20-26 APRIL 2026
LIED 49 Maak Jehovah se hart bly
Maak doop jou doelwit
“Nou is die tyd van aanvaarding.” – 2 KOR. 6:2.
FOKUS
Dit is nou die tyd om ’n goeie vriendskap met Jehovah op te bou en gedoop te word.
1. (a) Wat is party van die voordele wat ons kry as ons gedoop word? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
HET jy jou aan Jehovah toegewy en daardie toewyding deur waterdoop gesimboliseer? Indien wel, het jy God vir ’n skoon gewete gevra (1 Pet. 3:21). Deur dit te doen, het jy ’n goeie voorbeeld gestel vir jonges en nuwes wat met jou gemeente assosieer. So jy het ’n uitstekende besluit gemaak! Maar sê nou jy is nog nie gedoop nie? Jy is beslis lief vir Jehovah en wil sy wil doen. Jy weet dat doop noodsaaklik is as jy wil hê dat Jehovah jou sondes moet vergewe en as jy sy goedkeuring wil verkry (Hand. 2:38-40). Maar jy hou dalk nog steeds terug. Wat kan help? In hierdie artikel sal ons bespreek (1) hoekom party terughou om gedoop te word, (2) hoekom dit wys is om die einde goed in gedagte te hou en (3) hoe jy daarby sal baat vind as jy die nodige veranderinge maak om so gou as moontlik gedoop te word.
HOEKOM PARTY TERUGHOU
2. Hoekom hou party terug om gedoop te word?
2 Party hou terug om gedoop te word omdat hulle bang is. Byvoorbeeld, al wil hulle Jehovah dien, is hulle bang dat hulle nooit goed genoeg sal wees om hom gelukkig te maak nie. As jy so voel, hersien Bybelverse wat jou kan oortuig dat Jehovah nie volmaaktheid verwag nie en dat hy tevrede is met jou aanbidding wanneer jy hom jou bes gee (Ps. 103:13, 14; Kol. 3:23). As jy bang is dat jy teëgestaan sal word, vra Jehovah om jou dieselfde vertroue te gee as wat die psalmis gehad het wat geskryf het: “Jehovah is aan my kant. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?” – Ps. 118:6.
3. Wat anders keer party dalk om gedoop te word? (Sien ook prent.)
3 Party wat Jehovah liefhet, stel dit uit om gedoop te word omdat hulle dink dat hulle te min kennis het. Maar hoe baie moet jy regtig weet? Kyk na ’n voorbeeld in die Bybel. Nadat daar ’n aardbewing was in die tronk waar die apostel Paulus en Silas aangehou is, het hulle vir die bewaarder en sy gesin gepreek. Die man en sy gesin het heel moontlik verstaan dat ’n wonderwerk plaasgevind het. En hulle het daardie nag baie geleer. As gevolg daarvan is hulle beweeg om “dadelik gedoop” te word (Hand. 16:25-33). As jy Jehovah ken, hom met jou hele hart liefhet, ’n basiese kennis van Bybelleringe het, oor jou sondes berou getoon het en vasbeslote is om volgens sy standaarde te lewe, is jy gereed om gedoop te word. – Mark. 12:30.
Paulus en Silas het vir die bewaarder en sy gesin gepreek, wat daartoe gelei het dat hulle “dadelik gedoop” is (Sien paragraaf 3)
4. Waarop fokus party wat veroorsaak dat hulle terughou om gedoop te word? (Sien ook prent.)
4 Party wat God gelukkig wil maak, fokus op die koste daarvan om dit te doen. Dit is natuurlik wys om aan die koste van enige besluit te dink (Luk. 14:27-30). Maar party is bekommerd oor die opofferings wat hulle sal moet maak om God te dien. Candace, wat die waarheid as ’n kind geleer het, het so gevoel toe sy die Bybel as ’n volwassene begin studeer het. Sy sê: “Ek het geweet wat ek vir Jehovah moes doen, maar ’n deel van my het teruggehou omdat ek die dinge in die wêreld geniet het. Ek het geweet dat dit moeilik sou wees om daardie dinge op te gee.” Ander is bekommerd oor die hoë standaard van gedrag vir dié wat gedoop word. Hulle is bekommerd dat hulle ná hulle doop ernstig sal sondig en uit die gemeente verwyder sal word. Wat kan jy doen as sulke bekommernisse jou terughou?
Party wat God gelukkig wil maak, is bekommerd oor die opofferings wat hulle sal moet maak om God te dien (Sien paragraaf 4)
5. Waarop moet ons fokus wanneer ons dit oorweeg om gedoop te word? (Matteus 13:44-46)
5 Wanneer ons iets wil koop, kyk ons nie net na wat dit kos nie, maar ook na die waarde daarvan. As die item baie waardevoller is as wat dit kos, sal ons dit waarskynlik dadelik koop. Net so moet ons, wanneer ons dit oorweeg om gedoop te word, nie net fokus op die koste van die veranderinge wat ons moet maak nie, maar op hoe waardevol ’n goeie verhouding met Jehovah is. Jesus het twee illustrasies gebruik om hierdie punt oor te dra. (Lees Matteus 13:44-46.) In elke illustrasie het ’n man gewilliglik al sy besittings verkoop sodat hy die waardevolle item kon koop wat hy gevind het. Jy het ook iets van groot waarde gevind – die waarheid oor die Koninkryk. As jy wonder of dit die moeite werd is om in ooreenstemming met die waarheid te lewe, dink mooi oor Jesus se illustrasies. Jy kan jouself vra: ‘Is ek regtig oortuig dat ek iets waardevols gevind het? Is my verhouding met Jehovah, die hoop wat hy my gegee het en die liefdevolle broederskap vir my kosbaar?’ Afhangende van jou antwoorde kan jy daarop fokus om jou waardering vir die waarheid op te bou of om te identifiseer wat jou terughou om gedoop te word.
6. Hoe kan ons ’n goeie hartstoestand ontwikkel?
6 In sy illustrasie van die saaier het Jesus hartstoestande beskryf wat kan keer dat ’n persoon geestelike vordering maak. Maar Jesus het ook gewys dat party die Koninkryksboodskap “met ’n opregte en goeie hart” sal hoor en daarop sal reageer (Luk. 8:5-15). As jy bekommerd is dat jou hart verdeeld is, moenie opgee nie. Met God se hulp kan jy “’n nuwe hart [verkry]”, een wat op sy leiding sal reageer. Vra Jehovah in gebed om jou te help om jou hart te versag sodat Koninkrykswaarheid kan floreer. – Eseg. 18:31; 36:26.
7-8. Hoekom vorder party jongmense nie tot doop nie? (Sien ook prent.)
7 Party jongmense wat lief is vir Jehovah, vorder nie tot doop nie as gevolg van ander se invloed. Byvoorbeeld, party onderwysers probeer studente dalk kry om party lewenstyle as aanvaarbaar te beskou, al beskou Jehovah dit as verkeerd. Maar sulke raad kan baie slegte gevolge hê (Ps. 1:1, 2; Spr. 7:1-5). Jy kan hierdie gevaar vermy deur die voorbeeld te volg van die psalmis wat vir Jehovah gesê het: “Ek het meer insig as al my onderrigters omdat ek oor u herinneringe nadink.” – Ps. 119:99.
8 Verslae wys dat party Getuie-ouers hulle kinders terughou om gedoop te word. Die ouers fokus te veel op hulle kinders se opvoeding en loopbaan, of die ouers help hulle kinders net nie om geestelike doelwitte te stel nie. Sê nou jy voel dat jou ouers jou meer kan help om geestelike vordering te maak? Hoekom bespreek jy dit nie met hulle nie? Wees verseker dat jou ouderdom jou nie hoef te keer om ’n sterk vriendskap met Jehovah op te bou nie. – Spr. 20:11.
Hoekom bespreek jy nie die onderwerp van doop met jou ouers nie? (Sien paragraaf 8)
9. Hoekom stel party dit dalk uit om gedoop te word?
9 Party wat kwalifiseer om gedoop te word, stel dalk hierdie stap uit as gevolg van groepsdruk, en dalk wag hulle selfs vir ’n spesifieke persoon om dieselfde stap te neem. Hulle hoop byvoorbeeld dalk dat hulle eendag op dieselfde dag as ’n vriend of ’n geliefde gedoop sal word. Jy kan natuurlik gedoop word op dieselfde tyd as ander vir wie jy omgee. Maar moet sulke faktore jou regtig nou terughou? Onthou, jou toewyding aan God is ’n persoonlike belofte. Jou doop moenie afhang van wat iemand anders doen nie. – Rom. 14:12.
HOU DIE EINDE GOED IN GEDAGTE
10. Hoekom stel party dit dalk uit om geestelike vordering te maak?
10 Buiten die redes wat hierbo genoem word, stel party dit dalk uit om geestelike vordering te maak omdat hulle dink dat daar nog baie tyd is voordat die einde kom. Maar is dit wys? Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Julle moet julle . . . gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle nie verwag nie.” – Luk. 12:40.
11. Volgens Psalm 119:60, hoe voel ons oor Jehovah se gebooie wanneer ons hom leer ken?
11 Ons toewyding aan Jehovah moet deur liefde gemotiveer word. Hoe beter ons ons liefdevolle God leer ken, hoe meer word ons beweeg om sy gebooie lief te hê en om dit te volg sodra ons daarvan leer. (Lees Psalm 119:60.) Die dissipel Jakobus het nog ’n baie belangrike rede beklemtoon om Jehovah se gebooie dadelik te gehoorsaam: Nie een van ons weet wat môre inhou nie. Ons het dalk nie eers nog ’n dag “om te doen wat reg is” nie, en daarom moet ons nou reageer op wat ons weet. – Jak. 4:13-17.
12. Wat kan ons leer uit Jesus se illustrasie van die wingerd?
12 Wat van Jesus se illustrasie van die wingerd? Het hy nie geleer dat party net een uur sou werk en nog steeds dieselfde betaling sou ontvang as dié wat die hele dag gewerk het nie? Dit is waar. Maar hoekom het dié wat net een uur gewerk het, nie gouer begin nie? Hulle het gesê: “Omdat niemand ons gehuur het nie.” Daardie werkers was nie lui nie; hulle sou die hele dag gewerk het, maar niemand het hulle gehuur nie. Die oomblik toe hulle geroep is, het hulle aan die werk gespring (Matt. 20:1-16). Vandag het Jesus ons geroep om sy dissipels te wees en om die Koninkrykswerk te doen. Sodra hy ons roep, moet ons daarop reageer.
13. Wat kan ons leer by die vrou van Lot?
13 Enige iemand wat dit uitstel om geestelike vordering te maak, sal dalk ontdek dat dit te moeilik is om op die nippertjie veranderinge te maak om God gelukkig te maak. Jesus het dit geweet en het sy dissipels gewaarsku: “Dink aan die vrou van Lot” (Luk. 17:31-35). Sy was deeglik bewus van die feit dat God se oordeel oor Sodom en Gomorra baie naby is, maar dit lyk asof sy nog nie gereed was om haar besittings agter te laat nie (Gen. 19:23-26). Haar ondervinding herinner ons ook daaraan dat die deur van redding nie vir altyd oop sal bly nie. Op God se vasgestelde tyd sal daardie deur toegemaak word en permanent gesluit word. – Luk. 13:24, 25.
14. Watter uitwerking moet Bybelprofesieë oor die einde op jou hê?
14 Wêreldgebeure vervul elke dag Bybelprofesieë oor die einde van hierdie wêreld. Al word jy nog nie direk deur party van daardie gebeure geraak nie, moet dit jou gevoel van dringendheid om tot doop te vorder, laat toeneem wanneer jy sien wat op die een plek ná die ander gebeur. Kyk na ’n voorbeeld in die eerste eeu. Die apostel Petrus het Christene aangemoedig om “waaksaam”, of “wakker”, te wees omdat “die einde van alles . . . naby gekom” het (1 Pet. 4:7; vtn.). “Die einde” het blykbaar verwys na die einde van die Joodse stelsel van dinge. Die Christene aan wie Petrus geskryf het, het ver van Jerusalem af gebly, en daarom sou hulle nie direk geraak word deur die vernietiging van daardie stad nie (1 Pet. 1:1). Maar sodra hulle gesien het hoe daardie profesie vervul word, sou hulle vertroue in al Jehovah se ander beloftes versterk word. Net so, wanneer jy sien hoe profesieë vervul word wat verband hou met die komende einde, sal jy beweeg word om waaksaam te wees deur vordering te maak om jou doelwit om gedoop te word, te bereik.
15. Hoe moet ons die tydsberekening van Jehovah se dag beskou? (2 Petrus 3:10-13)
15 In sy tweede geïnspireerde brief het Petrus verduidelik hoe ons die tydsberekening van Jehovah se komende dag van oordeel moet beskou. Vir Christene in die eerste eeu was daardie dag nog ver in die toekoms, maar Petrus het vir hulle gesê om daardie dag “goed in gedagte [te] hou”, of “’n sterk begeerte daarvoor” te hê. (Lees 2 Petrus 3:10-13; vtn.) Ons hou Jehovah se dag goed in gedagte as ons altyd bewus is van die feit dat dit binnekort kom. En ons doen ons bes om gereed te wees vir wanneer dit kom deur seker te maak dat ons ‘gedrag heilig is en deur dade van toegewydheid aan God te verrig’. Dink aan hoe gelukkig dit Jehovah sal maak om te sien dat jy “dade van toegewydheid aan God” verrig! Dit sal hom selfs gelukkiger maak om te sien hoe jy jou aan hom toewy en gedoop word.
DIE VOORDELE WAT DIT INHOU OM NOU OP TE TREE
16. Wanneer is dit die beste tyd om tot doop te vorder? (2 Korintiërs 6:1, 2) (Sien ook prente.)
16 Dit is nou die beste tyd om tot doop te vorder. (Lees 2 Korintiërs 6:1, 2.) Die Etiopiese eunug wat Filippus ontmoet het, het besef dat hy dadelik moet optree. Die oomblik toe hy die goeie nuus verstaan en die geleentheid het om gedoop te word, het hy nie gedink nie: ‘Ek sal graag eers meer oor die goeie nuus wil leer. Daar sal nog water verder langs die pad wees.’ Hy het eerder vir Filippus gevra: “Wat keer my om gedoop te word?” (Hand. 8:26, 27, 35-39). Wat ’n goeie voorbeeld! Nadat die eunug gedoop is, het hy “vreugdevol verder gereis”.
Leer ’n waardevolle les by die Etiopiese eunug: Dit is nou die beste tyd om tot doop te vorder (Sien paragraaf 16)a
17. Waarvan kan ons seker wees?
17 As jy terughou om gedoop te word, kan jy daarvan seker wees dat Jehovah gereed is om jou te help om ’n goeie verhouding met hom te hê (Rom. 2:4). Hy kan jou help om enige vrese te oorkom, sowel as bekommernisse of invloede van buite wat dalk jou vordering keer. Sodra jy ’n goeie gewete met God verkry deur middel van jou doop, sal jy heel moontlik vind dat “die dinge wat agter is”, nie meer vir jou saak maak nie (Fil. 3:8, 13). Jy kan dan uitsien na “die dinge wat voor is”, dit wil sê die vervulling van Jehovah se beloftes aan dié wat hulle aan hom toewy en gedoop word. – Hand. 3:19.
LIED 38 Hy maak jou sterk
a BESKRYWING VAN PRENT: Net soos die Etiopiese eunug vir Filippus gesê het dat hy gedoop wil word, gaan ’n Bybelstudent na die ouermanne toe om te sê dat sy graag gedoop wil word.