Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 2/22 bl. 5-7
  • Die oorsake van die probleem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die oorsake van die probleem
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie neem die besluite?
  • Die kwessie van privaatheid
  • Hoe om met kinders te werk
  • Mededingers om liefde
  • ’n Tragiese verandering in waardes
  • ’n Goeie verhouding met die skoonfamilie is moontlik
    Ontwaak!—1990
  • Versorging van die bejaarde—uitdagings en belonings
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Uit die mond van kinders
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Hoe om vir jou bejaarde ouers te sorg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 2/22 bl. 5-7

Die oorsake van die probleem

“TE VEEL sout is nie goed vir die gesin nie!” sê die ma. “Maar die kos is so laf en smaakloos!” hou die skoondogter vol. Sy gooi ’n knippie sout by wanneer die ma haar rug draai.

Omdat elkeen haar sin probeer kry, eet hulle op die ou end ’n gereg wat nie een van die twee geniet nie. Maar die gevolge kan veel ernstiger wees as dit. Wrywing met die skoonfamilie kan aanleiding gee tot verstandelike en emosionele worstelinge wat jare lank aanhou.

Hierdie soort konflik lyk vir talle onvermydelik. “Hoe goed ’n familie ook al met mekaar oor die weg kom, daar sal stellig wrywing tussen ’n ma en haar skoondogter kom”, skryf dr. Sjigeta Saito, voorsitter van die Japanse Vereniging van Sielsiekehospitale. Maar die probleem kom nie net in die Ooste voor nie.

Ontwaak!-medewerker in Italië berig dat “die gebruik om te trou en by die ouers van òf die bruid òf die bruidegom in te trek probleme in baie gesinne veroorsaak, en talle jong vroue ly as gevolg van die dikwels bemoeisieke en outoritêre houding van hulle skoonma”.

In die lande van die Ooste sowel as die Weste is koerante en tydskrifte vol adviesrubrieke wat aandag gee aan konflikte met die skoonfamilie. Wat kan agter die probleme sit?

Wie neem die besluite?

Wanneer twee vrouens ’n kombuis deel, is die vraag dikwels: Wie neem die besluite? “Ons smaak en metodes verskil, en ek was telkens verbouereerd as daar ’n meningsverskil ontstaan het”, sê ’n vrou wat al meer as 12 jaar saam met haar skoonma woon.

“Die eerste tien jaar het ons mekaar oor kleinighede gekonfronteer”, erken nog ’n skoondogter. Onenighede kan ontstaan oor dinge so onbeduidend soos hoe om hemde aan die wasgoedlyn te hang. Al woon die vrouens nie in dieselfde huis nie, kan die situasie moeilik wees. ’n Skoonma wat kom kuier en opmerkings maak soos: “My seun hou nie van sy biefstuk só nie”, kan lewenslange aanstoot gee. Dit kom alles neer op wie watter besluite neem en vir wie.

Takako Sodei, medeprofessor in tuisteskepping aan die Otsjanomizoe-Vroueuniversiteit, vestig die aandag op hierdie punt en sê: “Of jy met ’n seun en skoondogter of met ’n dogter en skoonseun saamwoon, ’n huishouding kan onmoontlik twee vrouens onderhou wat met mekaar meeding om beheer. Dit is noodsaaklik om afsonderlike leefruimte te hê of die situasie te verander sodat een die huisvrou en die ander ’n ondergeskikte huisvrou is.” Die twee geslagte moet tot ’n redelike vergelyk kom, gegrond op die fisieke en geestestoestand van die ouer geslag en die ervaring, of gebrek aan ervaring, van die jonger geslag.

Die kwessie van privaatheid

Wanneer twee of meer geslagte onder een dak saamwoon, moet gesinslede hulle privaatheid in sekere mate opoffer. Maar hierin sal elkeen waarskynlik ’n verskillende maatstaf volg. ’n Jong paartjie hunker dalk na meer privaatheid terwyl hulle ouers na meer geselskap smag.

’n Skoondogter wat naby Tokio woon, het byvoorbeeld gevoel dat haar skoonma inbreuk maak op die egpaar se privaatheid. Hoe so? Deur haar en haar man se persoonlike wasgoed in te bring, op te vou en weg te pak. Sy het dit as onvanpas beskou dat haar skoonma hierdie persoonlike dinge vir hulle doen. Daarenteen het haar skoonma, Tokiko, ontsteld geraak toe haar skoondogter die huis aan die kant gemaak en goed weggegooi het waaraan Tokiko jare lank sentimentele waarde geheg het.

Die skending van privaatheid kan tot uiterstes gaan. Tom en sy vrou, wat na Tom se bejaarde moeder omgesien het, was onthuts omdat sy in die middel van die nag by hulle kamer ingeloop het. Haar rede? “Ek wou sien of Tom iets nodig het”, het die ma gesê. Die probleem is nie opgelos totdat hulle in ’n dubbelverdiepingwoonstel ingetrek het en die ma verbied is om boontoe te kom nie.

In baie gesinne is dit egter eers wanneer die derde geslag op die toneel verskyn dat die probleme werklik vererger.

Hoe om met kinders te werk

Dit is deesdae nie ongewoon dat ’n jong ma verskeie boeke oor kindersorg raadpleeg nie. Ouma, met haar jarelange ervaring in die grootmaak van kinders, meen daarenteen dat sy vanselfsprekend bevoeg is om advies te gee. Daardie advies word egter dikwels vir kritiek aangesien, en dit lei tot konflik.

Takako het voor hierdie probleem te staan gekom toe sy haar jong seun getugtig het. Haar man se ma en ouma het by haar kamer ingestorm om haar te keer en het selfs harder as die huilende kind geskree. Takako was so geïntimideer dat sy opgehou het om haar seun te tugtig. Later, toe sy die belangrikheid van tugtiging besef het, het sy besluit om sodanige onderrigting te hervat.—Spreuke 23:13; Hebreërs 12:11.

’n Ma wat in Jokohama woon, het ook probleme met haar skoonma gehad ná die kinders gebore is. Die ma was ontsteld omdat Ouma tussen maaltye vir die kinders eetgoed gegee het sodat hulle etenstyd te versadig was om hulle kos te eet.

Dr. Saito lewer die volgende kommentaar op hierdie probleem: “[Oumas en oupas] gee hulle kleinkinders lekkergoed en sakgeld. Hulle gee toe aan die selfsugtige wense van die jongspan. Kortom, hulle bederf hulle kleinkinders eindeloos.” Hy raai jong ma’s aan om dit duidelik te stel dat hulle geen toegewings sal doen in die opvoeding van hulle kinders nie.

Mededingers om liefde

In hierdie konflik tussen skoonma’s en skoondogters is daar iets baie irrasioneels aan die werk. “Sielkundig gesproke”, verduidelik dr. Saito, “voel die ma dat haar skoondogter haar seun van haar weggeneem het. Sy spreek natuurlik nie so ’n gedagte uit nie, omdat dit te kinderagtig is. Maar die gedagte dat sy van haar seun se liefde beroof is, is diep in haar onderbewussyn gewortel.” Die gevolg is ’n gespanne verhouding, indien nie openlike wedywer tussen die twee nie.

Hierdie neiging neem blykbaar toe namate die grootte van gesinne afneem. Die ma voel nader aan haar seun wanneer daar minder kinders is om voor te sorg. Nadat sy jare lank met haar seun saamgewoon het, weet sy alte goed waarvan hy hou en waarvan hy nie hou nie. Hoewel die nuwe bruid gretig is om haar man te plesier, beskik sy nie oor hierdie intieme kennis nie, altans nie in die begin nie. ’n Gees van wedywer kan dus maklik ontwikkel, met ma en skoondogter wat om dieselfde man se liefde meeding.

’n Tragiese verandering in waardes

In die ou dae in Japan is die skoondogter ingevolge Confuciaanse filosofie weggestuur—geskei—wanneer sulke gesinskonflikte ontstaan het. En dit was die einde van die saak. Maar vandag is die situasie anders.

Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die jonger geslag beheer oorgeneem oor die gesin se geld, en die ouer geslag is besig om sy invloed en gesag te verloor. Die situasie het geleidelik heeltemal verander. Bejaarde ouers word nou verstoot en slyt hulle dae in hospitale en inrigtings. Hoe tragies tog om hierdie toestand te sien in ’n samelewing waar respek vir bejaardes eens die norm was!

Hoe kan die tendens om bejaardes te verstoot gestuit word? Is daar ’n manier waarop twee vrouens vreedsaam onder dieselfde dak kan saamwoon?

[Prent op bladsy 7]

Daar moet tot ’n redelike vergelyk gekom word oor wie die besluite neem

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel