‘’n Geskenk sonder gelyke’
DÍT is wat ’n vrou van São Paulo, Brasilië, gesê het oor die publikasie My boek met Bybelverhale wat hulle as ’n geskenk ontvang het. Haar tante het die boek aan die susterskind se vyfjarige dogtertjie gestuur. Die susterskind het uit waardering die volgende geskryf:
“Ek lees elke aand vir haar ’n gedeelte daaruit, en sy hou baie daarvan. Sy stel werklik daarin belang, sy vra vrae, lewer kommentaar daarop en tref selfs vergelykings met haar daaglikse lewe deur die lesse in die boek as voorbeelde te gebruik. Sy gaan haal die boek sonder dat ek haar daaraan hoef te herinner omdat sy nuuskierig is oor die volgende verhaal.
“Ek wil egter sê dat dit nie net vir Natalia ’n geskenk was nie; ek het baie daarby baat gevind om God se beginsels met my dogter te deel. Dit het my vreugde en dankbaarheid oor my moederskap grootliks vermeerder.
“Daar is baie soort geskenke wat ons kan gee of ontvang, waarvan party aan hulle geldwaarde gemeet word, ander aan hulle grootte. Maar hierdie boek wat ons ontvang het, kan nie met een van hierdie geskenke vergelyk word nie. Sy waarde kan net gemeet word aan die liefde waarmee dit gegee is en aan die innige vreugde wat dit die ontvangers verskaf.”
Jehovah se Getuies is ’n internasionale organisasie van meer as viermiljoen Bybelstudente vir wie dit ’n saak van erns is om mense te help om meer van God se beloftes te leer. As jy graag meer inligting of ’n gratis tuisbybelstudie wil hê, skryf gerus aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of aan die gepaste adres op bladsy 5.