Samoa
OMTRENT halfpad tussen Hawaii en Nieu-Seeland glinster die pragtige Samoa-eilande in die warm, blou water van die Stille Oseaan. Hierdie eilande, gebore uit hewige vulkaniese aktiwiteit en met hulle wolkbedekte pieke, welige tropiese woude en strande omsoom met palmbome, lyk soos asemrowende juwele. Sprankelende strandmere voorsien ’n tuiste aan ryk seelewe, wat ongeveer 200 verskillende koraalsoorte en tot 900 vissoorte insluit. Dit is geen wonder nie dat hierdie eilande waaroor die geur van frangipani’s hang, deur vroeë Europese sendelinge beskryf is as van die mooiste wat hulle in die Stille Suidsee gesien het!
Sowat tien eeue voor Christus was die Lapita-volk blykbaar die eerste mense wat hulle op die Samoa-eilande gevestig het.a Hierdie eerste Polinesiërs was moedige ontdekkingsreisigers en ervare navigators wat klaarblyklik vanaf Suidoos-Asië na die eilande van die Pasifiese streek gemigreer het. Hulle het met groot dubbelrompkano’s saam met die seewinde en -strome oor groter dele van die oseaan gevaar as enige volk voor hulle. Diep in die hartjie van die Stille Suidsee het hulle ’n klein groepie eilande ontdek wat hulle Samoa genoem het.
Deur die eeue heen het hulle afstammelinge ooswaarts oor die Stille Oseaan na Tahiti versprei, daarna na Hawaii in die noorde, Nieu-Seeland in die suidweste en Paaseiland in die suidooste. Vandag word hierdie uitgestrekte driehoekige streek Polinesië genoem, wat “Baie eilande” beteken, en die inwoners word Polinesiërs genoem. Daar word dus na Samoa verwys as die “Wieg van Polinesië”.
In hedendaagse tye het moedige Samoane ’n betekenisvoller reis onderneem. Soos hulle seevarende voorsate was hulle op soek na ’n beter lewe. Hierdie Samoane was egter nie op ’n letterlike ontdekkingsreis nie; hulle “reis” was uit geestelike duisternis na geestelike lig. Hulle soektog was na die vorm van aanbidding wat deur die ware God, Jehovah, goedgekeur word.—Joh. 4:23.
Hierdie verslag vertel die verhaal van Jehovah se Getuies in Samoa,b Amerikaans-Samoa en Tokelau. In 1962 het Wes-Samoa ’n onafhanklike nasie geword, en Amerikaans-Samoa is onder die beheer van die Verenigde State. Die Samoa-eilande is dus in twee dele verdeel—Samoa en Amerikaans-Samoa.
DIE LIG VAN WAARHEID BEGIN SKYN
Die goeie nuus van God se Koninkryk het Samoa in 1931 bereik toe ’n besoeker meer as 470 boeke en boekies by belangstellendes op die eilandgroep gelaat het. Daardie besoeker was heel waarskynlik Sydney Shepherd, ’n ywerige Getuie wat omstreeks daardie tyd deur dele van Polinesië gevaar en die goeie nuus versprei het.
Sewe jaar later het die Koninkryksboodskap Amerikaans-Samoa bereik toe J. F. Rutherford, van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, by die eiland Tutuila aangedoen het terwyl hy per skip van Australië na die Verenigde State gereis het. Gedurende daardie kort besoekie het Rutherford en sy metgeselle die geleentheid aangegryp om lektuur deur die hele hawestad Pago Pago te versprei.
Twee jaar later, in 1940, het Harold Gill, wat toe al op baie plekke in die Asiaties-Pasifiese streek gepionier het, in Amerikaans-Samoa aangekom. Hy het 3 500 eksemplare van die boekie Waar is die dode?, die eerste publikasie wat Jehovah se Getuies in Samoaans vertaal het, saam met hom gebring.c
Harold het toe oorgevaar na die eiland Upolu, Samoa, ’n bootreis van agt tot tien uur. “Hulle het seker gehoor ek is op pad”, het hy later geskryf, “want toe ek daar aankom, het ’n polisieman vir my gesê dat ek nie aan land mag gaan nie. Ek het hom my paspoort gewys en vir hom die ietwat hoogdrawende aanhef gelees wat die leser versoek om hierdie onderdaan van Sy Britse Majesteit toe te laat om ‘vryelik sonder belemmering deur te gaan en bystand en beskerming aan hom te verleen’. Dit het my ’n onderhoud met die Goewerneur besorg, wat my toegelaat het om aan te bly totdat die volgende boot vyf dae later vertrek het. Ek het ’n fiets gehuur en die eiland deurkruis terwyl ek die boekies oral versprei het.”
Ná Harold se suksesvolle predikingsreis in die Samoa-eilande moes hy na Australië terugkeer. Maar een van die publikasies wat hy versprei het, het uiteindelik in die hande van ’n kantoorwerker, Pele Fuaiupolu, beland.d Die boekie se boodskap het in Pele se hart gebly totdat die Getuies teruggekeer het om die kosbare waarhede wat geplant is, nat te gooi.—1 Kor. 3:6.
In 1952, 12 jaar later, het ’n Getuie uit Engeland, John Croxford, in Apia, die hoofstad van Samoa, op die eiland Upolu, aangekom. Daar het hy in dieselfde kantoor as Pele begin werk. John was ’n vriendelike man wat gretig was om vir ander te getuig. Toe hy sien dat Pele in die Bybel belangstel, het hy die inisiatief geneem om hom by sy huis te besoek. Pele skryf: “Ons het dwarsdeur die nag tot vroeg Sondagoggend gepraat. Ek het hom baie vrae gevra, en hy het elke antwoord wat hy gegee het, uit die Bybel gelees. Ek was ten volle oortuig dat dít die waarheid was waarna ek gesoek het.” Later daardie jaar het Pele en sy vrou, Ailua, die eerste Samoane geword wat hulle lewe aan Jehovah toegewy en hulle laat doop het.
Pele het geweet dat hy aan sy familie sou moes verduidelik waarom hy die godsdiens van sy voorvaders verlaat het. Hy het dus ywerig gestudeer en ernstig tot Jehovah gebid vir hulp. Toe Pele deur die opperhoof van die familie ontbied is na ’n vergadering in Pele se tuisdorp, Faleasiu, ’n groot kusdorp 19 kilometer wes van Apia, het hy en nog ’n familielid wat in die waarheid belanggestel het, voor ’n vyandige groep van ses hoofmanne, drie redenaars, tien pastore, twee teologie-onderwysers, die opperhoof, wat as voorsitter opgetree het, en oudstes van die familie, mans sowel as vroue, verskyn.
“Hulle het ons vervloek en veroordeel omdat ons die familie en die kerk van ons voorvaders in die skande gesteek het”, vertel Pele. Die opperhoof het toe voorgestel dat ’n debat gehou word, wat op die ou end tot vieruur die oggend geduur het.
“Al het party geskreeu: ‘Vat weg daardie Bybel! Los uit daardie Bybel!’ het ek al hulle vrae uit die Bybel beantwoord en hulle argumente weerlê”, sê Pele. “Uiteindelik was almal tjoepstil. Hulle koppe het gehang. Toe het die opperhoof flouerig gesê: ‘Jy wen, Pele.’”
“Verskoon my, Meneer”, het Pele vir die opperhoof gesê, “ek het nie gewen nie. Vanaand het julle die boodskap van die Koninkryk gehoor. Dit is my opregte hoop dat julle daarop sal ag slaan.”
Danksy Pele se nederige vertroue op Jehovah en Sy Woord, die Bybel, was die saad van Koninkrykswaarheid besig om in Upolu wortel te skiet.
VROEË VERGADERINGE
Die nuus oor Pele se nuwe godsdiens het vinnig deur die hegte eilandgemeenskap versprei. Soos die eerste-eeuse Ateners vir wie Paulus gepreek het, was party nuuskierig oor hierdie “nuwe leer” en wou hulle meer weet (Hand. 17:19, 20). Een jong man, Maatusi Leauanae, het gehoor dat dié wat in die nuwe godsdiens belangstel, elke week by ’n dokter se huis by die hospitaal vergader, en hy het besluit om ondersoek in te stel. Maar by die hospitaal se hek het hy skielik senuweeagtig geword en omgedraai. Gelukkig het John Croxford net betyds daar aangekom om hom te nooi om daardie aand saam met die groepie te vergader. Jong Maatusi het die studie in die boek “Laat God waaragtig wees” geniet en wou weer kom. Hoewel hy die vergaderinge aan die begin net af en toe bygewoon het, het die waarheid uiteindelik in sy hart wortelgeskiet en is hy in 1956 gedoop.
Nuwelinge wat met die groep geassosieer het, het kort voor lank besef hoe belangrik dit is om ander te vertel van wat hulle geleer het. Binne vyf maande nadat broer Croxford in Apia aangekom het, het tien persone saam met hom aan die predikingswerk begin deelneem. Vier maande later was daar al 19. Hierdie nuwelinge het vir vriende en familielede getuig en het goeie resultate gehad.
Een van hierdie verkondigers het vir sy neef Sauvao Toetu getuig, wat in Faleasiu gewoon het. Mettertyd het Sauvao en sy swaer, Finau Feomaia, die vergaderinge saam met hulle gesinne begin bywoon en hulle standpunt vir die waarheid ingeneem.
In Januarie 1953 is ’n opwindende mylpaal in ware aanbidding in Samoa bereik. Aangesien daar op dié stadium omtrent 40 mense was wat die vergaderinge bygewoon het, het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Australië goedkeuring gegee dat die eerste gemeente in Samoa in Apia gestig word. Nadat broer Croxford na Engeland teruggekeer het, het die pas gedoopte Pele die leiding in die gemeente geneem. Die verkondigers was vreesloos en ywerig, maar hulle was ook geestelik jonk en onervare. Baie moes leer om die Koninkryksboodskap op ’n taktvoller en aantrekliker manier aan te bied (Kol. 4:6). Ander het hulp nodig gehad om hulle ten volle met die nuwe persoonlikheid te beklee (Ef. 4:22-24). Gelukkig sou hulle nie lank vir hierdie hulp moes wag nie.—Ef. 4:8, 11-16.
HULP VAN OORSEE
In Mei 1953 het die Australiese pioniers Ronald en Olive (Dolly) Sellars gekom om die Apia-gemeente te help. “Die Australiese takkantoor het tydelik kontak met die broers verloor en was besorg oor hulle”, skryf Ron. “Aangesien ons gesê het dat ons bereid is om in die Pasifiese streek te dien, het hulle ons gevra om na Samoa te gaan en as spesiale pioniers saam met die pas gestigte gemeente te werk.”
In die seevliegtuig op pad na Samoa het Ron en Dolly hulle verstandelik voorberei vir die soort uitdagings wat al dikwels in verafgeleë sendingtoewysings ervaar is. “Wat ’n verrassing het op ons gewag”, vertel Ron. “Die eiland was deur welige tropiese plantegroei oordek. Ons het oral gelukkige, glimlaggende mense met sterk, gesonde liggame gesien. Kinders het gebaljaar om grasdakhuise sonder mure en met skoon koraalvloere. Niemand was haastig of het hulle oor tyd bekommer nie. Dit het gevoel asof ons in ’n paradys aangekom het.”
Die Sellarse het by Pele se gesin tuisgegaan en onmiddellik aan die werk gespring. “Ek het omtrent elke aand ’n vergadering met die broers gehou om al hulle vrae te beantwoord”, sê Ron. “Al het hulle basiese Bybelleringe geken, het ek gou besef dat hulle baie veranderinge moes aanbring om aan goddelike standaarde te voldoen. Om hulle gedurende daardie moeilike tydperk te help, het ek en Dolly probeer om ekstra geduldig en liefdevol te wees.” Maar ongelukkig het party hierdie liefdevolle skriftuurlike raad verwerp en hulle geleidelik aan die gemeente onttrek. Ander het egter ’n nederige gees aan die dag gelê en goed gereageer op die opleiding en aanmoediging. Mettertyd het hulle geestelike vooruitgang gemaak, en die gemeente is gevolglik gesuiwer en versterk.
Ron en Dolly het ook die leiding geneem in die huis-tot-huis-getuieniswerk. Tot op daardie stadium het die meeste van die broers net informeel vir vriende en bure getuig. Noudat hulle saam met die Sellarse van huis tot huis gewerk het, het hulle baie belangstelling gevind. “By een geleentheid”, skryf Ron, “is ons na die dorpie van ’n belangstellende hoofman genooi om hom meer oor die Koninkryk te vertel. Ná ete het ons ’n lewendige Bybelbespreking gehad. ’n Uur later het die bespreking in ’n openbare toespraak verander omdat die gehoor tot byna 50 gegroei het—selfs sonder dat ons dit enigsins geadverteer het!” Die verkondigers het dikwels gevind dat Bybelstudies wat met 2 of 3 persone gehou is, 10 tot 40 toeskouers gelok het wat meer oor die werk van Jehovah se Getuies wou uitvind.
Maar hierdie bedrywighede het nie die geestelikes van die Christendom se aandag ontgaan nie. Toe die owerheid geweier het om Ron en Dolly se besoekerspermitte te verleng, het Ron die Hoë Kommissaris gaan spreek om te hoor wat die rede hiervoor is. “Hy het vir ons gesê dat sekere geestelikes by die regering gekla het oor ons getuieniswerk”, vertel Ron. “Hy het gesê dat hy ons visums gevolglik net sou verleng as ons belowe om die gemeente nie meer met hulle predikingswerk te help nie. Ek het volstrek geweier. Ek het ook vir hom gesê dat niemand God se werk kan stopsit nie, iets wat hy liewer nie buite rekening moes laat nie. Hy het gelag en gesê: ‘Ons sal sien wat gebeur wanneer julle nie meer hier is nie!’”
Van toe af het die owerheid alles in hulle vermoë gedoen om te voorkom dat buitelandse Getuies die land binnekom. Ten spyte hiervan het Theodore Jaracz, wat destyds by die Australiese takkantoor gedien het en wat nou ’n lid van die Bestuursliggaam is, dit reggekry om Samoa in 1953 ongemerk binne te kom om die gemeente aan te moedig. “Sy besoek het ons werklik versterk en ons verseker dat ons geestelik in die regte rigting beweeg”, sê Ron.
Kort daarna het Ron en Dolly se visums verval, en hulle het na Amerikaans-Samoa verhuis. Hulle het egter gedurende hulle agt maande in Samoa baie gedoen om die plaaslike broers te help om standvastig en sterk te word. En al het die owerheid dit nie geweet nie, sou ander Getuies spoedig opdaag om die Sellarse se plek in te neem.
VOORUITGANG IN APIA
Richard Jenkins, ’n pas gedoopte, geesdriftige 23-jarige Australiër, het in Mei 1954 in Apia aangekom. Hy vertel: “Voordat ek uit Australië vertrek het, is ek aangeraai om eers seker te maak dat ek ’n vaste werk het voordat ek met die plaaslike broers kontak maak. Maar ná ’n paar maande het ek baie eensaam en geestelik afgesny begin voel. Ek het dus besluit om in die geheim met Pele Fuaiupolu kontak te maak.” Die twee van hulle het laat een nag in die donker ontmoet.
“Pele het vir my gesê dat hy nie my regte naam sou gebruik nie, uit vrees dat die owerheid my met die gemeente sou verbind en my sou deporteer”, vertel Richard. “Hy het my dus die naam van sy pasgebore seuntjie, Uitinese, gegee, die Engelse woord ‘witness’, uitgespreek op die Samoaanse manier. Tot vandag toe noem die Samoaanse broers en susters my op daardie naam.”
Richard het hierdie skuilnaam gebruik en in die geheim met die broers kontak behou. Hy het ook informeel getuig en heelwat Bybelstudies begin. Een Bybelstudent, Mufaulu Galuvao, ’n jong man wat as ’n gesondheidsinspekteur gewerk het, het later ’n lid van die Samoaanse Takkomitee geword. Later het nog ’n Bybelstudent, Falema‘a Tuipoloa, ook ’n Getuie geword, sowel as ’n hele paar van sy familielede.
Een van Richard se Bybelstudente, jong Siemu Taase, was voorheen die leier van ’n bende diewe wat goedere van die Departement van Openbare Werke gesteel het. Maar voordat hy geestelike vooruitgang kon maak, het Siemu se verlede hom ingehaal en is hy in die tronk gesit vir sy misdade. Richard het hom nie daardeur van stryk laat bring nie en het toestemming van die bewaarder gekry om Siemu se studie in die skaduwee van ’n mangoboom omtrent 100 meter buite die tronkmuur te hou. Mettertyd het ’n hele paar ander gevangenes by die studie aangesluit.
“Al was daar geen tronkbewaarders by ons nie”, vertel Richard, “het nie een van die gevangenes ooit probeer ontsnap nie, en party het die waarheid aangeneem.” Nadat Siemu uit die tronk vrygelaat is, het hy later as ’n ouer man gedien.
In 1955 het Richard met ’n Australiese pionier, Gloria Green, getrou. Saam het hulle 15 jaar in Samoa deurgebring, en voordat hulle na Australië teruggekeer het, het hulle 35 mense gehelp om die waarheid te leer. Hulle woon nou in Brisbane, Australië, waar Richard as ’n ouer man in die plaaslike Samoaanse gemeente dien.
Nog ’n Australiese egpaar, William en Marjorie (Girlie) Moss, het in daardie vroeë jare hier gedien. Bill, ’n ouer man wat prakties kon dink, en Girlie, ’n pionier met 24 jaar ondervinding, het in 1956 in Apia aangekom. Op daardie stadium was daar 28 verkondigers wat met die Apia-gemeente geassosieer het, en daar was boekstudiegroepe in Apia sowel as Faleasiu. Bill en Girlie het die volgende nege jaar onvermoeid saam met die gemeente gewerk. Teen die tyd dat hulle in 1965 weens Girlie se verswakkende gesondheid na Australië moes terugkeer, het die groep in Faleasiu ’n volwaardige gemeente geword.
Gedurende daardie jare het die Samoaanse regering elke versoek om sendelinge in die land toe te laat, geweier. Hulle en die geestelikes het klaarblyklik gehoop dat Jehovah se Getuies eenvoudig van die toneel sou verdwyn. Maar net die teenoorgestelde het gebeur. Die Getuies het vermeerder en was aktief en ywerig—hulle was hier om te bly!
VOORUITGANG IN AMERIKAANS-SAMOA
Voordat die Sellarse se Samoaanse visums in 1954 verval het, het Ron besluit om aansoek te doen om permanente verblyf in Amerikaans-Samoa in plaas van na Australië terug te keer. Ron skryf: “Toe ek die Prokureur-generaal van Amerikaans-Samoa gaan spreek het en hy hoor dat die Samoaanse regering ons aansoek om visums om godsdiensredes geweier het, het hy gesê: ‘Mnr. Sellars, in Amerikaans-Samoa het ons godsdiensvryheid, en ek sal toesien dat u ’n visum kry.’”
Ron en Dolly het op 5 Januarie 1954 in Pago Pago, Amerikaans-Samoa, aangekom. As voorwaarde vir toegang tot die land het die Prokureur-generaal Ron gevra om hom gereeld by sy kantoor te besoek sodat hy Jehovah se Getuies beter kon leer ken. Gevolglik het hulle etlike aangename geestelike besprekings geniet.
Later daardie maand is Ron en Dolly vir ete na die Prokureur-generaal se huis genooi. Aangesien die plaaslike Katolieke priester en die predikant van die Londense Sendinggenootskap ook genooi was, het ’n lewendige Bybelbespreking gevolg. “Aan die einde van die aand”, vertel Ron, “het die Prokureur-generaal ons almal bedank dat ons gekom het en gesê: ‘Wel, wat vanaand se bespreking betref, dink ek mnr. en mev. Sellars het gewen.’ Kort daarna het ons ons permanente verblyfpermitte ontvang. Toe die Prokureur-generaal ons later inlig dat die regering meer aansoeke van Getuie-sendelinge sou verwelkom, het ek die Australiese takkantoor onmiddellik hiervan in kennis gestel.”
Die eerste persoon in Amerikaans-Samoa wat sy lewe aan Jehovah toegewy het, was die 19-jarige Tokelauaan, Ualesi (Wallace) Pedro. Lydia Pedro, ’n familielid wat ’n spesiale pionier in Fidji was, het ’n eksemplaar van die boek “Laat God waaragtig wees” vir Wallace se ouer broer gegee toe sy in 1952 daar gekuier het. Die jong Wallace het die boek by sy broer se huis gesien en dit sorgvuldig bestudeer.
Ron en Dolly het die Pedro-familie in 1954 ontmoet en met Wallace se ouer broer en suster gestudeer. Wallace het in Jehovah God geglo, maar sy agterdog teenoor godsdiens het hom aanvanklik huiwerig gemaak om by die studie aan te sluit. Mettertyd het hy egter daarvan oortuig geword dat Jehovah se Getuies die waarheid het, en hy het die vergaderinge in Fagatogo gereeld begin bywoon. Wallace het vinnig geestelike vooruitgang gemaak en is op 30 April 1955 in Pago Pago-baai gedoop.
Teen Januarie 1955, net een jaar ná die aankoms van Ron en Dolly, het sewe persone die vergaderinge by hulle beskeie huis in Fagatogo bygewoon. Omdat dit karig gemeubileer was, het almal maar op die vloer gesit. Kort voor lank het drie van die nuwelinge saam met Ron en Dolly in die veldbediening begin uitgaan. Dit was ’n klein begin, maar wonderlike verwikkelinge was net om die draai.
GILEADSENDELINGE DAAG OP
Op 4 Februarie 1955 het twee sendelingegpare van die Verenigde State, Paul en Frances Evans en Gordon en Patricia Scott, in Amerikaans-Samoa aangekom. Hulle het hulle in die Fagatogo-sendinghuis gevestig, wat uitgekyk het op ’n kleurvolle buurt. Leonard (Len) Helberg, ’n kringopsiener wat Pago Pago daardie jaar besoek het, beskryf die toneel:
“Die sendinghuis was ’n groot woonstel bo ’n algemene handelaar. Aan die een kant, oorkant ’n stroompie, was ’n kroeg waar matrose saans bymekaargekom het. Wanneer ’n bakleiery in die kroeg voortgesit is in die straat onder die woonstel, het die plaaslike polisiehoof, ’n kort maar stewig geboude man, met sy sigaar tussen sy tande vasgeklem, onder die mans ingeklim en links en regs vuishoue uitgedeel om die spulletjie onder beheer te bring. ’n Kerk net anderkant die agterplaas het vuur-en-swael-preke uitgebasuin. Vanaf die voorstoep het ons een keer per maand, op die regering se betaaldag, gesien hoe mense op die bank toesak. Kerksendelinge het van regoor die eiland gekom en naarstig in die skare na kerklidmate gesoek om hulle tiendes in te samel voordat die geld alles uitgegee is.”
Hierdie interessante omgewing was vrugbare grond vir groot belangstelling in geestelike dinge. “Een sendeling”, vertel Len, “het sy dag sesuur die oggend begin deur ’n Bybelstudie in die barbierswinkel oorkant die plein te hou voordat die eienaar begin werk het. Hy het daarna met die plaaslike bakker gestudeer en dan ’n brood huis toe gebring vir ontbyt. Later in die dag het dieselfde broer op die dorpsplein met ’n groep gevangenes van die plaaslike tronk gestudeer.” Teen die einde van die jaar het die sendelinge ongeveer 60 Bybelstudies met meer as 200 mense gehou.
“ROLPRENT VANAAND—GRATIS”
Een rede vir hierdie toenemende belangstelling was die rolprent The New World Society in Action.e Hierdie rolprent—die eerste wat deur die organisasie vervaardig is sedert die “Fotodrama van die Skepping” bykans 40 jaar vroeër—het die aandag gevestig op die wêreldwye predikings- en drukwerk en het gewys hoe Jehovah se Getuies georganiseer is. Gedurende ’n vier week lange besoek aan Amerikaans-Samoa in 1955 het Len die rolprent 15 keer vertoon, aan altesaam 3 227 mense, gemiddeld 215 per vertoning.
“Voor elke vertoning”, vertel Len, “het ons deur die dorpies gery om die rolprent te adverteer en pamflette uitgegooi vir enigiemand by wie ons verbygery het. Terselfdertyd het ons uitgeroep ‘Rolprent vanaand—gratis’, asook die naam van die dorpie waar dit vertoon sou word.”
Die rolprent het ’n geweldige groot indruk op die mense gemaak. Ná elke vertoning wou dié wat dit bygewoon het, meer omtrent Jehovah se Getuies en hulle leringe weet. In plaas van te wag totdat die Getuies hulle weer besoek, het baie belangstellendes self na die sendinghuis gekom, waar die sendelinge ’n hele paar studies tegelykertyd in verskillende dele van die huis gehou het. Wanneer die een groep uitgestap het, het ’n ander groep ingestap. “Jare later”, vertel Ron Sellars, “het mense Jehovah se Getuies nog steeds geassosieer met die wonderlike dinge wat hulle in daardie rolprent gesien het.”
VOLGEHOUE PREDIKING BEREIK HARTE
Twee maande ná Len Helberg se besoek is die eerste gemeente van Jehovah se Getuies in Amerikaans-Samoa in Fagatogo gestig. Binne ’n jaar het die aantal verkondigers in die gemeente van 14 tot 22 vermeerder. Omstreeks daardie tyd het nog twee spesiale pioniers, Fred en Shirley Wegener, uit Australië aangekom om die groeiende gemeente te help. Fred dien tans as ’n lid van die Samoaanse Landskomitee.
Hierdie verkondigers, pioniers en sendelinge het ‘gegloei van die gees’ (Rom. 12:11). “Danksy die verkondigers se volharding”, skryf Len, “en die gemeenskap se belangstelling in die Bybel is daar teen die middel-1960’s op die een of ander tyd in elke huis in die dorpie Fagatogo ’n Bybelstudie gehou. In daardie jare is elke huis op die eiland ook elke maand besoek.”
Dit was onvermydelik dat hierdie deeglike predikingskampanje die denke van plaaslike mense oor Bybelse sake sou beïnvloed. “Dit het algemene kennis geword dat mense vir ewig op die aarde sal lewe”, sê Len, “dat daar nie ’n helse vuur is nie en dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid is. Mense het hierdie basiese waarhede nie by hulle kerk nie, maar by Jehovah se Getuies geleer. Dit was omdat ons persoonlik met hulle gepraat het en uit hulle eie Bybel met hulle geredeneer het.”
Nietemin het godsdiens- en familiebande die meeste mense daarvan weerhou om op te tree in ooreenstemming met wat hulle geleer het. Ander het die losse sedes wat deur die kerke toegelaat is, verkies bo die hoë sedelike standaarde wat van ware Christene vereis word. Daar was nogtans opregtes van hart wat, soos die reisende koopman in Jesus se illustrasie, die waarheid as ’n pêrel van groot waarde beskou het en dit aangegryp het. Baie van hierdie opregte eilandbewoners het moedig ’n sterk standpunt vir die waarheid ingeneem.—Matt. 13:45, 46.
GETUIENISWERK—OP DIE SAMOAANSE MANIER
“Dit was regtig ’n plesier om in daardie vroeë jare aan die predikingswerk deel te neem”, sê Caroline Pedro, ’n pionier van Kanada wat in 1960 met Wallace Pedro getrou het. “By amper elke huis was iemand gewillig om oor die Bybel te praat. Dit was maklik om Bybelstudies te begin, en dikwels het hele gesinne dit bygewoon.
“Van ons onvergeetlikste herinneringe was die tye wanneer ons in verafgeleë dorpies getuig het. Jong kinders het gewoonlik saam met ons van huis tot huis geloop en aandagtig na ons aanbieding geluister. Hulle het dan vooruit gehardloop om vir die volgende huisbewoner te sê dat ons op pad is. Hulle het selfs vir die huisbewoner vertel waaroor ons praat en watter tekste ons gebruik! Daarom het ons probeer om die kinders altyd een voor te wees deur ’n hele paar aanbiedings voor te berei.”
Terwyl die broers aan die getuieniswerk deelgeneem het, het hulle ook gesorg dat hulle goeie maniere handhaaf en gepaste plaaslike protokol in ag neem (1 Kor. 9:20-23). Charles Pritchard, ’n voormalige sendeling wat nou ’n lid van die Takkomitee in Nieu-Seeland is, skryf: “Weens die warm tropiese klimaat het fale (huise) in die dorpies nie mure nie, en ons kon dus maklik sien of iemand by die huis is. Dit is as die toppunt van slegte maniere beskou om te praat terwyl jy staan of voordat die huisbewoner jou formeel verwelkom het. Ons het elke huis genader en sonder om ’n woord te sê, gewag dat die huisbewoner ons sien. Hy of sy het dan ’n skoon mat op die klippiesvloer net binne die deur gegooi. Dit was ’n uitnodiging vir ons om ons skoene uit te trek, in die huis in te gaan en met gekruiste bene op die mat te sit.” Vir baie sendelinge was dit ’n pynlike ondervinding om vir lang tye in dié posisie op die vloer te sit. Gelukkig het die plaaslike gebruik toegelaat dat hulle hulle bene en voete uitstrek en dit met ’n mat bedek. Sodoende het hulle voorkom dat hulle onbedekte voete na die huisbewoner wys—’n geweldige belediging vir Samoane.
“Huisbewoners het ons formeel verwelkom en verduidelik dat ons hulle eer aandoen deur ons Bybelboodskap na hulle nederige huis te bring”, sê John Rhodes, wat 20 jaar lank as ’n sendeling in Samoa en Amerikaans-Samoa gedien het. “Daarna het die gesprek oor persoonlike sake begin handel: Waarvandaan kom julle? Het julle kinders? Waar woon julle familie?”
John se vrou, Helen, voeg by: “Ons het altyd die huisbewoner met die respekvolle terme aangespreek wat gewoonlik tydens formele geleenthede gebruik word. Hierdie respekvolle taal het waardigheid verleen aan die huisbewoner sowel as aan ons Bybelboodskap.”
“Hierdie bekendstellings”, sê Caroline Pedro, “het ons gehelp om die individue en hulle gesin goed te leer ken, en hulle vir ons. Dit het ons ook gehelp om beter in hulle geestelike behoeftes te voorsien.”
Ná die bekendstellings kon die verkondigers voortgaan om die Koninkryksboodskap aan te bied. “Huisbewoners het gewoonlik geluister so lank as wat ons wou praat”, vertel Robert Boies, ’n voormalige sendeling. “Hulle het dan baie van die dinge wat ons gesê het, herhaal om te wys dat hulle ons boodskap as belangrik beskou.”
Aangesien mense die Bybel goed geken het, was dit iets algemeens om lang gesprekke oor Bybelleringe te voer. “Hierdie gesprekke het my gehelp om verskeie Bybelonderwerpe op die punte van my vingers te ken”, sê Caroline Pedro. Die meeste huisbewoners het lektuur met graagte aanvaar. Mettertyd het verkondigers geleer om te onderskei tussen dié wat bloot nuuskierig is en dié wat opreg belangstel in geestelike dinge.
Talle nuwe belangstellendes wat vergaderinge begin bywoon het, was gretig om aan die veldbediening te begin deelneem. “Samoane is van nature goeie sprekers”, sê John Rhodes, “en baie nuwelinge kon met geen of min opleiding hulle geloof met selfvertroue aan ander verduidelik. Nietemin het ons hulle aangemoedig om eerder gepubliseerde wenke vir die getuieniswerk te gebruik en uit die Skrif met mense te redeneer as om bloot op hulle natuurlike vermoëns staat te maak.” Hierdie goeie opleiding het uiteindelik talle bekwame evangeliedienaars opgelewer.
DIE IMPAK VAN SAMOAANSE LEKTUUR
Hoewel baie Samoane Engels vlot kan praat, kan nie almal dit doen nie. Om die harte van daardie waarheidliewende eilandbewoners te bereik, het Pele Fuaiupolu in 1954 vier traktate in Samoaans vertaal. Pele was jare lank die Samoaanse vertaler wat die organisasie hoofsaaklik gebruik het. Hy was dikwels tot laat in die nag besig om sy vertalings in die lig van ’n paraffienlamp op ’n ou tikmasjien te tik.
Terwyl Pele hierdie vertaalwerk gedoen het, het hy ook omgesien na sy vrou en agt kinders, die leiding geneem in gemeentelike bedrywighede en vyf en ’n half dae per week gewerk as inspekteur van kakaoplantasies op die eilande. “Gedurende al daardie jare van harde werk”, skryf Len Helberg, “het Pele nooit erkenning of eer gesoek nie. Inteendeel, hy was innig dankbaar vir die voorreg om deur Jehovah gebruik te word. Sy lojaliteit, nederigheid en ywer het van hom ’n uitstekende Getuie gemaak—iemand wat ons almal bewonder en liefgehad het.”
In 1955 het die verkondigers 16 000 eksemplare van die Samoaanse uitgawe van die boekie met 32 bladsye, “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk”, versprei. Dit het eenvoudige taal gebruik en basiese Bybelleringe op ’n maklik verstaanbare manier aangebied—wat dit ’n ideale hulpmiddel gemaak het om tuisbybelstudies te begin en te hou. Richard Jenkins skryf: “Nadat nuwelinge ’n paar keer deur die boekie gegaan het, was hulle gereed om gedoop te word. Ons was dol daaroor!” Ander boekies in Samoaans het kort daarna verskyn.
Die Wagtoring het in 1958 vir die eerste keer in Samoaans verskyn. Fred Wegener, ’n drukker van beroep, het die tydskrifte vervaardig deur afsonderlike gemimeografeerde bladsye aanmekaar te heg. Later is die tydskrifte in die Verenigde State en daarna in Australië gedruk. Baie van ons publikasies is vertaal en het in maandelikse aflewerings in die Samoaanse Wagtoring verskyn. Van die vroeë 1970’s af het die vrystelling van volledige boeke in Samoaans die predikingswerk ’n groot hupstoot gegee.
Die organisasie se gebonde boeke het ’n groot verspreiding regoor die Samoa-eilande geniet. In 1955, tydens die verspreiding van die boek U kan Armageddon oorlewe in God se nuwe wêreld in, het verkondigers ’n eksemplaar by die meeste huishoudings in Amerikaans-Samoa gelaat. “Mense lees hulle Bybel, maar die meeste het nog nooit van Armageddon gehoor nie”, skryf Wallace Pedro. “Maar nadat gesinne hierdie boek gelees het, het kinders dikwels ons aankoms in die dorpies aangekondig deur uit te roep: ‘Hier kom Armageddon!’ Party ouers het selfs hulle kinders Armageddon genoem.”
Die Samoaanse uitgawe van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, wat in 1972 vrygestel is, het ’n soortgelyke impak gehad. Die meeste sendelinge het aan die begin elke maand twee of meer bokse van hierdie boek onder gretige lesers versprei. “Mense het ons op die plaaslike mark genader”, vertel Fred Wegener, “en het selfs uit busvensters gehang om vir die Waarheid-boek te vra.”
VERSTERK DEUR BYEENKOMSTE
In Junie 1957 was die broers baie opgewonde oor die eerste kringbyeenkoms wat in Pago Pago, Amerikaans-Samoa, gehou sou word. Daar was ook verkondigers wat per boot van Samoa af gekom het om die program by te woon. Die broers was gretig om die publiek uit te nooi en het die byeenkomsprogram wyd en syd in Engels sowel as Samoaans geadverteer. Gevolglik was die 60 verkondigers in Samoa en Amerikaans-Samoa verheug om 106 mense vir die openingsessie op Vrydag te hê.
By hierdie byeenkoms was daar gedurende die middagpouses ’n paar onverwagte verwikkelinge as gevolg van die Samoaanse kultuur sowel as die nuuskierigheid van toeskouers. “Etes is ’n belangrike deel van die Samoaanse kultuur”, skryf Ron Sellars, “en mense nooi gewoonlik verbygangers om saam met hulle te eet. Maar toe die broers groot getalle nuuskierige toeskouers nooi vir die middagete by die byeenkoms, het dit ’n onverwagte las op die kombuis geplaas, wat net genoeg kos vir die broers en susters voorberei het.”
Nietemin was etenstye ’n goeie getuienis vir toeskouers. In Samoa eet die mans by spesiale geleenthede gewoonlik voor die vroue en kinders. Buitelanders en geestelikes sit gewoonlik eenkant en kry die beste porsies. By die byeenkoms het toeskouers egter gesien dat buitelandse sendelinge en plaaslike gesinne dit geniet om as gelykes saam te eet. Almal kon die liefde en eenheid onder Jehovah se volk duidelik sien.
Byeenkomste soos dié het die verkondigers nie net aangemoedig en opgelei nie, maar hulle ook voorberei op hewige beproewinge wat kort hierna sou volg.
AFVALLIGHEID IN APIA
Dit het duidelik geword dat daar, ondanks bemoedigende groei op die eilande, probleme aan die broei was in Samoa. ’n Hele paar persone, onder die leiding van ’n eiesinnige man wat ’n matai (familiehoofman) was, het teokratiese leiding verwerp en moeilikheid gemaak in die Apia-gemeente. Aangesien vergaderinge in hierdie man se huis gehou is, het die atmosfeer in die gemeente al hoe meer gespanne geraak.
Uiteindelik het die opstandiges in 1958 weggebreek en hulle eie studiegroep gestig. Douglas Held, wat destyds by die Australiese tak gedien het en op daardie tydstip in Fidji was, het na Samoa gegaan om die gegriefdes te probeer help. Hoewel sy goeie skriftuurlike raad die getroues in die gemeente grootliks bemoedig het, het ’n kwart van dié wat vergaderinge daar bygewoon het, hulle uiteindelik by die opstandiges geskaar. ’n Hele paar van hierdie persone, slagoffers van hulle eie ongenaakbare trots, moes later uit die gemeente gesit word.
Dit het egter spoedig duidelik geword wie Jehovah se gees het. Die groep opstandiges het uiteindelik versplinter en van die toneel verdwyn. In teenstelling daarmee het die verkondigers in die Apia-gemeente daardie jaar met 35 persent vermeerder. Nadat vergaderinge tydelik in Richard en Gloria Jenkins se huis, naby die hospitaal in Apia, gehou is, het die gemeente in Maatusi Leauanae se huis in Faatoia, Apia, begin vergader. Hier het die verkondigers ’n waarlik hartlike gees van liefde en samewerking geniet. Die eerste Koninkryksaal in Apia is later, met finansiële hulp van ’n gemeente in Sydney, Australië, op Maatusi se eiendom gebou.
AANMOEDIGENDE ASSOSIASIE
Die Apia-gemeente is in 1959 verder versterk toe die Samoaanse regering vyf sendelinge van Amerikaans-Samoa toegelaat het om die eerste kringbyeenkoms wat in Apia gehou is, by te woon. Hoe verheug was almal tog toe 288 persone dit bygewoon het en 10 gedoop is! Twee jaar later was die gemeente die gasheer vir die eerste streekbyeenkoms, wat gehou is in ’n ou Duitse hospitaalgebou naby ’n gastehuis, die White Horse Inn. Hierdie onvergeetlike byeenkoms is selfs deur afgevaardigdes uit Nieu-Seeland bygewoon.
Daardie byeenkomste het die broers waardevolle opleiding gegee om byeenkomste te organiseer. Toe die Samoaanse regering dus later geweier het om reisende opsieners en sendelinge in die land toe te laat, was die broers in staat om hulle eie byeenkomste te reël. In 1967 het hulle selfs ’n uur lange gekostumeerde Bybeldrama georganiseer en aangebied—die heel eerste in Samoa. Dié wat daar was, het hierdie drama, wat gebaseer was op God se voorsiening van die vrystede in eertydse Israel, nog lank daarna onthou.
Gedurende daardie jare het die verkondigers in Samoa ook daarby baat gevind om intereiland-byeenkomste in Amerikaans-Samoa en Fidji by te woon, al het dit groot moeite en opoffering geverg. Byvoorbeeld, om ’n streekbyeenkoms in Fidji by te woon, het nie net beteken dat jy vir jou reis en kos moes betaal nie, maar ook dat jy tot ’n maand lank van Samoa sou weg wees.
AMERIKAANS-SAMOA GAAN VOORUIT
In 1966 was die broers in Amerikaans-Samoa verheug om die gasheer te wees vir die “God se seuns van vryheid”-streekbyeenkoms in Pago Pago. Hierdie geskiedkundige byeenkoms is bygewoon deur 372 afgevaardigdes en agt taalgroepe uit Australië, Fidji, Nieu-Kaledonië, Nieu-Seeland, Niue, Samoa (voorheen Wes-Samoa), Tahiti, Tonga en Vanuatu (voorheen Nieu-Hebride). Die kleurvolle, veeltalige groep het die verhouding van Getuies tot plaaslike inwoners in die byeenkomsstad tot 1 uit elke 35 verhoog, al was daar op daardie stadium net 28 verkondigers in die plaaslike gemeente!
Hoe kon so min verkondigers soveel besoekers huisves? “Dit was nie vir ons moeilik om huisvesting vir al die afgevaardigdes te vind nie”, vertel Fred Wegener. “Die plaaslike mense was gasvry en het die broers met graagte verwelkom, tot groot ontsteltenis van die godsdiensleiers.”
Hierdie byeenkoms het ’n wonderlike uitwerking op die gemeente in Pago Pago gehad. Binne ses maande het die vergaderingbywoning met 59 persent gestyg, en baie nuwelinge het as verkondigers van die goeie nuus gekwalifiseer. “Dit het ook die gemeente aangespoor om ’n meer gepaste vergaderplek te bou”, skryf Ron Sellars. Hoewel daar min beskikbare grond was op die eiland Tutuila, waar Pago Pago geleë is, het ’n plaaslike verkondiger ’n stuk grond wes van die stad, by Tafuna, goedgunstiglik vir 30 jaar aan die gemeente verhuur.
“Die stuk grond was onder seevlak”, sê Fred Wegener, “en daarom moes die gemeente drie maande lank swoeg om lawarots bymekaar te maak om die grondvlak hoër te maak.”
Die plaaslike Katolieke priester, wat gereeld Die Wagtoring en Ontwaak! gelees het, het die broers toegelaat om die kerk se betonmenger te leen toe dit tyd was om die betonvloer te lê. “Hierdie priester”, skryf Ron Sellars, “het later ’n Ontwaak!-artikel oor die huwelik gelees en onmiddellik die priesterdom verlaat om te gaan trou.”
Oorsese broers het ruimhartig gehelp met hierdie Koninkryksaalprojek. Die gemeente van Gordon en Patricia Scott, twee van die eerste sendelinge wat in Amerikaans-Samoa gedien het maar na die Verenigde State teruggekeer het, het stoele vir die nuwe saal geskenk. “En deur die ekstra stoele aan die plaaslike bioskoop te verkoop”, sê Ron Sellars, “het ons die verskepingskoste van al die stoele na die eiland betaal!” Die nuwe Koninkryksaal met 130 sitplekke in Tafuna is in 1971 voltooi en toegewy. Later is ’n sendinghuis bo-op die saal gebou.
SAMOA OPEN SY DEURE
Tot 1974 is die werk in Samoa bemoeilik deur regeringsbeperkings wat Getuiesendelinge verhinder het om die land binne te kom. In daardie jaar het plaaslike verantwoordelike broers die Eerste Minister direk genader om die saak te bespreek. Een van hierdie broers, Mufaulu Galuvao, skryf: “Gedurende die gesprek het ons agtergekom dat ’n regeringsamptenaar ’n ongemagtigde komitee saamgestel het om alle aansoeke van sendelinge te keur. Hierdie komitee, wat uit ons godsdiensteenstanders bestaan het, het ons visumaansoeke summier verwerp sonder om die Eerste Minister eens daarvan in kennis te stel.
“Die Eerste Minister was onbewus van hierdie gekonkel; daarom het hy die hoofimmigrasiebeampte onmiddellik opdrag gegee om vir hom die lêer oor Jehovah se Getuies te bring. In ons teenwoordigheid het hy die ongemagtigde komitee ontbind en sendelingvisums vir drie jaar aan Paul en Frances Evans toegestaan, met die moontlikheid om dit aan die einde van daardie tydperk te verleng.” Watter wonderlike nuus! Ná 19 jaar van volgehoue pogings het hulle Samoa uiteindelik as amptelik erkende sendelinge binnegekom!
Paul en Frances het eers by Mufaulu Galuvao en sy gesin gebly, maar met die aankoms van John en Helen Rhodes in 1977 het albei egpare in ’n gehuurde sendinghuis in Vaiala, Apia, ingetrek. Van die ander sendelinge was Robert en Betty Boies in 1978, David en Susan Yoshikawa in 1979 en Russell en Leilani Earnshaw in 1980.
AANPASSINGS BY EILANDLEWE
Getuies uit die buiteland wat deur die jare heen in Samoa kom woon het, het kort voor lank agtergekom dat die lewe selfs in hierdie paradys uitdagings bied. Een van hierdie uitdagings is vervoer. “Gedurende ons eerste twee jaar van sendingdiens in Apia”, skryf John Rhodes, “het ons dikwels ver geloop om vergaderinge by te woon en die predikingswerk te doen. Ons het ook die gewilde en kleurvolle eilandbusse gebruik.”
Hierdie ryklik versierde voertuie is gewoonlik ’n klein tot mediumgroot vragmotor met ’n houtkajuit agterop gemonteer. Dit word volgeprop met passasiers wat alles en nog wat saamdra, van plaasgereedskap tot vars produkte. Die musiek blêr en almal sing lekker saam, wat bydra tot die vrolike atmosfeer. Vaste bushaltes, tydroosters en busroetes is iets onbekends. “Die bus na Vava‘u”, sê een reisgids, “is altyd op tyd: dit kom daar aan wanneer dit daar aankom.”
“As ons gedurende die rit iets wou koop”, sê John, “het ons die bestuurder net gevra om stil te hou. Wanneer ons ons goed klaar gekoop het, het ons teruggeklim op die bus en verder gery. Maar niemand het omgegee vir die vertraging nie.”
As die bus vol was, het nuwe passasiers hulle tuisgemaak op die skote van dié wat reeds gesit het. Sendelingbroers het dus gou geleer om hulle vrou op hulle skoot te laat sit. Aan die einde van die rit het kinders en volwassenes dikwels hulle busgeld betaal deur ’n muntstukkie uit hulle oor te haal—’n gerieflike bêreplek!
Om van die een eiland na die ander te reis, het sendelinge en verkondigers van vliegtuie en klein bootjies gebruik gemaak. Die reis kon vol gevare wees; vertragings was onvermydelik. “Ons moes leer om geduldig te wees en ’n sin vir humor te hê”, sê Elizabeth Illingworth, wat jare lank saam met haar man, Peter, kringwerk deur die hele Stille Suidsee-gebied gedoen het.
Op land kan swaar reëns ’n reis moeilik maak—veral gedurende die sikloonseisoen. Toe die sendeling Geoffrey Jackson op pad na ’n Gemeentelike Boekstudie ’n stroom in vloed probeer oorsteek het, het hy gegly en in die kolkende watermassa beland. Toe hy sopnat en bedremmeld aan die ander kant uitkom, het hy nog steeds na die vergadering gegaan, waar die gasheergesin hom afgedroog het en hom ’n lang, swart lavalava (’n Polinesiese oorslaanromp) gegee het om aan te trek. Sy vriende het gesukkel om hulle lag te hou toe ’n nuwe belangstellende by die vergadering hom vir ’n Katolieke priester aansien! Broer Jackson dien tans as ’n lid van die Bestuursliggaam.
Ander uitdagings waarvoor nuwe aankomelinge te staan gekom het, was om ’n nuwe taal te leer, aan die voortdurende tropiese hitte gewoond te raak, vreemde gesondheidsprobleme die hoof te bied, min moderne geriewe te hê en ’n magdom bloedsuiende insekte weg te hou. “Die sendelinge het werklik baie opofferings ter wille van ons gemaak”, skryf Mufaulu Galuvao, “met die gevolg dat talle waarderende ouers hulle kinders vernoem het na hierdie dierbare broers en susters, wat ons liefdevol bygestaan het.”
SAVAII HOOR DIE GOEIE NUUS
Kom ons kyk nou na die grootste en mees ongerepte eiland in die Samoagroep, Savaii. ’n Groot deel van hierdie eiland is onbewoon en het hoë berge, ’n vulkaanrif met spits pieke en sowat 450 kraters, feitlik ondeurdringbare oerwoude en ruwe lawavelde. Die meeste inwoners woon in klein dorpies al langs die kus. In 1955 het die goeie nuus Savaii vir die eerste keer bereik. Len Helberg en ’n groep verkondigers van die eiland Upolu was vir ’n kort rukkie daar om die rolprent The New World Society in Action te vertoon.
Ses jaar later is twee sendelingsusters—Tia Aluni, die eerste Samoaan wat na Gilead gegaan het, en Ivy Kawhe, haar sendelingmaat—genooi om van Amerikaans-Samoa na Savaii te trek. Toe die twee susters in 1961 daar aankom, het hulle tuisgegaan by ’n bejaarde egpaar in Fogapoa, ’n dorpie aan die oostekant van die eiland. Later het ’n spesialepionier-suster, wat voorheen op Savaii gewoon het, vir ’n ruk by hulle aangesluit. Om die nuwe groepie van ses tot agt persone aan te moedig en te ondersteun, het broers van Apia hulle een keer per maand besoek en ’n openbare toespraak gehou. Hierdie groepie het in ’n klein fale in Fogapoa vergader.
Tia en Ivy het op Savaii gebly tot 1964, toe hulle na ’n ander eiland gestuur is. Gedurende die volgende tien jaar was daar min geestelike aktiwiteit op Savaii. Toe, vanaf 1974, het ’n hele paar gesinne na Savaii getrek om te help om die werk weer aan die gang te kry. Onder hulle was Risati en Mareta Segi, Happy en Maota Goeldner-Barnett, Faigaai Tu, Palota Alagi, Kumi Falema‘a (later Thompson) en Ron en Dolly Sellars, wat van Amerikaans-Samoa getrek het. Die klein groepie wat in Fogapoa gevorm is, het by die Segi’s se fale langs die strand vergader. Later is ’n sendinghuis en Koninkryksaal daar naby gebou. Mettertyd is nog ’n groep in Taga, ’n dorpie aan die weskus van Savaii, gevorm.
Van 1979 af is meer sendelingegpare na Savaii gestuur om die plaaslike verkondigers te help. Hulle was onder andere Robert en Betty Boies, John en Helen Rhodes, Leva en Tenisia Faai‘u, Fred en Tami Holmes, Brian en Sue Mulcahy, Matthew en Debbie Kurtz, en Jack en Mary Jane Weiser. Danksy die sendelinge se goeie voorbeeld het die werk in Savaii goed gevorder.
Maar op Savaii het tradisies en familiebande ’n sterk houvas op mense gehad. Tot een derde van die dorpies het Jehovah se Getuies verbied om in hulle gemeenskappe te preek, en in party is dit selfs oor die radio aangekondig. Dit het dus baie tyd en geduld geverg om nuwelinge te help om vooruitgang te maak. Nietemin het baie in die waarheid gekom, insluitende party met ernstige gesondheidsprobleme.
HULLE DIEN JEHOVAH ONDANKS GESONDHEIDSPROBLEME
Een van hierdie persone was Metusela Neru, wat van ’n perd afgeval en sy rug gebreek het toe hy 12 jaar oud was. “Ná sy ongeluk”, vertel ’n sendeling, “het hy amper heeltemal vooroorgebuig geloop, en hy was gedurig in pyn.” Toe Metusela op 19 die Bybel begin studeer het, het hy familieteenstand moedig verduur. As gevolg van sy liggaamsgebrek het dit hom nie net vyf minute geneem om na die gemeentelike vergaderinge te loop nie, maar was dit ’n 45 minute lange geswoeg. Nietemin het Metusela goeie vooruitgang gemaak en is hy in 1990 gedoop. Hy het later die voltydse bediening as ’n gewone pionier betree en gekwalifiseer om as ’n ouer man te dien. Sedertdien het meer as 30 van sy familielede al vergaderinge in Faga bygewoon, en ’n hele paar is gedoop. Vandag is Metusela, ten spyte van sy voortdurende gesondheidsprobleme, welbekend vir sy breë glimlag en opgewekte persoonlikheid.
Nog iemand wat ondanks ernstige gesondheidsprobleme geestelike vooruitgang gemaak het, is Saumalu Taua‘anae. Saumalu is erg misvorm deur melaatsheid en het in die afgeleë dorpie Aopo gewoon. Omdat die dorpie so afgesonderd is, het hy die Bybel deur die pos met Ivan Thompson gestudeer. Toe Asa Coe, ’n spesiale pionier, na Savaii getrek het, het hy die studie oorgeneem. Saumalu moes, toe hy in 1991 sy eerste vergadering bygewoon het, twee uur lank ry na Taga, ’n dorpie aan die ander kant van die eiland.
Saumalu was so selfbewus oor sy misvormdheid dat hy, toe hy sy eerste spesiale byeenkomsdag bygewoon het, in sy motor na die program gesit en luister het. Maar dit het hom diep geroer toe die broers en susters hom gedurende die middagpouse liefdevol genader en hom hartlik verwelkom het. Hy het hulle vriendelike uitnodiging met waardering aanvaar en die res van die program saam met die gehoor geniet.
Kort voor lank het Saumalu en sy vrou, Torise, vergaderinge in Faga begin bywoon, al het die rit meer as ’n uur in elke rigting geduur. Saumalu is in 1993 gedoop en het mettertyd gekwalifiseer om ’n bedieningskneg te wees. Toe dokters later een van sy bene afgesit het, het hy nog steeds sy motor na vergaderinge bestuur. In hulle dorpie is die predikingswerk van Jehovah se Getuies verbied; daarom doen Saumalu en Torise ywerig informele en telefoongetuieniswerk.
Vandag woon hulle in Apia, waar Saumalu gereelde behandeling vir al sy gesondheidsprobleme ontvang. Hy is glad nie bitter nie, maar is eerder welbekend vir sy positiewe, vreugdevolle uitkyk op die lewe. Mense het groot respek vir hom en sy vrou weens hulle sterk geloof.
BEPROEWINGE IN TOKELAU
Tokelau, wat uit drie afgeleë atolle noord van Samoa bestaan, het die Koninkryksboodskap vir die eerste keer in 1974 gehoor. In daardie jaar het Ropati Uili, ’n dokter, na Tokelau teruggekeer nadat hy sy studies in Fidji voltooi het. Ropati se vrou, Emmau, was ’n gedoopte Getuie, en hy het in Fidji vir ’n rukkie saam met Jehovah se Getuies gestudeer.f
In Tokelau het Ropati ontdek dat nog ’n dokter en sy vrou, Iona en Luisa Tinielu, gedoopte Getuies is. Hy het ook ’n ander belangstellende, Nanumea Foua, ontmoet wat familielede gehad het wat Jehovah se Getuies is. Die drie mans het gereelde Bybelvergaderinge en openbare toesprake georganiseer, en kort voor lank is dit deur gemiddeld 25 bygewoon. Die drie en hulle gesinne het ook informeel vir ander begin getuig.
Maar nie almal was gelukkig oor hierdie teokratiese bedrywighede nie. Op aanstigting van ’n pastoor van die Londense Sendinggenootskap het die eiland se raad van oudstes die drie gesinshoofde ontbied. “Hulle het ons beveel om ons vergaderinge te staak”, vertel Ropati, “en gesê dat hulle ons lewendig in ons huise sou verbrand of op ’n vlot die oop see sou instuur as ons die opdrag nie gehoorsaam nie. Ons het uit die Skrif met hulle probeer redeneer, maar hulle wou niks hoor nie. Hulle het verwag dat hulle gesag ten alle koste gerespekteer moet word.” Nadat die gesinne hierdie ultimatum ontvang het, het hulle besluit om versigtig te wees sodat hulle nie aandag sou trek wanneer hulle hulle vergaderinge hou nie.
Maar hierdie teenstand was net die begin van hulle probleme. Twaalf jaar later, toe Ropati se suster en swaer die waarheid aangeneem en hulle kerk verlaat het, het die oudstes van die dorpie al die Getuies uit die dorpie verban. “Daardie nag”, skryf Ropati, “het elke gesin hulle persoonlike besittings bymekaargemaak, dit op klein bootjies gelaai en na die grootste dorp op die eiland gevlug. Hulle huise en plantasies is deur hulle gewese bure geplunder.”
Ten spyte van hierdie vervolging het die verkondigers moedig voortgegaan om vir aanbidding te vergader. “Die gesinne het gemaak of hulle vir die naweek op ’n uitstappie gaan”, vertel Ropati, “en het Saterdagoggend na ’n afgeleë eilandjie geroei en weer Sondagaand teruggekeer nadat hulle hulle vergadering gehou het.” Destyds het ’n paar gesinne ook elke jaar die lang, moeilike bootreis van Tokelau na Samoa aangepak om die streekbyeenkoms by te woon.
Die volgehoue teenstand het hierdie gesinne egter uiteindelik laat besluit om na Nieu-Seeland te emigreer. Teen 1990 was daar dus geen Getuies meer op die atolle nie. Nietemin het Ivan Thompson, wat op dié stadium in Apia gepionier het, per brief gestudeer met Lone Tema, ’n jong man wat op Tokelau gewoon het. Lone het goeie geestelike vooruitgang gemaak en dien tans as ’n ouer man in Australië.
Later het etlike verkondigers na Tokelau teruggekeer. Geoffrey Jackson, wat destyds by die Samoaanse takkantoor gedien het, het tevergeefs probeer om met die Nieu-Seelandse Kommissaris vir Tokelauaanse Sake kontak te maak om die probleme te bespreek wat Jehovah se Getuies op die atolle ondervind. “Maar ek het toestemming gekry om Tokelau in my hoedanigheid as taalkundige te besoek”, skryf Geoff, “en gedurende die reis het die kaptein my genooi om saam met hom en ’n ander man in die sitkamer vir offisiere verversings te geniet. Daardie man was toe die einste Kommissaris vir Tokelauaanse Sake met wie ons kontak probeer maak het! Ons het meer as ’n uur lank gesels. Aan die einde van ons gesprek het hy my bedank en belowe dat hy sou doen wat hy kon om die druk op ons broers in Tokelau te verlig.”
Vandag is daar nog steeds amptelike teenstand teen die werk van Jehovah se Getuies in Tokelau. Toe Fuimanu en Hatesa Kirifi se jongste kind in 2006 gesterf en Fuimanu ’n skriftuurlike toespraak by die begrafnis gehou het, het die raad van oudstes gedreig om Fuimanu se gesin van die eiland af te verban. Later is Fuimanu gedreig toe hy geweier het om werk by die plaaslike kerk te doen, en hy en sy vrou is onder druk geplaas om aan politieke bedrywighede deel te neem. Nietemin het hy en sy gesin vasgestaan in hulle geloof. Gevolglik het hulle geloof sterker geword. Fuimanu sê: “Ons het geleer om tydens ons beproewinge op Jehovah te vertrou” (Jak. 1:2-4). Hulle het gesien dat Jehovah nie sy getroue knegte in die steek laat nie.—Deut. 31:6.
GEESTELIKE GROEI WORD DEUR JEHOVAH GESEËN
Sedert die goeie nuus die eerste keer in Samoa gehoor is, het verskeie takkantore oor die Koninkrykswerk hier toesig gehou. ’n Hardwerkende Landskomitee van vier broers dien tans onder leiding van die Australiese tak en hou toesig oor die werk op die Samoa-eilande. Deur die jare heen het die broers in Samoa groot moeite gedoen om selfs die mees afgeleë gebiede met die Koninkryksboodskap te bereik. Verafgeleë Swains-eiland en die Manu‘a-eilandgroep, onderskeidelik ongeveer 320 kilometer noord en 100 kilometer oos van Tutuila-eiland, is deur middel van gereelde predikingskampanjes in Amerikaans-Samoa gedek. Gedurende hierdie besoeke het verkondigers honderde stukke lektuur versprei en tientalle Bybelstudies met belangstellendes begin. Ander verkondigers het hulle ingespan om hulle plaaslike gebied uit te brei deur vir mense te preek wat ’n ander taal praat.
VERTAALWERK BREI UIT
Namate die verkondigers vermeerder het, het die vraag na lektuur in Samoaans ook toegeneem. Om in hierdie behoefte te voorsien, is Geoffrey Jackson en sy vrou, Jenny, in 1985 uit hulle sendingtoewysing in Tuvalu na die Samoaanse takkantoor oorgeplaas. Geoff is as opsiener oor die twee Samoaanse vertalers aangestel. “Aan die begin het die vertalers by tafels in die Bethel-eetsaal gewerk”, vertel hy. “Elke oggend het hulle die ontbyttafels afgedek voordat hulle kon begin vertaal. Net voor twaalfuur het hulle dan hulle vertaalwerk weggepak om die tafels vir middagete te dek. Daarna het hulle die tafels weer afgedek om voort te gaan met hulle vertaalwerk.”
Die voortdurende onderbrekings het produktiwiteit belemmer. Die vertaalproses self was ook arbeidsintensief en tydrowend. “Baie van die werk is met die hand uitgeskryf en dan getik”, vertel Geoff. “Elke manuskrip is ’n paar keer oorgetik om geproeflees en nagesien te word voordat dit gereed was om gedruk te word.” In 1986, toe die eerste rekenaar vir die takkantoor aangekoop is, is hierdie herhalende werk grootliks verminder of uitgeskakel. Ander rekenaarhulpmiddele het die vertaal- en drukproses verder versnel.
Hierdie vertaal- en drukwerk was hoofsaaklik toegespits op Die Wagtoring en Ontwaak! Vanaf Januarie 1993 word Die Wagtoring in Samoaans gelyktydig met die Engelse uitgawe gedruk—en boonop in vier kleure! Toe, in 1996, het ’n kwartaallikse uitgawe van die Ontwaak! in Samoaans verskyn. “Die vrystelling van die Ontwaak!” vertel Geoff, “is nie net in koerante en oor die radio aangekondig nie, maar ook op die nasionale televisienuus.”
’n Groep vertalers in Samoa voorsien vandag in Samoaanse vertaalbehoeftes. Tesame met ander vertaalspanne regoor die wêreld het hierdie hardwerkende vertalers gevorderde opleiding in taalbegrip en vertaalvaardighede ontvang, wat hulle in staat stel om akkurater en beter te vertaal.
TAKUITBREIDING NODIG
Toe Milton G. Henschel in 1986 Samoa as sone-opsiener besoek het, was dit duidelik dat die Sinamoga-sendinghuis te klein is om in die tak se groeiende behoeftes te voorsien. Gevolglik het die Bestuursliggaam broers van die Ontwerp-/Bouafdeling in Brooklyn en die Streeksingenieurskantoor in Australië aangestel om na Samoa te gaan en die behoefte aan groter fasiliteite te evalueer. Die aanbeveling? Koop ’n stuk grond van drie hektaar in Siusega, vyf kilometer van Sinamoga na die binneland, om ’n nuwe Bethelkompleks op te rig. Ná die voltooiing van die nuwe takkantoor sou die ou Bethelhuis in Sinamoga afgebreek kon word om plek te maak vir ’n nuwe Byeenkomssaal.
Bouwerk aan die nuwe tak het in 1990 begin, en wat ’n internasionale projek was dit tog nie! Altesaam 44 internasionale dienaars, 69 internasionale vrywilligers, 38 voltydse plaaslike vrywilligers en talle deeltydse werkers het in eenheid saam aan die projek gewerk. Maar toe die bouwerk goed op dreef was, het ’n ramp Samoa skielik getref.
’N RAMP!
Sikloon Val, een van die kragtigste storms wat daar nog in die Stille Suidsee was, het Samoa op 6 Desember 1991 getref. Die eilandjies het vyf dae lank onder winde van tot 260 kilometer per uur deurgeloop, wat 90 persent van die plantegroei kaalgestroop en $380 miljoen se skade aangerig het. Sestien mense het ongelukkig hulle lewe verloor.
“Die takkantoor het gou noodleniging georganiseer”, vertel John Rhodes. Binne dae het ’n skeepsvraghouer met noodlenigingsvoorraad van die Fidji-tak af aangekom. Fondse van ander Pasifiese takke is kort daarna ontvang.
“Onmiddellike behoeftes het heel eerste aandag gekry”, skryf Dave Stapleton, ’n internasionale dienaar wat aan die nuwe tak in Siusega gewerk het. “Skoon water, dekseile, paraffien en mediese voorraad is versprei onder broers wat dit nodig gehad het. Daarna het ons die Bethel in Sinamoga in ’n bruikbare toestand gekry en ook beskadigde geboue by die tak se bouprojek herstel. Later het ons beskadigde Koninkryksale, sendinghuise en huise van individuele Getuies herstel en herbou. Dit het maande geneem om die werk te voltooi.”
Toe die regering later fondse aan alle godsdienste—insluitende Jehovah se Getuies—voorsien het om hulle eiendom te herstel, het die broers die geld teruggestuur met ’n brief wat gesê het dat dit gebruik kon word vir herstelwerk aan regeringsgeboue, aangesien al ons skade reeds herstel is. Dankbare regeringsministers het gevolglik die invoerbelasting op oorsese boumateriaal vir die takkantoorprojek verlaag, en dit het tot ’n aansienlike besparing gelei.
DIT HET “ONS GROOTSTE VERWAGTINGE OORTREF”
Nadat die sikloonskade herstel is, het die bouprojek aan die nuwe tak vinnig gevorder. ’n Jaar en ’n half later, in Mei 1993, het die langverwagte dag aangebreek waarop die Bethelgesin van Sinamoga na hulle nuwe tuiste in Siusega getrek het.
In September 1993 het ’n groep van 85 Getuie-ambagsmanne van Australië, Hawaii, Nieu-Seeland en die Verenigde State in Samoa aangekom om die Sinamoga-Byeenkomssaal te bou. Almal het op hulle eie onkoste hierheen gereis. “Verskillende bouterme en meetstelsels is op die bouterrein gebruik”, skryf Ken Abbott, een van die Australiese ambagsmanne, “maar Jehovah se gees het ons gehelp om enige probleme wat ontstaan het, blymoedig die hoof te bied.”
“Om met ons eie oë die internasionale broederskap in aksie te sien, het ’n positiewe uitwerking op almal gehad”, het Abraham Lincoln gesê, wat op die Hawaise span was.
Danksy die verenigde pogings van die internasionale bouspan is die Byeenkomssaal in net tien dae voltooi. Die plaaslike verkondigers het waardevolle bouvaardighede geleer deur saam met die besoekers te werk, en hulle het ook geestelik daarby baat gevind. Ná afloop van die projek het party verkondigers dus as pioniers of by Bethel begin dien.
Op 20-21 November 1993 is die takkantoor en Byeenkomssaal eindelik toegewy. John Barr van die Bestuursliggaam het die toewydingstoesprake gehou. Paul Evans, wat al jare lank as sendeling dien, het die gevoelens van baie wat hierdie heuglike geleentheid bygewoon het, soos volg opgesom: “Jehovah se seëninge het ons grootste verwagtinge oortref.”
DIE WAARHEID VERANDER LEWENS
Wanneer die waarheid van God se Woord mense se harte raak, beweeg dit hulle om hulle lewe in ooreenstemming met Jehovah se verhewe standaarde te bring. Baie Samoane het ondervind hoe die krag van God se Woord mense kan verander.—Ef. 4:22-24; Heb. 4:12.
Byvoorbeeld, Ngongo en Maria Kupu het, soos Samoane sê, “in die donker gelewe”—dit wil sê saamgewoon sonder om getroud te wees. “Ons het ’n tyd lank met Ngongo en Maria gestudeer”, verduidelik Fred Wegener, “maar nie besef dat hulle nie getroud is nie. Maar op ’n dag het hulle ons trots hulle splinternuwe huweliksertifikaat gewys. Kort daarna is hulle gedoop. Hoewel Ngongo sedertdien gesterf het, dien Maria nog as ’n gewone pionier in Amerikaans-Samoa.”
Nog ’n uitdaging waarvoor nuwelinge in Samoa te staan kom, hou verband met die heiligheid van bloed. Dit is gebruiklik onder Samoane om varke en hoenders dood te wurg voordat hulle dit kook en eet, ’n gebruik wat in God se Woord verbied word (Gen. 9:4; Lev. 17:13, 14; Hand. 15:28, 29). Een jong vrou in Amerikaans-Samoa was verbaas toe sy God se duidelike gebooie in verband hiermee in haar eie Bybel sien. “Al het haar familie gereeld kerk toe gegaan en die Bybel gelees”, verduidelik Julie-Anne Padget, “het sy van kleins af vleis met die bloed daarin geëet. Maar sy het onmiddellik die Bybel se leiding aanvaar en haar voorgeneem om geen vleis met die bloed daarin te eet nie.” Vandag is die standpunt van Jehovah se Getuies in verband met die heiligheid van bloed deur die hele Samoa bekend. Daarbenewens is persone in die mediese beroep in Samoa oor die algemeen gewillig om ons standpunt in verband met bloedoortappings te respekteer.
JONGMENSE WAT HULLE SKEPPER LOOF
In Samoa leer ouers hulle jong kinders om kos te kook, skoon te maak, in die gesin se groentetuin te werk en na jonger boeties en sussies om te sien. Sulke vroeë opleiding help dalk om te verklaar waarom baie Samoaanse kinders ook hulle geestelike verantwoordelikhede op ’n jong ouderdom aanvaar en waarom party selfs sonder die hulp van gesinslede hulle standpunt vir Jehovah inneem.
Ane Ropati was 13 jaar oud toe haar ouers opgehou het om vergaderinge by te woon. Gevolglik het sy gereeld haar twee boeties en haar sussie saam met haar geneem en agt kilometer na die Koninkryksaal toe geloop om die vergaderinge by te woon. Sy het later gepionier en met die bouprojek aan die takkantoor in Siusega gehelp. “Sendelinge”, skryf Ane, “het ’n groot invloed op my lewe gehad en my gehelp om geestelike vooruitgang te maak.” Tydens die bouprojek het sy Steve Gauld, ’n vrywillige werker van Australië, ontmoet. Hulle is getroud en het as internasionale dienaars op bouprojekte in Suidoos-Asië, Afrika en Rusland gedien voordat hulle na die Samoaanse Bethel teruggekeer het. Hulle dien tans by die tak in Australië.
ONDERRIGTING OOR DIE RADIO
Deur die jare heen het Jehovah se Getuies verskeie middele gebruik om die goeie nuus van die Koninkryk te versprei. Een wat besonder doeltreffend is, is die radio. Vanaf Januarie 1996 het ’n onafhanklike FM-radiostasie in Apia Jehovah se Getuies die geleentheid gegee om ’n weeklikse radioprogram met die titel “Antwoorde op jou Bybelvrae” aan te bied.
Leva Faai‘u en Palota Alagi van die Samoaanse tak het die teks geskryf en die program aangebied. “In ons eerste program”, verduidelik Leva, “het broer Alagi ’n hele paar vrae geopper, soos: Was daar ’n vloed in Noag se dag? Waar het al die water vandaan gekom? Wat het van die water geword? Hoe kon al die diere in die ark inpas? Ek het die vrae beantwoord deur uittreksels uit ons publikasies te gebruik. Aan die einde van die program het ons die volgende week se onderwerp aangekondig en luisteraars wat vrae het, aangemoedig om Jehovah se Getuies in hulle omgewing te kontak. Ander programme het vrae gedek soos: Waarom het Salomo baie vrouens gehad terwyl Christene net een mag hê? Sou ’n God van liefde mense vir ewig in ’n brandende hel folter? Kom die Bybel van mense of van God af?”
Die radioprogram is meer as ’n jaar lank uitgesaai en het groot belangstelling gewek. “Baie mense het vir ons gesê dat hulle die program geniet en gereelde luisteraars is”, sê Ivan Thompson. “Party het vir ons gesê dat hulle nooit geweet het dat die Bybel antwoorde op sulke interessante vrae bevat nie.”
KONINKRYKSALE NODIG
In die 1990’s het die meeste gemeentes in Samoa en Amerikaans-Samoa bymekaargekom in privaat huise of geboue wat van woudmateriaal gemaak is. “Die plaaslike gemeenskap het dikwels op hierdie vergaderplekke neergesien”, sê Stuart Dougall, wat van 2002 tot 2007 op die Landskomitee gedien het. Selfs die 25 jaar oue Koninkryksaal in Tafuna, Amerikaans-Samoa, het al ’n bietjie oud begin lyk. Dit was tyd om hierdie ou gebou met ’n nuwe saal te vervang.
Maar ’n groter stuk grond was nodig vir ’n nuwe Koninkryksaal; en grond was skaars op die eilandjie Tutuila. Die broers het ’n vooraanstaande Katolieke vrou genader wat ’n oop stuk grond in Petesa, naby die bestaande Koninkryksaal, gehad het. Toe die vrou hoor dat die broers grond nodig het om ’n huis van aanbidding te bou, het sy belowe om die saak met haar dogter te bespreek, wat beplan het om ’n sakekompleks op die terrein op te rig. Die broers se gebede is beantwoord toe die vrou drie dae later vir hulle sê dat sy die grond aan hulle sal verkoop, want, soos sy gesê het: “God behoort eerste te kom.”
Wallace Pedro skryf: “Sy het ons selfs die eiendomsbewys gegee voordat ons haar betaal het en het gesê: ‘Ek weet dat julle eerlike mense is en die volle bedrag sal betaal.’ En dit is dan ook wat ons gedoen het.” ’n Pragtige Koninkryksaal met 250 sitplekke en lugversorging is op hierdie erf gebou, en dit is in 2002 toegewy.
In 1999 het Jehovah se Getuies ’n nuwe reëling ingestel om Koninkryksale in lande met beperkte middele te help bou. Die eerste van hierdie sale op die Samoa-eilande is gebou in Lefaga, ’n afgeleë dorpie aan die suidkus van die eiland Upolu. Die gemeente van tien Getuies in Lefaga het voorheen in ’n grasdakvertrek met oop kante aan die voorkant van ’n verkondiger se huis vergader.
Jack Sheedy, ’n Australiër wat saam met sy vrou, Coral, sewe jaar lank in Tonga gedien het, het toesig gehou oor die bouprojek. Hy skryf: “Van ver af het die bouspan, wat uit plaasboere, vissermanne en huisvrouens bestaan het, gelyk soos miere wat heen en weer oor die bouterrein skarrel.”
Toe die Koninkryksaal met 60 sitplekke in 2001 voltooi is, het die plaaslike dorpenaars net lof vir die pragtige gebou gehad. “Die waardigheid en eenvoud van julle sale maak dit aantreklik”, het hulle gesê. “Hoe anders is dit tog as ons kerke wat ryklik versier en vol toebehore is, maar dikwels nie netjies en skoon lyk nie.” Vergaderingbywoning het ook geweldig toegeneem. In 2004 het 205 mense die Herdenking van Christus se dood in hierdie nuwe saal bygewoon.
Teen laat 2005 is daar in die bouprogram vir lande met beperkte middele vier nuwe Koninkryksale op die Samoa-eilande gebou en is drie opgeknap. Die Sinamoga-Byeenkomssaal in Apia, Samoa, is ook opgeknap. Soos op ander plekke met beperkte middele, het die Samoaanse verkondigers groot waardering vir hierdie liefdevolle ondersteuning van hulle Christenbroers en -susters regoor die wêreld.—1 Pet. 2:17.
VERANDERENDE TYE
Baie Samoane het na ander lande verhuis. Byvoorbeeld, Australië, Nieu-Seeland en die Verenigde State, veral Hawaii, het vandag groot Samoaanse gemeenskappe. In daardie lande is daar meer as 700 Getuies wat in 11 Samoaanse gemeentes en 2 Samoaanse groepe dien. Ander Samoaanse verkondigers dien in Engelse gemeentes in die lande waarheen hulle geëmigreer het.
’n Hele paar Samoaanse Getuies het oorsee gegaan om geestelike opleiding te ontvang en het na Samoa of Amerikaans-Samoa teruggekeer en hulle opleiding goed gebruik. Byvoorbeeld, gedurende die 1990’s het Talalelei Leauanae, Sitivi Paleso‘o, Casey Pita, Feata Sua, Andrew Coe en Sio Taua die Bedieningsopleidingskool in Australië bygewoon en na Samoa teruggekeer om die Koninkrykswerk te bevorder. Vandag dien Andrew en sy vrou, Fotuosamoa, by die Samoaanse Bethel. Sio en sy vrou, Ese, het jare lank kringwerk saam met hulle jong seun, El-Nathan, gedoen. Sio dien tans op die Landskomitee. Ander gegradueerdes dien getrou as ouer manne, pioniers of verkondigers in hulle gemeente.
Wat was die gevolg van hierdie uitstekende werk? In 2008 was daar ’n verkondigerhoogtepunt van 620 in die 12 gemeentes van Samoa en Amerikaans-Samoa. Meer as 2 300 het die Gedenkmaal in 2008 bygewoon. Daar is dus goeie potensiaal vir verdere groei op die Samoa-eilande.
VOORUITGANG SAAM MET JEHOVAH SE ORGANISASIE
Deur die jare heen het baie opregtes van hart in Samoa gunstig gereageer op die goeie nuus van God se Koninkryk (Matt. 24:14). In die gees van hulle seevarende voorvaders het hulle baie probleme oorkom op hulle reis uit Satan se ou wêreld na ’n nuwe geestelike tuiste in Jehovah se geesgerigte organisasie. Probleme soos gesinsteenstand, verbanning uit die gemeenskap, propaganda deur geestelikes, regeringsverbooie, vleeslike versoekings en ander beproewinge het hulle nie verhinder om die ware God, Jehovah, te dien nie (1 Pet. 5:8; 1 Joh. 2:14). Met watter resultaat? Vandag geniet hulle veiligheid in ’n geestelike paradys!—Jes. 35:1-10; 65:13, 14, 25.
Hulle het nietemin nog nie die einde van hulle reis bereik nie. Hulle finale bestemming is om die draai—’n aardse paradys onder die regverdige heerskappy van God se Koninkryksregering (Heb. 11:16). In samewerking met hulle wêreldwye broederskap, en gerig deur God se Woord en sy kragtige heilige gees, hou Jehovah se Getuies op die Samoa-eilande aan om vooruit te gaan, vasbeslote om hulle doelwit te bereik.
[Voetnote]
a Die naam Lapita verwys na ’n plek in Nieu-Kaledonië waar die kenmerkende erdewerk van hierdie volk ontdek is.
b Wes-Samoa het in 1997 sy naam na Samoa verander. Ons sal deurgaans die naam Samoa gebruik.
c Baie nakomelinge van mnr. Taliutafa Young, Harold se gasheer, het later Jehovah se Getuies geword. Sy kleinseun Arthur Young dien tans as ’n ouer man en ’n pionier in die Tafuna-gemeente, in Amerikaans-Samoa. Een van Arthur se kosbaarste besittings is ’n Bybel wat Harold Gill vir sy familie gegee het.
d Samoane het ’n voornaam—byvoorbeeld Pele—en ’n van. Pele het sy pa se van, Fuaiupolu. Dan is daar Samoane wat reg het op ’n hoofmansnaam. Party Getuies van Jehovah doen afstand van hulle hoofmansnaam of weier om een te aanvaar omdat hulle voel dat die naam ’n politieke of wêreldse konnotasie het. In hierdie verslag sal ons in die reël die voornaam gebruik, gevolg deur die van wat die algemeenste bekend is, soos in die naam Pele Fuaiupolu.
e Hierdie rolprent is in 1995 op videokasset heruitgereik en is beskikbaar in Arabies, Chinees (Kantonnees en Mandaryns), Deens, Duits, Engels, Fins, Frans, Grieks, Italiaans, Japannees, Koreaans, Nederlands, Noors, Portugees (Brasiliaans en Europees), Spaans, Sweeds en Tsjeggies.
f Ropati is op ’n latere besoek aan Nieu-Seeland gedoop.
[Lokteks op bladsy 77]
“Vanaand het julle die boodskap van die Koninkryk gehoor. Dit is my opregte hoop dat julle daarop sal ag slaan.”
[Lokteks op bladsy 98]
‘Kinders het dikwels ons aankoms in die dorpies aangekondig deur uit te roep: “Hier kom Armageddon!”’
[Lokteks op bladsy 108]
“Die bus na Vava‘u is altyd op tyd: dit kom daar aan wanneer dit daar aankom”
[Venster/Prent op bladsy 69, 70]
Samoaanse godsdienste—oues en nuwes
Eertydse Samoaanse godsdienste het aspekte van politeïsme, animisme, spiritisme en vooroueraanbidding vermeng, maar het geen tempels, afgode of georganiseerde priesterdom gehad nie. Godsdiens het elke aspek van die lewe beheer. Waarom was die Samoane dan blykbaar gereed vir godsdiensverandering toe sendelinge van die Londense Sendinggenootskap (LMS) in 1830 daar aangekom het?
’n Ou Samoaanse legende het voorspel dat ’n kragtige nuwe godsdiens die oorheersing van die ou gode sou beëindig. Samoaanse familiehoofmanne (matai) het gedink dat die sendelinge hierdie nuwe godsdiens verteenwoordig. Koning Malietoa het besluit om die Christene se God, Jehovah, te aanbid en het sy onderdane beveel om dieselfde te doen.
Sendelinge—van die Katolieke, Metodiste, Mormone en die LMS—het baie aanhangers gewerf, en vandag is byna al die Samoaanse eilandbewoners lidmate van kerke. Albei Samoaanse regerings het godsdiensleuses: “Samoa is op God gevestig”, en: “Samoa, stel God eerste.” Godsdiensprogramme is algemeen op die televisiekanale.
Die invloed van godsdiens is die sterkste in die klein dorpies, waar plaaslike hoofmanne dikwels besluit aan watter godsdiens die dorpenaars moet behoort. Party dorpenaars word selfs onder druk geplaas om meer as 30 persent van hulle inkomste te gee om plaaslike pastore en kerkprojekte te ondersteun—’n las wat al hoe meer gegriefdheid veroorsaak. Daar is selfs kompetisies om te sien wie die meeste kan gee. Party kerke kondig die name van die wenners aan wat die meeste geld gegee het.
In party dorpies kom alles skielik tot stilstand vir die daaglikse sa, ’n periode 10 tot 15 minute waartydens almal in die dorpie bid. Jong mans met groot stokke staan op sekere plekke langs die pad om die gebruik af te dwing. Oortreders kan berispe word, boetes van tot $100 (ongeveer R800) opgelê word of beveel word om die oudstes van die raad of die hele dorpie van kos te voorsien. In uiterste gevalle word hulle selfs geslaan of verban.
By een geleentheid het die kringopsiener John Rhodes en sy vrou, Helen, ná ’n uitputtende reis by die dorpie Salimu, Savaii, aangekom. Omdat die sa net begin het, het die wagte hulle gevra om buite die dorpie te wag. Hulle het gehoorsaam gewag totdat die sa verby was en toe na hulle verblyfplek gegaan.
Toe die opperhoof van die dorpie hoor dat John en Helen moes wag, het hy hulle gasvrou om verskoning gevra. Die opperhoof het gesê dat Getuies geëerde gaste is, en hy het die wagte opdrag gegee om John en Helen te eniger tyd in die dorpie toe te laat, al is dit in die middel van die sa. Waarom die spesiale vergunning? Die opperhoof se jong seun, Sio, het die Bybel saam met die Getuies gestudeer en het goeie geestelike vooruitgang gemaak. Vandag is Sio Taua ’n lid van Samoa se Landskomitee.
[Prent]
John en Helen Rhodes
[Venster op bladsy 72]
’n Oorsig van Samoa, Amerikaans-Samoa en Tokelau
Land
Samoa bestaan uit twee hoofeilande—Upolu en Savaii, wat geskei word deur ’n 18 kilometer breë seestraat—en ’n hele paar kleiner bewoonde eilande. Amerikaans-Samoa, wat ongeveer 100 kilometer suidoos van Samoa geleë is, het een hoofeiland, Tutuila, en sluit die Manu‘a-eilande, Swains-eiland, ‘Aunu‘u en die onbewoonde Rose-atol in. Tokelau bestaan uit drie laagliggende koraalatolle wat 480 kilometer noord van Samoa geleë is.
Bevolking
Meer as 214 000 mense woon in Samoa en omtrent 57 000 in Amerikaans-Samoa. Tokelau het ongeveer 1 400 inwoners. Meer as 90 persent is Polinesiërs, en die res is van Asiatiese, Europese of gemengde afkoms.
Taal
Samoaans is die hooftaal, hoewel die meeste mense Engels as ’n tweede taal praat. Tokelauaans, wat soortgelyk aan Samoaans is, word op Tokelau gepraat.
Bestaansmiddele
Landbou, toerisme, tunavangs en visverwerking is die vernaamste bedrywe.
Voedsel
Styselryke taro, groen piesangs en broodvrug gemeng met klappermelk vorm die stapeldieet. Etes kan ook vark, hoender of vis insluit. Tropiese vrugte soos papajas, pynappels en mango’s is in oorvloed.
Klimaat
Aangesien hierdie eilande naby die ewenaar is, is dit vir die grootste deel van die jaar warm en vogtig. Pago Pago, op die eiland Tutuila, in Amerikaans-Samoa, kry jaarliks meer as 5 000 millimeter reën.
[Venster op bladsy 75]
“’n Baie goeie boek”
Broer Harold Gill het 3 500 eksemplare van die Samoaanse boekie Waar is die dode? na Amerikaans-Samoa gebring om hier te versprei. Toe hy vir die Goewerneur ’n eksemplaar gee, het hy voorgestel dat Harold dit vir elkeen van die godsdiensleiers wys sodat hulle vir die Prokureur-generaal kon sê of dit gepas sou wees vir openbare verspreiding. Maar hoe het die godsdiensleiers gereageer?
Die predikant van die Londense Sendinggenootskap was vriendelik en het geen beswaar gehad nie. Die Sewendedagadventiste het glad nie omgegee wat Harold doen nie—solank hy nie een van hulle skape afrokkel nie. Die vlootkapelaan was ietwat sarkasties, maar nie vyandiggesind nie. Maar ’n ongewone gebeurtenis het dit vir Harold onnodig gemaak om na die Katolieke priester toe te gaan. Harold het ’n eksemplaar van die boekie vir die Samoaanse polisieman gegee wat hom na die Goewerneur geneem het. ’n Paar dae later het Harold die polisieman gevra of hy dit geniet het om die boekie te lees.
Die polisieman het in sy gebroke Engels geantwoord: “My baas [die Prokureur-generaal] het gesê: ‘Gaan na jou [Katolieke] priester toe en vra hom of dit ’n goeie boek is.’ Ek het onder ’n boom gaan sit en die boek gelees. Ek dog toe: ‘Dis ’n baie goeie boek, maar as ek dit vir die priester wys, sal hy sê: “Dis nie ’n goeie boek nie.”’ Toe sê ek vir [die Prokureur-generaal]: ‘Meneer, my priester sê: “Dis ’n baie goeie boek.”’”
Later het die Prokureur-generaal Harold na sy kantoor toe genooi. Terwyl die Prokureur-generaal deur die boekie geblaai het, het Harold die inhoud verduidelik. Toe het die Prokureur-generaal die telefoon opgetel en toestemming gegee dat dit versprei kan word. Gevolglik is byna al die boekies wat Harold saam met hom gebring het, op die eilande versprei.
[Venster op bladsy 76]
Tradisionele Samoaanse kultuur
In 1847 het ’n sendeling van die Londense Sendinggenootskap, George Pratt, Samoane beskryf as “die grootste onderhouers van etiket in Polinesië, miskien selfs in die wêreld”. Hierdie tradisionele Samoaanse kultuur—wat faa Samoa (die Samoaanse manier) genoem word—is ’n omvattende kode wat elke aspek van die Samoaanse lewe beheer.
Van die allergrootste belang in hierdie kode is “om dié wat ‘hoër’ is as jy, te respekteer, selfs te vereer”, sê die boek Samoan Islands. Hierdie respek word weerspieël in goeie maniere, gepaste spraak en lojaliteit teenoor ’n mens se familie en dorp. Die meeste beskou dit as ondenkbaar om die gebruike en godsdiens van hulle voorvaders te verwerp.
Familiehoofmanne (matai), die bewakers van hierdie tradisie, reël die daaglikse bedrywighede van een of meer verwante gesinsgroepe en verteenwoordig hulle op die dorpsraad. Hulle vereis strenge gehoorsaamheid en dwing hulle gesag af deur boetes, slae of selfs verbanning uit die dorpie. Byvoorbeeld, die matai van een dorpie het ’n godsdiensleier beboet toe hy jong seuns aangehits het om Jehovah se Getuies met klippe te bestook.
Dorpies kan tussen 10 en 50 matai hê. Die meeste word deur die uitgebreide familie (aiga) gekies, maar party erf hierdie amp. Titels word volgens ’n streng hiërargie ingedeel. Elke dorpie het ’n opperhoof (alii), wat die voorsitter van die dorpsraad is. ’n Redenaar-hoofman (tulafale) sien om na seremoniële sake. Maar nie alle matai het politieke of godsdienspligte nie. Party bepaal hulle dalk by familiesake, soos om as trustees vir familiegrond te dien, wat die gesag het om te besluit hoe hierdie eiendom gebruik moet word.
[Venster/Prent op bladsy 79]
“Die man van Jehovah”
SAUVAO TOETU
GEBORE 1902
GEDOOP 1954
PROFIEL Die eerste persoon in Faleasiu wat die waarheid aangeneem het. ’n Koninkryk- saal is later op sy grond gebou. Soos vertel deur sy seun Tafiga Sauvao
IN 1952 het een van my pa se neefs van Apia by ons gesin in Faleasiu kom kuier. Hierdie neef, wat met Jehovah se Getuies geassosieer het, wou met my pa oor die Bybel gesels. ’n Hele paar van ons familielede in die dorp het besluit om ook te kom luister. Hulle het van Saterdagoggend af ononderbroke tot Maandagmiddag gepraat en het net vir ’n uur gestop om te slaap. Ná soortgelyke besprekings oor die volgende vier naweke het my pa uiteindelik gesê: “Nou’s ek tevrede. Ek het die waarheid gevind.” My pa se swaer, Finau Feomaia, het ook die waarheid aangeneem, sowel as hulle albei se gesinne.
My pa het onmiddellik begin getuig. Dit het ons familielede geskok, want hulle het hom as ’n getroue Sewendedagadventis beskou. Hulle het hom spottenderwys die man van Jehovah genoem. Maar wat ’n kompliment was dit tog! Al was my pa klein gebou, het hy groot moed aan die dag gelê; hy kon ook helder dink en met oorredingskrag praat. Dit het hom in staat gestel om sy nuutgevonde geloof goed te verdedig. Mettertyd was ons klein groepie die tweede gemeente wat in Samoa gestig is.
[Venster/Prent op bladsy 83]
Getrou ondanks swak gesondheid
FAGALIMA TUATAGALOA
GEBORE 1903
GEDOOP 1953
PROFIEL Hy het die geleentheid om ’n vooraanstaande matai te word, van die hand gewys en die gewone pionierdiens betree.
LATER het Fagalima, ondanks sy swak oë en ’n horrelvoet, jare lank regoor Samoa as ’n spesiale pionier gedien. Terwyl ’n kringopsiener saam met Fagalima van huis tot huis gewerk het, het hy opgemerk dat hy tekste akkuraat lees sonder ’n bril en hom toe gevra of sy oë verbeter het. Fagalima het geantwoord dat hy sy bril verloor het en die tekste uit sy kop aanhaal.
Fagalima wou baie graag ’n streekbyeenkoms in Fidji bywoon en het vier weke lank alleen in ’n afgeleë deel van Upolu gaan werk om kokosneute te versamel. Ondanks sy horrelvoet het hy 15 kokosneute op ’n slag drie kilometer ver gedra na ’n plek waar hy die dop kon verwyder en die klappervlees, of kopra, kon uitdroog. Daarna het hy die kopra verkoop en na Apia gegaan om sy reisgeld na Fidji te betaal, maar toe hy daar kom, het hy ontdek dat die prys opgegaan het en dat hy dit nie meer kon bekostig nie. Hy het nie gekla, moed opgegee of hulp gevra nie, maar eenvoudig teruggegaan om nog kopra te kry en die nodige geld te verdien. Hy het dit alles gedoen om ’n streekbyeenkoms by te woon wat hy gedink het aangebied sou word in twee tale wat hy nie verstaan nie. Wat ’n beloning was dit tog vir Fagalima toe hy in Fidji aankom en uitvind dat die grootste deel van die byeenkomsprogram in sý taal aangebied sou word!
[Venster/Prent op bladsy 87]
‘Ek het elke dag geniet’
RONALD SELLARS
GEBORE 1922
GEDOOP 1940
PROFIEL Hy en sy vrou, Olive (Dolly), het in 1953 as spesiale pioniers in Samoa aangekom. Hy het in 1961 aan die Gileadsendingskool gegradueer. Ron dien nog steeds as ’n spesiale pionier in Amerikaans-Samoa.
TOE die regering in Samoa geweier het om ons visums te verleng, het ek en Dolly na Amerikaans-Samoa getrek. Die skip wat tussen die eilande vaar, het ons drie-uur die oggend op die verlate kaai in Pago Pago afgelaai. Ons was die enigste verkondigers in die land en het net $12 in ons sak gehad. Later daardie oggend het die pa van ’n gewese Bybelstudent goedgunstiglik vir ons blyplek gegee. Hy het ’n deel van sy eenkamerhuisie met ’n gordyn afgeskort, en dit was ons slaapplek. Al wou ons ons eie blyplek vind, het ons dadelik begin getuig, sommer by die huis reg langsaan.
’n Paar weke later het ons ’n groot woonstel bo ’n algemene handelaar in die dorpie Fagatogo gehuur. Dit het ’n pragtige uitsig oor die skilderagtige Pago Pago-baai gehad, maar dit was dolleeg. Broer Knorr het vir ons gesê: “Wanneer julle na die Pasifiese eilande toe gaan, sal dit moontlik nie baie gerieflik wees nie. Julle sal dalk selfs op platgevoude lektuurbokse op die vloer moet slaap.” En dit is presies wat ons gedoen het! Eers maande later het ons genoeg geld gehad om ’n bed, tafel en stoele te maak. Ons was nietemin bly om ons eie plekkie te hê.
Hoewel my geliefde vrou in 1985 oorlede is, gaan ek nog steeds amper elke dag in velddiens uit. Wanneer ek terugkyk op meer as 50 jaar van pionier- en sendingdiens, kan ek eerlikwaar sê dat ek elke dag geniet het!
[Venster/Prent op bladsy 88]
“Hulle het liefde vir Jehovah by my ingeboesem”
WALLACE PEDRO
GEBORE 1935
GEDOOP 1955
PROFIEL Die eerste persoon wat in Amerikaans- Samoa gedoop is. Hy en sy vrou, Caroline, het gepionier en toe ’n gesin grootgemaak. Hulle dien nou in Seattle, Washington, VSA.
TOE ek die Bybel gestudeer en begin preek het, het my familie my uit die huis gesit met net die klere wat ek aan my lyf gehad het! Daardie nag het ek op die strand geslaap. Ek het tot Jehovah gebid vir moed om hom te dien ongeag wat gebeur.
Die volgende dag was ek in die skoolbiblioteek toe broer Paul Evans onverwags daar instap. Hy kon sien dat iets fout is, en het gesê: “Kom ons gaan na die sendinghuis toe en gesels daaroor.” Die sendelinge het my liefdevol ingeneem, en ek is later daardie jaar gedoop.
Nadat ek my hoërskoolloopbaan voltooi het, het ek saam met die sendelinge gepionier. Later is ek getroud met ’n ywerige Kanadese pionier, Caroline Hinsche, wat in Fidji gedien het, en ons het as spesiale pioniers in Amerikaans-Samoa begin dien.
My ouers se gesindheid het geleidelik versag. Voor my pa se dood het hy die Bybel gestudeer, en my ma is gedoop toe sy 72 jaar oud was. Ek is dankbaar vir die voorbeeld van daardie vroeë sendelinge. Hulle het liefde vir Jehovah by my ingeboesem wat my vandag nog onderskraag!
[Venster/Prente op bladsy 91, 92]
Volharding werp vrugte af
PAUL EVANS
GEBORE 1917
GEDOOP 1948
PROFIEL Hy en sy vrou, Frances, het meer as 40 jaar lank as sendelinge in Samoa en Amerikaans-Samoa gedien.
TOE ek en my vrou in 1957 kringwerk begin doen het, was dit moeilik om toegang tot Samoa te kry omdat die regering probeer het om die plaaslike Getuies af te sny van enige hulp van buite. Besoekers en toeriste moes selfs ’n verklaring onderteken waarin hulle belowe dat hulle gedurende hulle verblyf nie bekeerlinge sou probeer maak nie. Op my eerste besoek aan Samoa as kringopsiener het ek die immigrasiebeampte dus gevra wat bedoel word met die uitdrukking ‘bekeerlinge probeer maak’. Toe hy verward lyk, het ek gevra:
“Sê nou jy is ’n Katoliek wat ’n ander land besoek en jy gaan kerk toe. As hulle jou vra om op te staan en ’n toespraak te hou, sou jy dit mag doen?”
“Jy behoort dit te kan doen”, het hy geantwoord.
“Wel”, het ek voortgegaan, “jy weet dat Jehovah se Getuies mense by hulle huise besoek met ’n Bybelboodskap. As my vriende wil hê ek moet saam met hulle gaan terwyl hulle hierdie werk doen, sal dit toelaatbaar wees?”
“Dit sal seker in orde wees”, het hy geantwoord.
“Maar sê nou die huisbewoner vra my ’n vraag?” het ek voortgegaan. “Mag ek hom antwoord?”
“Ek sien geen probleem daarmee nie”, het hy gesê.
“Dan is dit goed. Ten minste weet ek nou wat om te doen”, het ek afgesluit.
Toe ons ná ’n suksesvolle kringbesoek reg was om die land te verlaat, het ek dieselfde beampte gevra of hy enigiets negatiefs oor ons besoek gehoor het.
“Nie ’n woord nie”, het hy geantwoord. “Alles is reg.”
“Wat dan van toegangspermitte vir ons volgende besoek?” het ek gevra.
“Moenie deur die immigrasiekantoor aansoek doen nie”, was sy raad. “Skryf net vir my ’n brief, en ek sal sorg dat julle ’n permit kry.”
Dit is dan ook wat ons vir ’n hele paar besoeke gedoen het.
Ongelukkig was die beamptes wat hierdie redelike man opgevolg het, nie so tegemoetkomend nie en het hulle geweier om latere kringopsieners in Samoa toe te laat. Hierdie situasie het voortgeduur tot 1974, toe die regering vir my en Frances as sendelinge geklassifiseer het. Ons geduld en volharding is uiteindelik beloon.
[Prent]
Frances en Paul Evans
[Venster op bladsy 97]
’n Taal van redenaars
Die Samoaanse taal het ’n sagte, musikale klank wat strelend is op die oor. Maar “aangesien baie woorde net soos ’n swetterjoel klinkers lyk”, sê Fred Wegener, “het sendelinge baie oefening (faata‘ita‘iga) en aanmoediging (faalaeiauina) nodig om die taal te bemeester”.
Kleurryke retoriek en idiomatiese uitdrukkings speel ’n belangrike rol in die Samoaanse kultuur. Familiehoofmanne (matai) en redenaars (tulafale, redenaar-hoofmanne) hou daarvan om by formele geleenthede uit die Bybel aan te haal en hoogdrawende taal te gebruik. Die tradisionele hoflikheid van die Samoaanse volk is veral opmerklik in hulle noukeurige gebruik van formele en seremoniële taal by sekere geleenthede. Samoaans het ’n hoogs ontwikkelde beleefde, “koninklike” vorm (tautala lelei) wat gebruik word wanneer iemand met of van God, hoofmanne, mense in gesagsposisies en buitelandse besoekers praat. Aan die ander kant is daar in Samoaans ’n omgangstaal (tautala leaga), ’n minder formele, meer ontspanne manier van praat, wat gebruik word in alledaagse gesprekke of wanneer iemand van homself praat.
Om te voorkom dat ’n mens aanstoot gee wanneer jy amptelike en seremoniële sake bespreek of oor die Bybel praat, is daar spesiaal voorgeskrewe waardigheidsterme in die eerbiedige “koninklike” vorm van Samoaans. “Omdat beleefdheid en respek onafskeidbaar verbonde is aan die taal”, verduidelik Geoffrey Jackson, ’n lid van die Bestuursliggaam wat as ’n sendeling in Samoa gedien het, “is dit belangrik dat ’n mens, wanneer jy vir Samoane getuig, hulle aanspreek met die beleefdheid wat gewoonlik vir koninklikes gebruik word, maar terselfdertyd die nederige gebruik volg om alledaagse woorde te gebruik wanneer jy van jouself praat.”
[Venster/Prent op bladsy 99]
‘Ons het met trane afskeid geneem’
ROBERT BOIES
GEBORE 1942
GEDOOP 1969
PROFIEL Hy en sy vrou, Elizabeth (Betty), het van 1978 tot 1986 as sendelinge op die Samoa-eilande gedien.
SELFS toe ons net daar aangekom het, het ons gevind dat die mense van Amerikaans-Samoa ons pogings om Samoaans te leer, waardeer het en ons talle foute oorgesien het. Eenkeer het ek Openbaring 12:9 gebruik om Satan se invloed op die wêreld te verduidelik. Maar die Samoaanse woord vir duiwel (tiapolo) en suurlemoen (tipolo) klink baie eenders. Ek het die woorde verwar en verduidelik dat die “suurlemoen” uit die hemel gewerp is en die hele bewoonde aarde mislei. Maar Jehovah sal binnekort die “suurlemoen” vernietig en ’n einde daaraan maak, het ek gesê. Die huisbewoner en my sendelingmaat het natuurlik lekker gelag daaroor.
Op ’n ander keer het ek in die huis-tot-huis-bediening ’n aanbieding wat ek uit my kop geleer het, vir ’n Samoaanse vrou opgesê. Ek het later uitgevind dat die enigste deel van die aanbieding wat sy verstaan het, ’n vlugtige verwysing na Openbaring 21:4 was. Iets het haar die indruk gegee dat my boodskap belangrik is, en sy het onmiddellik in die huis ingegaan en die vers in haar Bybel gelees. Daardie een teks het haar hart so diep geraak dat die vrou later ’n Bybelstudie aanvaar het, en sy en haar kinders het in die waarheid gekom!
Gelukkig het ons uiteindelik die Samoaanse taal onder die knie gekry en talle goeie ondervindinge geniet. Toe gesondheidsprobleme ons gedwing het om na die Verenigde State terug te keer, het ons met trane afskeid geneem van Samoa.
[Venster/Prent op bladsy 101, 102]
‘Die hele dorp het gekom’
Een van die grootste begrafnisse wat nog ooit in Apia gehou is, was dié van Fred Williams in die 1950’s. Die Kaptein, soos almal hom geken het, was ’n geharde, ou, afgetrede seeman wat met een van Jehovah se Getuies getroud was. Hy het die wêreld se oseane bevaar en was welbekend deur die hele Stille Suidsee. Een van sy talle merkwaardige prestasies was dat hy sy bemanning, nadat hulle op ’n afgeleë rif skipbreuk gely het, in ’n oop reddingsboot met baie min kos oor ongeveer 1 500 kilometer na veiligheid gebring het.
Die Kaptein het geglo dat die meeste mense se beoefening van godsdiens onopreg is. Nietemin het hierdie voormalige whiskey-drinker, pokerspeler en seeman die Bybel saam met Bill Moss gestudeer en ’n ywerige Getuie geword. Teen die tyd dat hy gedoop is, was die Kaptein amper blind en feitlik bedlêend. Maar hy het nooit nagelaat om vir sy talle besoekers, wat baie godsdiensleiers ingesluit het, van sy nuutgevonde geloof te vertel nie.
Toe die Kaptein gesterf het, het sy testament bepaal dat Jehovah se Getuies die begrafnis moet behartig en dat hy ter see begrawe moet word. “Dit het gelyk of die hele dorp gekom het om sy begrafnis by te woon”, skryf Girlie Moss. “Die radiostasie het sy dood aangekondig, en sakeondernemings in Apia het hulle vlae halfmas laat hang as ’n teken van respek.” Buiten al die Getuies wat dit bygewoon het, was daar prokureurs, onderwysers, vooraanstaande godsdiensleiers en baie van die sakegemeenskap.
Almal het aandagtig geluister terwyl die spreker, Bill Moss, baie Bybeltekste gebruik het om die Kaptein se hoop op ’n opstanding op ’n paradysaarde te verduidelik. “Ek het die Kaptein sommer van voor af liefgekry”, sê Girlie, “omdat hy gesorg het dat hierdie getuienis by sy begrafnis gegee word aan baie mense wat ons gewoonlik nie maklik in die huis-tot-huis-bediening kan bereik nie. Ek het aan Abel gedink wat ‘nog [spreek], hoewel hy gesterf het’” (Heb. 11:4). “Die Kaptein het deur middel van sy begrafnis ’n groot getuienis op sy sterfdag gegee.”
Ná die begrafnistoespraak by die Kaptein se huis het ’n stoet van meer as 50 motors na die hawe gery. “Die kaai was so vol toeskouers”, skryf Girlie, “dat die polisie vir ons ’n pad moes maak om by die boot uit te kom. Toe het ons saam met die familie, die Hoë Kommissaris en vooraanstaande eilandbewoners op die seiljag Aolele (Vlieënde wolk) op die see uitgegaan.” Die naam van die seiljag was heel gepas, omdat Bill aan die mas moes vasklou terwyl die seiljag deur die golwe rondgegooi is en die wind aan hom, sy klere en die blaaie van sy Bybel gepluk het. Eindelik het Bill die Bybel se belofte gelees dat ‘die see die dooies daarin sal gee’ en gebid (Op. 20:13). Daarna het die Kaptein se toegedraaide liggaam, waaraan gewigte vasgemaak is, onder die woeste waters van sy geliefde Stille Oseaan verdwyn. Mense het nog lank daarna oor hierdie begrafnis gepraat, wat baie geleenthede vir ’n verdere getuienis gebied het.
[Prent]
“Kaptein” Fred Williams voor sy doop
[Venster/Prent op bladsy 109, 110]
‘Ons het elke keer teruggekom’
FRED WEGENER
GEBORE 1933
GEDOOP 1952
PROFIEL Hy en sy vrou, Shirley, dien by die Samoaanse Bethel. Fred is ’n lid van die Landskomitee.
IN 1956 het ons as pasgetroudes van Australië af na Amerikaans-Samoa verhuis om as spesiale pioniers te dien. Ons eerste toewysing was Lauli‘i, ’n klein dorpie by die oostelike ingang van Pago Pago-baai. Daar het ons in ’n vervalle huisie ingetrek, wat nie deure, vensters, ’n plafon of lopende water gehad het nie. Onmiddellik nadat ons dit leefbaar gemaak het, het ons ’n nuwe intrekker gekry. Wallace Pedro, ’n plaaslike jong man wat uit sy huis gesit is deur sy ouers wat sy geloof teëgestaan het, het by ons kom woon en saam met ons gepionier.
Twee jaar later het ons na Gilead gegaan en is ons as sendelinge na Tahiti gestuur. Maar ons het nie lank daar gebly nie. Die regering het ons aansoek as sendelinge afgekeur en ons mooitjies per brief ingelig dat ons op die volgende vliegtuig moet vertrek. Toe ons na Amerikaans-Samoa teruggekeer het, het ons saam met Paul en Frances Evans en Ron en Dolly Sellars by die Fagatogo-sendinghuis in Pago Pago gedien. Hier het ek Die Wagtoring en Ons Koninkryksbediening in Samoaans op ’n ou mimeograaf gedruk wat op die eetkamertafel opgestel is. In 1962 is ek en Shirley gevra om kringwerk te begin doen. Ons eerste kring het die grootste deel van die Stille Suidsee gedek, waaronder Amerikaans-Samoa, die Cook-eilande, Fidji, Kiribati, Niue, Samoa, Tonga, Tuvalu en Vanuatu.
Agt jaar later is ons seun, Darryl, gebore, en ons het in Amerikaans-Samoa gaan woon. Ek het as ’n spesiale pionier gedien, en Shirley het die meeste van die tyd Bybellektuur in Samoaans vertaal.
Omtrent dié tyd het ek saam met ’n Getuie, wat ’n perlemoenduiker was, gewerk om ons gesin se inkomste aan te vul. Die buiteboordmotor van sy klein bootjie het gebreek, en ons het vier dae lank op die see rondgedobber. Voordat ons gered is, het ons honderde kilometers ver gedryf, ’n hewige storm oorleef, 32 bote sien verbyvaar en het ’n groot vragskip amper bo-oor ons gevaar. Kort daarna het ek en Shirley uitgevind dat nog ’n baba op pad is, en daarom het ons in 1974 teësinnig besluit om na Australië terug te keer, waar ons dogter, Tamari, gebore is.
In die jare daarna het ons dikwels daaraan gedink om terug te gaan na ons geliefde sendingtoewysing. Stel jou ons vreugde voor toe ek en Shirley in 1995 genooi is om saam met Tamari na Samoa terug te keer om by Bethel te dien. ’n Jaar later is ek en Shirley gevra om weer kringwerk te doen—ná ’n onderbreking van 26 jaar! Hoe wonderlik was dit tog om soveel getroue verkondigers weer te sien saam met wie ons jare tevore in Samoa, Amerikaans-Samoa en Tonga gedien het!—3 Joh. 4.
Vandag werk ek en Shirley saam met Tamari en haar man, Hideyuki Motoi, in die Samoaanse Bethel. Hoe bly is ons tog dat ons elke keer teruggekom het!
[Venster/Prent op bladsy 113, 114]
‘Jehovah het my gebede verhoor’
FAIGAAI TU
GEBORE 1932
GEDOOP 1964
PROFIEL Sy het van 1965 tot 1980 op die eilande Upolu en Savaii gepionier. Sy woon nou op Savaii.
EK IS met erg misvormde horrelvoete gebore. As gevolg daarvan krul my voetsole onder my hakskene in, wat dit vir my baie moeilik maak om te loop.
Toe ek die waarheid vir die eerste keer gehoor het, het dit diep in my hart ingesink. Ek wou gemeentelike vergaderinge bywoon, maar om met die harde, klipperige pad tot daar te loop, het onmoontlik gelyk. Uiteindelik het ek geleer hoe om my eie skoene van rubberplakkies te maak. Dit was vir my makliker om daarmee te loop.
Ek het begin pionier kort nadat ek gedoop is. Nadat ek nege jaar lank op die eiland Upolu gepionier het, het ek saam met my suster en haar man na Savaii getrek, waar Koninkryksverkondigers nodig was. Hier het ek as ’n spesiale pionier gedien saam met my suster se dogter, Kumi Falema‘a.
Ek en Kumi het elke week met die bus van Faga na Lata, ’n klein dorpie aan die weskus van Savaii, gery. Nadat ons ’n Bybelstudie met ’n vrou in Lata gehou het, het ons agt kilometer na die dorpie Taga geloop om daar met ’n ander vrou te studeer. Dan het ons by hierdie vrou en haar gesin oorgeslaap en in die oggend met die bus teruggery Faga toe. Ons het dit omtrent twee jaar lank gedoen. Gelukkig het albei hierdie vroue en hulle gesinne later bedrywige Getuies geword.
Toe my familielede Savaii verlaat, het ek agtergebly om ’n klein groepie susters en belangstellende vroue in Faga te help. Ek het die weeklikse Wagtoring-studie en Gemeentelike Boekstudie gehou en het die susters in die huis-tot-huis-bediening gelei. Een keer per maand het ’n ouer man van Apia af gekom om een van ons Sondagvergaderinge te hou. Omdat die hoofman van die dorpie ons verbied het om Koninkryksliedere by ons vergaderinge te sing, het ons die woorde net hardop gelees. Vyf jaar later het ’n sendelingegpaar, Leva en Tenisia Faai‘u, van Nieu-Seeland af gekom om ons klein groepie te help. Later het nog ander gekom. Vandag het Savaii twee florerende gemeentes, een in Faga en die ander in Taga.
Al het ek nooit getrou nie, is ek lief vir kinders en het ek nog altyd maklik met hulle maats gemaak. Party kinders het selfs ’n tyd lank by my gebly. Dit het my nog altyd baie bly gemaak om te sien hoe my geestelike “kinders” vorder en hulle standpunt vir Jehovah inneem.
Nou is ek oud, en ek kan nie meer van deur tot deur loop nie. Ek hou Bybelstudies by my huis en getuig vir mense wat ek by die plaaslike hospitaal ontmoet. Maar my beperkings het my gefrustreer, en daarom het ek tot Jehovah gebid om my te help om meer te doen. Toe het sendelinge in my gemeente my gehelp om telefoongetuieniswerk te begin doen. Wanneer ek terugkyk oor my lewe, kan ek sien dat Jehovah waarlik my gebede verhoor het.
[Venster/Diagram op bladsy 118]
Gister, vandag en môre
Inwoners van Samoa en Tonga stel hulle horlosies op dieselfde uur, maar Tonga se kalender is ’n dag voor! Waarom? Samoa en Tonga is aan weerskante van die internasionale datumgrens geleë—Tonga aan die westekant en Samoa aan die oostekant. Al is hulle dus nie ver van mekaar nie, is Tonga een van die eerste lande in die wêreld wat die jaarlikse Herdenking van Christus se dood hou, terwyl Samoa een van die laastes is.
[Diagram]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
\
\
\
\
\ SAMOA
| 19:00
| Woensdag
|
|
|
|
|
TONGA |
19:00 | STILLE SUIDSEE
Donderdag |
|
|
Internasionale | datumgrens
|
| NIUE
|
|
|
|
|
|
|
|
[Venster/Prente op bladsy 123, 124]
’n Bybelvertaling wat God se naam eer
In 1884 het die Christendom se sendelinge ’n Bybelvertaling in Samoaans uitgegee wat die naam Jehovah deurgaans in die Hebreeuse Geskrifte gebruik het. Die verkorte vorm van God se naam het ook vier keer in die Christelike Griekse Geskrifte verskyn as Aleluia, wat “Loof Jah” beteken (Op. 19:1-6). Maar in 1969 het die hersiene uitgawe van hierdie vertaling die naam Jehovah uit al die verse gehaal behalwe een, wat die vertalers blykbaar oorgesien het! (Eks. 33:14). Kerkowerhede het God se naam ook uit hulle gesangboeke verwyder en het kerklidmate afgeraai om Jehovah se naam te gebruik.
In November 2007 was liefhebbers van die Bybel in Samoa egter verheug toe hulle die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Samoaans ontvang het. Hierdie akkurate, maklik verstaanbare vertaling herstel God se naam op al die plekke waar dit in die geïnspireerde teks voorkom. Geoffrey Jackson, ’n voormalige sendeling in Samoa wat nou op die Bestuursliggaam dien, het die nuwe vertaling by ’n spesiale intereiland-byeenkoms in Apia, Samoa, vrygestel.
Televisieberigte oor die vrystelling het groot belangstelling uitgelok. Party mense het die Samoaanse Bethel gebel om eksemplare van hierdie vertaling aan te vra. ’n Senior staatsamptenaar het tien eksemplare aangevra om vir sy personeel te gee. ’n Skoolhoof wou vyf eksemplare hê om aan die einde van die skooljaar vir sy topleerlinge te gee.
Baie mense het die akkuraatheid van die nuwe vertaling geprys, wat waardevolle insig in die betekenis van die oorspronklike teks voorsien. Die Nuwe Wêreld-vertaling help Samoane ook om weer die belangrikheid daarvan te besef om God se naam te gebruik. Finau Finau, ’n spesiale pionier in Vailele, Upolu, het Jesus se modelgebed gebruik om ’n vrou te help om hieroor te redeneer.
Nadat hy Matteus 6:9 gelees het, het Finau gevra: “Wie se naam dink u moet geheilig word?”
“Die Here s’n”, het sy geantwoord.
“Maar 1 Korintiërs 8:5 sê dat daar baie ‘gode’ en baie ‘here’ is”, het Finau geredeneer. “Hoe kan God se naam dan Here wees as daar baie valse gode met dieselfde naam is?”
Toe het hy haar die naam Jehovah gewys en verduidelik dat die Christendom die naam uit hulle Bybelvertalings verwyder het. Om sy punt duidelik tuis te bring, het hy bygevoeg: “Sê nou iemand probeer julle familie se hoofmansnaam (matai-naam) van julle wegneem of dit verander. Hoe sou julle voel?”
“Ons sou woedend wees”, het die vrou geantwoord.
“Presies”, het Finau gesê, “en dit is hoe Jehovah voel teenoor almal wat sy naam uit sy Woord probeer verwyder.”
[Prent]
Die “Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte” in Samoaans
[Venster/Prente op bladsy 126, 127]
“Jehovah het my honderdvoudig geseën”
LUMEPA YOUNG
GEBORE 1950
GEDOOP 1989
PROFIEL Hierdie dogter van ’n voormalige Eerste Minister dien as ’n gewone pionier in Apia.
EK IS op die eiland Savaii grootgemaak as die dogter van ’n suksesvolle sakeman en politikus. Omdat my pa ’n groot kakaoplantasie en omtrent 200 werkers gehad het, het Samoaanse koerante hom die Kakaobaron genoem, en hy was ’n paar jaar lank die Eerste Minister van Samoa.
Ek was een van 11 kinders. My pa was nie ’n baie godsdienstige man nie, maar my ma het ons basiese Bybelonderrig gegee. Ná haar dood het ek haar vreeslik gemis. Toe Judy Pritchard, ’n sendelingsuster, vir my getuig oor die opstandingshoop, het die gedagte om my ma weer te sien, my dus diep getref!
Ek het Judy met vrae bestook, en sy het elkeen uit die Bybel beantwoord. Kort voor lank het ons die Bybel saam gestudeer. Later het ek die Getuies se vergaderinge begin bywoon.
Aanvanklik het my man, Steve, ’n vooraanstaande diaken in die kerk in ons dorpie, my studie teëgestaan. Hy het my na ’n hele paar geestelikes toe geneem wat my probeer oorreed het om op te hou om die Getuies se vergaderinge by te woon. Maar ek het nie hulle raad gevolg nie. Daarna het hy my na my pa toe geneem, wat bloot voorgestel het dat ek dalk nie by my huis studeer nie. Maar my vleeslike broers en susters het my bespot omdat ek van godsdiens wou verander. Ek het nogtans nie opgehou om Bybelwaarheid te leer nie.
Toe ek later gekwalifiseer het om ’n Koninkryksverkondiger te wees, was die eerste huis in die predikingswerk waarby ek aangeklop het, dié van een van my pa se kabinetsministers. Hy het dikwels politieke vergaderinge by my pa se huis bygewoon en het my goed geken. Ek was so senuweeagtig dat ek agter my maat weggekruip het! Mense was geskok om my te sien preek en het gevra: “Wat sê jou pa hiervan?” Maar my pa was ’n redelike man wat my nuwe geloof verdedig het. Buitendien het hy teen daardie tyd Die Wagtoring en Ontwaak! gereeld gelees.
Uiteindelik het ek my mensevrees oorkom en ’n gewone pionier geword. Ek geniet dit om Bybelstudies te hou, en ek hou ’n lys van omtrent 50 moontlike studies ingeval ek ’n nuwe studie in my rooster kan inpas. Maar my grootste vreugde was om my vier kinders die waarheid te leer. My dogter Fotuosamoa en my seun Stephen en hulle huweliksmaats, Andrew en Ana, dien tans in die Samoaanse Bethel. Ek het ook my suster Manu gehelp om die waarheid aan te neem. Selfs my man, Steve, wat my teëgestaan het, het begin om die Bybel te studeer en vergaderinge by te woon. Ja, Jehovah het my honderdvoudig geseën.
[Prente]
Links: Fotuosamoa en Andrew Coe; regs: Ana en Stephen Young
[Venster/Prent op bladsy 129, 130]
My keuse—Jehovah of beroepsgholf?
LUSI LAFAITELE
GEBORE 1938
GEDOOP 1960
PROFIEL Hy het besluit om eerder pionierdiens te doen as om ’n beroepsgholfspeler te word.
EK WAS 18 jaar oud toe ek gehoor het dat die gesin oorkant die straat by ’n godsdiens aangesluit het wat Jehovah se Getuies genoem word. Ek was nuuskierig en het die pa, Siemu Taase, besoek om hom te vra waarom hulle God se naam, Jehovah, op dié manier gebruik. Sy vriendelikheid en die manier waarop hy uit die Skrif geredeneer het, het my beïndruk. Hy het dus die Bybel met my begin studeer, en ek het vergaderinge begin bywoon. Toe my pa uitvind waarmee ek besig is, het hy my gedreig. Ek het hom gesmeek om my toe te laat om die vergaderinge by te woon, maar hy het daarop aangedring dat ek niks met Jehovah se Getuies te doen moet hê nie. Maar tot my verbasing het hy die volgende dag ’n ander deuntjie gesing. My tante het my later vertel: “In jou slaap het jy aanhoudend uitgeroep: ‘Jehovah, help my asseblief!’” Ek het seker gedroom en in my slaap gepraat. Gelukkig het dit my pa se hart versag.
Oorkant die straat van ons huis was ook die enigste gholfbaan in Samoa, waar ek sakgeld verdien het deur verlore gholfballe op te tel en te verkoop. Later was ek die gholfjoggie van koning Malietoa, wat destyds die staatshoof van Samoa was. Die koning het gedink dat ek goeie potensiaal het as ’n gholfspeler en het my sy ou gholfstokke gegee. Hy het ook gereël dat twee plaaslike sakemanne my as ’n beroepsgholfspeler borg. Hy het geglo dat my talent as gholfspeler “Samoa wêreldbekend sou maak”. Ek was in my noppies! Maar gholf het kort voor lank my aandag van Jehovah se diens begin aftrek, en dít het my gewete gepla.
Die tyd om ’n besluit te neem, het gekom toe ek die Samoaanse Ope Gholfkampioenskap teen ’n groep internasionale beroepsgholfspelers gewen het. Die koning was verheug en wou hê dat ek daardie aand ’n vername Amerikaanse gholfspeler by die oorhandigingsdinee moet ontmoet. Ek het ongemaklik gevoel en by myself gedink: ‘Dis nóú die tyd om jou besluit te neem. Sal jy gholf kies of Jehovah?’ Daardie aand het ek die oefensessie vir die kringbyeenkoms bygewoon in plaas van die dinee.
Die koning was natuurlik woedend. Toe my pa my hieroor konfronteer, het ons lank gesels, en ek het vir hom uit die Bybel verduidelik waarom dit vir my so belangrik is om Jehovah te dien. Tot my verbasing het hy begin huil. Hy het my toe vertel: “Toe jy vyf jaar oud was, was jy baie siek en is jy dood verklaar. Toe ons jou in die graf laat afsak, het ’n by jou in die gesig gesteek. Jy het skielik geskreeu en begin huil—net betyds! Nou glo ek dat jy gered is om ’n getuie vir Jehovah God te word.” Hy het my nooit weer teëgestaan nie.
Nadat ek Nieu-Seeland toe getrek het, het ek tien jaar lank as ’n gewone pionier en daarna as ’n spesiale pionier gedien, en ek het met Robyn getrou, wat ook ’n spesiale pionier was. Mettertyd het ons drie kinders gehad en na Australië verhuis. Ek het die volgende 30 jaar voltyds gewerk om vir my gesin te sorg. Intussen het ons baie van ons familielede gehelp om in die waarheid te kom. Ek het dikwels gebid dat Jehovah my moet help om weer te kan pionier. Dit was voorwaar ’n vreugde toe ek ná my aftrede in 2004 uiteindelik my doelwit bereik het. Hoe bly is ek tog dat ek gekies het om Jehovah te dien eerder as om ’n beroepsgholfspeler te word!
[Venster/Prent op bladsy 135]
Ouerlike opleiding werp vrugte af
PANAPA LUI
GEBORE 1967
GEDOOP 1985
PROFIEL Hy en sy vrou, Mareta, dien as spesiale pioniers in Samoa.
TOE ons ons seun, Sopa, by die laerskool ingeskryf het, het ek vir die skoolhoof ’n eksemplaar van die brosjure Jehovah se Getuies en opvoeding gegee en ons standpunt oor godsdiens- en nasionalistiese bedrywighede verduidelik.
Maar die volgende dag het Sopa vir ons vertel dat die hoof die brosjure voor al die kinders en onderwysers opgeskeur het en daarop aangedring het dat die Getuiekinders ’n kerklied sing. Toe hulle weier, het hy hulle voor almal laat staan en vir hulle gesê om een van hulle eie godsdiensliedere te sing. Hy het verwag dat hulle bang sou word en die kerklied sou sing. Maar Sopa het vir die Getuiekinders gesê: “Kom ons sing ‘Ons dank u, Jehovah’” en weggeval.
Die skoolhoof was beïndruk en het Sopa vir sy moed geprys. Hy en ’n paar van die ander onderwysers het later belangstelling in die waarheid getoon. Elke keer wanneer hierdie skoolhoof ons sien, vra hy ons hoe dit met Sopa gaan en stuur hy groete. Sopa het goeie geestelike vooruitgang gemaak en is in 2005 gedoop.
[Venster/Prent op bladsy 138, 139]
“Nie te ver om vergaderinge toe te loop nie”
VALU LOTONUU
GEBORE 1949
GEDOOP 1995
PROFIEL Sy en haar ses kinders het 22 kilometer oor ’n berg geloop om vergaderinge by te woon.
IN 1993 het Jehovah se Getuies by my huis in Lefaga aangeklop, en ek het ’n Bybelstudie aanvaar. Kort daarna het ek en my kinders Christelike vergaderinge begin bywoon in Faleasiu, 22 kilometer ver, aan die ander kant van die eiland.
Om die vergaderinge op weeksaande by te woon, het ek die kinders vroeg by die skool gaan haal. Party onderwysers het gedreig om die kinders te skors totdat ek verduidelik het dat dit om noodsaaklike geestelike redes is dat ons die vergaderinge bywoon. Elke kind het sy of haar vergaderingklere, Bybel, liedereboek en studiepublikasie in ’n plastieksak gedra. Soms het ’n verbygaande bus ons opgelaai, maar ons het meestal die hele 22 kilometer te voet afgelê.
Wanneer ons uiteindelik by die Koninkryksaal in Faleasiu gekom het, het die plaaslike Getuies ons verwelkom en ons iets te ete gegee. Hulle het ons ook kans gegee om te stort en ons skoon klere vir die vergadering aan te trek. Ná die vergadering het ons weer in die pad geval. Bo-op die berg wat die eiland verdeel, het ons gestop sodat die kinders ’n rukkie kon slaap. Ek het op die uitkyk gebly na enige verbygaande voertuig wat ons dalk huis toe kon neem. Ons het gewoonlik lank ná middernag by die huis aangekom. Die volgende oggend was ek teen vyfuur weer op om die eerste bus na Faleasiu te haal om te gaan preek.
Ek is eenkeer voor ’n vergadering van die dorp se matai gedaag, met die dorp se opperhoof as voorsitter. Hulle wou weet waarom ek na ’n kerk in Faleasiu gaan en nie na een in ons dorp, soos die een wat my oupa gestig het nie. Op die ou end het hulle my beveel om op te hou om vergaderinge in Faleasiu by te woon. Maar ek het nie toegelaat dat enigiets my van die vergaderinge af weghou nie. Ek was vasbeslote om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense.—Hand. 5:29.
Sake is spoedig op die spits gedryf. Toe ek weggebly het van die dorp se toonai (’n Sondagfees wat bygewoon word deur die kerk se predikant, diakens en die dorp se matai), het die raad my ’n boete van vyf groot varke opgelê. Dit was ’n swaar finansiële las, aangesien ek ’n enkelma met ses jong kinders was. Nietemin het ek uiteindelik die boete met varke uit my trop betaal. Maar mettertyd het die dorpenaars ons ferm standpunt begin respekteer en ons nie meer teëgestaan nie.
Dit het deur die jare heen groot inspanning geverg om die vergaderinge by te woon. Maar dit was die moeite werd. Al my kinders is bedrywige Getuies, en een van my seuns is ’n bedieningskneg.
Ek en my kinders loop nog steeds vergaderinge toe. Nee, nie 22 kilometer Faleasiu toe nie, maar net met die straat af. In 2001 is ’n pragtige nuwe Koninkryksaal hier in ons dorpie gebou. Vandag vergader ’n florerende gemeente daar. Ja, dis nou ook nie te ver om vergaderinge toe te loop nie!
[Tabel/Grafiek op bladsy 132, 133]
TYDLYN—Samoa
1930
1931 Die goeie nuus bereik Samoa.
1940
1940 Harold Gill versprei die boekie Waar is die dode?, die eerste publikasie in Samoaans.
1950
1953 Eerste gemeente word in Apia gestig.
1955 Gileadsendelinge kom in Amerikaans-Samoa aan.
1955 Die rolprent The New World Society in Action word regoor Amerikaans-Samoa vertoon.
1957 Eerste kringbyeenkoms word in Amerikaans-Samoa gehou.
1958 Vertaling van Die Wagtoring in Samoaans begin.
1959 Eerste kringbyeenkoms word in Wes-Samoa gehou.
1960
1970
1974 Sendelinge kom in Samoa aan. Werk begin in Tokelau.
1980
1984 Takkantoor word by sendinghuis in Sinamoga, Apia, gevestig.
1990
1991 Sikloon Val saai verwoesting op eilande.
1993 Die Wagtoring in Samoaans verskyn gelyktydig met die Engelse uitgawe. Nuwe Bethelhuis en Byeenkomssaal word toegewy.
1996 Weeklikse radioprogram “Antwoorde op jou Bybelvrae” word oor FM-radio uitgesaai.
1999 Bou van Koninkryksale versnel.
2000
2007 Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte word in Samoaans vrygestel.
2010
[Grafiek]
(Sien publikasie)
Aantal verkondigers
Aantal pioniers
700
400
100
1930 1940 1950 1960 1970 1980 1990 2000 2010
[Prent]
Frances and Paul Evans
[Kaarte op bladsy 73]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
HAWAII
AUSTRALIË
NIEU-SEELAND
TOKELAU
Swains-eiland
SAMOA
AMERIKAANS- SAMOA
Manu‘a-eilande
Rose-atol
STILLE SUIDSEE
NIUE
Internasionale datumgrens Woensdag
‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐‐
Donderdag
TONGA
AMERIKAANS-SAMOA
Tutuila
PAGO PAGO
Petesa
Tafuna
Fagatogo
Lauli‘i
‘Aunu‘u
SAMOA
Savaii
Aopo
Lata
Taga
Faga
Salimu
Fogapoa
Upolu
APIA
Faleasiu
Siusega
Vailele
Lefaga
Vava‘u
APIA
Vaiala
Faatoia
Sinamoga
[Volbladillustrasie op bladsy 66]
[Prent op bladsy 74]
Pele en Ailua Fuaiupolu was die eerste Samoane wat hulle lewe aan Jehovah toegewy het
[Prent op bladsy 81]
Ron en Dolly Sellars het in 1953 na Samoa verhuis om te dien waar hulp nodig was
[Prent op bladsy 84]
Richard en Gloria Jenkins op hulle troudag, Januarie 1955
[Prent op bladsy 85]
Girlie en Bill Moss op pad na Samoa
[Prent op bladsy 95]
’n Tipiese Samoaanse huis
[Prent op bladsy 100]
Hierdie Koninkryksaal in Apia is die eerste een wat in Samoa gebou is
[Prent op bladsy 107]
Die oorspronklike Koninkryksaal in Tafuna, Amerikaans-Samoa
[Prent op bladsy 115]
Metusela Neru
[Prent op bladsy 116]
Saumalu Taua‘anae
[Prent op bladsy 131]
Ane Ropati (nou Gauld) het as ’n jong persoon haar standpunt vir Jehovah ingeneem
[Prente op bladsy 141]
Samoaanse Kantoor en Bethel
Landskomitee van Samoa: Hideyuki Motoi, Fred Wegener, Sio Taua en Leva Faai‘u