Vraebus
◼ Is dit gepas vir die gehoor om ná elke deel op die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering hande te klap?
Toe die Skepper, Jehovah, die aarde gegrondves het, het “die môresterre saam van vreugde uitgeroep . . . en al die seuns van God begin juig” (Job 38:7). Hierdie engeleseuns van God wou Jehovah loof vir sy uitsonderlike skeppingswerk, wat ’n nuwe openbaring van Jehovah se wysheid, goedheid en krag was.
Dit is goed as ons hartgrondige waardering uitdruk vir die pogings van ons broers en vir die materiaal wat hulle aanbied. Byvoorbeeld, ons klap gewoonlik hande vir toesprake en aanbiedings by spesiale geleenthede, soos byeenkomste. Dit word gedoen nadat die spreker sy toespraak gelewer het, nie voor die tyd nie. Dit het ekstra tyd en inspanning geverg om die dele wat daar aangebied is, voor te berei. Wanneer ons hande klap, toon ons nie net waardering vir die harde werk van die spreker nie, maar ook vir die onderrigting wat Jehovah deur sy Woord en organisasie voorsien.—Jes. 48:17; Matt. 24:45-47.
Kan ons hande klap vir dele op die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering? Daar is geen reëls wat ons verbied om hande te klap as dit spontaan gedoen word nie, soos nadat ’n student sy eerste toewysing op die skool voltooi het. Maar dit kan maklik net ’n gewoonte word en geen betekenis meer hê nie. Daarom klap ons gewoonlik nie hande ná elke aanbieding of wanneer die bywoningsyfer by die Koninkryksaal aangekondig word nie.
Hoewel ons nie ná die meeste dele op die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering hande klap nie, is daar ander maniere waarop ons almal waardering kan toon vir die onderrigting en die pogings van dié wat dele aanbied. Ons kan dit doen deur te konsentreer en aandagtig na die sprekers te luister. En ná die vergadering is dit dikwels moontlik om persoonlik waardering uit te spreek vir hulle pogings.—Ef. 1:15, 16.