LEWENSVERHAAL
Hoe Jehovah my gehelp het om ’n beter persoon te word
EK SAL nooit my eerste dag in die Bindery by die Bethel in Brooklyn, New York, VSA, vergeet nie. Die oomblik toe ek by die Bindery ingestap het, was ek deur die harde geluide en die aanhoudende bewegings van die masjiene oorweldig. Papierstof het deur die lug gesweef, en daar was ook ’n sterk reuk van olie.
Ek het baie dinge opgelet, maar dit was die mense wat my die meeste beïndruk het. Hier was jong broers en susters wat werk gedoen het wat party mense dalk as eentonig sou beskou. Hulle was nie heeltyd geprys of aandag gegee nie. En tog was hulle gelukkig en tevrede. Hulle voorbeeld het my geleer wat dit beteken om God nederig te dien.
Vir baie jare het Jehovah my gehelp om ’n beter kneg van hom te word. Maar kom ek vertel julle eers hoe ek na die waarheid gesoek het toe ek ’n Boeddhis was.
EK SOEK AS KIND NA GOD
Ek is gebore en het grootgeword in Chicago, Illinois, VSA. Ek is die oudste van vier kinders. My ouers het van Japan na Chicago geëmigreer omdat hulle geglo het dat die lewe baie beter in die Verenigde State sou wees. Hulle wou hê dat hulle kinders die beste opvoeding moontlik moes kry en suksesvolle lewens moes lei.
My ouers was toegewyde Boeddhiste. My ma het in ’n huis met ’n Boeddhistetempel grootgeword. Haar pa en twee broers was Boeddhistemonnike. Boeddhisme het dus ’n baie groot rol in my kinderlewe gespeel. Die eerste ding wat ek gedoen het nadat ek van die skool af by die huis gekom het, was om reukwerk te brand en rys en water aan ons Boeddhiste-afgod te offer. Op Sondae het ons na ’n Boeddhistetempel gegaan waar ons vir ’n afgod gesing het wat soortgelyk aan ons s’n was – dit was net groter en met goud bedek.
Ek onthou toe ek omtrent sewe was, hoe ek na die afgod in ons huis gestaar en gewonder het: ‘Wat sal met my gebeur wanneer ek sterf?’ Boeddhisme het my geleer dat ek ’n gees sou wees nadat ek gesterf het. So ek het besef dat my lewe eendag sou eindig. Ek sou dalk as ’n gees voortleef, maar ek sou nie meer die lewe as ’n mens geniet nie. Dit het my baie hartseer gemaak! Skielik het gevoelens van hulpeloosheid my oorweldig.
Toe ek omtrent 15 was, het ek begin voel dat die Boeddhistiese rituele waaraan ek deelgeneem het, geen betekenis gehad het nie. Daar was iets wat ek in my lewe kortgekom het (Matt. 5:3). Diep binne my het ek gevoel dat daar ’n almagtige, lewende God moes wees. Ek wou hom ken. Ek het gedink dat die Bybel dalk die antwoorde sou hê. So ek het ’n tweedehandse King James Version gekoop – by ’n Boeddhistefees van alle plekke!
Saam met Wilson Bashou, wat vir my die waarheid geleer het
Toe ek 17 was, het ’n broer met die naam Wilson Bashou op die straat na my toe gekom terwyl ek met my hond gestap het. Hy het gevra: “Weet jy wat God oor die toekoms belowe?” Daardie vraag het tot ’n diep Bybelbespreking gelei. Wilson het Openbaring 17:1 gelees en gevra: “Waarna verwys die ‘baie waters’ waarop die prostituut sit?” Ek het geen idee gehad nie. Hy het vir my vers 15 gewys, wat sê dat die waters na mense verwys. Dit het my beïndruk toe ek uitgevind het dat Jehovah se Getuies toelaat dat die Bybel homself verduidelik. Toe ons klaar gesels het, het Wilson vir my ’n kopie van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gegee. Daardie klein blou boekie het my lewe verander.
Tien dae later het ek my eerste vergadering by die Koninkryksaal bygewoon. Ek sal nooit vergeet hoe vriendelik en liefdevol die mense daar teenoor my was nie. Van toe af het ek altyd die vergaderinge bygewoon. Daarna het Wilson begin om die Bybel met my te studeer. Ek was so lief daarvoor om oor die Bybel te leer dat ons partykeer agt uur lank gestudeer het. My ouers was bekommerd en hulle het my studie erg teëgestaan. Maar hoe meer ek gestudeer het, hoe meer was ek oortuig dat dit die waarheid was. Ek is in 1983 gedoop.
EK LOS MY STUDIES OM TE PIONIER
Toe ek gedoop was, was ek besig om geneeskunde aan ’n welbekende universiteit te studeer. My ouers het so baie opofferings gemaak sodat ek hierdie opvoeding kon kry. Ek kon met my universiteitstudies aangehou het, maar ek wou Jehovah my beste gee en hom voltyds dien.
My pa het my gewaarsku: “As jy jou studies los, sal ek jou uit die huis uit skop!” Ek was hartseer en verward. Ek was lief vir my ouers en wou hulle nie teleurstel nie. So ek het dikwels laat in die aand buite op die universiteitsgronde onder die sterrehemel gaan bid: “Jehovah, asseblief, help my met hierdie besluit.” Toe ek uiteindelik besluit het om my studies te los, het my pa vir my gesê om uit die huis uit te trek. Ek het Wilson gebel en vir hom vertel wat gebeur het. Hy het my liefdevol genooi om by hom te kom bly. Met al my besittings in een sak het ek ’n bus na sy woonstel geneem. Ek onthou dat ek ’n onbeskryflike kalmte ervaar het. Ek het geweet dat ek die regte besluit gemaak het.
Ek het soos ’n voëltjie gevoel wat uit sy hok vrygelaat is! Ek was uiteindelik vry om myself ten volle aan die bediening toe te wy. Ek het in 1984 begin pionier.
Gedurende my jare as ’n gewone pionier het Jehovah my waardevolle eienskappe, soos volharding, geleer. Eendag het dit gelyk asof ek goeie redes gehad het om nie in die bediening uit te gaan nie. Ek was mismoedig omdat niemand gedurende die middag saam met my in die bediening kon uitgaan nie. Maar ek het in elk geval gegaan. Nadat ek ’n paar uur lank gepreek het, het ek besluit dat my laaste besoek by ’n woonstelblok sou wees. Ek het moeg en alleen gevoel, en dit het gelyk asof dit gaan reën. Ek het gewonder: ‘Moet ek ophou?’ Terwyl ek na die derde vloer op pad was, het ek ’n jong Filippynse man voor my sien staan. Ek het gedink: ‘Hy stel seker nie belang nie.’ Ek was verkeerd! Ek het ’n Bybelstudie met hom begin, en hy het my geestelike broer geword.
DIE BETHEL IN BROOKLYN HELP MY OM ’N BETER PERSOON TE WORD
Nadat ek twee jaar lank by Wilson gebly het, was ek in 1985 na die Bethel in Brooklyn genooi. Soos ek aan die begin genoem het, was ek na die Bindery aangewys. Eendag terwyl ek op ’n masjien gewerk het, het ek ’n fout gemaak. As gevolg hiervan moes honderde boeke se buiteblaaie weggegooi word. Die broers het my gevra om vir die opsiener te vertel wat gebeur het. Ek het al die redes vir my fout gegee, maar daar was een belangrike ding wat ek nie gesê het nie. Met ’n vriendelike stemtoon het die opsiener my herinner: “Dit is altyd goed om verskoning te vra.” Op daardie oomblik het ek geleer hoe belangrik dit is om my foute te erken en te sê: “Ek is jammer.”
Ek gee ’n toer van die Bindery in Brooklyn
Ek het ook geleer hoe om ander beter te dien deur getroue, ouer persone in die Bethelgesin dop te hou. Eenkeer het broer Milton Henschel, ’n lid van die Bestuursliggaam, gedurende middagete by ons tafel gesit. Daardie dag was daar meer mense in die eetsaal as wat die broers verwag het, en dié wat kos bedien het, was druk besig om kos op die tafels te sit. Ons, die jonger broers by die tafel, het stilletjies gekla dat die kos te stadig bedien word. Sonder om ’n woord te sê, het broer Henschel opgestaan en begin om saam met die bedienaars bekers water en borde met brood en botter op die tafels te sit. Ek sal daardie nederige daad vir ewig onthou. Dit het my herinner aan hoe Jesus sy apostels gedien het. – Joh. 13:3-5.
“JY MOET JAPANNEES LEER!”
Saam met Mitjiko Oda en haar man
In 1987 het ek Japan toe gegaan, en ek was beïndruk om te sien hoe ywerig en nederig die verkondigers daar was. Ek wou hulle help, maar ek het ’n probleem gehad – ek het nooit geleer hoe om Japannees te praat nie. ’n Suster by Bethel, Mitjiko Oda, het my reg in die oë gekyk en gesê: “Jy moet Japannees leer!” En dit is wat ek gedoen het. Ek het nie besef dat haar raad my lewe sou verander nie.
’n Paar maande later het ek na ’n Japannese gemeente in New York getrek. Om Japannees te leer, het my baie nuwe geleenthede gegee om Jehovah te dien. In 1989 het ek my eerste Japannese streekbyeenkoms in Los Angeles, Kalifornië, bygewoon. Miwako Onami, ’n pioniersuster wat ’n rol in die drama gespeel het, het my aandag getrek.
Ek en Miwako is in 1992 getroud, en ons het die voorreg gehad om saam as ’n paartjie by die Bethel in Brooklyn te dien. Miwako is ’n bedagsame en liefdevolle persoon wat altyd gereed is om ander te help. Haar voorbeeld het my gehelp om ander beter te behandel. Sy is ’n geskenk van Jehovah – ’n eindelose bron van geluk en vertroosting vir my.
Op ons troudag
DIE TAKKANTOOR IN JAPAN EN DIE VELD
Met verloop van tyd het albei van Miwako se ouers, wat in Japan gebly het, ernstig siek geword. So ons was liefdevol toegelaat om na die takkantoor in Japan te trek sodat ons naby hulle kon wees om vir hulle te sorg. Ons het in 1999 soontoe getrek.
Die Bethelgesin in Japan het ons baie welkom laat voel, en ons het by ons nuwe tuiste aangepas. Ek het selfs verder as ’n persoon verbeter deur die positiewe eienskappe van die Japannese broers en susters na te volg, soos hulle uitstekende vrygewigheid en gasvryheid. Hulle is ernstig en gefokus wanneer dit by hulle werk kom. Hulle werk ook goed saam as ’n groep. Hoe so? In die Japannese kultuur is dit vir mense belangriker om saam met ander in eenheid te werk as om iets op hulle eie te bereik. Hulle goeie voorbeeld het my aangemoedig om nederig saam met ander te werk en om te verstaan hoe die bietjie wat ek doen, tot Jehovah se doel bydra.
Maar as gevolg van kultuurverskille was daar nog steeds tye toe dit vir my moeilik was om te verstaan hoekom sake op ’n sekere manier hanteer was. Ek moes leer om geduldig te wees en nie te oorreageer nie. Met verloop van tyd het ek my gesindheid aangepas en besef dat Jehovah enige besluit kan seën solank ons die leiding volg wat hy vir ons deur middel van sy organisasie gee. Aan die einde van die dag is dit Jehovah wat ons werk suksesvol maak.
Ek vergelyk dikwels die opleiding wat ek by Bethel ontvang het met die opleiding wat die profeet Moses ontvang het. Jehovah het Moses gedurende sy 40 jaar as ’n herder gehelp om sagmoedig te word. Soos Moses het ek hoër onderwys ontvang. Ek het toegelaat dat daardie opvoeding my trots maak en veroorsaak dat ek op myself vertrou. Bethel het my geleer om nederig te wees en om op Jehovah te vertrou. Net soos Jehovah geduldig vir Moses opgelei het, het Jehovah oor die jare heen dieselfde met my gedoen.
Ek werk by die takkantoor in Japan
Ons het omtrent 24 jaar lank vir albei van Miwako se ouers gesorg totdat hulle gesterf het. Daar was baie oproepe, angstige oomblikke en ons moes baie keer na die hospitaal gaan. Miwako se ma, Masako, se gesondheid het so erg agteruitgegaan dat sy skaars kon opstaan om te loop. Dit was nie vir Masako maklik om gemeentelike vergaderinge by te woon en om in die bediening uit te gaan nie. Gedurende haar laaste paar weke moes sy ’n rolstoel gebruik. En tog het haar liefde vir Jehovah nooit verswak nie. Haar gesig het van vreugde gestraal wanneer sy ook al oor die waarheid gepraat het. Masako se voorbeeld om God te dien en tevredenheid en geluk te vind, maak nie saak wat die omstandighede was nie, is iets wat ek wil navolg.
Ek preek saam met Miwako in Okinawa
In 2024 het ’n groot verandering in ons lewe plaasgevind. Nadat ons meer as 30 jaar lank by Bethel gedien het, was ons veld toe gestuur. Ons dien op die oomblik as spesiale pioniers op die eiland Okinawa en het die voorreg om vir gesinne te getuig wat op die militêre basis daar naby bly. Die goeie opleiding wat ons by Bethel ontvang het, het ons gehelp om makliker by ons nuwe toewysing aan te pas. Ons probeer om ’n goeie skedule te behou en om die beste gebruik van ons tyd te maak deur gefokus te bly op ons bediening en hard te werk. Jehovah het ons liefdevol met Bybelstudente geseën wat vir ons soos familie geword het. Ons leer eerstehands hoe belangrik dit is om mense lief te hê. Ek en Miwako sê elke dag vir Jehovah dankie vir hierdie pragtige toewysing.
VASBESLOTE OM SELFS MEER DEUR JEHOVAH OPGELEI TE WORD
My familie is nie meer teen die waarheid gekant nie, maar hulle dien nog nie vir Jehovah nie. Maar Jesus het belowe dat dié wat hulle families verlaat om sy dissipels te word, 100 keer soveel sal kry in die vorm van ’n geestelike familie (Mark. 10:29, 30). Dit het regtig met my gebeur. Al die gesinne regoor die wêreld wat my oor die jare heen liefgehad het en vir my gesorg het asof ek deel van hulle gesin is, is net te veel om te tel.
Ek het nog steeds daardie Waarheid-boek wat Wilson vir my gegee het. Daardie blou boek is ’n kragtige herinnering van hoe Jehovah liefdevol toegelaat het dat ek hom vind (1 Kron. 28:9). Ek is vasbeslote om aan te hou om ’n beter persoon te word met Jehovah se hulp en om ander te help om die waarheid te leer wat tot die ewige lewe lei.