’n Spesiale uitnodiging
1. Wanneer sal die kampanje begin om mense na die streekbyeenkoms vir 2014 uit te nooi?
1 As jy ’n spesiale maaltyd vir vriende of familie beplan, veral ’n maaltyd wat baie voorbereiding en geld sal verg, sal jy waarskynlik baie entoesiasties wees wanneer jy hulle nooi. Baie werk is eweneens gedoen om die geestelike feesmaal voor te berei wat ons tydens ons streek- en internasionale byeenkomste vir 2014 sal geniet. Drie weke voor die tyd sal ons die voorreg hê om mense na die streekbyeenkoms te nooi. Wat sal ons help om mense met entoesiasme uit te nooi?
2. Wat sal ons beweeg om ’n volle aandeel aan die kampanje te hê?
2 Ons sal beweeg word om ’n volle aandeel aan die kampanje te hê as ons met waardering nadink oor hoe ons persoonlik baat vind by die geestelike feesmaal wat Jehovah by ons streekbyeenkomste voorsien (Jes. 65:13, 14). Ons moet ook in gedagte hou dat ons jaarlikse kampanje goeie resultate oplewer. Van die mense wat ons nooi, sal die byeenkoms saam met ons bywoon. Maar ongeag hoeveel dit bywoon, ons ywerige pogings gedurende die kampanje sal Jehovah tot eer strek en sy vrygewigheid weerspieël.—Ps. 145:3, 7; Op. 22:17.
3. Hoe sal die uitnodigings versprei word?
3 Elke liggaam van ouer manne moet besluit hoe die gemeente die uitnodigings by soveel mense moontlik kan laat asook of hulle dit by nietuise sal laat en of hulle dit tydens die openbare getuieniswerk in die gebied sal versprei. Oor naweke moet die tydskrifte, wanneer gepas, saam met die uitnodiging aangebied word. As die eerste Saterdag van die maand in die kampanjetydperk val, moet die gemeente hulle eerder daarop toespits om die uitnodigings te versprei as om Bybelstudies te begin. Hoe bly sal ons tog aan die einde van die kampanje wees om te weet dat ons entoesiasties daaraan deelgeneem het en soveel mense moontlik genooi het na die geestelike feesmaal wat Jehovah voorsien het!