergete gelê het onder 34 eeue se stof en sand? En wat van sy beloning? Kon Moses verseker wees van ’n plek in Jehovah se geheue as hy die maklike weg gekies het, naamlik om homself te plesier?
Moses se naam dien as inspirasie vir miljoene mense vandag. Sy toekoms is verseker. Jou toekoms kan ook so seker wees. Jy kan ook ’n bron van bemoediging vir ander wees. Wanneer jy besluite, hetsy groot of klein, in jou lewe neem, moet jy nie bedrieg word deur die wêreld se propaganda, naamlik dat jy die dinge wat jy wil hê NOU moet hê nie! Vra jou af: ‘Is die dinge wat ek wil hê in ooreenstemming met wat my Skepper vir my wil hê? Sal die najaging van die dinge wat ek nou wil hê, beteken dat ek my geestelike doelwitte op die agtergrond sal moet skuif? Plaas ek enigsins my beloning op die spel? Watter soort voorbeeld stel ek vir vriende en familie?’
Moenie die kortsigtigheid van die wêreld bo die versiende wysheid van God kies nie. Moenie langtermyngeluk vir kortstondige plesier, die ewige vir die tydelike, verruil nie. Ons Skepper bied ons per slot van rekening bevrediging in die mees omvattende maniere denkbaar. Soos Psalm 145:16 van hom sê: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” Soms is hierdie bevrediging onmiddellik; soms verg dit tyd en geduld. ’n Lewe in Jehovah se diens is vol plesier—die prag van die skepping, die hartlikheid van vriendskap, die genot van uitdagende en lonende werk, die vreugde om antwoorde te kry op lewensvrae wat ’n mens kwel. Daarbenewens bied die Skepper ons ’n lewe wat vir ewig bevredigend sal wees.—Johannes 17:3.