Vrae van lesers
◼ Johannes 18:15 praat van ’n dissipel wat met die hoëpriester bekend was. Is dit dieselfde dissipel wat vroeër “naak” gevlug het, soos Markus 14:51, 52 toon?
Nee, die apostel Johannes was blykbaar die persoon wat met die hoëpriester bekend was, terwyl dit die dissipel Markus was wat “naak” gevlug het.
As ons hierdie verslae in chronologiese orde beskou, begin ons by die tuin van Getsemane. Die apostels was baie bang toe Jesus Christus gearresteer is. “Hulle het hom almal in die steek gelaat en gevlug” (NW). In teenstelling hiermee sê die volgende vers in Markus se verslag: “En ’n sekere jongman met ’n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp; maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug.”—Markus 14:50-52.
Die 11 apostels se aanvanklike reaksie word aldus met hierdie ongenoemde dissipel se reaksie vergelyk, en dit is derhalwe logies om daaruit af te lei dat hy nie een van die apostels was nie. Hierdie gebeurtenis is net opgeteken in die Evangelie wat deur die vroeë dissipel Johannes Markus, die neef van Barnabas, geskryf is. Daar bestaan dus rede om te glo dat Markus die “sekere jongman” was wat die gearresteerde Jesus begin volg het maar wat sonder sy kledingstuk gevlug het toe die skare hom ook probeer vang het.—Handelinge 4:36; 12:12, 25; Kolossense 4:10.
Die apostel Petrus het Jesus ook daardie nag in een stadium op ’n veilige afstand gevolg. In hierdie sin is daar ’n ooreenkoms; die jong dissipel (Markus) het Jesus begin volg maar opgehou, terwyl twee van die apostels wat gevlug het hulle gearresteerde Meester later begin volg het. Ons lees in die apostel Johannes se Evangelie: “En Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg; en daardie dissipel was met die hoëpriester bekend en het saam met Jesus ingegaan in die binneplaas van die hoëpriester se paleis.”—Johannes 18:15.
Die apostel Johannes gebruik die naam “Johannes” wanneer hy van Johannes die Doper praat, maar hy praat nooit by name van homself nie. Hy skryf byvoorbeeld van “daardie dissipel wat van hierdie dinge getuig en hierdie dinge geskryf het”. Hy skryf eweneens: “Hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig” (Johannes 19:35; 21:24). Let ook op wat Johannes 13:23 sê: “Een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê.” Dit was kort voor Jesus se arrestasie. Later daardie dag toe Jesus aan die paal gehang het, het hy een dissipel uitgekies van wie Johannes op soortgelyke wyse praat: “Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun!”—Johannes 19:26, 27; vergelyk Johannes 21:7, 20.
Hierdie selfde kenmerk om homself nie by name te noem nie, blyk uit Johannes 18:15. Bowendien word Johannes en Petrus saam gemeld in die verslag in Johannes 20:2-8, wat gebeure ná die opstanding beskryf. Volgens hierdie aanduidinge was die apostel Johannes daardie “dissipel wat met die hoëpriester bekend was”. Die Bybel verskaf nie agtergrondinligting oor hoe die Galilese apostel (Johannes) die hoëpriester leer ken het of hoe die hoëpriester hom leer ken het nie. Maar die feit dat die hoëpriester se huisgenote Johannes geken het, het hom in staat gestel om verby die deurwagter in die binneplaas in te gaan en om vir Petrus ook toegang te verkry.