Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/8 bl. 3-4
  • Deel 1a—In die greep van geldsorge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deel 1a—In die greep van geldsorge
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die mag van ekonomiese druk
  • Verslap die greep?
  • Leer om te wag—Hoe belangrik is dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Kan hierdie wêreld ooit eenheid bewerkstellig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Inflasie styg wêreldwyd al hoe meer – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
Ontwaak!—1992
g92 1/8 bl. 3-4

Die Opkoms En Ondergang Van Wêreldhandel

Deel 1a—In die greep van geldsorge

“Hoewel moeders en vaders ons die lewe gee, is dit net geld wat dit aan die gang hou.”—The Japanese Family Storehouse; of, The Millionaires’ Gospel, deur Ihara Saikakoe.

HET jy al ooit dringend geld nodig gehad? Of het dit al gebeur dat jy nie genoeg kontant gehad het om vir iets noodsaakliks te betaal nie? Of het jy al gesien dat jou gesin honger ly of skamel gekleed is? Miljoene mense kan vandag bevestigend antwoord op daardie vrae. Hulle weet wat dit beteken om hulle oor geld te bekommer.

Stel jou die kommer van ’n werklose vader voor wat vir sy kinders moet sorg en rekeninge moet betaal. Dink aan die gemoedstoestand van ’n afgematte moeder wat in ’n ry staan vir handelsartikels wat moeilik bekombaar is en dan uitvind dat die winkelrakke leeg is of dat die pryse te hoog is. Dink aan die druk op die sakebestuurder wie se maatskappy bankrotskap in die gesig staar, of die druk op ’n regering wat sukkel om ontslae te raak van miljarde rande se skuld.

In vandag se wêreld kan party woorde selfs angs verwek. Ons inkomste (geld, goedere of dienste wat ontvang word in ruil vir arbeid of die benutting van ander hulpbronne) kan so laag wees dat ons lewenstandaard (die ekonomiese peil waarvolgens ons gewoonlik leef) ernstig bedreig word. Dit kan veroorsaak word deur werkloosheid, deur resessies of depressies (periodes van verminderde sakebedrywigheid, eersgenoemde matig, laasgenoemde ernstiger) of deur inflasie (’n verhoging in pryse wat plaasvind wanneer die aanvraag die aanbod oorskry, sodat ons minder met ons geld kan koop). Met geld wat ontoereikend is, kan ons nie meer byhou met die lewenskoste nie (die koste om die goedere en dienste wat ons daagliks nodig het te koop).

Die mag van ekonomiese druk

Een kenner sê dat die Groot Depressie van die dertigerjare ’n ekonomiese tragedie was wat “elke land en elke aspek van die lewe, maatskaplik en polities, binnelands en internasionaal, geraak het”. Die versterking van ekstremistiese politieke magte in Duitsland en Italië het bygedra tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog en het sodoende die mag van ekonomiese druk toegelig. Dit was soos John K. Galbraith in sy boek Money: Whence It Came, Where It Went geskryf het: “Adolf Hitler het vroeg in 1933 in Duitsland aan die bewind gekom. Baie van sy sukses moet toegeskryf word aan die geweldige werkloosheid en die uiters pynlike daling van lone, salarisse, pryse en eiendomswaardes.” Galbraith, wat kommentaar lewer oor die destydse inflasie in die Verenigde State, voeg by: “Wat die belangrikheid van geld ook al is, niemand kan die belangrikheid van die vrese wat dit veroorsaak, betwyfel nie.”

Die politieke veranderinge wat Oos-Europa teen die einde van die tagtigerjare ondergaan het, is grootliks deur ekonomiese faktore beïnvloed. Hierdie faktore is ook dikwels beslissend wat die uitslag van verkiesings in Westerse demokrasieë betref, waar dit dikwels gesê word dat mense se stem bepaal word deur daardie kwessies wat hulle beursies raak.

Ekonomiese druk word dikwels uitgeoefen in ’n poging om regerings te dwing om hulle beleide te verander. Moderne ekonomiese sanksies het dus by tye die ekwivalent van eertydse militêre beleërings geword. Europa, Japan en die Verenigde State het in 1986 ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika ingestel om protes aan te teken teen die land se beleid van apartheid, blykbaar met ’n mate van sukses. In 1990 het die wêreldgemeenskap, soos verteenwoordig deur die VN, ekonomiese druk op Irak uitgeoefen, klaarblyklik met minder sukses.

Die tendens is nogtans duidelik. Jacques Attali, Franse skrywer en presidentsraadgewer, beweer dat ‘handelaars soldate as die hoofakteurs op die wêreldverhoog vervang’. En ’n nuustydskrif het kommentaar gelewer: “[In baie lande] het ekonomiese krag militêre mag vervang as die belangrike maatstaf.”

Verslap die greep?

Natuurrampe, siekte en misdaad verwoes die ekonomie. Skuld en begrotingstekorte kan dit ook doen. Volgens The Collins Atlas of World History “is internasionale skuld [in ontwikkelende lande] so geweldig groot dat die wêreld, by tye, al na aan ’n ontsaglike ekonomiese ramp was, en is die uitbreiding van armoede, met al die wanhoop wat dit meebring en die bedreiging dat dit hand-uit kan ruk, taamlik verontrustend”.

Terwyl party regerings deur wegholinflasie geteister word, stry ander moedig om dit af te weer. Onsekerheid steek sy kop uit in die vorm van onbestendige aandelemarkte. ’n Politieke leier wat skielik siek word, of selfs ongegronde gerugte kan fortuine binne die bestek van ’n paar uur vernietig. Die Wall Street-ineenstorting van Oktober 1987—selfs erger as dié van 1929—is die ergste week in finansiële geskiedenis genoem. Ongeveer 1059 miljard rand in batewaardes is uitgewis. Die mark het herstel, maar baie deskundiges sê dat die werklike ineenstorting nog moet kom. “Die wêreld moet hoop dat dit nooit uitvind hoe daardie finale ineenstorting sal wees nie”, skryf joernalis George J. Church.

Dit lyk asof die greep van ekonomiese druk en die kommer wat dit meebring, toeneem pleks van verslap. Is dit dus realisties om die moontlikheid te oorweeg dat ’n einde in sig is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel