◼ Programtye: Die inleidende musiek sal al drie dae om 9:00 vm. begin. Dan moet ons almal na ons sitplekke gaan sodat die program op ’n waardige wyse kan begin. Die slotlied en -gebed sal Vrydag en Saterdag om ongeveer 4:25 nm. en Sondag om ongeveer 3:20 nm. aangekondig word.
◼ Internasionale byeenkomste: Op party plekke sal internasionale byeenkomste gehou word. Hou in gedagte dat die takkantoor spesifieke gemeentes en buitelandse afgevaardigdes na hierdie byeenkomste genooi het nadat die broers sorgvuldig bereken het hoeveel sitplekke, parkeerplekke en hotelkamers beskikbaar is. Die byeenkomsterrein kan oorvol raak as verkondigers ’n internasionale byeenkoms bywoon waarheen hulle nie genooi is nie. As jou omstandighede jou noodsaak om ’n ander byeenkoms by te woon as die een waarna julle gemeente toegewys is, moet jy nie ’n internasionale byeenkoms bywoon nie.
◼ Parkering: By al die byeenkomsterreine waar ons beheer oor die parkeerterreine het, sal die parkering gratis wees; dié wat eerste kom, sal die eerste parkeerplekke kry. Aangesien parkering gewoonlik beperk is, moet byeenkomsgangers sover moontlik met vol motors ry.
◼ Huisvesting: Special Needs Room Request-vorms (CO-5a-E) is beskikbaar vir verkondigers wat huisvesting nodig het. Die Gemeentelike Dienskomitee moet kyk of die verkondiger hiervoor kwalifiseer deur gebruik te maak van die riglyne op die vorm sowel as die brief van 27 Oktober 2013 aan alle liggame van ouer manne. Hierdie voorsiening is slegs vir verkondigers wat ’n goeie naam in die gemeente het, asook hulle goedgemanierde kinders.
◼ Die hou van sitplekke: Moet julle asseblief nie na julle gunstelingsitplekke haas wanneer die deure van die fasiliteit elke oggend oopmaak, asof julle teen ander meeding nie. ’n Selfopofferende gees beweeg ons om ander se belange op die hart te dra, identifiseer ons as ware Christene en beweeg dié wat dit sien, om God te verheerlik (Joh. 13:34, 35; 1 Kor. 13:4, 5; 1 Pet. 2:12). Sitplekke mag net gehou word vir dié wat saam met jou in dieselfde huis woon of saam met jou in dieselfde voertuig ry, asook dié met wie jy tans ’n Bybelstudie hou. Spesiale sitplekke sal vir die bejaardes en verswaktes voorsien word. Aangesien hierdie sitplekke beperk is, kan net een of twee persone wat die bejaarde of verswakte persoon help, by hulle sit.
◼ Middagete: Bring asseblief ’n ligte middagete saam eerder as om tydens die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. ’n Klein koelhouer wat onder ’n sitplek pas, kan gebruik word. Groot piekniekkoelhouers moet in ooreenstemming met die saalwagters se instruksies geberg word. Glashouers en alkohol word nie op die byeenkomsterrein toegelaat nie.
◼ Bydraes: Ons kan ons waardering vir die byeenkomsreëlings toon deur vrywillige bydraes vir die wêreldwye werk by die byeenkoms te maak. Alle tjeks moet aan die “Christian Congregation of Jehovah’s Witnesses of South Africa” uitgemaak word. By verskeie byeenkomste kan bydraes ook met ’n debiet- of kredietkaart gemaak word.
◼ Medisyne: As jy voorskrifmedisyne gebruik, moet jy asseblief seker maak dat jy genoeg saambring, aangesien dit nie by die byeenkoms beskikbaar sal wees nie. Spuitnaalde wat deur diabete gebruik word, word as gevaarlike afval beskou; daar moet dus op gepaste wyse daarvan ontslae geraak word. Dit moenie in asblikke op die byeenkomsterrein en by hotelle gegooi word nie.
◼ Veiligheidsmaatreëls: Pas op dat jy nie gly of struikel en jou sodoende beseer nie. Elke jaar is daar beserings as gevolg van die soort skoene wat byeenkomsgangers dra, veral hoëhakskoene. Dit is raadsaam om skoene te kies wat beskeie is en goed pas sodat jy veilig op skuinstes, trappe, traliewerk, ensovoorts kan loop.
◼ Kinderwaentjies en opvoustoele: Kinderwaentjies en opvoustoele moenie in die ouditorium ingebring word nie. Babastoeltjies wat op stoele langs die ouers vasgemaak kan word, is egter toelaatbaar.
◼ Parfuums: Die meeste streekbyeenkomste word in geboue met meganiese lugversorging gehou. Dit sal dus liefdevol van ons wees om die gebruik te beperk van skerp naskeermiddels en parfuums wat persone met asemhalings- of verwante probleme kan aantas.—1 Kor. 10:24.
◼ Volg asseblief op-vorms (S-43): ’n Volg asseblief op-vorm moet gebruik word om inligting te voorsien aangaande enigiemand wat tydens informele getuieniswerk gedurende die byeenkoms belangstelling toon. Voltooide vorms kan by die boekekamer ingedien word of aan die gemeentelike sekretaris gegee word nadat jy van die streekbyeenkoms teruggekeer het.
◼ Restaurante: Verheerlik Jehovah se naam deur jou goeie gedrag by restaurante. Dra klere wat gepas is vir ’n Christenbedienaar. Gee ’n gepaste fooitjie indien dit die gebruik is.
◼ Vrywilligerdiens: Enigiemand wat wil aanbied om te help, moet na die Vrywilligerafdeling by die byeenkoms gaan. Kinders onder 16 kan ook ’n goeie bydrae lewer deur te werk onder die toesig van ’n ouer of ’n voog of ’n ander volwassene wat deur die ouer of die voog goedgekeur is.