Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 2/22 bl. 8-11
  • ’n Goeie verhouding met die skoonfamilie is moontlik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Goeie verhouding met die skoonfamilie is moontlik
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Erken die nuwe band
  • “Die waarlik wyse vrou”
  • Wees vergewensgesind
  • “Die liefde faal nooit nie”
  • Die oorsake van die probleem
    Ontwaak!—1990
  • Sê vir hulle dat jy lief is vir hulle
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
  • Twee sleutels tot ’n blywende huwelik
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Jou gesin kan gelukkig wees
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 2/22 bl. 8-11

’n Goeie verhouding met die skoonfamilie is moontlik

FOEDJIKO, die ongelukkige skoondogter wat in die eerste artikel gemeld is, het haar man uiteindelik oorgehaal om uit sy ouers se woonstel te trek na die woonstel langsaan. Maar sake het nie veel verbeter nie. Haar skoonouers het aangehou om in te meng, en haar swaarmoedigheid het voortgeduur. Toe, op ’n dag, het ’n vreemdeling by haar deur aangeklop.

Daardie besoek het Foedjiko ’n rigting laat inslaan wat ’n veranderde persoonlikheid tot gevolg gehad het, en dit het haar verhouding met ander verbeter. Sy het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer. Haar gesindheid het mettertyd soveel verander dat haar skoonpa die studies wou bywoon om self te sien ‘watter soort godsdiens dit is wat haar persoonlikheid so verander het’.

Erken die nuwe band

Die Bybel gee ’n duidelike beskrywing van die skriftuurlike huweliksreëling. Nadat God die eerste mensepaar geskep en hulle bymekaargebring het, het hy die volgende beginsel vasgestel: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24). Die nuwe egpaar moet dus besef dat hulle ’n nuwe band gesmee het. Hulle moet mekaar aankleef as ’n selfstandige eenheid, al woon hulle moontlik by hulle skoonouers.

Maar om vader en moeder te verlaat, beteken nie dat kinders, wanneer hulle eers getroud is, hulle ouers die rug kan toekeer en hulle nie meer hoef te respekteer en te eer nie. “Verag jou moeder nie as sy oud geword het nie”, vermaan die Bybel (Spreuke 23:22). Nogtans bring die huwelik ’n aanpassing in verhoudinge mee. Solank elke familielid dit goed in gedagte hou, kan die jong egpaar voordeel trek uit die ouers se ervaring en wysheid.

Timotheüs, die jong man van goeie naam vir wie die apostel Paulus op sy sendingreise saamgeneem het, is deur sy Joodse moeder, Eunice, grootgemaak. Maar sy grootmoeder Lois het blykbaar ook gehelp om sy lewe te vorm (2 Timotheüs 1:5; 3:15). Dit wil nie sê dat oumas die reg het om hulle met die opvoeding van die kind te bemoei en ander standaarde as dié van die ouers te stel nie. Daar is ’n gepaste manier waarop die ouer geslag die jonger geslag kan help om kinders op te voed.—Titus 2:3-5.

“Die waarlik wyse vrou”

Indien twee geslagte in ’n sensitiewe saak soos die opvoeding van kinders wil saamwerk, moet hulle met wysheid optree. “Die waarlik wyse vrou het haar huis opgebou”, sê ’n Bybelspreuk, “maar die dwase breek dit met haar eie hande af” (Spreuke 14:1, NW). Hoe kan ’n vrou haar huis opbou? Tomiko sê dat kommunikasie haar gehelp het om haar verhouding met haar skoondogter, Foedjiko, te verbeter. “Planne misluk sonder beraadslaging”, vermaan die Bybel.—Spreuke 15:22.

Kommunikasie beteken nie dat jy alles uitblaker wat jy op die hart het sonder inagneming van ander se gevoelens nie. Dit is hier waar wysheid nodig is. “Die wyse luister” na wat ander te sê het. Soms wil jou skoonfamilie dalk iets sê, maar hulle is huiwerig om te sê wat hulle dink. Wees skerpsinnig en ‘skep hulle gedagtes uit’. ‘Dink na’ voor jy praat.—Spreuke 1:5; 15:28; 20:5.

Dit is baie belangrik dat jy jou tyd goed kies. “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek”, sê ’n Bybelspreuk (Spreuke 25:11). Tokiko en haar skoondogter sê dat hulle die regte tyd afwag voor hulle menings uitspreek wat die ander dalk sal omkrap. “Ek probeer dink voor ek praat wanneer ek my skoondogter op iets wil wys”, sê Tokiko. “Ek onthou die punte en praat wanneer sy in ’n goeie bui is en nie honger is nie. Sien, dit is maklik om geïrriteerd te raak wanneer jy honger is.”

’n Wyse vrou sal nie sleg praat van haar skoonfamilie nie. “Of ons nou skoonma’s of skoondogters is, ons moet weet dat die slegte dinge wat ons van die ander persoon sê uiteindelik by hulle sal uitkom”, sê Soemie Tanaka, ’n Japannese skryfster wat 30 jaar saam met haar skoonma gewoon het. Sy raai ons eerder aan om, direk en indirek, goeie dinge van ons skoonfamilie te sê.

Maar sê nou jou skoonfamilie reageer nie op jou pogings nie?

Wees vergewensgesind

Ernstige probleme tussen aangetroude familielede spruit dikwels voort uit dinge wat geen probleem sou veroorsaak het as dit deur iemand anders gedoen of gesê is nie. Omdat ons almal onvolmaak is en ‘in woorde struikel’, kan ons soms “onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke” (Jakobus 3:2; Spreuke 12:18). Maar dit is verstandig om nie ontsteld te raak oor elke onbedagsame woord nie.

Diegene wat probleme met die skoonfamilie te bowe gekom het, het ag geslaan op die Bybelraad: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het” (Kolossense 3:13). Dit kan weliswaar moeilik wees om jou skoonouers te verdra en hulle te vergewe, veral as daar rede tot klagte is. Maar ’n sterk aansporing om dit te doen, is die versekering dat ons daardeur vergifnis vir ons foute van God self sal ontvang.—Mattheüs 6:14, 15.

Selfs in Oosterse lande, waar mense tradisioneel die Boeddhisme, Taoïsme, Confucianisme en Sjintoïsme aanhang, is daar baie wat die Bybel bestudeer en die waarheid oor die welwillende Skepper ingesien het. Daardie kennis help hulle om oënskynlik onoorkoomlike gevoelens van bitterheid te bowe te kom.

“Die liefde faal nooit nie”

’n Gelukkige verhouding met die skoonfamilie moet ’n vaste grondslag hê. As jy ’n bejaarde of siek skoonouer bloot uit pligsgevoel help, het dit nie altyd die beste verhouding tot gevolg nie. Haroeko het dit uitgevind toe haar skoonma op sterwe was aan kanker. Sy het die grootste deel van die dag in die hospitaal deurgebring waar sy haar skoonma versorg het, en boonop het sy na haar eie gesin omgesien. Sy was onder soveel druk dat sy op die ou end die meeste van haar hare verloor het.

Toe sy op ’n dag haar skoonma se naels versorg het, het sy een nael per ongeluk te kort geknip. “Jy gee nie regtig vir my om nie!” het die skoonma gesnou.

Haroeko was geskok deur daardie ondankbare woorde en kon haar trane nie keer nie. Toe het sy besef dat die woorde haar so seergemaak het omdat sy wel alles vir haar skoonma uit pligsgevoel gedoen het. Sy het besluit dat die dryfveer van haar hulp liefde moet wees (Efesiërs 5:1, 2). Dit het haar gehelp om haar gekrenkte gevoelens te oorkom en het gelei tot ’n herstelde verhouding met haar skoonma tot met haar dood.

Liefde, soos omskryf in die Bybel, is inderdaad die sleutel om familietwis uit die weg te ruim. Lees wat die apostel Paulus daaroor gesê het, en kyk of jy nie saamstem nie. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik”, het hy geskryf. “Die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Geen wonder nie dat Paulus bygevoeg het: “Die liefde [faal nooit nie]” (1 Korinthiërs 13:4-8, vgl. NW). Hoe kan jy sulke liefde aankweek?

Die Bybel sê dat “liefde” ’n “vrug” van God se gees is (Galasiërs 5:22). Buiten jou eie inspanning is dit dus noodsaaklik om God se gees te hê as jy hierdie soort liefde wil aankweek. Verder kan jy Jehovah, die God van die Bybel, vra om jou te help om liefde soos syne by jou persoonlikheid te voeg (1 Johannes 4:8). Dit alles vereis natuurlik dat jy van hom leer deur sy Woord, die Bybel, te bestudeer. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help soos hulle Foedjiko en talle ander gehelp het.

As jy toepas wat jy uit die Bybel leer, sal jy vind dat dit nie net jou verhouding met God verbeter nie, maar ook jou verhouding met almal rondom jou, met inbegrip van jou skoonfamilie. Jy sal ondervind wat die Bybel belowe, naamlik “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”.—Filippense 4:6, 7.

Foedjiko en ander wat in hierdie artikels gemeld word, het sulke vrede begin geniet—en jy kan ook. Ja, deur op Jehovah God te vertrou en die raad van sy Woord, die Bybel, te volg, kan jy ook ’n hegte verhouding met jou skoonfamilie opbou en behou.

[Venster op bladsy 8, 9]

Die man Vredemaker of vredesverstoorder?

Wanneer twee of drie geslagte onder een dak saamwoon, kan die rol van die man om vrede in die familie te handhaaf nie buite rekening gelaat word nie. ’n Spesialis in familiesosiologie, professor Tohroe Aritsji van die Kioesjoe-Universiteit, skryf van die tipiese man wat sy verantwoordelikhede ontduik:

“Wanneer die egpaar by [die ma] woon, voel die ma die behoeftes van haar seun aan, en sonder om daaroor te dink sorg sy vir haar seun wanneer sy sulke behoeftes waarneem. Die seun aanvaar sulke sorg sonder huiwering. Sou die seun ’n bietjie meer aan sy vrou se situasie dink en sy ma op haar plek sit oor haar inmenging, sal die probleem opgelos word. Ongelukkig besef die seun dit alte dikwels nie.”

Hoe kan ’n man dan daadwerklik help om vrede in sy gesin te bevorder? Mitsoeharoe sê dat sy gesin gehelp is omdat hy Bybelbeginsels toegepas het. “Die band tussen ’n ma en haar seun is baie sterk al het hy ’n volwassene geword”, erken hy, “en daarom moet die seun ’n bewuste poging aanwend om ‘sy vader en moeder te verlaat en sy vrou aan te kleef’.” Hy het dié beginsel toegepas deur sake wat te doen het met kindersorg en -opvoeding net met sy vrou te bespreek, en hy het nie sy vrou met sy ma vergelyk wat huiswerk betref nie. “Nou”, gaan hy voort, “respekteer ons en my ouers mekaar. Elkeen van ons weet waar inmenging afgekeur en waar hulp en samewerking waardeer sal word.”

Benewens om ‘sy vrou aan te kleef’, moet die man ’n tussenganger tussen sy ma en sy vrou wees (Genesis 2:24). Hy moet ’n goeie luisteraar wees en hulle toelaat om te sê wat in hulle hart is (Spreuke 20:5). Een man, wat geleer het om situasies taktvol te hanteer, vind eers uit hoe sy vrou voel. Dan, in die teenwoordigheid van sy vrou, praat hy met sy ma oor die betrokke geskilpunte. Deur op hierdie manier sy rol as vredemaker te aanvaar, kan ’n seun help om aangename verhoudinge in die huis te bewerkstellig tussen die twee vroue wat hy liefhet.

[Prent op bladsy 9]

Luister aandagtig en kommunikeer

[Prent op bladsy 10]

Liefde, nie pligsgevoel nie, bring goeie verhoudinge tot stand

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel