Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 6/22 bl. 6-7
  • Waarom die “diep kommer?”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom die “diep kommer?”
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Liberale Katolieke is bekommerd
  • Andersdenkende teoloë
  • Baie Katolieke is verward
  • ’n Nuwe skisma
    Ontwaak!—1990
  • Waarom die verdeeldheid?
    Ontwaak!—1990
  • Die kerk—veranderinge en verwarring
    Ontwaak!—1993
  • Vatikaan II—Seën of vloek?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 6/22 bl. 6-7

Waarom die “diep kommer?”

POUS JOHANNES PAULUS II het sy “wanhoop” uitgespreek oor die skisma van aartsbiskop Lefebvre se tradisievaste Katolieke beweging. Die kerk, het hy gesê, is “baie ontsteld”.

Katolieke priester Joaquín Ortega, ondersekretaris van die Rooms-Katolieke biskopsvergadering in Spanje, het die situasie betreur: “Ons het in ’n ‘supermark-Katolisisme’ verval. Mense soek uit wat hulle pas, asof ons leerstellings blikkies groente is.”

Aartsbiskop Lefebvre hou vol dat die Tweede Vatikaanse Konsilie die tradisionalistiese Katolieke Kerk verraai het, en die kerk aan veranderinge blootgestel het. Hy meen dat die konsilie dus die oortuiging van Katolieke, dat hulle aan die een ware kerk behoort, geskok het.

Die International Herald Tribune het die argumente van Lefebvre en sy ondersteuners opgesom en geskryf: “Die tradisionaliste redeneer dat die kerk òf voor die konsilie verkeerd was, òf dat hy nou verkeerd is, maar hy moet een van die twee kies. As die kerk hom voor die konsilie vergis het, sê hulle, dan kon hy net sowel oor ander leerstellings verkeerd gewees het. ‘Ons is hier om ons gehegtheid aan die kerk van alle tye te betoon’, het die aartsbiskop gesê.”

Maar talle opregte Katolieke wonder of die dinge wat die kerk voor die Tweede Vatikaanse Konsilie geleer en gedoen het die waarheid of onjuistheid is.

Liberale Katolieke is bekommerd

Talle liberale Katolieke is bekommerd dat die stappe wat by die Tweede Vatikaanse Konsilie gedoen is, en wat volgens hulle progressief is, as gevolg van die Lefebvre-aangeleentheid gesaboteer word. Hulle het geskrik vir onlangse amptelike verklarings deur die Vatikaan, soos dié wat kardinaal Ratzinger, die bewaker van Katolieke ortodoksie, gemaak het. Hy is hoof van die Vatikaanse agentskap wat vier eeue lank bekend was as die Gemeente van die Heilige Inkwisisie.

Kardinaal Ratzinger, prefek van die Heilige Gemeente vir die Leer van die Geloof, in Rome, het gesê: “Skismas ontstaan net wanneer mense opgehou het om sekere waarhede en waardes van die Christelike geloof uit te leef en lief te hê.” Progressiewe Katolieke is bang dat die kardinaal “waarhede en waardes” in gedagte gehad het wat kenmerkend was van die Rooms-Katolieke Kerk in die dae voor die Tweede Vatikaanse Konsilie.

’n Artikel getiteld “Die prys van ’n skisma”, wat in die Franse koerant Le Monde gepubliseer is, het sulke vrese verwoord en gesê: “Wie weet of die Vatikaan nie—onwetend of sonder om dit te erken—besig is om ‘tradisionalisme sonder Lefebvre’ te begin beoefen nie? . . . Probeer [die Vatikaan] nie nou om die tradisievaste geestelikes en leke terug te wen en bowenal Katolieke gesag en waardes te herstel waar dit die meeste betwis word nie, veral in Wes-Europa en Noord-Amerika?”

Andersdenkende teoloë

In Januarie 1989 het 163 Katolieke teoloë van Wes-Duitsland, Nederland, Oostenryk en Switserland ’n verklaring uitgereik wat nou bekend is as die Keulse Verklaring. In die daaropvolgende weke het honderde Katolieke teoloë van ander lande, waaronder Italië, by hulle aangesluit. Hierdie golf van onenigheid is veroorsaak deur die Vatikaan se eiemagtige aanstelling van ’n konserwatiewe prelaat as Katolieke aartsbiskop van Keulen, Duitsland, teen die wense van die plaaslike hiërargie. Maar die protes het verder gegaan as die aanstelling van regsinnige biskoppe. Dit het ook kapsie gemaak teen tugstappe deur die Vatikaan om teoloë stil te maak wat “die teologiese denke wat deur die Tweede Vatikaanse Konsilie beklemtoon is”, aanhang. Die teoloë het ook die pous se reg bevraagteken om sy beskouings “op die gebied van geloofsleer” op te lê, veral in verband met geboortebeperking.

In reaksie op hierdie verklaring het kardinaal Ratzinger reguit gesê dat diegene wat die Vatikaan se beskouing van geboortebeperking en egskeiding verwerp, ’n onjuiste vertolking van “gewete” en “vryheid” gee en die tradisionele leringe van die kerk skend. Hy het Amerikaanse prelate onlangs daaraan herinner dat hulle nie moet toelaat dat teoloë se “onharmoniese konsert” hulle lering beïnvloed nie.

Baie Katolieke is verward

’n Frans-Katolieke teoloog het in ’n onderhoud met Le Monde gesê: “Dit sou ’n fout wees om te beweer . . . dat hierdie krisis net die teoloë raak. Hulle gee bloot uiting aan die diep kommer van ’n groot aantal Katolieke.”

Talle opregte Katolieke wonder of rebelse aartsbiskop Lefebvre, hoewel hy geëkskommuniseer is, nie moontlik ‘’n veldslag verloor, maar die oorlog gewen het’ nie. Trouens, daar word toegewings vir Lefebvre se ondersteuners gedoen in ’n poging om hulle na die kudde terug te bring. In baie Katolieke kerke word die Mis weer in Latyn opgedra, en konserwatiewe biskoppe word aangestel. Dit is interessant dat tradisievaste Katolieke wil weet: ‘Waarom is Monseigneur Lefebvre geëkskommuniseer terwyl Katolieke priesters in Holland wat homoseksuele “huwelike” seën en Suid-Amerikaanse priesters wat revolusionêre vryheidsteologie voorstaan nog steeds lede van die kerk is?’

Al hierdie dinge verwar talle Katolieke. ’n Franse Katoliek het aan die Katolieke dagblad La Croix (Die Kruis) geskryf: “Eenvoudige Christene, soos ek, ly omdat diegene wat betrokke is [by die kerk se onenighede] nie dinge bespreek en tot ’n ooreenkoms kom nie. Party mense loop stilletjies van godsdiensbeoefening, indien nie die Kerk nie, weg.”

Sulke mense kan waarskynlik nie verstaan waarom die kerk wat hulle as die ware beskou so verdeeld is nie. Selfs Katolieke priester René Laurentin het gevra: “Waarom hierdie verdeeldheid onder Christene?” Laat ons kortliks ’n paar redes beskou.

[Lokteks op bladsy 7]

“Die tradisionaliste redeneer dat die kerk òf voor die konsilie verkeerd was, òf dat hy nou verkeerd is, maar hy moet een van die twee kies.”—International Herald Tribune.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel