14-20 SEPTEMBER 2026
LIED 41 Hoor my gebed
Vind vertroosting in die boek Jesaja
“Daarom sê Jehovah: . . . ‘Soos ’n ma haar seun vertroos, so sal ek aanhou om julle te vertroos.’” – JES. 66:12, 13.
FOKUS
Hoe ons vertroos kan word wanneer ons tekste in die boek Jesaja lees en daaroor nadink.
1-2. Hoe reageer Jehovah wanneer ons situasies ondervind wat ons hartseer laat voel?
DINK aan ’n baie hartseer kind wat verskriklik huil. Dalk trek sy gesin na ’n nuwe huis, en dit beteken dat hy sy vriende moet agterlaat. Of dalk is hy baie ontsteld oor ’n fout wat hy gemaak het. Wat sou ’n liefdevolle ma in sulke oomblikke doen? Sy sou haar kind liefdevol omhels, na sy bekommernisse luister en hom van haar liefde verseker.
2 In die Bybel vergelyk Jehovah homself met ’n liefdevolle ma wat haar kind vertroos. Hy sê: “Soos ’n ma haar seun vertroos, so sal ek aanhou om julle te vertroos” (Jes. 66:13). Jehovah se liefde vir ons is groter as dié van enige ouer (Jes. 49:15). Deur middel van Sy Woord, die Bybel, gee Jehovah ons die nodige vertroosting en krag wanneer ons mismoedig is of ly. – Rom. 15:4.
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Die boek Jesaja is vol vertroostende woorde van Jehovah (Jes. 40:1). Ons liefdevolle Vader het Jesaja geïnspireer om die boek te skryf om sy volk gedurende ’n baie moeilike tyd in Juda se geskiedenis te vertroos. Ons lewe ook in “swaar tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, en daarom het ons vertroosting nodig (2 Tim. 3:1). Kom ons kyk na ’n paar verse in die boek Jesaja wat ons kan vertroos en versterk wanneer ons (1) omstandighede onverwags verander, (2) heeltyd skuldig voel oor vorige foute of (3) treur oor die dood van ’n geliefde.
WANNEER OMSTANDIGHEDE ONVERWAGS VERANDER
4. Hoe kan dit ons affekteer wanneer ons omstandighede skielik verander?
4 Ons lewe kan onverwags verander (Pred. 9:11; 1 Kor. 7:31). Ons kan skielik gesondheids- of finansiële probleme, politieke onrus of ’n verandering van toewysing ondervind. Sulke veranderinge kan ons angstig of verward laat voel. Dit is net natuurlik om te wonder: ‘Wat moet ek doen?’ ’n Broer met die naam Joseph, wat ná omtrent 17 jaar by Bethel gevra is om as ’n pionier te dien, sê: “Ek het verlore gevoel. Dit was ’n groot uitdaging om ’n nuwe lewe te begin nadat ek so lank by Bethel gedien het. Ek het nie geweet waar om te begin nie.” Watter versekering gee Jehovah ons deur middel van Jesaja as ons omstandighede onverwags verander?
5. Watter versekering gee Jehovah ons volgens Jesaja 42:16? (Sien ook prent.)
5 Lees Jesaja 42:16. Jehovah belowe om dié wat figuurlik blind is, op onbekende paaie te lei en om die duisternis in lig te verander. Die uitdrukkings ‘blind’, “onbekende paaie”, “duisternis” en “ongelyke terrein” kan ’n goeie beskrywing wees van die manier hoe ons ons toekoms beskou wanneer ons omstandighede onverwags verander. Ons voel dalk asof ons deur ’n digte woud loop en onseker is oor die pad wat voorlê. Maar Jehovah verseker ons dat hy ons die nodige leiding sal gee en ons nooit sal verlaat nie, ongeag watter situasie ons ondervind. Hy sal ons aan die hand neem en ons deur die duisternis lei sowel as lig skyn op ons pad en die ongelyke terrein gelykmaak. Hoe doen Jehovah dit? Deur ons wyse raad te gee deur middel van sy Woord en sy organisasie (Ps. 119:105; Jes. 30:21). Hy gebruik ook ons broers en susters en ander om ons op praktiese maniere te help. Selfs wanneer die pad vorentoe onduidelik is en moeilik lyk, kan ons vertrou dat Jehovah ons met sorg en begrip sal lei. – Jes. 41:10; 1 Pet. 5:6, 7.
Selfs wanneer jou omstandighede onverwags verander, sal Jehovah jou nooit verlaat nie (Sien paragraaf 5)b
6. Waarvan kan ons seker wees as ons omstandighede onverwags verander?
6 Joseph, wat vroeër genoem is, het verduidelik hoe hy en sy vrou Jehovah se liefdevolle ondersteuning gevoel het nadat hulle Bethel verlaat het. Hy sê: “Ons het Jehovah se liefdevolle hand gedurende die oorgangsperiode gesien. Hy het ons deur middel van wonderlike broers en susters gehelp. Hy het op net die regte tyd na ons materiële en emosionele behoeftes omgesien, en hy hou aan om dit te doen.” As jou omstandighede onverwags verander, kan jy ook daarvan seker wees dat Jehovah jou die nodige krag en leiding sal gee, maak nie saak hoe oorweldigend die verandering dalk lyk nie (Jes. 54:10; 58:11). Joseph voeg by: “Die woorde van een van ons Broadcasting-liedjies sê dit mooi: ‘En ek weet hy sal ook môre daar wees. Hy sal my deur als kry, ek’s nooit alleen.’a Ja, al verloop dinge dalk nie soos ons beplan het nie, is een ding seker: Jehovah sal altyd met ons wees.”
WANNEER ONS HEELTYD SKULDIG VOEL OOR VORIGE FOUTE
7. Waarmee sukkel party dalk as gevolg van hulle vorige foute?
7 Wanneer ons ’n ernstige sonde wat ons gepleeg het, bely, ontvang ons liefdevolle hulp by die ouermanne, en dan werk ons hard om nie die sonde te herhaal nie (Spr. 28:13; Jak. 5:14-16; 1 Joh. 1:9). Maar selfs nadat genade aan ons betoon is, sukkel ons dalk met aanhoudende skuldgevoelens. Ons dink dalk: ‘Hoe kan Jehovah my ooit vergewe vir wat ek gedoen het?’ (2 Kor. 2:7). Dit is verstaanbaar om so te voel omdat die gewig van vorige foute swaar kan wees en die herinnering daaraan ’n lang tyd by ons kan bly. “Daar is geen vrede in enige van my bene as gevolg van my sonde nie”, het koning Dawid geskryf. “Ek het alle gevoel verloor en heeltemal verpletter geword” (Ps. 38:3, 8). As jy soms so voel as gevolg van vorige foute, bied die boek Jesaja vertroosting.
8-9. Hoe volkome is Jehovah se vergifnis volgens Jesaja 1:18?
8 Lees Jesaja 1:18. Jehovah gebruik ’n illustrasie om te beskryf hoe volkome en deeglik hy ons sondes vergewe. Al is ons sondes “so rooi soos skarlaken,” sê hy dat hy dit “so wit soos sneeu” sal maak. Skarlaken is ’n helderrooi kleur wat nie maklik verbleik nie. Maar Jehovah verseker ons dat ons nie vir die res van ons lewe die vlek van ons sondes sal dra wanneer hy ons vergewe nie.
9 Kyk na die voorbeeld van koning Dawid. Al het hy egbreuk en moord gepleeg, het Jehovah hom vergewe en later gesê dat hy hom met opregtheid dien (2 Sam. 11:3, 4, 14, 15; 12:13; 1 Kon. 9:4, 5). Wanneer Jehovah aan Dawid gedink het, het hy gedink aan hoe getrou hy was, en nie aan die foute wat hy gemaak het nie. Net so vergewe Jehovah ons liefdevol wanneer ons berou toon, en hy help ons om met ’n skoon gewete aan te beweeg. Watter ander versekering kan ons in die boek Jesaja vind wanneer ons heeltyd skuldig voel?
10. Watter vertroostende versekering vind ons in Jesaja 38:17?
10 Lees Jesaja 38:17 en voetnoot. Die frase “u het al my sondes agter u rug gegooi” kan ook vertaal word as “u het al my sondes verwyder sodat u dit nie sien nie”. Die vers sê dat Jehovah die sondes van ’n berouvolle sondaar vat en dit agter Hom gooi, waar Hy dit nie meer sien of daaraan dink nie. Volgens een naslaanwerk kan die idee uitgedruk word as: “U het [my sondes] gemaak asof dit nie gebeur het nie.” So wanneer Jehovah ons sondes vergewe, is dit, vir hom, asof ons nooit gesondig het nie. Wanneer Jehovah ons vergewe, onthou hy nie ons vorige sondes om ons weer te beskuldig of te straf nie. Hy wis die rekord van daardie sondes heeltemal uit. Hy belowe: “Ek sal nie aan jou sondes dink nie” (Jes. 43:25). Hoe vertroostend! As Jehovah, die Opperregter, nie meer ons sondes teen ons hou nie, wie is ons om dit teen onsself te hou?
Moet nooit toelaat dat jou vorige foute jou huidige geluk bederf nie
11. Waarop fokus Jehovah, ongeag wat ons in die verlede gedoen het? (Sien ook prent.)
11 Wanneer ons ook al skuldig voel oor vorige foute, moet ons onsself herinner aan Jehovah se liefdevolle woorde. Sy vergifnis is volkome. Hy skaam hom nie vir ons as gevolg van ons vorige foute nie, en hy is nie soos onvolmaakte mense wat ’n wrok koester nie (Jes. 57:16). Wat regtig vir Jehovah saak maak, is nie die persoon wat ons was nie, maar die persoon wat ons vandag is en die persoon wat ons probeer word (Jes. 55:7). Ons dien beslis ’n liefdevolle en vergewensgesinde God! So mag ons nooit toelaat dat ons vorige foute ons huidige geluk bederf of ons van ons toekomstige seëninge beroof nie.
Jehovah onthou nie ons vorige foute nie (Sien paragraaf 11)c
WANNEER ONS TREUR OOR DIE DOOD VAN ’N GELIEFDE
12. Hoe voel ons dalk wanneer ’n geliefde sterf?
12 Wanneer iemand vir wie ons lief is, sterf, kan die hartseer wat ons voel, oorweldigend wees en kan die pyn van die verlies ’n lang tyd by ons bly. Soms wonder ons dalk hoekom Jehovah toegelaat het dat ons geliefde sterf. ’n Broer met die naam Michael het sy ouers in ’n brand verloor. Hy sê: “My hart het in stukke gebreek, en ek was kwaad vir Jehovah omdat hy toegelaat het dat hulle sterf. Ek weet dat hy nie hulle dood veroorsaak het nie, maar hy het dit ook nie gekeer nie.” Dalk het jy ook al so gevoel. In sulke oomblikke van intense hartseer, watter vertroosting en hoop gee Jehovah?
13. Wat belowe Jehovah om vir ons te gee in Jesaja 25:8?
13 Lees Jesaja 25:8. Jehovah belowe dat hy “die dood vir ewig [sal] wegneem”. Dink aan die tyd wanneer die dood nie meer sal bestaan nie! Jy sal nooit weer hoef te treur oor die dood van iemand vir wie jy lief is nie (Jes. 35:10). Jy sal nooit weer na ’n grafsteen hoef te kyk wat vir jou sê waar jou geliefde begrawe is nie. Jy sal eerder die vooruitsig hê om jou geliefdes altyd by jou te hê, lewendig en gesond. Hierdie belofte is nie te goed om waar te wees nie, want dit word gemaak deur die enigste een wat dit kan vervul – God self. – Op. 21:4, 5.
14. Hoe voel jy wanneer jy nadink oor die hoop van die opstanding? (Jesaja 26:19) (Sien ook prent.)
14 Lees Jesaja 26:19. Jehovah sal nie net ’n einde aan die dood maak nie, maar hy sal ook ons geliefdes wat gesterf het, weer lewend maak. Wanneer hy na hulle verwys, sê hy: “My lyke sal opstaan.” Dit wys dat Jehovah nou persoonlik vir hulle verantwoordelikheid neem. Hy bewaar hulle in sy geheue. En op sy vasgestelde tyd sal hy hulle opwek. Soos die oggenddou droë plante weer lewe gee, sal Jehovah, die Bron van alle lewe, ons geliefdes uit die slaap van die dood wakker maak. Wat ’n vreugde sal dit wees om hulle terug te verwelkom! – Vergelyk Markus 5:42.
Die hoop om te sien hoe ons geliefdes weer lewend gemaak word, is gewaarborg (Sien paragraaf 14)
15. Hoe help die belofte van die opstanding ons om die pyn te hanteer wanneer ons treur oor die dood van ’n geliefde?
15 Al neem God se belofte van ’n opstanding nie ons pyn weg wanneer ons treur oor die dood van ’n geliefde nie, kan dit ons vertroos om te weet dat Jehovah nie ons geliefdes wat gesterf het, vergeet het nie. Hierdie hoop het Michael, wat vroeër aangehaal is, vertroos. Hy sê: “Jesaja 26:19 het my gehelp om te verstaan dat Jehovah persoonlik geheg is aan my ouers. Hy hou hulle veilig in sy geheue, en hy sal aanhou om dit te doen totdat hy hulle op sy vasgestelde tyd opwek. Dit vertroos en versterk my.” Mag ons ook fokus op die belofte om met ons geliefdes wat gesterf het, verenig te word. As ons dit doen, sal dit makliker wees om die pyn te verduur.
16. Watter teks het jy al vertroostend gevind gedurende ’n moeilike situasie?
16 Ons het ’n paar verse uit die boek Jesaja bespreek wat ons kan vertroos wanneer ons omstandighede onverwags verander, wanneer ons heeltyd skuldig voel oor vorige foute en wanneer ons treur oor die dood van ’n geliefde. Ons is baie dankbaar dat Jehovah ons vertroos deur middel van sy Woord! (Ps. 94:19). Is daar ’n teks wat jy veral vertroostend vind gedurende ’n baie moeilike situasie? Memoriseer dit as jy kan, skryf dit neer in ’n dagboek, of sit dit waar jy dit dikwels sal sien. En mag jy vertroos word deur die woorde van ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah.
LIED 3 U gee ons hoop en krag
a Die woorde kom uit die Broadcasting-liedjie met die titel “Ek weet Jehovah is by my”.
b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Paartjie wat Bethel verlaat het, word deur hulle nuwe gemeente verwelkom.
c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer laat sy verlede agter hom en geniet dit om die Pionierdiensskool by te woon.