27 APRIL–3 MEI 2026
LIED 99 Duisende broers
Is jy voorbereid vir uitdagings ná jou doop?
“Laat my voetstappe op u spore bly.” – PS. 17:5.
FOKUS
Hoe pas gedoopte Christene vir moontlike uitdagings in die waarheid kan voorberei.
1-2. Watter stappe kan ons neem om voorbereid te wees vir uitdagings wat dalk in die waarheid sal opkom? Gee ’n voorbeeld.
ONS verwag om moeilike tye in Satan se wêreld te ondervind. Jesus was realisties en het sy volgelinge gewaarsku: “Struikelblokke is natuurlik onvermydelik” (Matt. 18:7). Met dit in gedagte moet ons voorbereid wees om uitdagings te ondervind, en dit sal dalk insluit dat ons probleme met medegelowiges sal hê.
2 Dink hieraan. Jehovah se volk word gereeld aangemoedig om vir natuurrampe voor te berei. Hoe doen ons dit? Eerstens, ons identifiseer watter rampe dalk in ons gebied kan plaasvind. Dit is veral belangrik om dit te doen as ons nuut in die gebied is. Nadat ons die potensiële rampe geïdentifiseer het, moet ons beplan wat ons kan doen om vir elkeen gereed te wees (Spr. 21:5). Net so kan ons potensiële uitdagings in die waarheid identifiseer en nou daarvoor voorberei sodat ons gereed sal wees as dit in ons lewe opkom. Op daardie manier sal daardie uitdagings nie so ’n groot impak op ons hê nie en sal dit nie ons verhouding met Jehovah beskadig nie (Ps. 17:5). So, kom ons bespreek drie moontlike uitdagings en hoe ons vir elkeen kan voorberei.a
’N BROER OF ’N SUSTER GEE JOU AANSTOOT
3. Watter uitdaging kan ons in die gemeente ondervind?
3 Onthou jy hoe jy gevoel het toe jy ’n vergadering vir die eerste keer bygewoon het en die liefde onder Jehovah se volk gesien het? Was jy oortuig dat jy die waarheid gevind het? (Joh. 13:35; Kol. 3:12). Dit is hoe Blancab gevoel het. Maar sy het ’n onverwagse ondervinding gehad nadat sy gedoop is. Sy sê: “’n Suster was baie lelik met my. Ek het ook opgelet dat sy negatief van ander gepraat het. Ek het nie dit verwag nie; ek het geleer dat Jehovah se Getuies probeer om vreedsaam en liefdevol te wees.” Jou broers en susters werk natuurlik hard om hulle Christelike eienskappe te verfyn, maar Jehovah se volk is nie volmaak nie (Ef. 4:23, 24; 1 Joh. 1:8). So op die een of ander stadium sal een van hulle waarskynlik iets sê of doen wat jou seermaak (Jak. 3:8). Ongelukkig het sulke uitdagings al veroorsaak dat party opgehou het om Jehovah te dien.
4. Wat kan ons help om gereed te wees wanneer ’n broer of ’n suster ons aanstoot gee? (Efesiërs 4:32)
4 Wat kan jy nou doen om gereed te wees wanneer ’n broer of ’n suster jou seermaak of aanstoot gee? Maak dit ’n gewoonte om die raad toe te pas in Efesiërs 4:32. (Lees.) As jy jou bes doen om vriendelik en liefdevol te bly, sal jy beslis onnodige konflik met ander vermy. Maak dit jou doelwit om ander vryelik te vergewe vir die foute wat hulle maak. Wat kan jou help om dit te doen? Dink aan hoe gereeld jy Jehovah vra om jou foute te vergewe en hoe vryelik hy dit doen (Matt. 6:12). Wanneer jy dink aan hoe baie Jehovah jou al vergewe het, sal dit vir jou makliker wees om ander te vergewe.
5. Watter Bybelbeginsel kan ons help wanneer iemand ons aanstoot gee? (Spreuke 19:11) (Sien ook prente.)
5 Lees Spreuke 19:11. Die Bybel sê dat insigc kan keer dat ons gou kwaad word wanneer iemand ons aanstoot gee. Hierdie beginsel het Rima gehelp, wat al ’n paar jaar lank gedoop is. Sy sê: “Wanneer broers en susters iets doen wat my seermaak of aanstoot gee, dink ek eers aan Spreuke 19:11. Ek dink aan hulle omstandighede en agtergrond, en ek probeer dink aan hoekom hulle dalk so opgetree het. Ek probeer ook om saam met hulle velddiens te doen. Dit help my om hulle beter te leer ken.” Dit is goeie raad. Jy kan jou broers en susters nou beter leer ken. Hoe beter jy hulle verstaan, hoe makliker sal dit dalk vir jou wees om hulle te vergewe as hulle jou ooit seermaak.
As jy ’n misverstand met ’n geestelike broer of suster het, probeer om saam velddiens te doen (Sien paragraaf 5)
6. Wat kan ons help om positiewe verhoudings in die gemeente te geniet?
6 Wat kan jy doen om positiewe verhoudings in die gemeente te geniet? Terwyl jy jou broers en susters leer ken, maak seker dat jy op hulle goeie eienskappe fokus. (Vergelyk Spreuke 10:12; Rom. 12:10; Fil. 2:2, 3.) Kyk hoe dit ’n pas gedoopte broer met die naam Mark gehelp het. Toe hy meer tyd met die broers en susters in sy gemeente begin spandeer het, het hy begin bewus word van hulle onvolmaakthede. Wat het Mark gehelp om nie gestruikel te word deur die foute wat hy in hulle gesien het nie? Hy sê: “Ek het besef dat ek op klein foute fokus, en dit is niks in vergelyking met die ernstige sondes wat so algemeen in die wêreld is nie. Dit het vir my duidelik geword dat ek nie op die onvolmaakthede van my medegelowiges moet fokus nie. Daarom het ek op hulle goeie eienskappe begin fokus.” As jy dieselfde doen, sal jy positiewe verhoudings in die gemeente geniet.
JY BEGIN VERLANG NA WAT JY AGTERGELAAT HET
7. Wat kan veroorsaak dat ons begin verlang na wat ons agtergelaat het?
7 Toe jy die waarheid geleer het, het jy sekerlik verlig gevoel om Satan se goddelose wêreld agter te laat. Jy dink dalk: ‘Hoe kan enige iemand ooit daarna verlang?’ Maar wanneer jy moeilike tye ondervind, kan jy dalk begin dink aan – en selfs verlang na – party van die dinge wat jy opgegee het toe jy Jehovah begin dien het. (Vergelyk Numeri 11:4-6.) Byvoorbeeld, party broers het dalk besluit om ’n werk op te gee wat hulle baie bekend gemaak het, maar te veel van hulle tyd geneem het. Ander het dalk goeie vriende gehad wat hulle verlaat het toe hulle die Bybel begin studeer het. Of ander het dalk ’n verslawing oorkom wat hulle, al is dit onrein, geniet het. Hoe hartseer sou dit tog wees as ’n Christen toelaat dat enige iets uit sy verlede veroorsaak dat hy van Jehovah af wegdryf! Wat kan jy nou doen sodat jy, ongeag wat op jou pad kom, nooit sal terugkeer na wat jy agtergelaat het nie?
8. Wat leer ons uit die voorbeeld van Abraham en Sara?
8 Die Bybel bevat voorbeelde van getroue aanbidders wat kon begin verlang het na wat hulle agtergelaat het. Abraham en Sara was byvoorbeeld gehoorsaam aan Jehovah se bevel en het die versterkte stad Ur verlaat om in tente te gaan woon (Heb. 11:8, 9). Hulle het dalk natuurlik van tyd tot tyd gedink aan die gemaklike lewe wat hulle in Ur gehad het. Maar “as hulle bly dink het aan” of as hulle met verlange na hulle verlede teruggekyk het, kon hulle in die versoeking gekom het om na daardie gemaklike lewe terug te keer. Hulle het eerder op die toekoms gefokus. – Heb. 11:15, 16.
9. Hoe het die apostel Paulus die dinge beskou wat hy agtergelaat het? (Filippense 3:7, 8, 13)
9 Die apostel Paulus het veranderinge in sy lewe gemaak om Jehovah te dien. Voordat hy ’n Christen geword het, het hy die Joodse Wet onder die bekende onderrigter Gamaliël studeer (Hand. 22:3). Paulus kon ’n baie belangrike Joodse godsdiensleier geword het (Gal. 1:13, 14). Maar toe hy die goeie nuus aanvaar het, het hy dit alles agtergelaat. Was die lewe altyd maklik nadat hy ’n Christen geword het? Nee. Hy is geslaan, in die tronk gegooi en deur sy eie mense gehaat (2 Kor. 11:23-26). As hy net op daardie moeilike tye gefokus het en sy huidige lewe met sy vorige lewe vergelyk het, kon hy tot die slotsom gekom het dat sy lewe beter was voordat hy ’n Christen geword het. Paulus het eerder op die groot voorreg gefokus wat hy op die oomblik gehad het om Christus Jesus te dien met ’n wonderlike toekoms wat op hom wag. Paulus was oortuig dat sulke seëninge baie waardevoller was as enige opofferinge wat hy gemaak het. – Lees Filippense 3:7, 8, 13.
10. Waaroor moet ons gereeld nadink? (Markus 10:29, 30) (Sien ook prente.)
10 Wat is die les? As jy begin dink aan die dinge wat jy opgegee het om ’n Christen te word, moet jy seker maak dat jy ook onthou hoekom jy dit opgegee het (Pred. 7:10). Vergelyk wat jy agtergelaat het met die seëninge wat jy verkry het toe jy in die waarheid gekom het. Jy het ’n goeie vriendskap met die Soewerein van die heelal (Spr. 3:32). Jy is omring deur ’n liefdevolle geestelike familie. (Lees Markus 10:29, 30.) En jy het ’n wonderlike toekoms voor jou! (Jes. 65:21-23). As jy gereeld nadink oor die seëninge wat jy ontvang omdat jy Jehovah dien, is die kans kleiner dat jy sal verlang na wat jy agtergelaat het.
In plaas daarvan om met verlange terug te kyk na die dinge wat jy agtergelaat het, geniet die kosbare bediening wat God jou gegee het (Sien paragraaf 10)e
11. Wat leer jy uit Rosemary se ondervinding?
11 ’n Suster met die naam Rosemary is in haar 50’s gedoop. Kyk wat sy gedoen het om nie te verlang na wat sy agtergelaat het nie. Sy sê: “Aan die begin het ek Kersfees gemis omdat dit altyd ’n lekker tyd saam met familie was. Ek het dit geniet om vir my geliefdes geskenke te gee. Ek het daarvan gehou om die kinders rondom die Kersboom te hê en om te sien hoe hulle gesiggies ophelder wanneer hulle hulle geskenke oopmaak.” Wat het haar gehelp? Rosemary sê: “Ek het ’n manier gevind om Kersfees te vervang. Ek nooi my familie elke jaar op ’n ander dag, en dan gee ek vir hulle geskenke en verduidelik ek hoekom ek hulle waardeer.” Rosemary het ook nog ’n uitdaging ondervind. Sy sê: “Toe ek die waarheid geleer het, het my ou vriende my verlaat. Soms het ek hulle gemis en eensaam gevoel.”d Wat het haar gehelp? Sy het met verskillende susters planne begin maak om saam te gaan velddiens doen. Sy sê: “Dit het my gehelp om nuwe vriende te maak wat ek liefhet en waardeer.” Wat kan jy by haar leer? Jy verlang dalk na iets wat jou gelukkig gemaak het voordat jy die waarheid geleer het, maar jy kan dit vervang met iets baie beters en wat jou nou regtig gelukkig kan maak (Fil. 4:8, 9). En onthou: Met Jehovah kry jy altyd meer as wat jy verloor.
ANDER VERLAAT JEHOVAH
12. Watter uitdaging in die gemeente kan veral moeilik wees?
12 Toe jy ’n Getuie word, het jy waarskynlik verlig gevoel om ’n korrupte wêreld agter te laat en ’n geestelike en sedelike oase binne te gaan (Jes. 65:14). En tog hoor jy dalk soms dat iemand in die gemeente ernstig gesondig het. Daardie persoon word dalk selfs uit die gemeente verwyder (1 Kor. 5:13). Kyk hoe so ’n situasie ’n suster met die naam Samar geaffekteer het. Sy sê: “Kort ná my doop het ’n ouerman ernstig gesondig en is hy uit die gemeente verwyder. Dit het my amper laat struikel omdat ek nie kon glo dat dit vir ’n ouerman moontlik is om teen Jehovah en die gemeente te sondig nie.” Ons moet natuurlik altyd die vertroue hê dat ons broers en susters Jehovah liefhet en getrou aan hom wil bly (1 Kor. 13:4, 7). Maar ons moet realisties wees; elke jaar word party uit die gemeente verwyder. En dit kan veral ’n uitdaging wees as iemand na aan jou of iemand vir wie jy baie respek het, besluit om Jehovah te verlaat.
13. Hoe kan ons onsself nou versterk sodat ons nie gestruikel word as iemand na aan ons Jehovah verlaat nie?
13 Hoe kan jy jouself nou voorberei sodat jy nie gestruikel word as iemand na aan jou Jehovah verlaat nie? Hou aan om jou persoonlike verhouding met Jehovah te versterk (Jak. 4:8). Moenie toelaat dat jou verhouding met God afhang van iemand anders se getrouheid nie. Byvoorbeeld, al aanbid ons dikwels saam as ’n gesin en as ’n gemeente, moet ons ook ons eie persoonlike roetine van gebed en Bybellees hê. – Ps. 1:2; 62:8.
14. Wat leer ons uit die apostel Petrus se voorbeeld? (Johannes 6:66-68)
14 Ons kan ook ’n les leer uit die manier hoe die apostel Petrus gereageer het toe baie dissipels opgehou het om Jesus te volg omdat Jesus iets gesê het wat hulle nie verstaan het nie. Petrus het dalk ook nie verstaan wat Jesus gesê het nie. Maar kyk wat hy gesê het volgens Johannes 6:66-68. (Lees.) Eerder as om te fokus op wat ander gedoen het, het Petrus gefokus op die woorde van waarheid wat hy van Jesus ontvang het. As gevolg daarvan het dit nie Petrus laat struikel nie. Net so verander die dinge wat ander vandag doen, nie die kosbare waarheid wat jy met die hulp van God se organisasie gevind het nie. Hou vas aan daardie waarheid! Samar, wat vroeër genoem is, sê: “Ek herinner myself altyd aan die feit dat die verkeerde dade van een individu nie die hele gemeente of organisasie verteenwoordig nie; dit verteenwoordig ook nie Jehovah se eienskappe nie.”
15. Wat leer jy uit Emily se ondervinding?
15 Kyk na die voorbeeld van Emily. Net ’n week nadat Emily gedoop is, het haar ma die gesin verlaat en is sy uit die gemeente verwyder. Emily sê: “Ek het nooit gedink dat dit sou gebeur nie. Dit is die grootste uitdaging wat ek al ondervind het, en ek mis my ma baie.” Wat het Emily gehelp? Sy sê: “Ek is nie alleen nie. Ek het nie net die ondersteuning van my pa nie, maar ook van ander in die gemeente, wat vir my soos familie is. Almal het probleme. Daarom is dit belangrik om na aan mekaar te bly en mekaar aan te moedig” (1 Pet. 5:9). Jy hoef nie vir ’n uitdaging te wag voordat jy jou verhouding met jou broers en susters versterk nie. Hou aan om dit nou te doen. Dan is die kans kleiner dat jy eensaam sal voel, ongeag wat gebeur.
16. Wat moet ons onthou? (Sien ook prent.)
16 Onthou ook dat Jehovah dié dissiplineer wat hy liefhet (Heb. 12:6). Hy wil hê dat almal wat uit die gemeente verwyder is, moet terugkeer (2 Pet. 3:9). So as iemand na aan jou uit die gemeente verwyder word, kan jy seker wees dat die ouermanne alles sal doen wat hulle kan om hom te help om na Jehovah terug te keer. – 2 Tim. 2:24, 25.
As iemand na aan jou uit die gemeente verwyder word, onthou dat die ouermanne hom wil help om na Jehovah terug te keer (Sien paragraaf 16)f
17. Waarvan kan ons seker wees?
17 Ons het net ’n paar van die uitdagings bespreek wat jy dalk ná jou doop sal ondervind. Ja, party lyk dalk baie moeilik, maar jy hoef nie bang te wees nie. Daar is baie wat jy kan doen om daarvoor voor te berei. En moet nooit vergeet dat jy die grootste hulp het wat beskikbaar is nie: Jehovah God. Hy het jou alreeds gehelp, en hy wil jou vir ewig help! (1 Pet. 5:10). Hy sal jou altyd die krag en die volharding gee wat jy nodig het om enige moeilike tyd te hanteer. As jy aanhou om Jehovah toe te laat om jou te help, is daar geen uitdaging wat jou ooit van hom kan skei nie! – Ps. 119:165; Rom. 8:38, 39.
LIED 154 Liefde faal nooit
a Al is hierdie artikel vir pas gedoopte Getuies, kan ons almal by hierdie inligting baat vind.
b Name is verander.
c Insig sluit die vermoë in om dieper as die oppervlak te kyk. Hierdie eienskap kan ons help om te verstaan hoekom ’n ander persoon op ’n sekere manier gepraat of opgetree het.
d Ons almal – nie net dié wat Bybelstudies hou nie – moet Bybelstudente en pasgedooptes help om in die gemeente welkom te voel. Sien paragraaf 15 en 16 van die artikel “Hoe die gemeente Bybelstudente kan help om tot doop te vorder” in Die Wagtoring vir Maart 2021.
e BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl ’n suster velddiens doen, sien sy ’n sportspan wat ’n wedstryd speel, en sy dink aan haar eie dae as ’n atleet. Later preek die suster vir ’n vroulike atleet, dalk ’n vorige spanmaat.
f BESKRYWING VAN PRENT: Twee ouermanne besoek ’n man wat uit die gemeente verwyder is en moedig hom aan om na Jehovah terug te keer.