Voorbereiding—’n sleutel tot doeltreffende herbesoeke
1. Hoe sou die vroeë Christelike bediening uitgebrei word?
1 Jesus het sy dissipels goed voorberei om bekwame verkondigers van “die goeie nuus van die koninkryk” te wees (Matt. 4:23; 9:35). Hy het hulle in die beperkte gebied van Palestina opgelei. Maar voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy gesê dat die Christelike bediening grootliks uitgebrei sou word sodat sy volgelinge “dissipels van mense van al die nasies” sou maak.—Matt. 28:19, 20.
2. Wat behels dit om gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag om ‘dissipels te maak’?
2 Daardie werk sou behels dat hulle terugkeer na mense wat belangstelling in die goeie nuus van God se Koninkryk getoon het en hulle leer om alles wat Christus beveel het, te gehoorsaam. Om sulke doeltreffende herbesoeke te kan doen, moet ons goed voorbereid wees.
3. Hoe kan jy, selfs tydens die eerste besoek, die weg baan vir ’n herbesoek?
3 Beplan vooruit: Party verkondigers opper ’n vraag aan die einde van die eerste besoek en belowe dan om terug te keer en die antwoord te bespreek. Hulle het gevind dat hulle gou ’n Bybelstudie kan begin as hulle na inligting in die Leer Bybel-boek verwys wanneer hulle die herbesoek doen.
4. Waarom moet ons nie ’n herbesoek uitstel totdat ons nuwe tydskrifte ontvang het nie?
4 Die feit dat ons net een stel tydskrifte per maand aanbied, beteken nie dat ons vir die volgende maand se tydskrifte moet wag voordat ons teruggaan nie. Dalk kan ons die persoon se belangstelling aanwakker deur inligting te bespreek in die tydskrifte wat hy reeds het.
5. Waarom is dit goed om ’n doelwit te hê?
5 Stel ’n doelwit: Neem ’n paar minute voordat jy teruggaan om jou aantekeninge na te gaan en vas te stel wat jy wil bereik. Byvoorbeeld, jy kan ’n punt bespreek in die publikasie wat jy die vorige keer daar gelaat het. Of jy kan bykomende lektuur laat wat met ’n vorige gesprek verband hou. As jy die laaste keer ’n vraag geopper het, sal jou doelwit ongetwyfeld wees om daardie vraag te beantwoord. Wanneer jy die aandag vestig op ’n teks wat ’n punt staaf, moet jy probeer om dit direk uit die Bybel te lees.
6. Wat is ons doel wanneer ons herbesoeke doen?
6 Ons doel: Ons doel is natuurlik om ’n Bybelstudie te begin. Een broer het ’n Bybelstudie tydens ’n herbesoek aangebied, maar die man het geweier. Die broer het met die nuutste tydskrifte teruggegaan en gesê: “Wat ons vandag doen, is om een Bybelvraag vir mense te beantwoord.” Nadat die broer na die man se kommentare geluister het, het hy ’n teks gelees, en toe het hy ’n gepaste paragraaf gelees uit ’n publikasie wat vir Bybelstudies gebruik word. Dit het tot ’n gereelde Bybelstudie gelei.
7. Hoe het goeie voorbereiding jou al gehelp om ’n Bybelstudie te begin?
7 Dit is werklik die moeite werd om die tyd te neem om vir herbesoeke voor te berei. Ons sal groter vreugde smaak, en ons kan die voorreg hê om iemand met “die regte gesindheid” te help om op die pad na die lewe te kom.—Hand. 13:48.