Tydskrifroetes—’n Goeie manier om Bybelstudies te begin
1. Waarom spoor Jehovah se organisasie verkondigers al lank aan om ’n tydskrifroete te begin?
1 Baie mense wil nie die Bybel met ons studeer nie, maar hulle geniet dit om ons tydskrifte te lees. Daarom spoor Jehovah se organisasie verkondigers al lank aan om ’n tydskrifroete te begin. Wanneer mense ons tydskrifte gereeld lees, ontwikkel hulle dikwels ’n verlange na God se Woord (1 Pet. 2:2). Uiteindelik kan iets wat hulle lees, hulle hart raak en hulle beweeg om ’n Bybelstudie te aanvaar.
2. Hoe kan ons die belangstelling kweek van diegene wat op ons tydskrifroete is?
2 Saadjies van waarheid moet “natgegooi” word: Moenie die tydskrifte net aflewer nie, maar voer ’n gesprek met die huisbewoner en probeer om ’n vriendskaplike verhouding met hom op te bou. Dit sal jou help om uit te vind wat sy omstandighede, belangstellings en oortuigings is, wat jou in staat sal stel om met insig te praat (Spr. 16:23). Berei vir elke besoek voor. Indien moontlik, vestig kortliks die aandag op ’n punt in die tydskrif en ’n teks wat daarmee verband hou. Sodoende sal jy die saadjies van waarheid in sy hart natgooi (1 Kor. 3:6). Maak ’n aantekening van die datum van elke besoek, die lektuur wat jy by hom gelaat het en die onderwerpe en tekste wat julle bespreek het.
3. Hoe dikwels moet ons na diegene op ons tydskrifroete teruggaan?
3 Hoe dikwels moet ons teruggaan? Jy moet een keer per maand teruggaan om die nuutste tydskrifte vir diegene op jou roete te neem. Maar afhangende van jou omstandighede en hoeveel belangstelling die persoon toon, kan jy kies om hulle meer dikwels te besoek. ’n Week of twee nadat jy die tydskrifte by hom gelaat het, kan jy byvoorbeeld teruggaan en sê: “Ek het net gou gekom om vir jou iets te wys in die tydskrifte wat ek by jou gelaat het.” Dit sal die persoon se belangstelling in ’n spesifieke artikel wek. As hy dit alreeds gelees het, kan jy hom vra wat hy van die artikel gedink het en dit kortliks bespreek. Of as die persoon dit geniet om ons lektuur te lees, kan jy teruggaan en vir hom die traktaat, brosjure of boek aanbied wat die aanbod vir daardie maand is.
4. Wat kan ons van tyd tot tyd doen om te bepaal of diegene op ons roete bereid is om die Bybel te studeer?
4 Moenie wag dat die huisbewoner jou vir ’n studie vra nie. Neem die inisiatief. Al het hy in die verlede ’n Bybelstudie geweier, kan jy van tyd tot tyd die aandag vestig op die rubriek “Antwoorde op Bybelvrae” in Die Wagtoring en kyk of hy bereid is om dit met jou te bespreek. Dalk kan jy ’n studie by die deur begin. Maar as jy nie ’n studie kan begin nie, kan jy voortgaan om vir hom die tydskrifte te neem om sy belangstelling te kweek.