Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 2/22 bl. 3-4
  • Die eeue-oue konflik met die skoonfamilie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die eeue-oue konflik met die skoonfamilie
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat wil bejaardes hê?
  • Aanvaar die voor- en nadele
  • Versorging van bejaardes—’n toenemende probleem
    Ontwaak!—1991
  • Hoe kan ek met my ouers oor die weg kom?
    Jongmense vra
  • Die Christengesin help die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • ’n Goeie verhouding met die skoonfamilie is moontlik
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 2/22 bl. 3-4

Die eeue-oue konflik met die skoonfamilie

“EK KAN jou nie voor my oë verdra nie!” het Foedjiko vir haar skoonma, Tomiko, geskree. Foedjiko was moeg daarvoor om gehiet en gebied te word. Hoewel sy dit tevore reggekry het om uiterlik kalm te bly, was elke dag ’n nagmerrie. “In my binneste het ek verbitterd gevoel”, sê sy. “Ek was buite myself. Ek kon dit net nie meer verduur om elke dag so te lewe nie.”

’n Bejaarde vrou in Japan wat alleen woon, sê: “Ek is deur my seun en sy vrou verstoot. Nou hoef ek my nie oor ander te bekommer nie, en ek lewe soos ek wil, maar ek voel tog eensaam wanneer die son ondergaan.”

Die eeue-oue konflik tussen skoonma en skoondogter is universeel. “Ongelukkig”, sê Dulcie Boling, ’n tydskrifredaktrise in Australië, “sal party vrouens altyd jaloers wees op hulle skoondogters. . . . Daar is bloedweinig wat jy daaraan kan doen, behalwe uithou en aanhou.” Daar is selfs legendes in die Ooste oor bejaarde vrouens wat, op aanstigting van hul skoondogters, in die berge gelos word.

Hierdie konflik is vandag ingewikkelder as ooit. Volgens statistiek is die verwagte lewensduur aan die styg, word gesinne kleiner en word die gaping tussen die sterftesyfer van mans en vrouens groter. Wat is die gevolg? Omdat meer vrouens tot in die 70 en 80 lewe, word die konflik tussen ma’s en hulle skoondogters ’n moordende marathon, nie ’n 100-meter-naelloop soos dit eers was nie.

Wat wil bejaardes hê?

Hoe wil bejaarde ouers, ondanks sulke konflikte, versorg word indien hulle ’n keuse het? “Die afgelope twee dekades”, sê Jacob S. Siegel en Cynthia M. Taeuber, navorsers in die demografie, “is vrouens sowel as mans baie minder geneig om saam met ander mense te woon as hulle huweliksmaat nie meer daar is nie.” Elaine M. Brody, voormalige direktrise van die Departement van Menslike Dienste, sê dat dit in die Verenigde State “die verkieslike reëling onder bejaardes is om apart van [hulle] familie te woon”. Hulle kinders woon dikwels naby, kom kuier en sorg vir hulle.

Die Oosterlinge verkies dit anders. Volgens ’n internasionale opname deur die Bestuurs- en Koördinasieagentskap in Japan wil die meeste bejaardes in Japan en Thailand by hulle familie woon. Die opname toon dat 61 persent van bejaardes in Thailand en 51 persent in Japan dit inderdaad doen.

Hierdie keuse is natuurlik ook algemeen in die Weste. Ouers wat baie oud of bedlêend is, woon dikwels by hulle kinders. In Frankryk is dit algemeen dat bejaardes bo 75 wat die dood van hul huweliksmaat oorleef by een van hulle kinders woon.

Aanvaar die voor- en nadele

Wanneer twee of drie geslagte besluit om onder een dak saam te woon, hou dit natuurlik sekere voordele in. Bejaardes voel veiliger en minder eensaam. Die jonger geslag kan leer uit die ervaring van die ouer garde, en daar is boonop ekonomiese voordele.

Aan die ander kant kan saamblyery ’n reeds troebel verhouding met die skoonfamilie nog verder vertroebel. In Japan, byvoorbeeld, waar bejaarde ouers tradisioneel by die oudste seun en sy gesin woon, is die konflik tussen ma’s en skoondogters spreekwoordelik.

Wat kan jy doen as jy voor so ’n situasie te staan kom? Paul E. Zopf jr., professor in die sosiologie aan die Guilford-Kollege, sê in sy boek America’s Older Population: “Die gesin verwek ook konflik en die geleentheid vir konflikbeheer. Die vermoë om konflik te beheer en produktief met bejaarde lede saam te lewe, is ’n vaardigheid wat na ander verwantskappe oorgedra kan word.”

Beskou die saak dus positief. As jy leer om gesinskonflikte te beheer, sal jy waarskynlik bedrewener raak in die hantering van ander moeilike situasies. Aanvaar dit as ’n uitdaging, en dit sal van jou ’n beter mens maak. Kom ons ondersoek die probleme wat voortvloei uit saamblyery met die skoonfamilie en kyk hoe sulke probleme suksesvol aangepak kan word. En al woon jy nie op die oomblik onder so ’n reëling nie, kan jy nogtans voordeel trek uit ’n bespreking van die beginsels wat by die saak betrokke is.

[Venster op bladsy 4]

Meer ouers as kinders

Volgens demograaf Samuel Preston het die gemiddelde egpaar nou vir die eerste keer in die geskiedenis meer ouers as kinders. Die vraag wat baie van vandag se egpare raak, is hoe hulle hul verantwoordelikhede teenoor twee stelle ouers behoorlik kan nakom.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel