Jy kan ryk wees!
1. Waarom moet jy dit oorweeg om gewone pionierdiens te doen?
1 Wil jy graag ’n gelukkiger en bevredigender lewe lei? Verskaf dit jou genot en tevredenheid om ander te help? Wil jy graag meer doen in Jehovah se diens? As jy ja antwoord op enige van hierdie vrae, moet jy dit oorweeg om gewone pionierdiens te doen. Gesins- en skriftuurlike verantwoordelikhede, sowel as gesondheids- en fisiese beperkings, moet natuurlik in ag geneem word.
2. Noem sommige van die geestelike skatte wat gewone pioniers verkry.
2 Salomo se goddelik geïnspireerde geskrifte assosieer die seën van Jehovah met materiële rykdom (Spr. 10:22). Vandag bring Jehovah se seën hoofsaaklik geestelike rykdom mee. Gewone pioniers geniet hierdie rykdom in oorvloed. Hulle ervaar byvoorbeeld die groter geluk wat daarmee gepaardgaan om vir ander te gee terwyl hulle ‘die tyd uitkoop’ van persoonlike strewes (Kol. 4:5; Hand. 20:35). Jehovah sien en waardeer hulle liefdeswerk. Sulke “skatte in die hemel” sal nooit in waarde verminder nie (Matt. 6:20; Heb. 6:10). En wanneer pioniers hulle ‘oog eenvoudig’ hou en op Jehovah vertrou om in hulle behoeftes te voorsien, word hulle verhouding met hom sterker.—Matt. 6:22, 25, 32; Heb. 13:5, 6.
3. Watter kontras is daar tussen die nastrewing van geestelike rykdom en die najaging van materiële rykdom?
3 Die najaging van materiële rykdom lei dikwels tot “talle sinnelose en skadelike begeertes” (1 Tim. 6:9, 10; Jak. 5:1-3). Dit is nooit die geval met die seën van Jehovah nie. Gewone pioniers bring ’n groot deel van hulle tyd in die bediening deur, en dit help hulle om hulle geestelike balans te handhaaf en die belangriker dinge duidelik voor oë te hou (Fil. 1:10). Een broer het sy tydrowende loopbaan as ’n ingenieur prysgegee om te pionier. Hy het gesê: “Ek het my sekulêre werk stresvol gevind. Maar nie die pionierdiens nie. Ek kan nou mense help en hulle die waarheid leer. Dit gee my baie meer bevrediging en is ’n baie groter uitdaging.”
4. Hoe word gewone pioniers geseën terwyl hulle vir ander ’n seën is?
4 ’n Seën vir ander: Vandag word almal geraak deur die “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Tim. 3:1). Oral het mense dringend hoop nodig. Koninkryksverkondigers is verheug wanneer hulle sien hoe mense se wanhoop in optimisme kan verander wanneer hulle gunstig op die goeie nuus reageer. Hoe groot is hierdie vreugde tog vir gewone pioniers, wat elke jaar meer as 800 uur aan hierdie reddingswerk bestee!—1 Tim. 4:16.
5, 6. Wat kan dit vir jou moontlik maak om ’n gewone pionier te word?
5 Oorweeg jy dit ernstig om as ’n gewone pionier te dien? Dit sal dalk vereis dat jy “die geleë tyd . . . uitkoop” van minder belangrike strewes (Ef. 5:15, 16). Baie het dit gedoen en hulle lewe vereenvoudig, wat dit vir hulle moontlik gemaak het om minder sekulêre werk te doen sodat hulle meer tyd aan Koninkryksbelange kon bestee. Kan jy jou sake so reël dat jy by hulle kan aansluit?
6 Vra Jehovah vir wysheid om ’n praktiese rooster uit te werk (Jak. 1:5). Watter seëninge kan jy verwag? Oorvloedige geestelike rykdom! Jehovah sal jou ook op materiële gebied seën met wat jy nodig het (Matt. 6:33). Diegene wat Jehovah op hierdie manier op die proef stel, sal “’n seën [ontvang] totdat daar geen gebrek meer is nie”.—Mal. 3:10.