24-30 AUGUSTUS 2026
LIED 65 Gaan vooruit!
Vind baat by die velddiensgroepreëling
“Ek sal Jehovah met my hele hart prys in die vergadering van die regverdiges.” – PS. 111:1.
FOKUS
Hoe ons baat vind by die velddiensgroepreëling.
1-2. Hoe voel baie oor die velddiensgroepreëling?
ONTHOU jy die dag toe jy goedgekeur is om ’n verkondiger van die goeie nuus te wees? Op daardie gelukkige dag het jy deel geword van ’n massiewe groep aanbidders wat Jehovah se naam loof (Ps. 148:1, 2, 12, 13). Maar op daardie dag het jy dalk ook deel geword van ’n kleiner groep, een wat dalk net ’n handjie vol broers en susters ingesluit het – ’n velddiensgroep. Velddiensgroepe speel ’n belangrike rol daarin om ons te help om ons opdrag uit te voer om die goeie nuus van die Koninkryk “oor die hele bewoonde aarde” te verkondig. – Matt. 24:14.
2 Hoe voel jy oor die velddiensgroepreëling? ’n Suster met die naam Wendya sê: “Hierdie reëling het my op so baie maniere in my bediening gehelp. Ek het nuwe predikings- en onderrigvaardighede by ander geleer, is gehelp om geestelike doelwitte te stel en te bereik en het lewenslange vriende gemaak – alles as gevolg van hierdie liefdevolle reëling.” ’n Broer met die naam Rich voeg by: “Ek beskou dit as ’n wonderlike voorreg om as ’n groepopsiener te dien. Party verkondigers kry die geleentheid om ’n persoon te help om tot doop te vorder, maar ’n groepopsiener het unieke geleenthede om daardie persoon te help om jare ná hulle doop nog geestelike vordering te maak.” ’n Suster met die naam Dinah sê: “Die velddiensgroepreëling is wonderlik! Ek beskou my groep as my familie.”
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 In hierdie artikel sal ons eers die rol van die groepopsiener en sy assistent bespreek en kyk hoe hulle na dié in hulle groep omsien. Dan sal ons bespreek hoe ons persoonlik tot die sukses van ons velddiensgroep kan bydra. Laastens sal ons sien hoe ons by hierdie liefdevolle reëling kan baat vind.
DIE GROEPOPSIENER EN SY ASSISTENT
4. (a) Wat is ’n velddiensgroepopsiener se hoofverantwoordelikheid? (b) Hoe sien ’n groepopsiener om na dié in sy groep? (Sien die venster “Wenke vir die groepopsiener”.)
4 ’n Velddiensgroepopsiener is ’n ouermanb wat deur die liggaam van ouermanne aangestel is om ’n groep verkondigers te help om geestelike vordering te maak. Hoe doen hy dit? Eerstens, hy stel opreg belang in elke persoon in sy groep (Spr. 27:23). Omdat hy ’n oplettende, liefdevolle herder is, bly hy in kontak met hulle. As gevolg daarvan kan hy geestelike aanmoediging, emosionele ondersteuning en praktiese hulp voorsien (Spr. 12:25; Jes. 32:2; Jak. 2:15-17). Tweedens, hy help elke verkondiger om ’n volle aandeel aan die bediening te hê. Hy neem ywerig die leiding in die bediening, veral oor naweke. Hy werk ook gereeld saam met elke verkondiger om hulle persoonlik aan te moedig en op te lei. As hy elke nou en dan nie velddiens kan doen nie, maak hy seker dat sy assistent of ’n ander bekwame verkondiger na die groep omsien. Derdens, hy help gedoopte broers om vir gemeentelike verantwoordelikhede te kwalifiseer (1 Tim. 3:1). Hy prys hulle opreg, gee hulle Bybelse raad en lei hulle gereeld op om hulle te help om as bedieningsknegte en as ouermanne te kwalifiseer. Aangesien die groepopsiener so ’n belangrike rol speel, kies die liggaam van ouermanne die bekwaamste ouermanne om hierdie toewysing uit te voer.
5. Watter uitdagings ondervind party groepopsieners?
5 ’n Groepopsiener ondervind dalk uitdagings terwyl hy na dié in sy groep omsien. Kyk na Jörg, ’n groepopsiener van Duitsland wat, soos baie ouermanne, meer as een toewysing in die gemeente het. Hy sê: “Dit is nie maklik om na verskeie verantwoordelikhede om te sien nie. As gevolg daarvan vind ek dit moeilik om my doelwit te bereik om almal in my groep te kontak.” Abel, ’n 70-jarige ouerman van Uganda, sê: “Ons het baie min ouermanne en bedieningsknegte in ons gemeente. Daarom is die velddiensgroepe redelik groot. As gevolg daarvan vind ek dit moeilik om saam met elke verkondiger te werk en hulle aan te moedig so dikwels as wat ek graag sou wou.” En Obed, ’n ouerman van Suriname, erken: “Ek geniet dit om ander op te lei. Maar opleiding verg tyd en energie, en die resultate kan nie altyd onmiddellik gesien word nie. As gevolg hiervan is opleiding dikwels die eerste ding wat afgeskeep word.” Wat kan ouermanne help wat hierdie en soortgelyke uitdagings ondervind?
6. Hoe help dit groepopsieners om na dié in hulle groep om te sien as velddiensgroepe klein gehou word?
6 Wanneer dit moontlik is, moet velddiensgroepe redelik klein gehou word sodat groepopsieners almal in die groep beter kan leer ken en hulle kan help om geestelik sterk te bly. Wat as daar min ouermanne in die gemeente is? Eerder as om groepe so groot te maak dat ’n groepopsiener nie meer al die aspekte van sy rol kan vervul nie, kan die liggaam van ouermanne ’n bedieningskneg tydelik aanstel om na ’n groep om te sien. Wanneer groepe redelik klein is, kan groepopsieners beter omsien na die belangrikste aspek van hulle toewysing – hulle broers en susters.
7. In gemeentes met min ouermanne, wat kan groepopsieners doen om seker te maak dat daar goed omgesien word na almal in die groep? (1 Petrus 5:2) (Sien ook prent.)
7 As jy as ’n groepopsiener dien in ’n gemeente met min ouermanne, fokus daarop om jou assistent op te lei om jou te help om na God se kudde om te sien. (Lees 1 Petrus 5:2.) Delegeer take aan jou assistent. Byvoorbeeld, vra hom elke nou en dan om die leiding in die veldbediening te neem. Praat met hom oor die bedrywighede van verkondigers in die groep. Neem jou assistent gereeld saam op herdersbesoeke en gee hom leiding voor en ná elke besoek. Met verloop van tyd kwalifiseer jou assistent dalk om as ’n groepopsiener te dien (2 Tim. 2:2). Jy kan ook ander volwasse Christene vra om met opleiding te help. Pioniers en ander ervare verkondigers kan saam met nuwe en minder ervare broers en susters werk. En geestelik volwasse verkondigers kan dié help wat hulp nodig het om gesprekke in die bediening te begin, herbesoeke te doen of Bybelstudies te hou. Kom ons kyk nou na drie maniere hoe ons persoonlik tot die sukses van ons velddiensgroep kan bydra.
’n Ouerman kan ’n bedieningskneg in die velddiensgroep oplei deur hom byvoorbeeld te vra om ’n velddiensvergadering te hou (Sien paragraaf 7)
DRA BY TOT DIE SUKSES VAN JOU VELDDIENSGROEP
8. Hoe kan ons tot die sukses van ons groep bydra? (Romeine 1:12)
8 Wees teenwoordig. Jy dra by tot die feit dat ons “mekaar kan aanmoedig” wanneer jy saam met ander velddiens doen. (Lees Romeine 1:12.) Om saam te preek, kan ook dié in die groep laat veilig voel en hulle meer selfvertroue gee. As sekulêre werk dikwels keer dat jy jou groep se velddiensreëlings ondersteun, kan jy jou werkgewer vra om jou werkrooster aan te pas? Die antwoord sal jou dalk verbaas (Neh. 2:4-6). As swak gesondheid of die ouderdom dit vir jou moeilik maak om in persoon met die groep bymekaar te kom, hoekom praat jy nie met jou groepopsiener nie? Hy kan dalk reëlings tref sodat jy deur middel van videoverbinding by die groep kan aansluit en sodat jy briewe kan skryf of telefoongetuieniswerk kan doen. Vind jy dit nog steeds moeilik om gereeld velddiens te doen, al is jy jonk en gesond? As dit die geval is, hoekom maak jy nie planne om elke week in persoon saam met iemand in jou groep te werk nie? Jy moet dalk jou prioriteite heroorweeg of die manier hoe jy jou tyd bestuur, aanpas (Rom. 12:11; Kol. 4:5). Alles wat jy doen, is die moeite werd. Bid tot Jehovah. Hy kan jou “die begeerte en die krag [gee] om op te tree”. – Fil. 2:13.
9. Hoe kan ons bydra tot ’n warm, liefdevolle atmosfeer in ons velddiensgroep? (Romeine 12:13)
9 Wees gasvry. Ons dra by tot ’n warm, liefdevolle atmosfeer in ons velddiensgroep deur “altyd gasvry” te wees. (Lees Romeine 12:13.) Kan ons dalk ons huis beskikbaar stel as ’n vergaderplek vir ’n velddiensgroep? In party gemeentes maak groepe beurte om gasvryheid aan die besoekende spreker te betoon. Wanneer dit hulle beurt is, kom party in die groep dalk bymekaar vir ’n maaltyd en vir aanmoediging ongeag of die spreker dit kan bywoon of nie. ’n Spesiale pionier met die naam Sarah sê: “Ek raak senuweeagtig wanneer dit by gasvryheid kom, en daarom hou ek dit baie eenvoudig. Ek probeer daarop fokus om ander te leer ken eerder as om my daaroor te bekommer of die kos lekker sal wees of nie.” Wanneer ons gasvry is en help om ons velddiensgroep soos ’n familie te laat voel, kom ons nader aan Jehovah en aan mekaar. – Neh. 8:10; Hand. 20:35.
10. Wat kan ons doen as ons in die een of ander aspek van die bediening wil verbeter? (Spreuke 1:5; 27:17) (Sien ook prent.)
10 Neem die inisiatief. Hoe vaardiger ons in die predikings- en onderrigtingswerk is, hoe groter is die kans dat ons dit sal geniet om saam met ons groep velddiens te doen. Is daar ’n aspek van jou bediening wat jy graag wil verbeter? Hoekom neem jy nie die inisiatief om iemand – dalk ’n pionier of ’n ervare verkondiger in jou groep – vir hulp te vra nie? (Lees Spreuke 1:5; 27:17.) Sê vir jou groepopsiener wat jou doelwit is. Hy kan jou dalk help om dit te bereik. Jy kan ook ander vir hulp vra. ’n Suster met die naam Heather het dit gedoen. Al is sy skaam, sê sy: “Ek het ’n pionier vir hulp gevra om herbesoeke te doen. Sy was liefdevol en vriendelik, en sy het gereeld reëlings gemaak om saam met my te werk. Sy het my selfs gehelp om ’n Bybelstudie met een van my herbesoeke te begin. Ek is so bly dat ek vir hulp gevra het omdat ek dit nou weer geniet om velddiens te doen.” Dit is duidelik dat ons op baie maniere tot die sukses van ons velddiensgroep kan bydra.
’n Klein velddiensgroep stel ons in staat om ander te leer ken en om saam met hulle velddiens te doen (Sien paragraaf 10)
HOE JY BY JOU VELDDIENSGROEP KAN BAAT VIND
11-12. Watter geestelike voordele kan jy by die velddiensgroepreëling ontvang? Vertel ’n ondervinding.
11 Geestelike voordele. Elkeen van ons kan geestelik by die velddiensgroepreëling baat vind. Byvoorbeeld, jou groepopsiener kan help om om te sien na dié vir wie Jehovah baie lief is en wat dalk ekstra hulp nodig het, soos weduwees, weeskinders en bejaardes (1 Tess. 2:8; Jak. 1:27). Ons ontvang ook die nodige opleiding in verskeie aspekte van die Koninkrykspredikings- en onderrigtingswerk. Voorbeeldige gedoopte broers word gehelp om vir addisionele gemeentelike verantwoordelikhede te kwalifiseer. – 1 Tim. 3:10.
12 Kyk hoe Wendy, wat vroeër genoem is, by die velddiensgroepreëling baat gevind het. Sy sê: “Omdat my pa teen die waarheid gekant was, kon my ma dikwels nie oor naweke saam met haar velddiensgroep werk nie. Maar ek kon gaan, en ek het. ’n Ouer pioniersuster het my onder haar vlerk geneem en my gehelp om vaardighede te ontwikkel wat my al in die bediening en in die gemeente gehelp het. Ek onthou dat my groepopsiener verskeie kere vir my liefdevolle Bybelse raad gegee het wat my tot vandag toe help.”
13. Wat is party emosionele voordele wat ons kan ontvang wanneer ons ons velddiensgroep ondersteun? (Sien ook prent.)
13 Emosionele voordele. Ons word goeie vriende met dié in ons groep terwyl ons “sy aan sy” saam met hulle in die bediening werk (Fil. 1:27). Kleiner velddiensgroepe maak dit dalk ook vir dié wat skaam is of wat in groot groepe angstig voel, makliker om sterk vriendskappe te ontwikkel (2 Kor. 6:13). Ons kan op hierdie vriende staatmaak vir ondersteuning gedurende moeilike tye, soos wanneer ons siek is, depressief voel of oor die dood van ’n geliefde treur (1 Tess. 5:14). Ons sal goeie vriende ongetwyfeld in die toekoms al hoe nodiger hê (Matt. 24:21). Ons probleme sal dalk nie verdwyn nie, maar dit kan makliker wees om te hanteer wanneer ons weet dat ons op broers en susters wat ons liefhet en ondersteun, kan staatmaak. – Spr. 17:17.
Twee susters in ’n velddiensgroep doen saam velddiens (Sien paragraaf 13)
14. Hoe vind ons baat by ons velddiensgroep wanneer daar ’n ramp of ’n noodgeval is?
14 Praktiese voordele. Ons ontvang tydige hulp by ons velddiensgroep gedurende natuurrampe, mediese noodgevalle, vervolging, finansiële krisisse en wanneer siektes uitbreek. Byvoorbeeld, in elke gemeente werk die Gemeentelike Dienskomitee saam met groepopsieners om ’n plan op te stel om dié met spesiale behoeftes te help. Groepopsieners neem die leiding daarin om elke gesin in hulle velddiensgroep op te spoor en te bepaal wat die onmiddellike behoeftes is, insluitende mediese sorg, kos, water, skuiling en klere sodat noodleniging voorsien kan word. Ons ontvang beslis praktiese hulp en liefdevolle sorg by ons velddiensgroep!
15. Wat verenig ons almal in Jehovah se organisasie?
15 Soos genoem is, is Jehovah se organisasie baie groot. Die hemelse deel alleen bestaan uit honderdmiljoene – dalk miljarde – getroue geesskepsele. Die aardse deel bestaan uit meer as negemiljoen mense en groei elke dag (Sag. 8:23; Op. 5:11). Al Jehovah se aanbidders is verenig in hulle pogings om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig! (Op. 14:6, 7). Mag ons ten volle baat vind by die velddiensgroepreëling – ’n reëling wat ons help om Jehovah met ons hele hart te loof. – Ps. 111:1.
LIED 61 Voorwaarts, Getuies!
a Party name is verander.
b As dit nodig is, kan ’n bekwame bedieningskneg dien totdat ’n ouerman kan oorneem. ’n Bedieningskneg wat in hierdie kapasiteit werk, word ’n groepkneg genoem, aangesien hy nie ’n opsiener in die gemeente is nie. Hy dien eerder onder die leiding van die ouermanne terwyl hy sy verantwoordelikheid nakom.