30 MAART–5 APRIL 2026
LIED 76 Hoe laat dit jou voel?
Dra die waarheid op ’n aangename manier oor
“Jehovah, die God van waarheid.” – PS. 31:5.
FOKUS
Hoe om die waarheid te praat op ’n manier wat die meeste voordele sal inhou.
1. Wat moet ons doen om deel van Jehovah se familie te wees?
WANNEER ons ’n medeaanbidder van Jehovah vir die eerste keer ontmoet, is een van die vrae wat ons mekaar gewoonlik vra: “Hoe het jy die waarheid geleer?” Party beantwoord daardie vraag deur te sê dat hulle “in die waarheid grootgemaak is”. Ander sê dalk dat hulle onlangs “in die waarheid gekom het”. Ons antwoord op sulke maniere omdat die waarheid van God se Woord ons hele lewenswyse beïnvloed. Hoekom? Omdat ons weet dat ons slegs deel van Jehovah se familie kan wees as ons bewys dat ons die waarheid liefhet en daarvolgens lewe. Dit sluit in dat ons eerlik is wanneer dit kom by ons woorde en dade. – Ps. 15:1-3.
2. (a) Watter reputasie het Jesus gehad? (b) Watter uitwerking sou die waarhede wat Jesus geleer het, op mense hê?
2 Jesus het altyd die waarheid gepraat. Sy vyande het erken dat hy eerlik was selfs wanneer dit wat hy gesê het, ongewild was (Matt. 22:16). Jesus het die volgende gesê oor die uitwerking van die waarhede wat hy aan ander geleer het: “Ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak: ’n man teen sy pa, en ’n dogter teen haar ma, en ’n skoondogter teen haar skoonma” (Matt. 10:35). Jesus wou nie hê dat mense negatief moes reageer op die boodskap wat hy en sy volgelinge verkondig het nie, maar hy was realisties (Matt. 23:37). Hy het geweet dat sy boodskap die wêreld in twee groepe sou verdeel – dié wat Bybelwaarheid liefhet en dié wat dit nie liefhet nie. – 2 Tess. 2:9-11.
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Soos Jesus probeer ons om eerlik te wees, om altyd die waarheid te praat, al beteken dit dat ons ongewild sal wees. En ons verkondig en leer Bybelwaarheid aan ander, al ontstel ons woorde dalk party mense. Beteken dit dat ons glad nie hoef om te gee oor hoe en wanneer ons die waarheid praat nie? Beslis nie! In hierdie artikel sal ons eers ’n basiese vraag beantwoord: Waar kan ons die waarheid vind? Dan sal ons ’n verwante vraag beantwoord: Hoekom, hoe en wanneer moet ons die waarheid praat? Die antwoorde op daardie vrae sal ons help om ons vermoë te verbeter om die waarheid op ’n aangename manier oor te dra, dit wil sê met takt en op die regte tyd.
WAAR KAN ONS DIE WAARHEID VIND?
4. Hoekom kan ons sê dat Jehovah die Bron van waarheid is?
4 Jehovah is die Bron van waarheid. Alles wat hy sê, is waarheid. Byvoorbeeld, die dinge wat hy sê oor wat reg en wat verkeerd is, is waar (Ps. 19:9; 119:142, 151). Alles wat hy oor die toekoms sê, word waar (Jes. 55:10, 11). Hy breek nooit ’n belofte nie (Num. 23:19). Om die waarheid te sê, dit is onmoontlik vir Jehovah om te lieg! (Heb. 6:18). So dit maak sin dat Jehovah bekend staan as “die God van waarheid”. – Ps. 31:5.
5. Hoekom is dit nie moeilik om “die God van waarheid” te vind nie? Verduidelik. (Handelinge 17:27)
5 Ten spyte van wat party mense sê, is dit nie moeilik om Jehovah, “die God van waarheid”, te vind nie. Ons is omring deur bewyse dat hy bestaan (Rom. 1:20). Toe die apostel Paulus met ’n groep Griekse geleerdes in Atene praat, het hy gesê dat God wil hê dat ons “hom [moet] vind” en dat hy “nie ver van elkeen van ons af [is] nie”. (Lees Handelinge 17:27.) Om die waarheid te sê, Jehovah trek nederige mense wat na die waarheid soek, na hom toe. – Joh. 6:44.
6. Wat is ’n paar van die waarhede in die Bybel, en hoekom waardeer jy die feit dat jy daardie waarhede ken?
6 Een van die maniere hoe ons Jehovah kan vind, is deur die Bybel te studeer. Die mans wat daardie boek geskryf het, is deur God se heilige gees geïnspireer (2 Pet. 1:20, 21). So alles in die Bybel is die waarheid, en ons kan dit vertrou. Byvoorbeeld, ons kan vertrou wat dit sê oor die oorsprong van ons heelal en van lewe op die aarde (Gen. 1:1, 26). Ons kan glo wat dit sê oor hoekom ons almal sondig en hoekom so baie mense ly en sterf (Rom. 5:12; 6:23). Ons kan dit heeltemal vertrou wanneer dit sê dat Jehovah, deur middel van sy Seun, al die skade ongedaan sal maak wat Satan, “die vader van die leuen”, veroorsaak het (Joh. 8:44; Rom. 16:20). En ons kan die Bybel se belofte vertrou dat Jesus die goddeloses sal vernietig, die dooies sal opwek, die aarde sal herstel en ons sal help om volmaak te word (Joh. 11:25, 26; 1 Joh. 3:8). Wat ’n voorreg het Jehovah ons gegee! Hy het ons die waarheid geleer, en hy gee ons die geleentheid om dit aan ander te leer. – Matt. 28:19, 20.
HOEKOM ONS DIE WAARHEID PRAAT
7-8. Maak die rede hoekom ons die waarheid praat saak? Gee ’n voorbeeld. (Markus 3:11, 12) (Sien ook prente.)
7 Soos vroeër genoem is, moet ons eerlik wees as ons deel van Jehovah se familie wil wees. Maar om hom gelukkig te maak, moet ons meer doen as om net eerlik te wees. Die rede hoekom ons die waarheid praat, maak vir Jehovah saak. Kyk na wat gedurende Jesus se bediening op die aarde gebeur het. (Lees Markus 3:11, 12.) Terwyl Jesus naby die See van Galilea gepreek het, het groot skares rondom hom bymekaargekom. Onder hulle was ’n paar mense in wie daar demone was, wat voor Jesus neergeval en uitgeroep het: “U is die Seun van God.” Hoekom het die demone die waarheid oor Jesus gepraat? Hulle doelwit was dalk om die vertroue te wen van dié wat na hulle geluister het en uiteindelik te keer dat hulle Jehovah dien. Die demone het aanvanklik die waarheid gepraat, maar hulle redes was selfsugtig. Hulle het Jesus nie geflous of hom gelukkig gemaak nie. Om die waarheid te sê, Jesus het die demone beveel om nie oor hom te preek nie.
8 Watter les kan ons uit hierdie verslag leer? Die redes hoekom ons die waarheid praat, maak vir Jehovah saak. Dit is baie belangrik dat ons die waarheid vir die regte rede aan ander leer en dat ons enige eer wat ons ontvang, nie aan onsself nie, maar aan Jehovah rig! – Matt. 5:16; vergelyk Handelinge 14:12-15.
Wanneer jy die waarheid aan ander leer, op wie vestig jy die aandag? (Sien paragraaf 7-8)
9. Wat moet ons vermy om te doen, en hoekom?
9 Kyk na nog ’n situasie waarin ons dit moet vermy om eer vir onsself te soek. Sê nou ’n verantwoordelike broer sê vir ons iets vertrouliks, en dan deel ons daardie inligting met ander. As die mense vir wie ons dit vertel het, later uitvind dat dit wat ons gesê het, waar is, sal hulle dalk beïndruk wees met wat ons weet en aanneem dat ons dikwels vertroulike inligting weet. Dit kan veroorsaak dat hulle dink dat ons belangrik is, maar dit sal nie God ’n beter indruk van ons gee nie (Spr. 11:13). Hoekom nie? Omdat ons nie net iets vertrouliks oorvertel het nie, maar ook die waarheid vir ’n verkeerde rede oorgedra het.
HOE OM DIE WAARHEID TE PRAAT
10. Hoe sou jy ‘aangename’ woorde definieer? (Kolossense 4:6)
10 Lees Kolossense 4:6. Die apostel Paulus het Christene in Kolosse daaraan herinner dat hulle woorde “altyd aangenaam [moet] wees”. Wat beteken dit? Die uitdrukking in die oorspronklike taal dra die idee oor dat ons woorde nie net dié wat na ons luister, moet bevoordeel nie, maar dat dit ook liefdevol en vriendelik moet wees.
11-12. Hoekom moet ons versigtig wees wanneer ons die waarheid aan ander leer? Illustreer. (Sien ook prente.)
11 Ons moet Paulus se raad toepas en aangename woorde gebruik wanneer ons die waarheid aan ander leer. Die Bybel vergelyk self die waarhede wat dit bevat met ’n skerp swaard wat ons siel en gees kan skei. Met ander woorde, dit kan ons ware innerlike gevoelens en motiewe openbaar (Heb. 4:12). Maar as ons nie die Bybel op ’n vaardige manier gebruik nie, kan ons mense onnodig aanstoot gee en onnodige stryery veroorsaak. Hoe kan dit gebeur?
12 Stel jou hierdie toneel voor. In ons bediening ontmoet ons ’n opregte man wat gereeld tot beelde bid, en hy geniet dit om Kersfees en Paasfees saam met sy gesin te vier. Ons kan die Bybel gebruik om vir die man te wys hoe dwaas dit is om tot lewelose beelde te bid en om aan hom te bewys dat Kersfees en Paasfees nie ooreenstem met wat die Bybel leer nie (Jes. 44:14-20; 2 Kor. 6:14-17). As ons dit gedurende ons heel eerste gesprek met hom doen, sou ons die waarheid praat, maar ons sou nie God se Woord op ’n vaardige manier gebruik nie.
Hoe kan jy die waarheid op ’n vaardige manier aan ander leer? (Sien paragraaf 11-12)a
13. Hoe kan ons ons woorde smaaklik maak met sout?
13 Paulus het ook gesê dat sy lesers dit wat hulle sê, smaaklik moet maak met sout. Hy het nie bedoel dat ons die waarheid moet probeer verbloem of wegsteek nie. Hy het ons eerder aangemoedig om woorde te gebruik wat “smaaklik gemaak” is, sodat ons die waarheid op ’n manier sal aanbied wat lekker “proe” vir dié wat na ons luister (Job 12:11). Dit kan ’n uitdaging wees. In die geval van letterlike kos neem ons dalk aan dat iets wat vir ons lekker proe, ook vir ander lekker sal proe. Net so dink ons dalk dat almal van die manier hou hoe ons praat. Maar dit is nie die geval nie. Byvoorbeeld, mense uit party kulturele agtergronde is dalk geneig om hulle opinie op ’n direkte manier oor te dra, selfs wanneer hulle met mense praat wat ouer as hulle is. Dié uit ander kulture vind dalk daardie soort kommunikasie onaanvaarbaar, en dit gee hulle dalk selfs aanstoot. Paulus het gesê dat ons moet weet hoe ons “elkeen behoort te antwoord”. Dit impliseer dat ons dit wat ons sê, smaaklik moet maak, nie volgens ons eie smaak of kulturele agtergrond nie, maar volgens die smaak van dié wat na ons luister.
WANNEER OM DIE WAARHEID TE PRAAT
14. Het Jesus sy dissipels alles geleer wat hy geweet het terwyl hy op die aarde was? Verduidelik.
14 Jesus het altyd op ’n aangename manier met sy volgelinge gepraat, en hy het hulle liefdevol baie dinge geleer (Mark. 6:34). Maar daar was nog baie wat hulle moes leer. Jesus het nie probeer om hulle alles te leer wat hy geweet het nie. Hy het hulle beperkings in ag geneem. Hy het verstaan dat dit nie vir hulle die regte tyd was om party waarhede te leer nie. Om die waarheid te sê, hy het gesê dat hulle nie daardie waarhede sou kon dra nie (Joh. 16:12). Wat leer dit ons?
15. Moet ons ons Bybelstudente alles wat ons weet, op een slag leer? Verduidelik. (Spreuke 25:11) (Sien ook prent.)
15 Jesus se voorbeeld wys dat die feit dat ons die waarheid ken, nie beteken dat ons alles wat ons weet, op een slag aan ander moet leer nie. Hoe kan ons Jesus se voorbeeld volg? Ons moet mense se omstandighede in ag neem. Dink weer aan die man wat dit geniet om Kersfees en Paasfees saam met sy gesin te vier. Ons weet dat hierdie vieringe by valse godsdiens ontstaan het en nie deur God goedgekeur word nie. Maar stel jou voor dat jy die Bybel ’n week of twee voor Kersfees met die man begin studeer het. Ons woorde sou nie aangenaam wees as ons vir hom wys wat die Bybel oor sulke vieringe sê en verwag dat hy onmiddellik moet ophou om Kersfees te vier nie. Dit is so dat party studente alles wat hulle uit die Bybel leer, dalk vinnig sal toepas. Maar ander het dalk meer tyd nodig om hulle denke en dade aan te pas. Ons kan ons Bybelstudente help om vordering te maak as ons vir hulle vertel wat hulle moet weet wanneer hulle dit moet hoor, dit wil sê wanneer hulle dit kan dra. – Lees Spreuke 25:11.
Volg Jesus se voorbeeld wanneer jy besluit wanneer om die waarheid te praat en hoeveel om te sê (Sien paragraaf 15)
16. Hoe kan ons ons Bybelstudente help om voort te gaan “om volgens die weg van die waarheid te lewe”?
16 Min dinge maak ons gelukkiger as om ander te help om die waarheid oor Jehovah te leer. Ons kan hulle help om voort te gaan “om volgens die weg van die waarheid te lewe” as ons die volgende doen: Hou aan om ’n goeie voorbeeld vir hulle te stel (3 Joh. 3, 4). Maak seker dat jou lewenswyse bewys dat jy die beloftes wat in God se Woord gevind word, glo. Praat die waarheid vir die regte rede. Gebruik aangename, liefdevolle, vriendelike woorde op die regte tyd wanneer jy die waarheid aan ander leer. En rig enige eer wat jy ontvang aan Jehovah. As jy dit doen, sal jy bewys dat jy aan Jehovah, die God van waarheid, behoort.
LIED 160 “Goeie nuus”!
a BESKRYWING VAN PRENT: In die eerste foto sien ’n broer die huisbewoner se Kersboom en wys hy vir hom ’n artikel oor die feit dat Kersfees by valse godsdiens ontstaan het. In die tweede foto wys die broer vir die huisbewoner ’n artikel wat praktiese voorstelle vir pa’s het. Watter een van die twee benaderings sal effektiewer wees?