23-29 MAART 2026
LIED 18 Dankbaar vir die losprys
Hoe sal jy op die losprys reageer?
“Die liefde wat die Christus het, spoor ons aan.” – 2 KOR. 5:14.
FOKUS
Hoe ons almal kan wys dat ons die losprys waardeer.
1-2. Wat moet Jesus se losprysoffer ons aanspoor om te doen, en hoekom? (2 Korintiërs 5:14, 15) (Sien ook prent.)
AS JY gered is nadat jy vasgekeer was onder ’n gebou wat ineengestort het, sou jy nie voel dat jy in die skuld is by die persoon wat jou lewe gered het nie? Al is ander ook gered, sou jy heel moontlik jou waardering persoonlik wou betoon om te wys dat jy nie jou redding as vanselfsprekend aanvaar nie.
2 Soos die vorige artikel verduidelik het, kan ons nie onsself van die gevolge van oorgeërfde sonde red nie. Maar Jesus se losprysoffer kan ons red deur die volgende te voorsien: (1) vergifnis vir die sondes wat ons pleeg, (2) die hoop om heeltemal genees te word van ons sondige toestand en (3) versoening met God. As gevolg daarvan het ons die hoop om vir ewig in Jehovah se nuwe wêreld te lewe. Die losprys beklemtoon regtig Jesus se liefde vir mense – ’n liefde wat hy gehad het lank voordat hy as ’n volmaakte mens gebore is (Spr. 8:30, 31). Die apostel Paulus het die volgende geskryf: “Die liefde wat die Christus het, spoor ons aan.” (Lees 2 Korintiërs 5:14, 15.) Dit beteken dat Jesus se liefde ons moet beweeg om op die een of ander manier te reageer om te wys dat ons nie sy losprysoffer as vanselfsprekend aanvaar nie.
Of ons nou uit ’n gebou wat ineengestort het of van ons oorgeërfde sonde gered word, ons is in die skuld by die een wat ons red (Sien paragraaf 1-2)
3. Hoekom sal elke persoon dalk verskillend op die losprys reageer?
3 Op watter manier sal die liefdevolle voorsiening van die losprys jou aanspoor? Jou antwoord verskil dalk van dié van ’n ander persoon. Om te illustreer hoekom, stel jou voor dat drie mense op die punt staan om na dieselfde bestemming te reis, maar elke persoon begin vanuit ’n ander stad. Die roetes wat hulle neem, sal verskil. Op ’n soortgelyke manier hang die “roete” wat jy neem om uit te kom by jou bestemming, of doelwit – dit wil sê om te wys dat jy die losprys waardeer – af van waar jy nou in jou verhouding met Jehovah staan. Met dit in gedagte sal hierdie artikel met drie groepe mense praat: (1) Bybelstudente, (2) gedoopte Christene en (3) skape wat van die kudde afgedwaal het.
BYBELSTUDENTE
4. Op watter manier word Bybelstudente deur Jehovah raakgesien?
4 As jy besig is om die Bybel te studeer, dink hieraan: Jou reaksie op die goeie nuus wys dat jy onder dié is wat Jehovah trek en met wie hy ’n verhouding wil hê (Joh. 6:44; Hand. 13:48). “Jehovah is die Een wat harte ondersoek.” Dit beteken dat hy jou pogings om omtrent hom te leer, raaksien, en hy is bly om jou vordering te sien terwyl jy veranderinge maak om volgens sy standaarde te lewe (Spr. 17:3; 27:11). Die losprys maak dit vir jou moontlik om ’n hegte vriendskap met Jehovah te hê (Rom. 5:10, 11). Moet dit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.
5. Hoe kan Bybelstudente die raad in Filippense 3:16 toepas?
5 As ’n Bybelstudent, hoe kan jy met waardering op die losprys reageer? Een manier is om die apostel Paulus se raad aan die Filippense te volg: “Net soos ons reeds vordering gemaak het, moet ons aanhou om ordelik op hierdie weg voort te gaan” (Fil. 3:16). ’n Ander Bybelvertaling stel dit so: “Ons moet voortgaan in die rigting waarin ons nou gaan.” In ooreenstemming met daardie raad, moenie toelaat dat enige iets jou vordering keer op die pad na die lewe nie. – Matt. 7:14; Luk. 9:62.
6. Wat kan Bybelstudente doen as hulle dit moeilik vind om veranderinge te maak? (Deuteronomium 30:11-14) (Sien ook prent.)
6 Sê nou jy vind dit moeilik om ’n Bybellering wat jy onlangs geleer het, te aanvaar? Doen navorsing oor daardie lering, en vra Jehovah om jou te help om dit beter te verstaan (Ps. 86:11). As jy dit nog steeds moeilik vind om die lering te verstaan, sit dit vir nou opsy – maar moenie ophou om die Bybel te studeer nie. Sê nou jy vind dit moeilik om op te hou met ’n gebruik wat die Bybel veroordeel? Onthou dat Jehovah onvolmaakte mense nooit vra om iets onmoontliks te doen nie. Jy kan volgens sy standaarde lewe. (Lees Deuteronomium 30:11-14.) En Jehovah belowe om jou te help (Jes. 41:10, 13; 1 Kor. 10:13). So moenie opgee nie. Eerder as om te fokus op die uitdaging wat jy ondervind, fokus op jou waardering vir alles wat Jehovah voorsien het – insluitende die losprysreëling. Soos jou liefde vir Jehovah groei, sal jy vind dat “sy gebooie nie swaar [is] nie”. – 1 Joh. 5:3.a
Jehovah vra ons nooit om iets onmoontliks te doen nie. Hy sal ons help om volgens sy standaarde te lewe (Sien paragraaf 6)
7. Waaroor kan jongmense wat in die waarheid grootgemaak word, nadink?
7 Wat van julle jongmense wat in die waarheid grootgemaak word? Julle is ook Bybelstudente. Om die waarheid te sê, julle is julle ouers se belangrikste Bybelstudente. Die Bybel sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jak. 4:8; 1 Kron. 28:9). Wanneer jy die inisiatief neem om nader aan Jehovah te kom, reageer hy deur nader aan jou te kom. Jehovah beskou jou nie net as deel van ’n groep nie. Hy trek elke individu – insluitende elke individu wat in die waarheid grootgemaak word. Wat het dit vir jou moontlik gemaak om ’n persoonlike vriendskap met Jehovah te hê? Die losprys – iets wat jy nooit as vanselfsprekend moet aanvaar nie (Rom. 5:1, 2). So voordat jy hierdie jaar se Gedenkmaal bywoon, hoekom dink jy nie na oor wat Jesus se dood vir jou beteken nie? Laat daardie gedagte jou aanspoor om hard te werk om jou volgende geestelike doelwit – wat dit ook al is – te bereik om te wys dat jy die losprys wat Jehovah deur sy Seun voorsien het, waardeer.b
GEDOOPTE CHRISTENE
8. Hoe het gedoopte Christene gewys dat hulle geloof het in die losprys?
8 As jy ’n gedoopte Christen is, het jy reeds op ’n hele paar maniere gewys dat jy geloof het in die losprys. Byvoorbeeld, jy het stappe geneem om na aan Jehovah te wees en om volgens sy standaarde te lewe. Jy was gehoorsaam aan Jesus se opdrag om dissipels te maak deur jou geloof met ander te deel. Jy het jouself aan Jehovah toegewy en jou laat doop. Is jy teëgestaan as gevolg van jou standpunt vir ware aanbidding? (2 Tim. 3:12). Jou getroue volharding wys dat jy Jehovah liefhet en dat jy die losprys wat hy deur sy Seun voorsien het, waardeer. – Heb. 12:2, 3.
9. Van watter gevaar moet gedoopte Christene bewus wees?
9 As gedoopte Christene moet ons bewus wees van ’n gevaar. Met verloop van tyd kan ons die losprys as vanselfsprekend aanvaar. Hoe kan dit gebeur? Dink aan die eerste-eeuse Christene in Efese. Ná sy opstanding het Jesus hulle geprys vir hulle volharding. Maar hy het vir hulle gesê: “Ek het dít teen jou: Jy het die liefde verloor wat jy eers gehad het” (Op. 2:3, 4). Soos Jesus se woorde wys, kan ’n Christen se aanbidding geleidelik ’n meganiese roetine word. So ’n persoon bid dalk, woon dalk die vergaderinge by en neem dalk aan die bediening deel, maar doen dit net uit gewoonte. Hy of sy word nie meer deur liefde gemotiveer nie. Wat kan jy doen as jy voel dat jou liefde vir Jehovah nie so sterk is soos wat dit voorheen was nie?
10. Hoe kan jy ‘nadink oor’ en ‘verdiep wees in’ jou Christelike aktiwiteite? (1 Timoteus 4:13, 15)
10 Die apostel Paulus het vir Timoteus gesê om ‘na te dink oor’ en ‘verdiep te wees in’ sy eie Christelike aktiwiteite. (Lees 1 Timoteus 4:13, 15.) In ooreenstemming met daardie raad, probeer dink aan maniere hoe jy jou aanbidding betekenisvoller kan maak sodat jy kan aanhou “gloei van die gees”. (Rom. 12:11; sien die studienota “Be aglow with the spirit” in nwtsty.) Byvoorbeeld, dalk kan jy meer tyd gebruik om vir die vergadering voor te berei, en dit sal jou help om meer aandag te skenk wanneer jy by die vergaderinge is. Of jy kan dalk meer uit jou persoonlike studiesessies kry deur seker te maak dat jy tye het waar jy alleen is sodat jy kan nadink oor wat jy geleer het. Net soos jy hout op ’n vuur sou gooi om dit aan die brand te hou, kan jy jouself op hierdie gebiede toelê sodat jy jou waardering vir alles wat Jehovah voorsien het, insluitende die losprys, kan aanvuur. En gebruik die weke voor die Gedenkmaal om na te dink oor die unieke seëninge wat ons as Jehovah se Getuies geniet. Dit sal jou beslis help om jou waardering vir die losprys op te bou – die grondslag vir jou verhouding met Jehovah.
11-12. Beteken ’n tydelike gebrek aan ywer dat jy God se gees verloor het? Verduidelik. (Sien ook prent.)
11 As jy al ’n ruk lank nie so ywerig in ware aanbidding voel soos wat jy graag wil voel nie, moenie mismoedig wees of dink dat jy God se gees verloor het nie. Onthou wat die apostel Paulus aan die Korintiërs oor sy bediening geskryf het: “Selfs al doen ek dit teen my sin, het ek nog steeds ’n bestuurderskap wat aan my gegee is” (1 Kor. 9:17). Wat het hy bedoel?
12 Paulus het soms nie lus gehad om te preek nie. Maar hy was vasbeslote om in sy bediening te volhard ten spyte van hoe hy op daardie oomblik gevoel het. Jy kan ’n soortgelyke doelwit hê. Wees vasbeslote om die regte ding te doen, al voel jy nie gemotiveerd nie. So bid vir “die begeerte en die krag om op te tree” (Fil. 2:13). Bly besig met jou geestelike roetine. Wees oortuig dat jou dade met verloop van tyd jou gevoelens sal affekteer en dat jy die liefde wat nog steeds in jou hart is, sal aanwakker.
Bly bedrywig in jou geestelike roetine, al voel jy ’n ruk lank nie gemotiveerd nie (Sien paragraaf 11-12)
13. Hoe kan ons aanhou seker maak dat ons “in die geloof is”?
13 Van tyd tot tyd is dit goed om onsself te ondersoek in ooreenstemming met die raad in 2 Korintiërs 13:5: “Hou aan om seker te maak dat julle in die geloof is. Hou aan om julleself te toets.” Elke nou en dan kan ons onsself vrae vra soos: ‘Stel ek Koninkryksbelange eerste in my lewe?’ (Matt. 6:33). ‘Wys my keuse van vermaak dat ek haat wat sleg is?’ (Ps. 97:10). ‘Bevorder ek vrede en eenheid onder medegelowiges?’ (Ef. 4:2, 3). Die Gedenkmaal – die geleentheid wanneer ons veral nadink oor Jehovah se voorsiening van die losprys – gee ons ’n geleentheid om onsself te ondersoek en om seker te maak dat ons vir Christus lewe en nie vir onsself nie.c
SKAPE WAT AFGEDWAAL HET
14. Wat kan veroorsaak dat party Christene van die kudde afdwaal?
14 Party Christene het opgehou om met die gemeente te assosieer ná ’n paar maande of selfs ná jare van getroue diens. Hoekom? Party is oorweldig deur die “bekommernisse van die lewe” (Luk. 21:34). Ander is gestruikel deur die woorde of die dade van ’n medegelowige (Jak. 3:2). En ander het betrokke geraak by ernstige sonde en is huiwerig om vir hulp te vra. Wat ook al die geval is, wat kan jy doen as jy van die kudde afgedwaal het? Wat kan die liefdevolle voorsiening van die losprys jou aanspoor om te doen?
15. Hoe wys Jehovah dat hy omgee vir skape wat afgedwaal het? (Esegiël 34:11, 12, 16)
15 Dink na oor hoe Jehovah voel oor dié wat afgedwaal het. Hy verwerp hulle nie. Hy soek eerder na verlore skape. Hy voed hulle en help hulle om na hom terug te keer. (Lees Esegiël 34:11, 12, 16.) Is Jehovah dalk besig om dieselfde vir jou te doen? Ja! Die feit dat jy hierdie inligting lees, wys dat jy nog steeds die regte ding wil doen. Net soos Jehovah jou hartstoestand gesien het en jou na die waarheid getrek het, is hy dalk besig om jou nou terug te trek?
16. Wat kan verlore skape help om na Jehovah terug te keer? (Sien ook prent.)
16 Die brosjure Keer terug na Jehovah bevat hierdie aanmoedigende woorde: “Wees verseker dat Jehovah daar sal wees vir jou wanneer jy na hom terugkeer. Hy sal jou help om sorge die hoof te bied, om seergemaakte gevoelens te verwerk en om die gemoedsrus te vind wat ’n skoon gewete jou sal gee. Dan sal jy dalk weer voel dat jy Jehovah saam met medeaanbidders wil dien.” Onthou ook dat die ouermanne jou graag wil help. Hulle kan “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm” wees (Jes. 32:2). Uit waardering vir die losprys, vra jouself: ‘Watter stappe kan ek nou neem om “sake [reg te stel]” met Jehovah?’ (Jes. 1:18; 1 Pet. 2:25). Byvoorbeeld, kan jy ’n vergadering by die Koninkryksaal bywoon? Kan jy uitreik na een van die ouermanne en vir geestelike hulp vra, wat dalk sal insluit dat jy ’n tyd lank ’n gereelde Bybelstudie moet hê? Jy kan seker wees dat Jehovah jou pogings om te wys dat jy die losprys van sy Seun waardeer, sal seën.
Vra jouself: ‘Watter stappe kan ek nou neem om “sake [reg te stel]” met Jehovah?’ (Sien paragraaf 16)
HOE SAL JY REAGEER?
17-18. Hoe kan ons ons tyd voor hierdie jaar se Gedenkmaal wyslik gebruik?
17 Jesus het gesê dat die losprys voorsien is “sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Die losprys is Jehovah se middel om ons te red van die gevolge van sonde en die dood. Nie een van ons moet dit as vanselfsprekend aanvaar nie (Rom. 3:23, 24; 2 Kor. 6:1). Die dae voor die Gedenkmaal gee ons ’n geleentheid om na te dink oor die liefde wat Jehovah en Jesus betoon het, en hierdie liefde moet ons aanspoor om met waardering te reageer.
18 Hoe sal die losprys jou beweeg om te reageer? Jou antwoord verskil dalk van dié van ’n ander persoon. Maar jy kan seker wees dat Jehovah jou pogings sal seën wanneer jy by miljoene ander aanbidders aansluit wat “nie langer vir hulleself . . . lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het”. – 2 Kor. 5:15.
LIED 14 Loof die aarde se nuwe Koning
a Om jou te help vorder terwyl jy die Bybel studeer, gebruik die “Doelwit”-venster na aan die einde van elke les in die Geniet die lewe vir ewig!-boek.
b Vir voorstelle oor hoe jy geestelik kan vorder, sien die artikel “Jongmense—Hou aan om aan julle eie redding te werk” in Die Wagtoring van Desember 2017.
c Vir voorstelle oor hoe jy ’n waarderende gesindheid kan behou, sien die artikel “Wat beweeg jou om God te dien?” in Die Wagtoring van 15 Junie 1995.