Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Mei bl. 20-25
  • Bly geestelik sterk terwyl jy addisionele opvoeding kry

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly geestelik sterk terwyl jy addisionele opvoeding kry
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • BLY BY ’N GESONDE GEESTELIKE ROETINE
  • ‘BESKERM JOU DENKVERMOË’
  • GEBRUIK JOU TYD WYSLIK
  • HOU AAN OM “MET WYSE PERSONE [TE] ASSOSIEER”
  • WEES VOORBEREID
  • Maak wyse besluite wanneer dit by addisionele opvoeding kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Hou aan om Jesus te volg ná jou doop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Mei bl. 20-25

27 JULIE–2 AUGUSTUS 2026

LIED 56 Leef die waarheid uit

Bly geestelik sterk terwyl jy addisionele opvoeding kry

“Net soos ons reeds vordering gemaak het, moet ons aanhou om ordelik op hierdie weg voort te gaan.” – FIL. 3:16.

FOKUS

Vier Bybelbeginsels wat jou sal help om geestelik sterk te bly as jy besluit om addisionele opvoeding te kry.

1-2. (a) Wat moet jy aanhou doen as jy besluit om addisionele opvoeding te kry? (b) Wat beteken dit om “[aan te hou] om ordelik op hierdie weg voort te gaan”? (Filippense 3:16)

PARTY van Jehovah se knegte het besluit om addisionele opvoeding te kry nadat hulle hulle skoolopleiding wat deur die regering vereis word, voltooi het. Hulle voel dalk dat sulke opvoeding hulle kan help om werk te vind wat hulle in hulle diens aan Jehovah sal onderhou. As jy besluit het om addisionele opvoeding te kry, hoe kan jy seker maak dat jy na aan Jehovah sal bly? (Jak. 4:8a). Jy het sekerlik toetse van geloof ondervind terwyl jy op skool was. Nou sal jy moet “aanhou om ordelik op hierdie weg voort te gaan” – dit wil sê aanhou om Jehovah getrou te dien, net soos jy tot nou toe al gedoen het. – Lees Filippense 3:16.

2 In die oorspronklike Bybeltaal is die uitdrukking wat vertaal word as “om ordelik op hierdie weg voort te gaan”, dikwels in ’n militêre sin gebruik om die verenigde manier waarop soldate marsjeer, te beskryf. As jy besluit om addisionele opvoeding te kry, sal jy moet aanhou om “voorwaarts te marsjeer” in Jehovah se diens en nie stilstaan of terugdeins nie. Hierdie artikel sal vier Bybelbeginsels bespreek wat jou sal help. Hierdie beginsels is nie vir jou iets nuuts nie. Jy het dit al in die verlede toegepas, en jy sal moet aanhou om dit toe te pas terwyl jy addisionele opvoeding ontvang en lank nadat jy jou studies voltooi het.

BLY BY ’N GESONDE GEESTELIKE ROETINE

3. Watter uitdaging sal jy dalk ondervind wanneer dit kom by jou daaglikse roetine terwyl jy addisionele opvoeding kry?

3 Die uitdaging. Addisionele opvoeding sal dalk meer druk op jou plaas wat jou daaglikse roetine sal affekteer. Omdat jy natuurlik goed wil doen met jou studies, begin jy dalk om jou diens aan Jehovah as minder belangrik te beskou. Jy begin dalk selfs om Christelike vergaderinge, deelname aan die bediening, persoonlike Bybelstudie en gebed af te skeep. – Op. 2:4.

4. Wat kan jou help om “baie [te hê] om in die werk van die Here” te doen? (1 Korintiërs 15:58)

4 Lees 1 Korintiërs 15:58. Net soos ’n fiets regop bly wanneer dit aan die beweeg is, sal jy geestelik regop bly as jy aan die beweeg is; as jy “baie het om in die werk van die Here”, in Jehovah se diens, te doen. Dit gaan nie net daaroor om tyd aan teokratiese aktiwiteite te spandeer nie. Dit gaan oor jou prioriteite. Beskou jouself eerstens as ’n kneg van Jehovah en tweedens as ’n student (Matt. 22:37). ’n Jong suster met die naam Samantha sê: “Ek het myself belowe dat ek met my studies sal ophou as my opvoeding ooit met my diens aan Jehovah inmeng.”

5. Wat kan jy doen om in Jehovah se diens besig te bly?

5 Wat jy kan doen voordat jy met jou addisionele opvoeding begin. Bly gefokus op jou prioriteite. Vra jouself: ‘Watter plan het ek in plek om gereeld vergaderinge by te woon en velddiens en persoonlike studie te doen?’ (Jos. 1:8; Matt. 28:​19, 20; Heb. 10:25). Dink ook terug: Hoe het jy gefokus gebly op jou prioriteite terwyl jy op skool was? As jy voel dat jy dinge beter kon hanteer, watter veranderinge kan jy nou maak? Wees vasbeslote om in Jehovah se diens besig te bly terwyl jy addisionele opvoeding kry. Skenk genoeg aandag aan jou opvoeding – maar nie ten koste van jou aanbidding nie.a – Matt. 6:24.

6. Waaraan kan jy dink terwyl jy selfondersoek doen? (Sien ook prent.)

6 Terwyl jy jou addisionele opvoeding kry, doen gereeld selfondersoek, dalk elke maand of so. Vra jouself: ‘Is ek nog steeds gefokus op my prioriteite?’ Wees op die uitkyk vir waarskuwingstekens – byvoorbeeld, ’n gewoonte om die vergaderinge mis te loop of laat op te daag, om aan jou skooltake te dink terwyl die vergadering aan die gang is of om vergaderinge slegs deur middel van video-verbinding by te woon. Kyk ook of jy nou minder gereeld bid en die Bybel lees en of jou bediening oppervlakkig word – ’n blote taak wat jy so gou as moontlik wil klaarkry. As jy sien dat sulke gewoontes begin ontwikkel, tree vinnig op. Moenie toelaat dat jou opvoeding keer dat jy Jehovah se diens eerste in jou lewe stel nie.

’n Broer soek tekste op terwyl hy ’n “Wagtoring”-artikel deeglik studeer.

Moenie toelaat dat jou opvoeding keer dat jy Jehovah se diens eerste in jou lewe stel nie (Sien paragraaf 6)


‘BESKERM JOU DENKVERMOË’

7. Watter uitdagings sal jy dalk ondervind wanneer dit kom by jou denke terwyl jy addisionele opvoeding kry?

7 Die uitdaging. Afhangende van die kursusse wat jy neem, sal jou addisionele opvoeding jou dalk blootstel aan die wêreld se “filosofie en leë bedrog”, insluitende ateïsme en evolusie (Kol. 2:8). Dit kan ook veroorsaak dat jy te veel op jouself vertrou. ’n Jong broer sê: “Ons is nie net ’n vaardigheid geleer nie; ons is geleer om op ’n sekere manier te dink, ’n manier wat dikwels nie in ooreenstemming met Jehovah se denke was nie. Byvoorbeeld, ons is geleer dat ons sukses in die lewe van onsself afhang. Hierdie soort denke het Jehovah uit die prentjie gelaat. Dit het dit vir my moeiliker gemaak om op hom te vertrou.”

8. Hoekom is dit belangrik om “jou denkvermoë [te] beskerm”? (Spreuke 5:​1, 2)

8 Lees Spreuke 5:​1, 2. Die Bybel sê dat jy “jou denkvermoë [moet] beskerm”. Om iets te beskerm, impliseer dat dit dalk aangeval sal word. Dit is beslis waar wanneer dit by jou denkvermoë kom (1 Pet. 5:8). Die wêreld se gees kan jou geloof ondermyn wanneer dit kom by sedes, die oorsprong van lewe of selfs die bestaan van God. Mense sê dalk dat hulle beskouing “hoër” denke is, maar dit is eintlik laer denke. Om die waarheid te sê, dit is “dwaasheid by God”. – 1 Kor. 3:​18-20.

9. Wat kan jy doen om jou denkvermoë te beskerm?

9 Wat jy kan doen voordat jy met jou addisionele opvoeding begin. Om jou denkvermoë te beskerm, maak seker dat jou Bybelse oortuigings sterk is voordat jy met jou addisionele opvoeding begin. Vra jouself vrae soos: ‘Hoekom glo ek in God? Hoe weet ek dat die Bybel sy Woord is? Wat oortuig my dat die Bybel se sedelike standaarde bo dié van die wêreld verhewe is?’ Dink ook terug: Jy is sekerlik aan die wêreld se denke blootgestel terwyl jy op skool was. Is jou geloof verswak deur die vertroue wat party in die evolusieteorie gehad het? Is jy maklik in die versoeking gebring deur die onrein lewenstyl van jou medestudente? As jy voel dat jy in die verlede beter kon doen, hoe kan jy nou jou oortuigings versterk? Wees vasbeslote om jou denkvermoë te beskerm terwyl jy addisionele opvoeding kry. – 2 Tim. 2:​16-18.b

10. Hoe kan jy aanhou om jou denkvermoë te beskerm?

10 Terwyl jy addisionele opvoeding kry, hou aan om gereeld selfondersoek te doen. Vra jouself: ‘Word ek deur die goddelose lewenstyle van dié rondom my beïnvloed? Kan ek deur die wêreld se leë filosofieë sien? Is ek heeltemal oortuig dat slegs God se Koninkryk die mens se probleme kan oplos?’ Om jou denkvermoë te beskerm, hou aan om ’n goeie student van God se Woord te wees. Bybelstudie en bepeinsing sal jou help om jou oortuiging dat jy die waarheid het, te versterk. – 1 Tim. 4:15.

GEBRUIK JOU TYD WYSLIK

11. Watter uitdaging sal jy dalk ondervind wanneer dit kom by hoe jy jou tyd gebruik terwyl jy addisionele opvoeding kry?

11 Die uitdaging. Addisionele opvoeding sal dalk baie van jou tyd verg, veral wanneer jy vir eksamens studeer of wanneer jy ’n sperdatum het om ’n projek te voltooi. As jy nie jou tyd wyslik gebruik nie, kan jy onnodige stres vir jouself veroorsaak en selfs aan uitbranding begin ly. Daarom is dit noodsaaklik dat jy na jou fisiese en emosionele gesondheid omsien.

12. Watter aktiwiteite sal jy moet insluit terwyl jy “die beste gebruik van [jou] tyd” maak? (Efesiërs 5:​15, 16)

12 Lees Efesiërs 5:​15, 16. Dit kan moeilik wees om “die beste gebruik van [jou] tyd” te maak. Jy het balans nodig. Byvoorbeeld, jy moet vir jou klasse studeer, maar dit is selfs belangriker om tyd te hê vir opbouende assosiasie met jou broers en susters en gesinslede (Ps. 133:1; Spr. 18:1). Jou geestelike behoeftes is die belangrikste prioriteit (Matt. 6:33). Jy het dalk ook gesinsverantwoordelikhede en ’n werk om na om te sien. Jy moet ook na jou gesondheid omsien deur genoeg te rus en te oefen (Pred. 4:6; 1 Tim. 4:8). Dit alles vereis dat jy jou tyd wyslik gebruik.

13. Wat kan jy doen om die beste gebruik van jou tyd te maak?

13 Wat jy kan doen voordat jy met jou addisionele opvoeding begin. Die Bybel sê dat beplanning tot sukses lei (Spr. 21:5). Met dit in gedagte moet jy ’n realistiese rooster in plek hê voordat jy met jou addisionele opvoeding begin. Om jou te help om dit te doen, dink terug: Hoe goed het jy jou tyd gebruik terwyl jy op skool was? As jy voel dat jy in die verlede beter kon doen, watter veranderinge kan jy nou maak? Wees vasbeslote om jou tyd te beheer eerder as om toe te laat dat tyd jou beheer.c

14. Watter vrae kan jou help om jouself te ondersoek?

14 Terwyl jy addisionele opvoeding kry, doen gereeld selfondersoek. Vra jouself: ‘Stel my rooster my in staat om genoeg rus en oefening te kry? Het ek nog steeds tyd om met my broers en susters te assosieer? Kan ek my huiswerk betyds klaarmaak? Indien nie, is dit omdat ek te veel het om te doen, of is dit omdat ek uitstel? Voel my vriende en gesin dat ek enige veranderinge moet maak?’ Of jy nou jou rooster moet aanpas of net beter selfdissipline moet ontwikkel, tree vinnig op. Jy kan selfs met ander praat wat weet hoe om hulle tyd goed te gebruik. – Spr. 11:14.

HOU AAN OM “MET WYSE PERSONE [TE] ASSOSIEER”

15. Watter uitdaging ondervind jy dalk terwyl jy addisionele opvoeding kry?

15 Die uitdaging. Terwyl jy addisionele opvoeding kry, probeer jou medestudente dalk om jou by hulle sosiale lewe in te sluit. Jy kom dalk in die versoeking om by hulle aan te sluit. Jy het tog baie in gemeen met hulle, veral as jy baie van jou tyd saam met hulle in die klas deurbring. Jy voel dalk selfs dat jy meer in gemeen het met jou klasmaats as met party van jou broers en susters. Maar jy moet versigtig wees. Al deel jy ’n klaskamer met jou medestudente, het jy nie dieselfde waardes as hulle nie. En hoe meer tyd jy saam met hulle deurbring, hoe meer kan hulle denke jou beïnvloed (1 Kor. 15:33). Michael, wat ’n vier jaar lange elektriese vakleerlingskap voltooi het, het gevind dat dit waar is. Hy sê: “Ek het elke week meer as 40 uur deurgebring saam met kollegas wie se beskouing van die teenoorgestelde geslag, keuse van musiek en gebruik van vuil taal my denke begin beïnvloed het.”

16. Wat leer Spreuke 13:20 ons?

16 Lees Spreuke 13:20. Die Bybel waarsku ons teen die gevare van slegte assosiasie. Maar “die een wat met wyse persone assosieer, sal wys word”. Die les is duidelik: Ons word beïnvloed deur dié met wie ons kies om tyd te spandeer; hulle kan ’n goeie of ’n slegte uitwerking op ons hê. Bly vriende met dié wat jou beste belange op die hart dra – dié wat Jehovah, soos jy, heelhartig dien. – Ps. 101:​6, 7; 119:63.

17. Wat kan jy doen om slegte assosiasie te vermy?

17 Wat jy kan doen voordat jy met jou addisionele opvoeding begin. Besluit watter perke om te stel wanneer dit by jou assosiasie kom. ’n Getuie met die naam Trenton sê: “Ek’s vriendelik met my medestudente, maar ek spandeer nie ná skool tyd saam met hulle nie. Ek beskou hulle as my klasmaats, nie as my goeie vriende nie.” Watter perke sal jy stel? Om daardie vraag te help beantwoord, dink terug: Watter perke het jy gestel terwyl jy op skool was? As jy voel dat jy in die verlede beter kon doen, watter veranderinge kan jy nou maak? Wees vasbeslote om aan te hou om “met wyse persone [te] assosieer” en om assosiasie te bly vermy met dié wat Jehovah nie liefhet nie.d

18. Watter selfondersoek sal voordelig wees? (Sien ook prent.)

18 Doen gereeld selfondersoek. Vra jouself: ‘Is ek besig om te na aan my klasmaats te word? Begin hulle gewoontes, hulle spraak en hulle gesindhede my spraak en denke affekteer? Hoe voel Jehovah oor my vriendskap met my klasmaats?’ (Ps. 1:1). As jy negatiewe veranderinge in jouself ontdek, tree vinnig op. Maak seker dat jou beste vriende dié is wat Jehovah liefhet soos jy hom liefhet. En moenie huiwer om vir jou klasmaats te preek nie. Jy is in ’n unieke posisie om hulle te help om oor die waarheid te leer.

’n Suster wys die pamflet “Keur God alle godsdienste goed?” vir haar klasmaat ná hulle skoonheidsklas.

Moenie huiwer om vir jou klasmaats te preek nie (Sien paragraaf 18)e


WEES VOORBEREID

19. Hoe kan jy jouself voorberei om geestelike uitdagings te oorkom terwyl jy addisionele opvoeding kry? Illustreer.

19 ’n Persoon wat op ’n staptog gaan, moet homself voorberei voordat hy begin. Al kan hy nie elke uitdaging wat hy sal ondervind, voorspel nie, is hy fiks, behoorlik aangetrek en het hy ’n doelwit – hy weet waarheen hy op pad is. Jy kan ’n soortgelyke benadering volg terwyl jy addisionele opvoeding kry. Jy moet jou geloof sterk hou, “die volle wapenrusting van God” dra en ’n doelwit hê – om nie dit wat die wêreld as “sukses” beskou, na te jaag nie, maar om Jehovah te eer in alles wat jy doen. – Ef. 6:​11-13; 1 Kor. 9:​26, 27; 10:31.

20. Hoe kan jy “[aanhou] om seker te maak dat [jy] in die geloof is”?

20 Die Bybel spoor ons aan: “Hou aan om seker te maak dat julle in die geloof is. Hou aan om julleself te toets” (2 Kor. 13:5). Jy kan dit doen terwyl jy addisionele opvoeding kry. Ondersoek jouself gereeld op die gebiede wat in hierdie artikel bespreek word. Bly jy by ’n gesonde geestelike roetine? Beskerm jy jou denke teen die sogenaamde wysheid van hierdie wêreld? Gebruik jy jou tyd wyslik? Kies jy vriende onder mede-Christene terwyl jy slegte assosiasie vermy? Dit is vrae wat jy jouself moet vra of jy nou op skool, by die werk of op enige ander plek is. Wees vasbeslote om jou geloof sterk te hou ongeag watter omstandighede jy ondervind. Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah jou pogings sal seën om dit te doen. – Spr. 3:​5, 6. 

VOORDAT JY ADDISIONELE OPVOEDING KRY, HOE KAN JY VASBESLOTE WEES OM . . .

  • by ’n gesonde geestelike roetine te bly?

  • “jou denkvermoë [te] beskerm”?

  • jou tyd wyslik te gebruik en slegte assosiasie te vermy?

LIED 87 Kom! Word verkwik

a Vir voorstelle oor hoe jy in Jehovah se diens besig kan bly, sien die artikel op jw.org met die titel “Jongmense vra . . . Wat moet ek doen nadat ek gedoop is? – Deel 1: Bly by jou geestelike roetine”.

b Vir voorstelle oor hoe jy jou denke kan beskerm, sien die artikel “Moenie deur ‘die wysheid van hierdie wêreld’ mislei word nie” in Die Wagtoring vir Mei 2019.

c Vir voorstelle oor hoe jy jou daaglikse aktiwiteite kan organiseer, sien die artikel op jw.org met die titel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek my tyd goed gebruik?”

d Vir voorstelle oor hoe jy wyse besluite kan maak wanneer dit by jou assosiasie kom, sien les 48, “Kies jou vriende wyslik”, in die Geniet die lewe vir ewig!-boek.

e BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl ’n suster ’n kursus doen om ’n haarkapper te word, preek sy op ’n taktvolle manier vir ’n klasmaat.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel