CAROL APPLEBY | LEWENSVERHAAL
Jehovah het my gehelp om my vyf kinders groot te maak
Ek bly al my hele lewe lank in Noord-Yorkshire, Engeland, naby die dorp Malton. Dit is ’n pragtige gebied met heuwels, woude, baie groen velde, kronkelende lane, kliphuisies en oulike dorpies. Dit was ’n goeie omgewing waarin ek my vyf kinders kon grootmaak. Maar dit was nie altyd maklik nie. Kom ek verduidelik.
Ek het op ’n plasie grootgeword saam met my ma, pa, twee broers en twee susters. Ons plaas het die meeste van die dinge geproduseer wat ons nodig gehad het om te oorleef. Ons het hoenders, varke en koeie gehad. Ons het natuurlik hard gewerk op die plaas, maar ons was gelukkig.
Op die plaas toe ek 14 was
Ons het aan die Metodistekerk behoort. Aangesien my pa mooi kon sing, was hy in die koor en het hy na ander kerke in die gebied gegaan om te sing. Ek het dikwels saam met hom gegaan. Die kerke was groot klipgeboue wat nogal koud in die winter was. My pa het voor in die kerk gestaan en sing. Net belangrike mense kon in die voorste kerkbanke sit, so ek moes agter in die kerk sit. Maar ek was nog steeds mal daaroor om hom te hoor sing.
My ouma, my pa se ma, het elke Sondag by ons kom kuier. Ongelukkig, toe ek omtrent 16 jaar oud was, het sy gesterf. My hart was gebreek. Ek wou weet waar sy was en of ek haar ooit weer sou sien. So om uit te vind, het ek ’n hele paar keer na ’n vrou gegaan wat geeste oproep. Haar huis was koud en vuil, en dit het my bang gemaak. Ek wou net weet waar my ouma was, maar die vrou kon nie vir my sê nie.
’n Paar jaar later het een van my pa se familielede wat een van Jehovah se Getuies was my uitgenooi om ’n vergadering by te woon. Ek het besluit om te gaan, selfs al het ek gehoor dat die Getuies snaakse dinge geglo het. By die vergadering het ’n vriendelike vrou my gevra of ek die Bybel saam met haar wou studeer. Dit is hoe ek op die pad na die lewe begin loop het. Ek het eers my King James Version van die Bybel gebruik omdat ek geglo het wat my ma vir my gesê het: dat die Getuies ’n onakkurate vertaling gebruik. Ek het gou besef dat dit nie waar is nie.
Ek was baie opgewonde oor wat ek in my Bybelstudie geleer het, veral dat my ouma “geslaap” het in die graf en dat ek haar weer in die opstanding kon sien!a Hoe meer ek studeer het, hoe meer het ek besef dat ek niks oor God of die Bybel geweet het nie. En my pa, wat al baie jare lank kerk toe gegaan het, het ook amper niks oor God geweet nie. Ons het die gesang “Lei my, o grote Jehovah” baie keer gesing en tog het ons nooit eers geweet oor wie ons sing nie.
Die huwelik en teenstand
My kêrel, Ian, het in die waarheid belanggestel en begin om die Bybel te studeer. Hy het begin om party van die dinge wat hy geleer het, toe te pas en het selfs ophou rook. Ons het in September 1971 getrou. Maar kort daarna is ons geloof getoets toe my skoonma skielik gesterf het. Familielede en goeie vriende wou gehad het dat ons by hulle moes aansluit vir die sosiale geleenthede wat hulle in verband met die begrafnis gereël het. By hierdie geleenthede het baie van hulle gerook en baie gedrink. Ian het in die versoeking gekom om weer hierdie dinge te begin doen.
Ongelukkig het Ian voor versoeking ingegee en dit het vir hom moeilik geword om die dinge wat hy geleer het, toe te pas. Hy het begin om sy studie en party vergaderinge mis te loop. Maar ek was lief vir my Bybelstudie, die vergaderinge en die bediening. Ek is op 9 Maart 1972 gedoop. Ian het kom kyk hoe ek gedoop word. Maar hy het geleidelik die waarheid begin teëstaan. Eers wou hy nie meer ons publikasies sien nie. Toe wou hy nie hê dat ek velddiens moes doen nie. Uiteindelik het hy daarop aangedring dat ek saam met hom na die plaaslike kroeg vir Kersfees en verjaarsdagpartytjies gaan. Partykeer het ek saam met hom gegaan om vir hom te wys dat ek sy hoofskap respekteer, maar ek was versigtig om nie enige iets te doen wat Jehovah ongelukkig sou maak nie.b Ek het na die damestoilette gegaan en herhaaldelik vir hulp gebid om my lojaliteit aan Jehovah en ’n goeie gewete te behou. Ek het gevoel dat Jehovah my altyd ondersteun het.
Ek en Ian het drie seuns gehad: Phillip, Nigel en Andrew. My man was vir die grootste gedeelte van die week nie by die huis nie omdat hy ’n trokbestuurder was wat lang afstande gery het. Ek het my bes probeer om ’n goeie vrou vir hom te wees en, op dieselfde tyd, soveel as moontlik vir Jehovah te doen. Ek het velddiens gedoen terwyl hy weg van die huis af was en naweke tyd saam met hom spandeer. Ek het ook ’n punt daarvan gemaak om nooit vir ons kinders negatiewe dinge oor hom te vertel nie.
Ek het baie vriende in die gemeente gemaak en het party van hulle saamgeneem om by my ma en pa te gaan kuier. Met verloop van tyd het my ouers begin lief raak vir my nuwe vriende. Toe ’n geliefde broer in ons gemeente gesterf het, het my ma sy begrafnis by die Koninkryksaal bygewoon. Kort daarna het my ma, pa, my broer Stanley en sy vrou, Averil, begin om die Bybel te studeer en is hulle gedoop.
Stanley en Averil het ’n seun en ’n dogter gehad. Ek en my skoonsuster het dit geniet om saam velddiens te doen met ons kinders. Nie ek of Averil het ’n kar gehad nie, so ons het baie kilometers ver in die bediening geloop terwyl ons met groot vreugde in ons hart ons kinderwaentjies gestoot het. Andrew het in die stootwaentjie gesit, Nigel het bo-op dit gesit en Philip het langs ons geloop terwyl hy aan die handvatsel vasgehou het.
Ek, Philip, Nigel en my pa kamp terwyl ons ’n streekbyeenkoms bywoon
Ek lei my kinders op
Ek en Ian het later nog twee kinders gehad: Caroline en Debbie. Dit was my doelwit om al my kinders te leer om Jehovah te ken en hom te dien. Ek wou my bes doen om enige raad wat die Bybel vir ouers bevat het, toe te pas. Ek het myself aan Jehovah toegewy en ek wou my kinders wys dat ek daardie belofte nakom deur dinge op Jehovah se manier te doen.
Een van die eerste tekste wat ek uit my kop leer ken het, was 1 Korintiërs 15:33, wat sê: “Slegte assosiasie bederf goeie gewoontes.” By ’n byeenkoms het ’n suster gesê dat sy haar kinders aangemoedig het om nie tyd saam met hulle skoolmaats ná skool te spandeer nie. Ek wou dieselfde doen, maar dit was moeilik! Partykeer het die seuns in die geheim saam met hulle klasmaats gaan sokker speel. Baie van my seuns se skoolvriende het goeie maniere gehad, maar hulle het nie Jehovah gedien nie. Dit kon gesien word in hulle spraak en gedrag.
Op een geleentheid het ek vir my seuns gesê dat ek saam met hulle sal speel as hulle sokker ná skool wou speel. Maar dit was nie ’n goeie idee nie omdat ek nie goed sokker gespeel het nie! Maar ek het nog steeds nie opgegee om my seuns te probeer help om te verstaan dat hulle hulle vriende wyslik moes kies nie. Met verloop van tyd het die seuns maniere gekry om hulleself besig te hou sonder om tyd te spandeer saam met dié wat nie vir Jehovah gedien het nie.
Nog ’n teks wat ek altyd in gedagte gehou het, was 1 Johannes 2:17, wat sê: “Die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar die een wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Ek het geweet dat Satan se wêreld verby sal gaan, en dit was my doelwit om my kinders te help om geestelike doelwitte na te streef en vir ewig Jehovah se guns te geniet. Wanneer probleme kop uitgesteek het, maak nie saak hoe klein nie, het ek vir hulp gebid en kon ek altyd leiding uit die Skrif kry. Wanneer ek vir die kinders gewys het wat die Bybel sê, kon hulle sien dat hulle deur Jehovah gelei word, en nie deur my nie. Ek het probeer om hulle deur my woorde en voorbeeld aan te moedig, en hulle het goed op my pogings gereageer. Byvoorbeeld, hulle het van kleins af elkeen hulle eie herbesoeke in die bediening gehad, wat hulle aangemoedig en gelukkig gemaak het.
Ek het geweet dat vergaderingbywoning baie belangrik is. Op een stadium het ek agtergekom dat die kinders gedurende die vergaderinge in die week moeg was. So in die middae voor die vergaderinge het ek hulle by die skool gaan optel, ’n ligte ete gegee en dan sou ons ’n middagslapie vat. Dit het die probleem opgelos! Ons het net ’n vergadering misgeloop as een van ons siek was en ons nie Koninkryksaal toe kon gaan nie. Wanneer dit gebeur het, het ons die inligting vir die vergadering by die huis deurgegaan. Die TV sou eers ná die tyd aangesit word. Maar partykeer het Ian onverwags huis toe gekom. Dan het ons vinnig ons boeke weggesteek en die TV aangesit.
Ons het ook gesinsaanbidding ’n prioriteit gemaak. Ons het partykeer oor Bethel gesels, asook in watter Bethelafdeling die kinders graag sou wou werk.
Van links na regs: My dierbare kinders – Philip, Caroline, Debbie, Andrew en Nigel
Om te pionier, was ons doelwit
Toe my oudste, Philip, 16 jaar oud was, is hy ’n voltydse werk as ’n motorwerktuigkundige aangebied. Hy het ook ’n geleentheid gehad om deeltyds vensters te was. Hy wou nie vensters skoonmaak nie en het gesê dat hy geld kon bydra om die gesin te help as hy die voltydse werk aanvaar het. Ek het met hom geredeneer dat dit sy pa se verantwoordelikheid was om finansieel na die gesin om te sien, en nie syne nie. Toe het ek vir hom gesê dat ons nog altyd genoeg geld gehad het om te oorleef. Ek het verduidelik dat hy onmiddellik kon begin pionier as hy deeltyds vensters skoongemaak het.
Onmiddellik nadat Philip skool klaargemaak het, het hy met gewone pionierdiens begin, en ek het met hulppionierdiens begin. Toe my tweede seun, Nigel, ook begin pionier het nadat hy skool klaargemaak het, het ek aansoek gedoen om ook ’n gewone pionier te word. Ek het gedink dat selfs al kan ek net vir een jaar pionier, ek my seuns in die bediening kon ondersteun en pionierskool toe kon gaan. Later het ek wel die geleentheid gehad om saam met Nigel pionierskool toe te gaan.
Ek was van die begin af mal oor die pionierdiens en ek het geweet dat dit ’n goeie voorbeeld vir die kinders sou stel deur Jehovah op hierdie manier te dien. Te danke aan Jehovah kon ek vir die afgelope 35 jaar pionier. Ian sou my probeer keer het om te pionier as hy daarvan geweet het. Maar ek het seker gemaak om gedurende die week velddiens te doen wanneer hy by die werk was sodat ek tyd saam met hom kon spandeer terwyl hy by die huis was.
Later het my seun Nigel vir Bethel aansoek gedoen en is hy aanvaar. Daar het hy wonderlike assosiasie geniet en opleiding gekry wat hom gehelp het om ’n volwasse Christen te word. Philip en Andrew het die Bedieningsopleidingskoolc bygewoon. Ek het gevoel dat daardie skool hulle gehelp het om volwasse mans te word (1 Petrus 5:10). Jehovah voorsien uitstekende opleiding vir sy volk. Ek is so dankbaar teenoor Jehovah en sy organisasie vir die opleiding wat my seuns ontvang het.
Op pad velddiens toe
Moeilike uitdagings
Oor die jare het ek moeilike uitdagings gehad. ’n Groot uitdaging was my man se ontrouheid. Hy het my ná 33 jaar verlaat en saam met iemand anders gaan bly. Nog ’n uitdaging was om te sien hoe my ouers ouer raak. Ongelukkig het my pa in Maart 1997 gesterf. Toe was my ma op haar eie, en sy kon nie bestuur nie. Sonder my pa het sy hartseer en eensaam gevoel, so ek het haar dikwels gebel en gevra: “Wil Ma saam met my ry om ’n paar herbesoeke te gaan doen?” Ná ’n hele paar jaar het sy saam met my begin pionier. Hierdie besluit het haar lewe ’n nuwe doel en rigting gegee. Sy het vir tien jaar dit geniet om te pionier en het getrou aangehou totdat sy gesterf het.
Wanneer ek op my lewe terugkyk, was dit nie maklik om vyf kinders in die waarheid groot te maak nie. Ek het altyd geweet dat my kinders self moes besluit of hulle Jehovah gaan dien of nie. Ek kon nie beheer wat hulle sou doen nie, maar ek kon beheer wat ek sou doen. So ek was eenvoudig net gehoorsaam aan Jehovah se leiding en het myself ten volle daarop toegelê om my kinders deur my woorde en voorbeeld te leer. Ek is baie trots dat my kinders gekies het om God te dien.d Ek is regtig dankbaar dat Jehovah my gehelp het om hulle groot te maak.
Saam met my kinders vandag
a Kyk na die video Wat is die toestand van die dooies?
b Sien eindnota 5 “Vakansiedae en vieringe” in die Geniet die lewe vir ewig!-boek.
c Hierdie skool is vervang deur die Skool vir Koninkrykspredikers.
d Vandag dien Philip as ’n instrukteur by teokratiese skole in Ierland. Nigel is ’n Byeenkomssaalkneg in Engeland. Andrew is ’n ouerman en pionier al die afgelope 30 jaar. Caroline het vir vyf jaar gepionier, en Debbie bly by die huis en ondersteun Carol in die bediening.