Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Julie bl. 2-7
  • Leer by die Gibeoniete

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer by die Gibeoniete
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • TREE MET GELOOF EN NEDERIGHEID OP
  • WAG OP JEHOVAH OM ONGEREGTIGHEID REG TE STEL
  • HOU AAN OM WARE AANBIDDING LOJAAL TE ONDERSTEUN
  • Die wyse Gibeoniete
    My boek met Bybelverhale
  • Lesse uit die verslag van die Gibeoniete
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2021
  • Josua en die Gibeoniete
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Julie bl. 2-7

7-13 SEPTEMBER 2026

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

Leer by die Gibeoniete

“Die inwoners van Gibeon [het] met Israel vrede gemaak . . . en onder hulle [gebly].” – JOS. 10:1.

FOKUS

Identifiseer lesse wat ons kan leer by die Gibeoniete en uit die manier hoe Jehovah hulle behandel het.

1-2. Hoekom moet ons belangstel in wat die Bybel oor die Gibeoniete sê?

DIT is die jaar 1473 VHJ. Die nasie Israel het die Beloofde Land so pas begin verower. Die Israeliete het buitengewone oorwinnings oor die stad Jerigo en die stad Ai behaal. Maar later gebeur iets onverwags. ’n Groep reisigers kom na hulle toe en beweer dat hulle uit ’n ver land kom en ’n vredesooreenkoms met God se volk wil maak.

2 Daardie reisigers is die Gibeoniete. Dit is die eerste keer dat die Gibeoniete in die Bybel genoem word, maar dit is nie die laaste keer nie. ’n Aantal Bybelverslae wys dat die Gibeoniete baie jare lank onder die Israeliete gebly het. Hierdie verslae bevat waardevolle lesse vir ons, en dit leer ons baie oor Jehovah God.

TREE MET GELOOF EN NEDERIGHEID OP

3. (a) Wie was die Gibeoniete? (b) Hoekom wou hulle met Israel vrede maak?

3 Toe die Israeliete die land Kanaän begin verower het, het die Gibeoniete in die versterkte stad Gibeon gebly. Hulle was deel van die Hewitiese nasie, een van die sewe Kanaänitiese nasies wat “groter en magtiger” as die Israeliete was (Deut. 7:1). So die Gibeoniete was uit ’n militêre oogpunt ’n sterk volk (Jos. 10:2). Maar in teenstelling met die ander Kanaäniete het hulle besef dat dit dwaas sou wees om Israel teë te staan. Hulle kon sien dat Jehovah vir sy volk veg, en hulle het geweet dat hy belowe het om die Kanaäniete uit die land te verdryf (Eks. 34:11; Jos. 9:24). So nadat die Israeliete Jerigo en Ai verower het, het die Gibeoniete ’n groep mansa na Josua by Gilgal gestuur in ’n poging om vrede te maak.

4. (a) Hoe het die Gibeoniete Israel mislei sodat hulle ’n vredesverbond met hulle sou maak soos ons kan sien in Josua 9:​8-13? (Sien ook prent.) (b) Wat het die Israeliete gedoen toe hulle besef dat die Gibeoniete vir hulle gelieg het?

4 Lees Josua 9:​8-13. Die Gibeoniete het gemaak asof hulle uit ’n ver land kom. Hulle het erken dat Jehovah ’n rol gespeel het in Israel se militêre sukses teen Egipte en die Amoritiese konings Sihon en Og. Maar hulle het wyslik nie gepraat oor wat met Jerigo en Ai gebeur het nie, aangesien sulke onlangse nuus nog nie hulle sogenaamde “baie ver land” kon bereik het nie. Sonder om Jehovah te raadpleeg, het Israel se verteenwoordigers die bewyse wat die Gibeoniete gegee het, aanvaar en ’n vredesverbond met hulle gemaak (Jos. 9:​14, 15). Kort daarna het die Israeliete besef dat die Gibeoniete vir hulle gelieg het, maar die Israeliete het by hulle vredesooreenkoms met die Gibeoniete gebly omdat hulle “’n eed gesweer het by Jehovah” (Jos. 9:​16-19). Die Gibeoniete is die nederige taak gegee om onbepaald as “houtkappers en waterdraers . . . vir die gemeenskap van Israel en vir Jehovah se altaar” te dien. – Jos. 9:27.

’n Groep Gibeonitiese manne kniel en pleit by Josua en ander Israelitiese soldate. Die Gibeoniete wys hulle stukkende klere en wynsakke.

Die Gibeoniete het Josua mislei sodat die Israeliete vrede met hulle sou maak (Sien paragraaf 4)


5. Op watter maniere het die Gibeoniete gewys dat hulle geloof in Jehovah het?

5 Toe vyf Amoritiese konings hoor dat die Gibeoniete met Israel vrede gemaak het, het hulle saamgespan om Gideon aan te val. Die Gibeoniete het Josua gesmeek om hulle te help (Jos. 10:​3-7). Josua en sy leërmag het teen die Amoritiese leërmag gaan veg, en hulle pogings is geseën. Jehovah het selfs groot haelstene op die vyandelike Amoritiese leërmag laat val en die daglig deur middel van ’n wonderwerk vir die geveg verleng (Jos. 10:​9-14). Deur ’n vredesverbond met Israel te maak en deur Josua te smeek om hulle te help toe hulle bedreig is, het die Gibeoniete gewys dat hulle geloof in Jehovah het – geloof in sy vermoë om sy woord te vervul en om hulle te red.

6. Wat leer ons oor Jehovah uit die manier hoe hy die Gibeoniete behandel het toe Israel die Beloofde Land verower het?

6 Wat leer hierdie verslag ons oor Jehovah? Jehovah is nederig en genadig. Hy het voorheen vir die Israeliete gesê om “al die inwoners van die land . . . uit [te] verdryf”, wat dié Gibeoniete ingesluit het (Num. 33:​51, 52). Maar om die vredesverbond wat Israel met hulle gemaak het, te ondersteun, was Jehovah genadig en het hy die Gibeoniete toegelaat om te bly lewe. Jehovah het dit gedoen, al het die Israeliete hom nie geraadpleeg voordat hulle daardie verbond gemaak het nie. Hy het die Israeliete toe gehelp om by hulle ooreenkoms te bly en het die Gibeoniete deur middel van ’n wonderwerk gered. – Jos. 9:26; 11:19.

7. Hoe kan ons die Gibeoniete se geloof en nederigheid navolg? (Sien ook prent.)

7 Hoe kan ons die Gibeoniete navolg? Deur sterk geloof in Jehovah op te bou. Aangesien ons soveel meer oor Jehovah weet as wat die Gibeoniete op daardie stadium geweet het, het ons selfs meer redes om heeltemal op Jehovah te vertrou (Ps. 40:​4, 5). Ons kan ook die Gibeoniete navolg deur gewillig te wees om nederige take in Jehovah se diens te doen (Jos. 9:​23, 27). ’n Jong broer met die naam Luke sal nooit die keer vergeet toe hy sien hoe ’n ouer broer van die Bethelgesin dit gedoen het nie. Al het daardie Betheliet ’n gewigtige en ietwat prominente toewysing gehad, het hy nederig aangebied om een aand by die plaaslike Koninkryksaalterrein wag te hou terwyl hulle besig was om die saal te bou. Luke sê: “Ek het geleer dat nederigheid nie net ’n gevoel is nie. Dit word geopenbaar deur wat ons kies om te doen of nie te doen nie.” Mag ons daagliks wys dat ons geloof in Jehovah het deur op hom te vertrou wanneer ons moeilike situasies ondervind en deur enige teokratiese toewysing nederig uit te voer.

Collage: Voorbeelde van nederige take wat gewilliglik gedoen word. 1. ’n Gibeonitiese man dra ’n waterkruik. 2. ’n Ouer broer werk in die tuin by ’n Koninkryksaal.

Volg die Gibeoniete na deur gewillig te wees om nederige werk te doen (Sien paragraaf 7)


WAG OP JEHOVAH OM ONGEREGTIGHEID REG TE STEL

8. Watter misdaad het koning Saul teen die Gibeoniete gepleeg?

8 Die Gibeoniete word eeue later weer in die Bybel genoem. Koning Saul het teen die Gibeoniete wat in Israel gebly het, gedraai. “Weens sy ywer vir die mense van Israel en Juda” het hy probeer om die Gibeoniete uit te wis.b As gevolg daarvan is ’n aantal van hulle vermoor (2 Sam. 21:​2, 5, 6). Wat ’n onreg! Saul het die jare lange vredesverbond wat tussen Israel en die Gibeoniete bestaan het, verbreek.

9. Wanneer is die onreg teen die Gibeoniete uiteindelik aangespreek?

9 Hierdie verskriklike onreg teen die Gibeoniete is nie onmiddellik aangespreek nie. Om die waarheid te sê, Jehovah het die saak eers toe Saul se opvolger, koning Dawid, begin regeer het, onder die nasie se aandag gebring deur middel van ’n drie jaar lange hongersnood. Toe Dawid gevra het wat die rede vir die hongersnood is, het Jehovah vir hom gesê dat Saul en sy huisgesin bloedskuldig is omdat hulle die Gibeoniete jare tevore sleg behandel het. – 2 Sam. 21:1.

10. Hoe het die Gibeoniete se woorde aan Dawid gewys dat hulle God se Wet gerespekteer het soos opgeteken is in 2 Samuel 21:​3-6?

10 Lees 2 Samuel 21:​3-6. Dawid het met die Gibeoniete gepraat om te probeer bepaal wat gedoen kon word om versoening te doen vir Saul se misdaad teen hulle. Sou hulle probeer ryk word deur Dawid te laat betaal omdat hy nie vroeër iets gedoen het om hulle te help nie? Die Gibeoniete het met goeie rede gesê dat ‘silwer en goud nie kan vergoed nie’ omdat geen losprys, volgens die Wet, vir ’n moordenaar aanvaar kon word nie (Num. 35:​30, 31). Hulle het ook geweet dat hulle nie ’n man kon doodmaak sonder wetlike toestemming nie. Op die ou end het Dawid vir die Gibeoniete gesê dat hulle sewe van Saul se manlike nakomelinge kan doodmaak wat dalk ’n aandeel gehad het aan Saul se poging om volksmoord te pleeg. Daarna het dit begin reën, en die hongersnood het tot ’n einde gekom, wat gewys het dat Jehovah die Israeliete nie meer wou straf vir hoe hulle die Gibeoniete behandel het nie. – 2 Sam. 21:​9, 10, 14.

11. Wat kan ons uit hierdie verslag oor Jehovah leer?

11 Wat leer hierdie verslag ons oor Jehovah? Ons sien duidelike bewyse dat Jehovah ’n regverdige God is (Ps. 37:28). Hy wil hê dat alle mense regverdig behandel moet word. Dit sluit selfs dié in teen wie daar dalk gediskrimineer word, wat dikwels die geval is met uitlanders en minderheidsgroepe. Op sy vasgestelde tyd sal Jehovah enige onregte wat sy aanbidders dalk ondervind het, regstel. Ons leer ook dat Jehovah verwag dat ons ons beloftes moet nakom, net soos hy verwag het dat dié Israeliete hulle belofte van vrede met die Gibeoniete moes nakom. – Vergelyk Amos 1:9.

12. Hoe kan ons die Gibeoniete navolg wanneer ons ’n onreg ondervind?

12 Hoe kan ons die Gibeoniete navolg? Selfs wanneer ons broers en susters ons sleg behandel, kan ons geduldig op Jehovah wag. Deur dit te doen, wys ons dat ons vertrou dat Jehovah sake op sy vasgestelde tyd sal regstel. Kyk na die voorbeeld van suster Laura French. Sy het in 1926 by die Bethel in Kanada begin dien. Omtrent tien jaar later het sy die slagoffer van ’n verskriklike onreg geword. Sy is verkeerdelik daarvan beskuldig dat sy by ’n groep afvalliges betrokke is, en sy is gevra om Bethel te verlaat. Wat het sy gedoen? Al het sy seergemaak gevoel, het sy nooit gekla nie. Sy het vir die volgende vier jaar ywerig as ’n pionier gedien. Tot haar verbasing en vreugde is sy in 1940 genooi om na Bethel terug te keer, waar sy getrou bly dien het totdat sy haar aardse loopbaan omtrent 50 jaar later voltooi het. Soos suster French kan ons ’n onreg oorkom deur te bly doen wat reg is en deur op Jehovah te wag om sake op sy vasgestelde tyd reg te stel. – Jes. 26:​3, 4.

HOU AAN OM WARE AANBIDDING LOJAAL TE ONDERSTEUN

13. Wie was “die Netinim”, en wat het hulle gedoen nadat hulle uit Babilon vrygelaat is?

13 Omtrent 500 jaar ná die tyd van koning Dawid verskyn die Gibeoniete weer in die Bybel. Die 70 jaar lange gevangenskap in Babilon het tot ’n einde gekom, en in 537 VHJ het die eerste groep Jode na Jerusalem teruggekeer saam met goewerneur Serubbabel (Esra 2:​1, 2, 58). In 468 VHJ het nog ’n groep teruggekeer maar saam met Esra die kopiis (Esra 7:​1-7). Albei daardie groepe wat Babilon verlaat het, was redelik klein en het families van “die Netinim” ingesluit. (Sien voetnote vir Esra 2:58 en 7:7.) Wie was die Netinim? Hulle was “nie-Israelitiese tempelknegte”, en baie van hulle was waarskynlik nakomelinge van die Gibeoniete. – Sien Woordelys, “Netinim”.

14. Hoe het die Gibeoniete gewys dat hulle lojaal aan Jehovah is? (1 Kronieke 9:2 en voetnoot)

14 Lees 1 Kronieke 9:2 en voetnoot. “Die tempelknegte” was onder die heel eerste groep mense wat na Israel teruggekeer het. Dit is betekenisvol omdat nie al die Jode in Babilon teruggekeer het nie. Baie Jode het sekerlik ’n mate van voorspoed in Babilon gehad, en hulle was nie bereid om die nodige opofferings te maak om terug te keer en te help om hulle verwoeste vaderland te herbou nie. Maar getroues, insluitende party wat waarskynlik nakomelinge van die Gibeoniete was, wou graag sien hoe ware aanbidding by die tempel in Jerusalem herstel word, en hulle het alles gedoen wat hulle kon om terug te keer. In teenstelling met die Jode het die nakomelinge van die Gibeoniete nie grond as ’n erfdeel in Israel gehad nie. Maar hulle het nogtans teruggekeer om hulle werk by die tempel te doen en het selfs gehelp om Jerusalem se mure te herstel. – Neh. 3:26.

15. Wat leer die verslag van die Gibeoniete ons oor Jehovah?

15 Wat leer hierdie verslag ons oor Jehovah? Ons leer dat ons God sy lojale aanbidders baie waardeer en altyd vir hulle sorg. Teen die tyd dat die gevangenes na Israel teruggekeer het, het amper 1 000 jaar verbygegaan vandat Jehovah die Gibeoniete gered het toe Israel die Beloofde Land verower het. Tog het hy hulle bly seën. Nakomelinge van die Gibeoniete het die vernietiging van Juda en Jerusalem in 607 VHJ oorleef. Nadat hulle vrygelaat is, was hulle nog steeds by ware aanbidding betrokke en het hulle saam met die Leviete by die tempel gedien. Party het blykbaar naby die tempel gewoon (Esra 2:70; Neh. 11:21). En omdat hulle by die tempel gewerk het, was dit nie vir hulle nodig om belasting, skatting en tolgeld te betaal nie. – Esra 7:24.

16. Hoe kan ons die Gibeoniete navolg wanneer dit by ons aanbidding kom?

16 Hoe kan ons die Gibeoniete navolg? Ons wil ook alles doen wat ons kan om ware aanbidding te ondersteun. Ons maak gewilliglik opofferings om Jehovah te dien omdat ons hom liefhet en hom gelukkig wil maak. Dit was die geval met Alwin, ’n broer in die Filippyne. Hy het ’n goed betaalde werk by ’n oliemaatskappy gehad. Maar hy wou meer in sy diens aan Jehovah doen. Wanneer die kringopsiener ook al sy gemeente besoek het, het Alwin tyd by die werk afgevat om die besoek te ondersteun en dit geniet om ’n groter aandeel aan die bediening te hê. Ná ’n ruk en baie gebede het Alwin besluit om uit sy werk te bedank en ’n werk te vind wat hom sou in staat stel om as ’n gewone pionier te dien. Dit sou beteken dat hy finansiële opofferings moes maak. Maar hy het sy doelwit bereik. Sy vrou het saam met hom begin pionier, en as ’n paartjie kon hulle 21 mense help om die waarheid te leer. Jehovah waardeer sekerlik alles wat hierdie paartjie in hulle diens aan hom doen. Ons kan ook die vertroue hê dat Jehovah enige opofferings wat ons in sy diens maak, waardeer, en as gevolg daarvan sal hy altyd in ons behoeftes voorsien. – Matt. 6:33.

17. Wat het ons geleer deur die Bybelverslae oor die Gibeoniete te hersien?

17 Die Bybelverslae oor die Gibeoniete leer ons baie oor Jehovah se pragtige persoonlikheid. Hy is nederig, genadig, regverdig en lojaal. Hy beloon altyd sy getroue aanbidders. Hierdie Bybelverslae bevat ook ’n hele paar praktiese lesse. Soos die Gibeoniete wil ons sterk geloof in Jehovah hê en op hom vertrou wanneer ons baie moeilike probleme ondervind. Sulke geloof sal ons ook beweeg om enige teokratiese toewysing wat ons dalk ontvang, nederig uit te voer. Ons wil geduldig op Jehovah wag, met die vertroue dat hy alle ongeregtigheid uiteindelik sal regstel. En ons ondersteun ware aanbidding met ywer en lojaliteit. Wanneer ons dit doen, sal ons wys dat ons waardevolle lesse by die Gibeoniete geleer het.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe kan ons soos die Gibeoniete wys dat ons geloof het en nederig is?

  • Hoe kan ons die Gibeoniete navolg wanneer ons ’n onreg ondervind?

  • Hoe kan ons soos die Gibeoniete ware aanbidding lojaal ondersteun?

LIED 148 Jehovah bied uitkoms

a Die mans wat met die Israeliete gaan praat het, het van die stad Gibeon gekom, sowel as van drie ander stede: Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim. – Jos. 9:17.

b Die Bybel sê nie spesifiek hoekom Saul hierdie misdaad gepleeg het nie. Party geleerdes glo dat Saul deur nasionalistiese ywer gemotiveer is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel