Neem die profete as ’n voorbeeld—Miga
1. Watter vraag het Miga hom moontlik afgevra, maar waarom was sy predikingswerk nie tevergeefs nie?
1 ‘Wanneer sal die einde van hierdie verdorwe stelsel van dinge uiteindelik kom?’ Die profeet Miga het hom moontlik ’n soortgelyke vraag afgevra terwyl hy Jehovah se oordeelsboodskappe teen die koninkryke van Israel en Juda verkondig het. Maar sy predikingswerk was nie tevergeefs nie. Jehovah se woorde teen Samaria is in 740 VHJ, gedurende Miga se leeftyd, vervul (Miga 1:6, 7). Later, in die jaar 607 VHJ, is Jerusalem vernietig (Miga 3:12). Hoe kan ons Miga navolg terwyl ons wag dat Jehovah se oordele in ons dag voltrek word?
2. Hoe en waarom lê ons geduld aan die dag terwyl ons wag op Jehovah se dag?
2 Wees geduldig: Miga het geskryf: “Wat my betref, na Jehovah sal ek op die uitkyk bly. Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding inneem” (Miga 7:7). Miga het natuurlik nie net gesit en wag vir die einde om te kom nie. Hy het bedrywig gebly as Jehovah se profeet. Terwyl ons wag op Jehovah se dag, moet ons ook bewys lewer van “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” (2 Pet. 3:11, 12). Jehovah se geduld gee mense tyd om berou te toon (2 Pet. 3:9). Daarom neem ons die goddelike vermaning ter harte om die profete na te volg deur geduld aan die dag te lê.—Jak. 5:10.
3. Waarom moet ons Jehovah vir sy heilige gees smeek?
3 Vertrou op Jehovah se krag: Hoewel Miga ’n moeilike toewysing gehad het, het hy op Jehovah vertrou vir die krag om dit uit te voer (Miga 3:8). Dit is met goeie rede dat Jehovah se Woord ons aanspoor om op God te vertrou vir krag. Hy gee mildelik krag aan die vermoeides sodat hulle hulle teokratiese verantwoordelikhede kan nakom (Ps. 84:5, 7; Jes. 40:28-31). Het jy dit al self in jou heilige diens ondervind? Smeek jy Jehovah gereeld vir die hulp van sy kragtige heilige gees?—Luk. 11:13.
4. Watter uitstekende voorbeeld het Miga regdeur sy lewe vir ons gestel?
4 Om God se wil te doen, was regdeur Miga se lewe vir hom die belangrikste. Hy was vasbeslote om getrou te bly, hoewel hy deur sedelike verdorwenheid omring was. Ons onkreukbaarheid word ook daagliks getoets. Laat ons dus meer vasbeslote wees om “in die naam van Jehovah ons God [te] wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig”.—Miga 4:5.