Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 7/1 bl. 21-23
  • Ek het ’n arbeider in die oes geword

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het ’n arbeider in die oes geword
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Huwelik en avontuur
  • Ek neem die waarheid aan
  • Oeswerk in Cape Palmas
  • Na Benede-Buchanan
  • Verdere voorregte en belonings
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
    Ontwaak!—1993
  • Die uitdaging en vreugde om agt kinders in Jehovah se weë groot te maak
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Uiteindelik is ons gesin verenig!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hoe ons God in moeilike tye gedien het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 7/1 bl. 21-23

Ek het ’n arbeider in die oes geword

SOOS VERTEL DEUR WINIFRED REMMIE

“DIE oes is groot, maar die werkers is min.” ’n Innige meegevoel met mense wat gestroop en soos skape sonder ’n herder heen en weer gedryf is, het tot hierdie woorde van ons Here Jesus aanleiding gegee. Ek het hierdie selfde meegevoel ondervind, en die afgelope 40 jaar al probeer ek om altyd gehoor te gee aan die Meester se oproep om in die oes te werk.—Mattheüs 9:36, 37, NW.

Ek is in Wes-Afrika in ’n gesin van sewe kinders, almal dogters, gebore. Ons ouers was teer, maar streng; hulle was ook baie godsdienstig. Ons is verplig om elke week kerk toe te gaan en Sondagskool by te woon. Dit was nie vir my ’n probleem nie omdat ek van geestelike dinge gehou het. Trouens, toe ek 12 was, is ek as Sondagskoolonderwyseres aangestel.

’n Huwelik en avontuur

In 1941, op die ouderdom van 23, is ek met Lichfield Remmie, ’n boekhouer by die koloniale sekretariaat, getroud. Ons was materieel welgesteld, maar die liefde vir avontuur en die begeerte om materiële rykdom te vergaar, het ons in 1944 na Liberië laat verhuis. Die keerpunt in my man se lewe, en uiteindelik in myne, het in 1950 gekom toe hy Hoyle Ervin, ’n sendeling van Jehovah se Getuies, ontmoet het. Ná net drie weke se studie het my man aan die predikingswerk begin deelneem.

Ek was ontsteld toe my man opgehou het om kerk toe te gaan. Hy was per slot van rekening ’n streng Protestant wat selfs gedurende die Vastyd gevas het. Die eerste keer toe ek hom met sy sak in die hand sien uitgaan het om te gaan preek, was ek woedend. “Wat makeer jou?” wou ek weet. “’n Belangrike man soos jy wat uitgaan om saam met hierdie dom mense te gaan preek!” Hy was kalm en bedaard tydens hierdie tirade.

Die volgende dag het broer Ervin na ons huis toe gekom vir Lichfield se studie. Soos gewoonlik het ek deur die hele studie afsydig gebly. Dit was miskien waarom broer Ervin my gevra het of ek nie kan lees nie. Wat? Ek, nie kan lees nie? Wat ’n belediging! Ek sou hom wys hoe geleerd ek is! Ek sou hierdie valse godsdiens aan die kaak stel!

Ek neem die waarheid aan

Nie lank hierna nie het ek die boek Laat God Waaragtig Wees op die sitkamertafel gesien. ‘Wat ’n belaglike titel’, het ek gedink. ‘God was nog altyd waaragtig, nie waar nie?’ Terwyl ek deur die boek geblaai het, het ek gou nog iets gevind waarteen ek beswaar kon maak. Dit het gesê dat die mens nie ’n siel het nie, maar dat hy ’n siel is! Selfs katte en honde is siele! Dit het my werklik ontstel. ‘Wat ’n dwase leerstelling!’ het ek gedink.

Toe my man by die huis kom, het ek hom driftig gekonfronteer. “Hierdie bedrieërs sê dat die mens nie ’n siel het nie. Hulle is valse profete!” My man het nie met my gestry nie; hy het eerder kalm geantwoord: “Winnie, dit is alles in die Bybel.” Later, toe broer Ervin my geduldig in my eie Bybel gewys het dat ons siele is en dat ons siel sterflik is, was ek stom geslaan (Esegiël 18:4). Wat my veral beïndruk het, was die teks in Genesis 2:7, wat sê: ‘Die mens [Adam] het ’n lewende siel geword.’

Hoe verkeerd was ek tog nie gewees nie! Ek het gevoel dat die predikante my bedrieg het en het nooit weer kerk toe gegaan nie. Pleks daarvan het ek die Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Wat ’n groot indruk het dit tog op my gemaak om die liefde onder hulle te sien! Dit moes die ware godsdiens wees.

Oeswerk in Cape Palmas

Ongeveer drie maande later het die geleentheid hom voorgedoen vir my man om ’n groot som geld by sy maatskappy te steel—maar hy het nie. Sy kollegas het hom gespot: “Remmie, jy sal arm doodgaan.”

Hy is egter as gevolg van sy eerlikheid bevorder en na Cape Palmas gestuur om ’n nuwe kantoor daar te open. Ons het ywerig predikingswerk gedoen, en ná slegs twee maande het ons ’n klein groepie gehad wat baie in die Bybel se boodskap belanggestel het. Later, toe Lichfield na die hoofstad, Monrovia, toe is om voorraad vir die nuwe kantoor te kry, is hy gedoop. Hy het ook vir die Genootskap hulp gevra sodat daar omgesien kon word na diegene in Cape Palmas wat in die waarheid belanggestel het.

Die Genootskap het aan sy versoek voldoen en broer en suster Faust na Cape Palmas gestuur. Suster Faust het my geweldig baie gehelp, en in Desember 1951 het ek my toewyding aan Jehovah deur doop gesimboliseer. Nou was ek meer as ooit tevore vasbeslote om ‘vrug te vergader vir die ewige lewe’ (Johannes 4:35, 36). In April 1952 het ek die voltydse bediening as ’n pionier betree.

Jehovah het my pogings onmiddellik geseën; in net ’n jaar het ek vyf mense gehelp om hulle aan Jehovah toe te wy en te laat doop. Een van hulle, Louissa Macintosh, was ’n niggie van die destydse president van Liberië, W. V. S. Tubman. Sy is gedoop en het die voltydse bediening betree en tot haar dood in 1984 getrou aan God gebly. Sy het verskeie kere vir die president getuig.

Na Benede-Buchanan

In 1957, gedurende die streekopsiener se besoek, is ek en my man genooi om spesiale pioniers te word. Nadat ons dit bespreek en daaroor gebid het, het ons die toewysing aanvaar. Lichfield het ’n paar maande nodig gehad voordat hy uit sy sekulêre werk in Cape Palmas kon tree, en ek het dus vooruit na Benede-Buchanan, ’n ongewerkte gebied, gegaan om die werk daar te begin.

Toe ek daar aankom, het die Maclean-gesin my gehuisves. Die volgende dag is ek, soos dit die gebruik was, na die onderkaptein van die Pele-stam geneem. Die kaptein en sy gesin het my hartlik verwelkom, en ek het vir ’n klein groepie mense by sy huis getuig. Nie minder nie as ses van die mense met wie ek daardie dag gepraat het, waaronder die onderkaptein en sy vrou, het uiteindelik Getuies geword.

Kort voor lank het ek ’n Wagtoring-studie gehou wat deur meer as 20 mense bygewoon is. Ek moes swaar op Jehovah steun, en hy het my die nodige krag en die vermoë gegee om sy skape te versorg. Wanneer ek moeg of onbekwaam gevoel het, het ek aan eertydse getroues gedink, veral vroue soos Debora en Hulda, wat Jehovah se opdragte onbevrees uitgevoer het.—Rigters 4:4-7, 14-16; 2 Konings 22:14-20.

In Maart 1958, ná slegs drie maande in Benede-Buchanan, het ek ’n brief ontvang wat my in kennis gestel het van die kringopsiener, John Charuk, se besoek. Ek het die kelder van ’n huis gehuur waar baie mense kon vergader. Toe het ek na Opper-Buchanan gereis om broer Charuk te gaan ontmoet, maar hy het nie opgedaag nie. Nadat ek tot sononder gewag het, het ek moeg en teleurgesteld na Benede-Buchanan teruggekeer.

Ongeveer middernag het ek ’n klop aan die deur gehoor. Toe ek dit oopmaak, het nie net die kringopsiener nie, maar ook my man daar gestaan, wie se verrassingsaankoms toevallig pragtig saamgeval het met broer Charuk se aankoms. Hoe het hulle my opgespoor? Hulle het ’n jagter teëgekom en hom gevra of hy ’n dame ken wat vir die mense van Jehovah vertel. “Ja”, het hy geantwoord, en toe het hy vir hulle verduidelik waar ek woon. Hoe gelukkig het ek tog gevoel dat my lig in net drie maande in Benede-Buchanan so helder geskyn het!—Mattheüs 5:14-16.

Ons bywoningshoogtepunt tydens broer Charuk se besoek was 40. Mettertyd is ’n florerende gemeente gestig, en ons kon ’n pragtige Koninkryksaal bou. Maar die lewe was nie altyd sonder probleme nie. In 1963 het daar byvoorbeeld godsdiensvervolging in Kolahun uitgebreek, en my man is gearresteer en opgesluit. Hulle het hom so erg geslaan dat hy in die hospitaal opgeneem moes word.

Dieselfde jaar, nie lank nadat hy uit die hospitaal ontslaan is nie, het ons ’n byeenkoms in Gbarnga gehad. Op die laaste dag het soldate almal wat daar teenwoordig was, aangekeer en ons beveel om die vlag te salueer. Toe ons weier, het die soldate ons gedwing om ons hande in die lug te hou en direk na die son te kyk. Hulle het ook party van ons met hulle geweerkolwe geslaan. Ek het die Koninkrykslied “Vrees hulle nie!” in my gedagte gesing om my te help om my onkreukbaarheid aan God te handhaaf. Daarna het die soldate ons in ’n smerige tronk gegooi. Drie dae later is die Getuies wat van ander lande af gekom het, vrygelaat, en ek en Lichfield is na Sierra Leone gedeporteer. Die plaaslike Getuies is die volgende dag vrygelaat.

Verdere voorregte en belonings

Ons is aangewys om saam met die Bo-gemeente, in die suide van Sierra Leone, te werk. Ons het agt jaar daar gedien voordat ons ’n toewysing in Njala gekry het. Terwyl ons in Njala was, is my man as ’n waarnemende kringopsiener aangestel, en ek het die voorreg gehad om hom in hierdie werk te vergesel. Toe, in die middel-sewentigerjare, is ons aangewys na die Freetown-Oosgemeente.

Ek het die beloning geniet om te sien hoe baie van diegene saam met wie ek die Bybel bestudeer het die ware aanbidding aanneem. Ek het meer as 60 geestelike kinders en kleinkinders as “aanbevelingsbriewe” (2 Korinthiërs 3:1). Sommige moes drastiese veranderinge in hulle lewe aanbring, soos Victoria Dyke, wat ’n profetes van die Aladura-sekte was. Nadat ons 1 Johannes 5:21 met haar bespreek het, het sy uiteindelik van haar baie fetisje en voorwerpe van verering ontslae geraak. Sy het haar toewyding deur doop gesimboliseer en uiteindelik ’n spesiale pionier geword en baie van haar familielede gehelp om die waarheid aan te neem.

In April 1985 is my man oorlede, net ’n paar maande voor ons 44ste huweliksherdenking. Maar ek het nie alleen agtergebly nie. Ek het aangehou om my Helper, Jehovah, as ’n voltydse bedienaar te dien. En daar is ’n spesiale band tussen my en diegene wat ek gehelp het om hom te leer ken. Hulle is in ’n spesiale sin my familie. Ek is lief vir hulle en hulle is lief vir my. Wanneer ek siek is, is hulle dadelik daar om my te versorg, en natuurlik help ek hulle ook.

Daar bestaan geen twyfel nie, as ek alles weer oor moes doen, sou ek met plesier my sekel neem en as Jehovah se medewerker aan die oes deelneem.

[Prent op bladsy 23]

Winifred Remmie vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel