13-19 APRIL 2026
LIED 52 Christelike toewyding
Wat dit beteken om gedoop te word
“Maak dissipels . . . , en doop hulle.”– MATT. 28:19.
FOKUS
Wat dit beteken om gedoop te word, die belangrikheid daarvan en wat dit behels.
1. Wat wys dat doop ’n baie belangrike Bybellering is?
ONS is baie bly wanneer nuwes gedoop word! Die heel eerste Christene het dieselfde soort vreugde gehad toe hulle gesien het hoe baie mense by Pinkster 33 HJ gedoop word. Daardie vergadering het ’n doop ingesluit, sowel as ’n toespraak wat die baie belangrike lering oor doop verduidelik het (Hand. 2:38, 40, 41). Die apostel Paulus het geskryf dat “die basiese leringe oor die Christus” “die leringe oor verskillende dope” insluit (Heb. 6:1, 2). Al lyk die onderwerp van doop dalk eenvoudig, moet ons dit goed verstaan. Hoekom?
2. Hoekom moet ons ’n deeglike begrip van doop hê?
2 Net soos ’n goeie fondasie kan help om ’n huis stewig te maak, kan ’n deeglike begrip van doop ons help om sterk geloof te hê. Ons het hierdie begrip nodig of ons nou besig is om tot doop te vorder of al baie jare lank gedoop is. So in hierdie artikel sal ons hierdie vrae beantwoord: Wat beteken dit om gedoop te word? Wat behels Christelike doop? En hoekom moet ons gedoop word in die naam van die Vader, van die Seun en van die heilige gees?
WAT JOU DOOP BETEKEN
3. Wat simboliseer doop?
3 Wanneer jy gedoop word, wys jy vir ander dat jy die waarheid oor Jehovah God en Christus Jesus aanvaar het, oor jou sondes berou getoon het, veranderinge in jou lewe gemaak het om Jehovah te dien, Jesus as God se middel tot redding erken het en in gebed vir God gesê het dat jy die opregte begeerte het om Sy wil te doen saam met Sy organisasie. Wanneer jy daardie belofte, of toewyding, maak en gedoop word, begin jy ’n lewenswyse wat tot die ewige lewe lei.
4. Wat simboliseer dit om heeltemal onder water gedompel te word? (Sien ook prent.)
4 Wanneer jy gedoop word, word jy heeltemal onder water gedompel en dan daaruit opgelig,a asof jy begrawe en toe opgewek is. (Vergelyk Kolossense 2:12.) Doop illustreer die dramatiese veranderinge wat jy in jou lewe gemaak het. Hoe? Wanneer jy onder die water gaan, wys jy dat jy jou vorige lewenswyse beëindig het. Wanneer jy uit die water opkom, begin jy jou nuwe lewe wat om God se wil draai.
Wanneer jy gedoop word, beëindig jy jou vorige lewenswyse en begin jy jou nuwe lewe wat om God se wil draai (Sien paragraaf 4)
5. Hoe vergelyk die werk wat jy doen om vir jou doop voor te berei met die werk wat Noag gedoen het om die ark te bou? (1 Petrus 3:18-21)
5 Lees 1 Petrus 3:18-21. In ’n sekere sin kan ons die werk wat jy doen om vir jou doop voor te berei, vergelyk met die werk wat Noag gedoen het om die ark te bou. As jy maar onlangs oor Jehovah begin leer het, lyk die werk wat voorlê dalk oorweldigend, miskien selfs so massief soos om Noag se ark te bou. Is al daardie moeite regtig nodig? Dit was beslis vir Noag. God het self die ark ontwerp, en Noag moes daardie ontwerp deeglik volg om die Vloed te oorleef. Met geloof en God se ondersteuning was Noag gehoorsaam en het hy die ark gebou. Soos Noag kan jy suksesvol ‘alles doen wat God beveel het’. – Gen. 6:22.
6. In watter sin kan doop jou red?
6 In vers 21 het die apostel Petrus geskryf dat doop jou red. Om net onder die water gedompel te word, beteken natuurlik nie redding nie; en dit was ook nie op die een of ander manier jou sondes weg nie. Net die bloed van Jesus kan jou van jou sondes reinig (1 Joh. 1:7). Maar doop is ’n noodsaaklike deel daarvan om alles te doen wat God beveel het en dien as jou “versoek tot God vir ’n goeie gewete”. Jehovah sal graag vir jou gee waarvoor jy gevra het. In daardie sin red doop jou, of lei dit jou na redding.
WAT CHRISTELIKE DOOP BEHELS
7. Wat gebeur wanneer ’n persoon gedoop word?
7 Behalwe die vereiste dat iemand heeltemal onder water gedompel moet word, gee die Bybel nie baie besonderhede oor doop nie. Maar die Skrif help ons wel om te weet wat gepas is. Byvoorbeeld, Bybelbeginsels help doopkandidate om te weet hoe om aan te trek en help ook toeskouers om te weet hoe om hulle te gedra (1 Kor. 14:40; 1 Tim. 2:9). Vandag word onderdompeling gewoonlik deur ’n ouerman gedoen, en ons vermy dit om dié wat hierdie voorreg het, spesiale aandag te gee (1 Kor. 1:14, 15). ’n Doop is geldig of dit nou voor ’n groot gehoor is of nie. – Hand. 8:36.
8. Watter vrae word doopkandidate gevra, en hoekom? (Handelinge 2:38-42) (Sien ook prent.)
8 Die Bybel wys dat ons ‘vir redding ons geloof in die openbaar bekend moet maak’, dit wil sê ons geloof moet uitspreek (Rom. 10:9, 10). Ons doen dit nie net wanneer ons vir ander preek nie, maar veral op die dag dat ons gedoop word. Daarom word doopkandidate twee vrae gevra. Die eerste een is: “Het jy berou oor jou sondes, jou aan Jehovah toegewy en Jesus Christus as Sy middel tot redding aanvaar?” Hierdie vraag fokus op hoe iemand vir doop voorberei het, en dit is soortgelyk aan die aanmoediging wat Petrus vir die skare op Pinkster gegee het. Die tweede vraag is: “Verstaan jy dat jou doop jou as een van Jehovah se Getuies identifiseer en dat dit jou deel maak van Jehovah se organisasie?” Hierdie vraag herinner ons aan die feit dat ons ons toewyding naleef deur ons samewerking te gee aan die riglyne wat deur middel van Jehovah se organisasie voorsien word en deur God saam met ons mede-Christene te dien, net soos die eerste-eeuse dissipels gedoen het. (Lees Handelinge 2:38-42.) Dié wat heelhartig ja op albei vrae kan antwoord, kwalifiseer vir doop.
Jou doop sluit in dat jy ‘vir redding jou geloof in die openbaar bekend moet maak’ (Sien paragraaf 8)d
9. Watter stappe moet almal neem om God se guns te verkry?
9 Selfs voordat jy die waarheid begin leer het, het jy dalk ’n redelik goeie lewe gelei en nooit enige ernstige sondes gepleeg nie. Of jy is dalk deur Christenouers grootgemaak, wat jou gehelp het om Jehovah lief te hê. Moet jy nog steeds berou toon en gedoop word om God se guns te verkry? Ja. Ongeag wat ons agtergrond is, ons moet almal erken dat ons sonde, wat ons van God vervreem het, geërf het (Ps. 51:5). Maar wanneer ons Jehovah leer ken, kies ons om sy wil bo ons eie te stel. Wanneer ons dit doen, kan ons berou toon oor ons vorige lewenswyse en omdraai – ’n lewenswyse begin volg wat ons Vader in die hemel gelukkig maak. Dan kan ons gedoop word. – Hand. 3:19.
10. Wat moet jy doen as jy voorheen as ’n lid van ’n ander godsdiens gedoop is?
10 As jy voorheen as ’n lid van ’n ander godsdiens gedoop is, moet jy nog steeds as een van Jehovah se Getuies gedoop word. Hoekom? Omdat jy nie toe die waarheid oor Jehovah God en Jesus goed genoeg verstaan het nie. En al het jy jouself in gebed aan God toegewy, was jou belofte nie op ’n akkurate begrip van sy wil gebaseer nie. Toe die apostel Paulus mans in Efese ontmoet het wat voorheen gedoop is sonder dat hulle Christelike leringe verstaan het, het hy gereël dat hulle weer gedoop word (Hand. 19:1-5).b Net so is doop vandag net geldig as dit op ’n akkurate kennis van God se wil gebaseer is.
“IN DIE NAAM VAN DIE VADER EN VAN DIE SEUN EN VAN DIE HEILIGE GEES”
11. Wat beteken dit om “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop te word? (Matteus 28:18-20)
11 Jesus het beveel dat nuwe dissipels “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop moet word. (Lees Matteus 28:18-20.) Wat het hy bedoel? In die Bybel verwys die woord vir “naam” dikwels na iemand se reputasie. Dit kan ook na die posisie en die gesag verwys wat deur ’n naam verteenwoordig word. So wanneer ons iets “in die naam van” iemand of iets doen, erken ons die gesag agter daardie naam. Kyk hoe jy die posisie en die gesag van die Vader en van die Seun sowel as die rol van God se heilige gees kan erken.
12. Hoe word ons in die naam van die Vader gedoop? (Openbaring 4:11) (Sien ook prent.)
12 In die naam van die Vader. Ons erken Jehovah as ons hemelse Vader, of Lewegewer. Hy is die almagtige God, die Skepper van alle dinge. (Lees Openbaring 4:11.) Ons erken hom as die Hoorder van gebed, en ons gebruik sy persoonlike naam vryelik en op ’n respekvolle manier wanneer ons tot hom bid en met ander oor hom praat (Ps. 65:2). Maar meer is daarby betrokke om in die naam van die Vader gedoop te word. Petrus se luisteraars by Pinkster het alreeds van Jehovah geweet, maar hulle moes hom nou erken as die liefdevolle Voorsiener van ewige redding deur middel van Jesus Christus. – Rom. 5:8.
Ná jou doop, hou aan om die posisie en die gesag van die Vader te erken (Sien paragraaf 12)
13. Hoe word ons in die naam van die Seun gedoop? (Sien ook prent.)
13 In die naam van die Seun. Ons erken Jesus as die eniggebore Seun van God. Jesus is “die weg”, die enigste een deur wie ons ’n goeie verhouding met Jehovah kan hê (Joh. 14:6). Jesus is ook ons Verlosser, die een wat vir ons gesterf het sodat ons lewe kan verkry. Daardie kennis beweeg ons om sy voorbeeld elke dag van ons lewe te volg, nie net wanneer ons gedoop word nie (1 Joh. 2:6). Daarom preek ons ywerig, soos hy gedoen het, en laat ons nie toe dat enige iets ons keer nie (Luk. 4:43). Ons is selfs bereid om vervolging te verduur omdat ons God lojaal dien (2 Tim. 3:12). Ons respekteer Jesus as die “hoof van die gemeente”, en daarom onderwerp ons ons gewillig aan dié wat hy vertrou om die leiding te neem en vir sy volgelinge te sorg. – Ef. 4:8, 11, 12; 5:23.
Ná jou doop, hou aan om die posisie en die gesag van die Seun te erken (Sien paragraaf 13)
14. (a) Hoe word ons in die naam van die heilige gees gedoop? (Sien ook prent.) (b) Watter bykomende dope ondergaan die gesalfdes? (Sien die venster “Dope wat die gesalfdes ondergaan”.)
14 In die naam van die heilige gees. Ons aanvaar die waarheid oor die heilige gees. Dit is nie ’n persoon of deel van ’n Drie-eenheid nie, maar God se werkende krag. Ons erken dat heilige gees die profete en die Bybelskrywers gelei het, en daarom lees ons die Bybel gereeld en volg ons die leringe daarin (2 Pet. 1:20, 21). En ons vermy dit om ernstige sondes te pleeg, want sulke gedrag kan nie net keer dat God se gees ons bereik nie, maar ook die vloei van sy gees in die gemeente verhinder. – Ef. 4:30.
Ná jou doop, hou aan om die rol van die heilige gees te erken (Sien paragraaf 14)
15. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
15 As jy alreeds ’n gedoopte Christen is, wees vasbeslote om al die aspekte van “die leringe oor verskillende dope”c te verstaan en om die belofte na te kom wat jy aan Jehovah gemaak het by jou toewyding en doop. Maar wat as jy nog nie ’n gedoopte Christen is nie? Is daar iets wat jou terughou? Die volgende artikel sal bespreek hoe jy kan aanhou vordering maak sodat jy gedoop kan word.
LIED 161 Ek leef om u te dien!
a Die Griekse woord ba’pti-sma wat met “doop” vertaal word, beteken “onderdompeling”. So doop verwys na wanneer ’n persoon heeltemal onder water gedompel word en nie net met water besprinkel word soos party godsdienste leer nie.
b Daardie mans in Efese het “die doop van Johannes” ondergaan (Hand. 19:3). Johannes die Doper het die Jode aangespoor om oor hulle sondes teen die Wet van Moses berou te toon, en Johannes het dié wat berou getoon het, gedoop (Mark. 1:4, 5). Maar Johannes se doop was nie meer geldig toe die Wet tot ’n einde gekom het nie. Van toe af keer God net “een doop” goed wat tot redding lei. – Ef. 4:5.
c Sien op jw.org en in JW Library® die artikel “Wat is doop?” in die reeks “Antwoorde op Bybelvrae”.
d BESKRYWING VAN PRENT: By ’n byeenkoms staan doopkandidate om hulle geloof in die openbaar bekend te maak.