Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Mei bl. 26-31
  • Respekteer die besluite van ander

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Respekteer die besluite van ander
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WATTER PERSOONLIKE BESLUITE KAN VEROORSAAK DAT ONS ANDER OORDEEL?
  • HOEKOM MOET ONS DIE PERSOONLIKE BESLUITE VAN ANDER RESPEKTEER?
  • HOE OM DIE BESKOUINGS VAN ANDER TE RESPEKTEER
  • Maak besluite wat Jehovah gelukkig maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Beoefen geloof—Neem wyse besluite!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Neem besluite wat God eer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Mei bl. 26-31

3-9 AUGUSTUS 2026

LIED 113 Die vrede wat ons besit

Respekteer die besluite van ander

“Moenie iemand oordeel as hy ’n ander opinie het nie.” – ROM. 14:1.

FOKUS

Hoe om te wys dat ons ons broers en susters respekteer wanneer hulle besluite maak waarmee ons nie saamstem nie.

1-2. Hoekom verskil ons persoonlike besluite soms van die besluite van ander Christene?

HET jy al ooit gevoel dat jy onregverdig geoordeel word as gevolg van ’n besluit wat jy gemaak het? Het jy al ooit ’n mede-Christen geoordeel op grond van ’n besluit wat hya gemaak het? Die meeste van ons kan ongetwyfeld ja antwoord op albei vrae.

2 Ons moenie verbaas wees omdat ons besluite soms van die besluite van ander getroue Christene verskil nie. Hoekom nie? Omdat ons uniek is. Elkeen van ons het sy of haar eie beskouing. Ons denke word beïnvloed deur ons kultuur, gesinsagtergrond en persoonlike ondervindinge. Maar ons moenie toelaat dat ons verskillende opinies die vrede en eenheid van die gemeente bedreig nie. – Ef. 4:3.

3. Wat veroorsaak dalk dat ons ’n mede-Christen oordeel vir ’n besluit wat hy gemaak het?

3 Wanneer ’n mede-Christen ’n besluit maak waarmee ons nie saamstem nie, voel ons dalk dat ons hom moet oortuig om van plan te verander of vertel ons dalk vir ander dat ons bekommerd is oor sy besluit. Ons het waarskynlik goeie beweegredes. Ons is lief vir ons broers en susters, en ons wil die beste vir hulle hê (Spr. 17:17). Daarom wil ons nie hê dat hulle ’n besluit moet maak waaroor hulle later spyt sal wees of wat hulle geestelik kan benadeel nie.

4-5. Wat moet ons doen as ’n mede-Christen besluit om iets te doen wat anders is as wat ons sou doen?

4 Moet ons ons bekommernisse met ons broer bespreek as ons nie met sy besluit saamstem nie? Dit hang van ’n paar faktore af. Byvoorbeeld, as ons uitvind dat hy daaraan dink om iets te doen wat teen ’n Bybelbevel is, moet ons hom dan uit liefde probeer help om sy denke reg te stel (Spr. 27:​5, 6). Maar wat moet ons doen as ’n broer besluit om iets te doen wat nie een van God se wette verbreek nie maar net anders is as wat ons sou doen? Ons kry die antwoord in ons temateks. Ons “moenie iemand oordeel as hy ’n ander opinie het nie”. – Rom. 14:1.

5 Maar dalk vind ons dit nog steeds moeilik om sy besluit te respekteer. In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom ons die besluite van ander moet respekteer en hoe ons dit kan doen. Maar kom ons bespreek eers party situasies waarby persoonlike besluite betrokke is wat kan veroorsaak dat ons ons broers en susters oordeel.

WATTER PERSOONLIKE BESLUITE KAN VEROORSAAK DAT ONS ANDER OORDEEL?

6-7. Beskryf scenario’s waarin ons ander dalk vir hulle besluite oordeel.

6 Soos vroeër genoem is, het ons dalk sterk opinies oor sekere onderwerpe as gevolg van ons agtergrond of ondervindinge. Ons neem dalk aan dat ander dieselfde beskouing as ons het. Maar dit is dalk nie die geval nie. Kyk na ’n paar scenario’s. Scenario 1: Voordat ’n broer die waarheid geleer het, het sy pa alkohol misbruik terwyl hy grootgeword het. Terwyl die broer saam met ander Christene kuier, sien hy dat hulle alkohol drink. Hy is teleurgesteld en sê vir hulle dat dit wat hulle doen, verkeerd is. Scenario 2: ’n Suster het ’n ernstige siekte suksesvol oorkom. Later vind sy uit dat ’n ander suster met dieselfde siekte gediagnoseer is. Die eerste suster wil help, en daarom plaas sy druk op haar vriend om dieselfde mediese behandeling te kry as wat sy gekry het – of dit nou deur middel van ’n sekere dieet of deur die gebruik van konvensionele behandeling of natuurlike medikasie is. Scenario 3: ’n Broer was ’n lid van ’n valse godsdiens. Hy haat sy vorige lewenswyse. Wanneer hy uitvind dat ’n mede-Christen ’n begrafnis in ’n kerk bygewoon het, is hy baie ontsteld daaroor.b

7 Kyk na nog ’n paar scenario’s. Scenario 4: ’n Broer het grootgeword gedurende ’n tyd dat die meeste mense gevoel het dat dit ongepas is vir mans om baarde te dra of vir vrouens om formele langbroeke na vergaderinge, byeenkomste en in die bediening te dra. Al is die broer bewus van die onlangse aanpassing in ons beskouing van hierdie onderwerp, hou hy aan om vir ander te sê dat Christenmans nie baarde moet dra nie en dat Christenvrouens rokke moet dra wanneer hulle aan teokratiese bedrywighede deelneem. Scenario 5: ’n Ouerman ken ’n broer wat addisionele opvoeding gekry het en die waarheid later verlaat het. Nou het ’n jong broer in die ouerman se gemeente besluit om addisionele opvoeding te kry. Die ouerman is bekommerd en probeer die jong broer en sy ouers oortuig om van plan te verander.

8. (a) Wat kan veroorsaak dat ’n ouer ander ouers begin kritiseer? (b) Watter uitwerking kan ’n kritiese gesindheid teenoor ander op die gemeente hê?

8 Kyk na ’n situasie wat ouers kan affekteer. Scenario 6: As ’n ouer werk jy hard om jou kinders “in die dissipline en riglyne van Jehovah” groot te maak (Ef. 6:4). Maar dit lyk asof ander Christenouers hulle kinders toelaat om meer dinge te doen as wat jy jou kinders toelaat om te doen. Byvoorbeeld, hulle laat hulle kinders toe om later uit te bly, om nie-gewelddadige videospeletjies te speel of om ’n selfoon op ’n jong ouderdom te hê. As gevolg daarvan voel jou kind dat jy te streng is. “Hoekom kan julle nie meer soos my vriend se ouers wees nie?” vra hy. So ’n situasie kan veroorsaak dat jy die ander ouers begin kritiseer. Die waarheid is dat enige Christen se persoonlike besluit meningsverskille kan veroorsaak as dit van ons s’n verskil. Byvoorbeeld, ons bevraagteken dalk hoe hy sy geld spandeer, hoe dikwels hy op vakansie gaan of watter vermaak hy kies. Maar ons moenie toelaat dat ons gevoelens vir ons belangriker word as die eenheid van die gemeente nie.

9. Wat moet ons onthou? (Sien ook prent.)

9 Al verskil die besluite van een Christen dalk van dié van ’n ander, beteken dit nie noodwendig dat een reg en die ander verkeerd is nie (Rom. 14:5). Net omdat Christene beveel word “om dieselfde denke te hê” wanneer dit by Jehovah se standaarde kom, beteken dit nie dat ons almal in alle persoonlike sake dieselfde moet dink nie (2 Kor. 13:11). Ons kan ons persoonlike besluite vergelyk met die keuses wat ons maak wanneer ons na ’n sekere plek reis. Dikwels is daar ’n hele paar verskillende roetes wat na dieselfde bestemming lei. Ons kies die een wat by ons voorkeure en beperkings pas. Net so maak Christene dalk verskillende keuses wanneer dit by persoonlike sake kom, maar ons bestemming is dieselfde: Ons wil Jehovah gelukkig maak. Daarom oordeel ons nie ander vir die persoonlike besluite wat hulle maak nie. – Matt. 7:1; 1 Tess. 4:11.

’n GPS-app op ’n foon, wat verskeie roetes en vervoermetodes wys wat alles na dieselfde bestemming lei.

Reisigers kies dalk verskillende roetes om ’n bestemming te bereik; net so maak Christene dalk verskillende besluite in verband met persoonlike sake wanneer hulle Jehovah dien (Sien paragraaf 9)


HOEKOM MOET ONS DIE PERSOONLIKE BESLUITE VAN ANDER RESPEKTEER?

10. Volgens Jakobus 4:​12, wat het ons nie die gesag om te doen nie, en hoekom nie?

10 Die Bybel gee ’n hele paar redes hoekom ons die persoonlike besluite van ander moet respekteer. Kyk na ’n paar daarvan. Ons het nie die gesag om ander te oordeel wanneer dit by persoonlike sake kom nie. (Lees Jakobus 4:12.) Jehovah is die regverdige Wetgewer en Regter. Net hy het die reg om standaarde en reëls vir die lewe vas te stel. So ons broers en susters is aanspreeklik teenoor Jehovah, nie teenoor ons nie (Rom. 14:10). Ons het nie die reg om die besluite van ander te oordeel of te kritiseer gebaseer op ons eie standaarde of opinies nie.c

11. Hoe kan ons tot die eenheid van die gemeente bydra? (Sien ook prent.)

11 Jehovah verwag dat sy aanbidders verenig moet wees, nie identies nie. Om die waarheid te sê, ons God is lief vir verskeidenheid! Ons sien bewyse hiervan in die skepping. Byvoorbeeld, geen twee sneeuvlokkies is dieselfde nie. En dink net aan mense. Van die meer as agtmiljard mense op die aarde lyk geen twee mense presies dieselfde nie en het niemand dieselfde persoonlikheid nie. Jehovah het ons gemaak om verskillend te wees. Hy wil nie hê dat ons klone van mekaar moet wees nie. Maar hy wil hê dat ons verenig moet wees. So eerder as om toe te laat dat ons verskille ons verdeel, bevorder ons vrede. Die eenheid van die gemeente is vir ons baie belangriker as ons opinies en voorkeure. – Rom. 14:19.

’n Groep Getuies van verskeie rasse en ouderdomme geniet ’n maaltyd saam. Party drink alkohol, terwyl ander nie drink nie. En party broers het baarde, terwyl ander nie het nie.

Jehovah het ons almal verskillend gemaak, maar hy wil hê dat ons verenig moet wees (Sien paragraaf 11)


HOE OM DIE BESKOUINGS VAN ANDER TE RESPEKTEER

12-13. Wat moet ons in gedagte hou as ons voel dat iemand “’n verkeerde rigting” begin inslaan het? (Galasiërs 6:1; sien ook die venster “Wanneer jy nie saamstem nie”.)

12 Wanneer ander besluite maak in verband met persoonlike sake. Vra jouself: ‘Begin die persoon “’n verkeerde rigting” inslaan, of is dit maar net ’n ander rigting?’ As hy ’n verkeerde rigting begin inslaan, een wat ’n Bybelbevel verbreek, vra jouself: ‘Het ek die Bybelse kwalifikasies wat nodig is om hom reg te help, of is iemand anders in ’n beter posisie om dit te doen?’ As jy gekwalifiseerd is om te help, probeer om op ’n sagmoedige manier met hom te redeneer. (Lees Galasiërs 6:1.) Maar jy sal dalk dikwels vind dat sy keuse maar net ’n ander rigting is – een wat nie met jou beskouing ooreenstem nie. As dit die geval is, moet jy hom nie bevraagteken of negatief oor sy besluit praat nie. Respekteer sy reg om self te besluit, en moet hom nie oordeel nie. – Rom. 14:​2-4.

13 Dink aan hierdie vergelyking: As jy saam met ’n vriend na ’n restaurant toe gaan, sou jy daarop aandring dat hy dieselfde kos moet bestel as wat jy bestel het? Nee. Jy sou sy reg respekteer om sy eie kos te kies. Om die waarheid te sê, wat hy kies om te eet, raak jou nie eintlik nie. En as die rolle omgekeerd was, sou jy heel waarskynlik nie wou hê dat jou vriend jou kos moet bestel gebaseer op sy voorkeure nie. Net so kan ons wys dat ons ander respekteer deur hulle toe te laat om persoonlike besluite te maak sonder om ons opinies op hulle af te dwing.

Wanneer jy nie saamstem nie

As jy nie met die besluit van ’n mede-Christen saamstem nie, probeer jouself die vrae hier onder vra. Jy vind dalk dat hierdie oefening jou onnodige bekommernisse sal spaar. – Gal. 6:5.

  • Verbreek sy besluit ’n Bybelbevel?

  • Watter uitwerking het sy agtergrond dalk op sy besluit?

  • Sal sy besluit hom regtig benadeel, of verbeel ek my maar net die ergste wat kan gebeur?

  • Watter goeie resultate sal sy besluit dalk hê?

  • Begin hy “’n verkeerde rigting” inslaan, of is dit maar net ’n ander rigting as wat ek sou neem?

  • As hy ’n verkeerde rigting begin inslaan, het ek die Bybelse kwalifikasies wat nodig is om hom te help om sy denke reg te stel?

14. Hoe kan jy vrede bevorder wanneer jy persoonlike besluite maak? (1 Korintiërs 8:​12, 13)

14 Wanneer jy besluite maak in verband met persoonlike sake. Jy kan eenheid bevorder deur jou bes te doen om ander nie aanstoot te gee nie. (Lees 1 Korintiërs 8:​12, 13.) Soms weet jy dalk dat ’n besluit wat jy op die punt is om te maak, “toelaatbaar,” dit wil sê aanvaarbaar, is. Maar sal dit “voordelig” wees as dit jou broer aanstoot sal gee? (1 Kor. 10:​23, 24).d In sulke gevalle moet jy dit oorweeg om jou voorkeure opsy te sit eerder as om op jou regte aan te dring (Rom. 15:1). Maar het ons nie so pas gesê dat ander ons besluite in verband met persoonlike sake moet respekteer nie? Ja. Hulle moet ons keuses respekteer net soos ons hulle keuses moet respekteer. Maar ons moet ook die Bybel se raad in Romeine 12:18 in gedagte hou, wat sê: “Sover dit van julle afhang, [moet julle] in vrede met alle mense . . . lewe.” Daarom doen ons alles wat ons redelik kan om vrede met ander te behou en vermy ons dit om hulle onnodig aanstoot te gee.

15. Hoe kan ouermanne bydra tot die eenheid van die gemeente? (1 Korintiërs 4:6)

15 Ouermanne wys dat hulle die besluite van ander respekteer. Ouermanne dra by tot die eenheid van die gemeente deur nie reëls te maak wanneer dit by persoonlike sake kom nie en deur nie “verder [te] gaan as die dinge wat geskryf is” in die Bybel nie. (Lees 1 Korintiërs 4:6.) Dit beteken ook dat hulle nie verder gaan as die Bybelse raad wat in ons publikasies geskryf is nie. En wanneer ’n mede-Christen hulp vra, maak ouermanne seker dat hulle nie net op hulle eie ondervinding staatmaak wanneer hulle raad gee nie. Hulle baseer hulle raad eerder op God se Woord. – Jes. 48:​17, 18.

16. Hoe kan ’n ouerman wys dat hy die besluite van die liggaam van ouermanne respekteer?

16 ’n Ouerman wys ook dat hy die gesamentlike besluite van die liggaam van ouermanne respekteer. Wanneer die liggaam van ouermanne vir heilige gees gebid het, Bybelse raad hersien en toegepas het en ’n besluit gemaak het, moet elke ouerman daardie besluit ondersteun selfs wanneer sy persoonlike opinie nie deur die meerderheid aanvaar word nie (Ef. 5:17). En ouermanne maak seker dat hulle nie meer lees in teokratiese riglyne as wat regtig daar is nie. Byvoorbeeld, ’n ouerman sal nie ’n sin in een van ons publikasies uit konteks haal in ’n poging om sy eie persoonlike beskouing te ondersteun nie.

17. Hoe vind ons daarby baat wanneer ons die besluite van ander respekteer?

17 Soos ons geleer het, is ons uniek. Elkeen van ons het sy eie opinies en voorkeure. Maar hierdie verskeidenheid is ’n goeie ding! Ons verskillende agtergronde en persoonlikhede maak die gemeente ’n lekker plek om te wees. So eerder as om toe te laat dat ons verskille ons verdeel, bevorder ons vrede. Ons probeer hard om ander nie aanstoot te gee nie. Ons respekteer die besluite van ander wanneer dit by persoonlike sake kom. Wanneer ons dit doen, sal ons moeite geseën word. Ons sal ’n gelukkige, verenigde gemeente hê. – Ps. 133:1; Matt. 5:9.

HOE KAN DIE VOLGENDE TEKSTE ONS HELP OM DIE BESKOUINGS EN BESLUITE VAN ANDER TE RESPEKTEER?

  • Jakobus 4:12

  • Galasiërs 6:1

  • 1 Korintiërs 4:6; 8:​12, 13

LIED 89 Luister en doen wat God sê

a Hierdie inligting is ook op susters van toepassing.

b ’n Aantal faktore moet oorweeg word wanneer ’n Christen moet besluit of hy ’n begrafnis of ’n troue in ’n kerk sal bywoon of nie. Sien die artikel “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Mei 2002.

c Soms moet ouermanne dié wat Bybelbevele verbreek, oordeel. Maar ouermanne hou in gedagte dat hulle vir Jehovah oordeel gebaseer op sy regverdige standaarde, nie hulle eie nie. – Vergelyk 2 Kronieke 19:6.

d Vir voorbeelde, sien die Geniet die lewe vir ewig!-boek, les 35 punt 5.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel