VIRGILIJUS PUDŽIUVYS | LEWENSVERHAAL
Jehovah gee altyd die uitweg
My gesin sal altyd dankbaar wees vir ’n spesiale besoek wat ons in 1976 van my oom en tannie gekry het. My oom, wat saam met Jehovah se Getuies studeer het, het vir my ouers gesê dat hy iets nuuts oor die Bybel geleer het. Eers het hy genoem wat Jesus oor die godsdiensleiers in sy dag in Matteus hoofstuk 23 gesê het. Toe het hy die ooreenkomste tussen die godsdiensleiers in Jesus se dag en die godsdiensleiers in ons dag genoem. My ma, ’n lojale Katoliek, kon nie glo dat Jesus godsdiensleiers so reguit veroordeel het nie. So sy het besluit om self uit te vind wat die Bybel sê.
Ons het in Litaue gebly, wat op daardie stadium deel van die voormalige Sowjetunie was. Omdat die regering godsdiensvryheid erg beperk het, het baie min mense ’n Bybel gehad. So my ma het ’n Bybel by die kerk geleen, daaruit gelees en bevestig dat Jesus wel die godsdiensleiers in sy dag vir hulle skynheiligheid veroordeel het. Dit het my ma nuuskierig gemaak en sy het gewonder wat die Bybel nog leer. So sy het lektuur gekry by die Getuie wat saam met my oom studeer het.
Kort daarna het ons gesin begin om gemeentelike vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Omdat hulle werk verbied was, was die vergaderinge elke keer op ’n verskillende plek gehou, partykeer in ’n nabye woud. My ma is in 1978 as ’n Getuie gedoop, en ek en my tweelingsuster, Danguolė, is saam met haar gedoop. Ons was toe 15 jaar oud. My pa is ’n paar jaar later gedoop.
Ek en my tweelingsuster, Danguolė, toe ons vier jaar oud was
Jehovah het gedurende my jeug die uitweg gegee
’n Maand nadat ek en Danguolė gedoop is, het ons begin om vervolging by die skool te ervaar. Gedurende ’n spesiale geleentheid in die skoolsaal het die onderwysers opgelet dat ons twee as gevolg van ons Christelike neutraliteit nie vir die Sowjetvolkslied opgestaan het nie. Die onderwysers het ons name vir die skoolhoof gegee. Hy het die geheime polisie, bekend as die KGB, laat weet, en kort daarna het hulle ons gesin besoek en ons ondervra.
Ek en Danguolė moes ook ons geloof sterk hou wanneer die onderwysers ons probeer oortuig het dat God nie bestaan nie. Byvoorbeeld, toe ons 16 jaar oud was, is ons klas gesê om ’n opstel te skryf met die tema “Hoekom ek nie in God glo nie”. Aangesien ek nie met daardie tema saamgestem het nie, het ek op ’n stuk papier geskryf “Ek glo in God” en dit op my lessenaar gesit. Toe die onderwyseres die papier sien, het sy kwaad geword en geskree: “Skryf dan hoekom jy glo!” Ek was bly om toestemming te hê om oor my oortuigings te skryf, en my suster het ook oor haar oortuigings begin skryf. Toe twee meisies gesien het waaroor ons geskryf het, het hulle ook geskryf oor hoekom hulle in God glo. Dit is net een voorbeeld van die baie kere wat ek gesien het hoe Jehovah in moeilike situasies “die uitweg [kan] gee”. – 1 Korintiërs 10:13.
Die broers wat die leiding geneem het, het vir ons ’n kopie gegee van die boek Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Ons kon dit ’n maand lank leen. Sover ek weet, was daar op daardie stadium niks meer as vier of vyf kopieë van die boek in Litaue beskikbaar nie. Ek en Danguolė het vir mekaar gesê: “As ons maar net hierdie boek kon hou!” Maar aangesien ons nie die boek kon hou nie, het ons gedoen wat ons kon en die boek met die hand oorgeskryf. Ons hande was seer, maar ons was in die wolke om ons eie kopie van hierdie boek te hê om ons geloof te versterk.
Ek het in 1982, kort nadat ek 19 geword het, ’n tronkvonnis van twee jaar gekry omdat ek geweier het om by die weermag aan te sluit. Dit was vir my moeilik om in die tronk te wees met misdadigers om my. Maar ek was dankbaar dat ek af en toe met ’n ander Getuie kon gesels wat in dieselfde gevangeniskamp was. Ek het my tronkvonnis uitgedien, maar dit sou nie die laaste keer wees dat ek die binnekant van ’n tronk sou sien nie.
Geseën met ’n getroue vrou
Ek en Lidija kort voor ons troue
Nadat ek in 1984 die tronk verlaat het, het ek Lidija, ’n pragtige en geestelikgesinde suster wat in Oekraïne bly, ontmoet en is ons getroud. Ná ons troue het Lidija haar tuisland verlaat en Litaue toe getrek om saam met my te wees. Omdat sy en haar familie ook Jehovah se Getuies is, is sy ook gedurende haar skooljare erg vervolg. Gedurende daardie moeilike tye is sy baie aangemoedig deur die ondervindinge van dié wat in Nazi-konsentrasiekampe of gedurende ballingskap in Siberië volhard het.
In die 1980’s was die werk van Jehovah se Getuies nog steeds in Litaue verbied. So Getuie-troues was dikwels ’n geleentheid vir geheime tweedaagse streekbyeenkomste. Dit was die geval met ons troue. Ons gaste het ons gelukgewens, maar ons het ook na ’n hele paar toesprake geluister en ’n klomp liedjies gesing. Ons het selfs na vier Bybeldramas gekyk wat deur broers en susters wat kostuums aangehad het, opgevoer is. Sover ek kan onthou was daar omtrent 450 mense wat dit bygewoon het, insluitende familielede van regoor die Sowjetunie en selfs ongenooide KGB-agente wat deur party van die broers herken is!
Ons troue is gedurende ’n tweedaagse streekbyeenkoms gehou. Twee paartjies is op die verhoog aangesien my niggie en haar verloofde ook getrou het
Terug in die hof
As ’n Getuie nie saamgestem het met Sowjetbeleide nadat hy uit die tronk vrygelaat is nie, het die regering hom partykeer weer tronk toe gestuur. So minder as ’n jaar nadat ons getrou het, was ek terug in die hof. Terwyl ek in die hof was, was Lidija, wat swanger was, in ’n hospitaal daar naby. Ek is nie toegelaat om haar gedurende die verhoor te besoek nie. Maar eendag toe ons ’n breuk gevat het, het ek na die hospitaal geloop en buite haar venster gestaan. Sy het die venster oopgemaak en ons het ’n paar kosbare oomblikke gehad om mekaar aan te moedig. Later daardie dag is ek ’n tronkvonnis van drie jaar gegee.
Ongelukkig het Lidija twee dae later ’n miskraam gehad. Sy sê die emosionele pyn wat sy gevoel het, was soos om in twee geskeur te word. Behalwe dat Lidija hierdie tragedie moes hanteer, was sy ook besig om aan te pas by die lewe in ’n nuwe land en om saam met my ouers te bly. My ouers het nie baie goed Oekraïens of Russies gepraat nie – die tale wat Lidija gepraat het. Tog het Lidija heeltemal op Jehovah vertrou, en my ouers het haar soveel liefdevolle sorg en emosionele ondersteuning gegee as wat hulle kon gedurende daardie moeilike tyd.
Jehovah het aangehou om die uitweg te gee
Wat ek gedurende my eerste tronkvonnis geleer het, het my voorberei vir die tweede een. Een ding wat my gehelp het om te volhard, was om vir ander te preek. Byvoorbeeld, terwyl ons na die tronk gereis het, is die gevangenes in voertuie en treine ingeprop. Partykeer is 15 tot 20 mans in ’n spasie ingedruk, wat eintlik net groot genoeg was vir vyf of ses mense. Ek het hierdie geleentheid gebruik om met my medegevangenes oor die Bybel se boodskap te praat. Ek het verduidelik hoekom ek neutraal was wanneer dit by oorlog en politiek kom en hoe dit tot my inhegtenisname en gevangenskap gelei het. Ek het ook vir hulle gesê hoekom ek voel dat dit redelik is om te glo dat God bestaan.
Die tronk waar ek my vonnis uitgedien het, was in Marijampolė.a Sover ek weet, was ek die enigste Getuie tussen 2 000 geharde misdadigers. Al was ek net een keer baie erg geslaan deur ander gevangenes, was dit algemeen vir gevangenes om mekaar te dreig, te slaan en selfs dood te maak. Ten spyte van die aaklige toestande het ek probeer om die mismoediges aan te moedig en om medelye te betoon – ’n eienskap wat baie min aan hierdie gevangenes in die tronk betoon is.
Die KGB-agente het ook sielkundige druk op ons in die tronk geplaas. Op die een of ander manier het hulle geweet wat my familielede in die privaatheid van ons huis gesê het, en hulle het my oor hulle gesprekke vertel. Maar die agente het my familie se woorde verdraai om dit te laat lyk asof hulle stry en nie verenig is nie. Al het ek nooit die agente geglo nie, kon ek eers nadat ek die tronk verlaat het, die KGB se stellings vergelyk met wat my familie regtig gesê het. – Matteus 10:16.
Eenkeer het ’n suster haar buurman, ’n wag wat sy goed geken het, gevra om vir my in die geheim ’n klein Russiese Bybel te gee. In die aande het ek ’n paar tekste van Jesus se Bergpredikasie op ’n klein stukkie papier oorgeskryf. Ek sou dan die volgende dag, terwyl ek in die tronk se fabriek gewerk het, die verse oor en oor lees as niemand gekyk het nie. Dis hoe ek Jesus se Bergpredikasie in Russies gememoriseer het, selfs al is Russies nie my moedertaal nie. Die wagte het uiteindelik die Bybel gekry en dit afgevat. Maar teen daardie tyd was Jesus se woorde al klaar in my verstand en hart.
Ek het ook wonderlike ondersteuning van Lidija ontvang, wat amper elke dag vir my ’n aanmoedigende brief geskryf het. Maar ek mag net twee keer ’n maand vir haar teruggeskryf het. Ten spyte hiervan het sy vir my gesê dat my briewe haar van drie belangrike dinge verseker het: ek het nog gelewe, ek was lojaal aan Jehovah en ek was nog steeds verlief op haar.
Jehovah het deur middel van gebed die uitweg gegee
By een geleentheid het ’n groep gevangenes vereis dat die owerhede die werksomstandighede ’n bietjie verbeter. Intussen het die gevangenes geweier om te werk. Hulle is natuurlik erg gestraf vir hulle opstandigheid. Toe het die owerhede persoonlik vir my en ander gesê dat ons aangewys is as die nuwe groep wat die opstandiges sou vervang.
As ek geweier het om deel te wees van hierdie nuwe groep, sou ek erg gestraf word. Maar as ek dit aanvaar het, sou die gevangenes my as ’n verraaier beskou en wraak neem, wat dikwels beteken het om geslaan of doodgesteek te word. Ek het geweldige druk gevoel, asof ek van beide kante gedruk word, en ek het nie geweet wat om te doen nie (2 Kronieke 20:12). So, ek het Jehovah aanhoudend vir sy hulp gesmeek.
’n Gevangene in my oorspronklike groep het ons onverwags bymekaargeroep om saam na die bestuurder te gaan. Hierdie gevangene was nie my vriend nie. Ons het maar net saam gewerk. Ten spyte hiervan het hy daarop aangedring dat ek in my oorspronklike groep bly. Dit het tot ’n groot stryery tussen hom en die bestuurder gelei. Uiteindelik het die bestuurder – wat nooit toegewings gemaak het nie – ons uit sy kantoor gejaag en, tot my groot verligting, my toegelaat om in my oorspronklike groep te bly (2 Petrus 2:9). In al my jare in die tronk het ek nog nooit ’n gevangene gesien wat ’n ander gevangene met sulke groot ywer help nie. Uit hierdie ondervinding het ek geleer dat Jehovah ons gebede kan beantwoord deur enige iemand te gebruik om ons te help.
Jehovah het vir Lidija die uitweg gegee
Kom ek verduidelik wat Lidija moes deurmaak terwyl ek in die tronk was. Sy moes ’n werk kry. Maar omdat ek in die tronk was, wou die meeste werkgewers nie vir haar ’n werk gee nie omdat hulle bang was dat hulle met die KGB te doen sou kry. Uiteindelik het sy ’n werk gekry waar sy vir 12 ure ’n dag na 30 kinders gekyk het. Dit was uitputtend! Maar Jehovah het haar die krag gegee om elke dag werk toe te gaan. Die broers en susters het ook honderde kilometers van regoor Litaue gekom om haar te vertroos, met haar te assosieer en vir haar Russiese publikasies te bring. Sy het nooit eensaam gevoel nie.
Ons dien Jehovah as ’n gesin
Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek gehelp om die ondergrondse vertaling van ons publikasies in Litaus te organiseer. ’n Paar jaar later het die Sowjetunie ineengestort en is ons bedrywighede wetlik in Litaue geregistreer. Uiteindelik is ’n amptelike Litause vertaalkantoor gestig. Al het ons meer as ’n uur en ’n half daarvandaan gebly, was ek bly om na die kantoor te ry om met die vertaling te help. Ek het dit elke week vir vyf jaar gedoen.
In Augustus 1997 is ek en Lidija genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Litaue, wat bekend staan as Bethel, te dien. Die uitnodiging het ons oorweldig. Ons het twee dogters gehad, ’n negejarige met die naam Oksana en ’n vyfjarige met die naam Svajūnė. Ons het net drie dae gehad om na ’n woonstel naby Bethel te trek en om Oksana by ’n nuwe skool in te skryf.
Ons wou gehad het dat gesinsaanbidding betekenisvol en lekker moes wees soos in ons toneel van Ahasveros, Ester en Mordegai gewys word
Hoe het ons ons verantwoordelikhede gebalanseer? Ek het vroeg elke oggend Bethel toe gegaan. En Lidija het by my aangesluit nadat die meisies skool toe gegaan het. Lidija het dan terug huis toe gegaan sodat sy daar kon wees om tyd saam met die meisies te spandeer wanneer hulle by die huis gekom het.
Ons het tradisionele Litause kleredrag gedra by die toewyding van die Litause takkantoor se uitbreiding in 2003
Ons hele gesin het uitgesien na Vrydagaande. Ons het kos gemaak, skoongemaak, gesinsaanbidding geniet en saam pret gehad. Ons het ook uitstappies na die berge, die see of ander Bethelhuise in Europa gereël sodat ons meisies Jehovah se skepping kon sien en broers en susters in ander lande kon leer ken. Ek en Lidija is so trots op ons dogters wat albei op die ouderdom van 15 gewone pioniers geword het. Vandag dien Oksana en haar man, Jean-Benoit, by die Litause vertaalkantoor en Svajūnė en haar man, Nicolas, dien by die Franse Bethel.
As ’n paartjie, het ek en Lidija “een vlees” geword, veral omdat Jehovah se diens nog altyd die belangrikste ding in ons lewens is (Efesiërs 5:31; Prediker 4:12). Al was ons vir baie jare “onder swaar druk geplaas” en vervolg, is ons nooit in die steek gelaat of “so vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie” (2 Korintiërs 4:8, 9). Ons het herhaaldelik gesien hoe Jehovah die uitweg gee en ons is oortuig dat hy dit altyd sal doen.
Saam met my dierbare vrou, Lidija
a Is van 1955 tot 1990 Kapsukas genoem.