Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 11/01 bl. 3-4
  • Ons het ’n nuwe hulpmiddel om studies te begin!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons het ’n nuwe hulpmiddel om studies te begin!
  • Ons Koninkryksbediening—2001
  • Soortgelyke materiaal
  • Gebruik dit by elke geleentheid
    Ons Koninkryksbediening—2010
  • Gebruik traktate om gesprekke te begin
    Ons Koninkryksbediening—2000
  • Wees Bybelstudiebewus
    Ons Koninkryksbediening—2010
  • Hoe om die brosjure Goeie nuus wat van God kom! te gebruik
    Ons Koninkryksbediening—2013
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—2001
km 11/01 bl. 3-4

Ons het ’n nuwe hulpmiddel om studies te begin!

1 ’n Amerikaanse vrou was ’n vroom Rooms-Katoliek. Sy het die kerk se leerstellings getrou verdedig. Sy het selfs ’n pelgrimstog na die Vatikaan onderneem. En tog, toe een van Jehovah se Getuies aan haar deur geklop het, het sy die aanbod van ’n tuisbybelstudie aanvaar. Waarom? Omdat sy wou leer wat die Bybel sê, en haar kerk het nie ’n tuisbybelstudie aangebied nie. Wat leer hierdie ondervinding ons? Dat ons nooit weet wie moontlik ’n gratis Bybelstudie gaan aanvaar nie.—Pred. 11:6.

2 Het jy al ooit gehuiwer om mense te vertel dat ons gewillig is om die Bybel te studeer met enigiemand wat belangstel? Weet almal in julle gemeenskap dat ons hierdie gratis diens aanbied? Hoe kan ons seker maak dat hulle dit weet? Deur gebruik te maak van ’n nuwe hulpmiddel! Dit is ’n aantreklike traktaat met ses bladsye getiteld Wil jy graag die Bybel beter leer ken? Kom ons raak vertroud met hierdie traktaat, onderhofie vir onderhofie.

3 “Waarom moet jy die Bybel lees?” Die traktaat gee baie goeie redes hiervoor. Dit verduidelik dat die Bybel “liefdevolle onderrigting van God af” bevat en toon hoe ’n mens hom in gebed kan nader vir hulp en hoe om sy gawe van die ewige lewe te ontvang (1 Tess. 2:13). Die traktaat verwys na verskeie “[Bybel]waarhede wat geestelike verligting gee”, soos wat gebeur wanneer ons sterf en waarom daar soveel probleme op die aarde is. Dit beskryf “Goddelike beginsels in die Bybel” wat, wanneer dit toegepas word, fisiese voordele meebring en geluk, hoop en ander begeerlike eienskappe bevorder. Hierdie traktaat verwys na nog ’n rede om die Bybel te lees—die profesieë oor die toekoms wat toon wat vir ons voorlê.—Op. 21:3, 4.

4 “Hulp om die Bybel te verstaan”: Die traktaat sê: “Ons almal het hulp nodig om God se Woord te verstaan.” Dan beskryf dit die manier waarop ons die Bybel bestudeer: “Dit is gewoonlik die beste om ’n progressiewe studie van die Bybel te maak en by die grondleerstellings te begin.” Hoewel die traktaat duidelik sê dat ‘die Bybel die gesag is’, meld dit spesifiek die Vereis-brosjure en dat dit die student sal help “om teksverwysings oor ’n verskeidenheid onderwerpe te verstaan”. Die volgende onderhofie opper ’n belangrike vraag.

5 “Is jy bereid om elke week tyd in te ruim om die Bybel te verstaan?” Die traktaat verduidelik dat ’n Bybelstudie gehou kan word op ’n tyd en plek wat vir die student geleë is, hetsy dit in die privaatheid van sy of haar eie huis of selfs oor die telefoon is. Wie kan aan die bespreking deelneem? Die traktaat antwoord: “Jou hele gesin. Enige vriende wat jy nooi, kan dit ook bywoon. Of as jy dit verkies, kan die bespreking met jou alleen gehou word.” Hoe lank moet ’n mens studeer? Dit verduidelik: “Baie mense sit elke week ’n uur opsy om die Bybel te bestudeer. As jy elke week meer tyd kan afstaan of as jou tyd baie beperk is, sal die Getuies hulle daarby aanpas sodat hulle jou kan help.” Dít is die sleutel! Ons is gewillig om ons aan te pas by die omstandighede van elke student.

6 “’n Uitnodiging om te leer”: ’n Koepon word voorsien waarop die persoon wat die traktaat ontvang het, die Vereis-brosjure kan aanvra of kan vra dat iemand hom besoek om ons gratis tuisbybelstudie-program aan hom te verduidelik. Die voorblad van die Vereis-brosjure word in volkleur getoon. Kan jy sien waarom hierdie traktaat meer opregtes van hart sal aanspoor om ons hulp te aanvaar? Hoe kan ons dan hierdie nuwe hulpmiddel ten beste benut?

7 Vir wie kan jy die traktaat aanbied? Die traktaat kan persoonlik vir mense gegee word of by huise gelaat word waar mense nie tuis is nie. Dit kan van huis tot huis, op straat en in sakegebied versprei word. Bied dit vir mense aan hetsy hulle lektuur neem of nie. Sit dit in die tydskrifte of ander publikasies wat by mense gelaat word. Sluit dit in wanneer jy briewe skryf. Bied aan om dit aan diegene te stuur met wie jy oor die telefoon praat. Hou altyd hierdie traktate byderhand om vir iemand te gee wanneer jy inkopies doen, openbare vervoer gebruik en wanneer jy informeel getuig. Gee dit vir enigiemand wat aan jou deur klop. Bied dit vir jou familielede, bure, werksmaats, skoolmaats en ander kennisse aan. Probeer hierdie traktaat in die hande kry van almal wat jy ontmoet! Wat dan?

8 As mense onmiddellik reageer: Party mense sal onmiddellik reageer en sê dat hulle graag ’n Bybelstudie wil hê. Wanneer jy ook al velddiens doen, moet jy derhalwe altyd twee eksemplare van die Vereis-brosjure by jou hê—een vir die student en een vir jou. As die persoon gewillig is, kan jy die studie daar en dan begin. Blaai na die binneblad en lees “Hoe om hierdie brosjure te gebruik”. Gaan dan dadelik na les 1 en demonstreer die studie. Is dit nie maklik nie?

9 As jou luisteraar tyd nodig het om daaroor te dink: Probeer met hom in aanraking kom voordat te veel tyd verstryk het. Wanneer jy dit doen, moet jy seker maak dat jy die Vereis-brosjure by jou het. Wys vir hom die inhoudsopgawe op die binneblad. Laat hom die onderwerp kies wat vir hom die interessantste lyk. Blaai daarheen en begin die les bespreek wat hy gekies het.

10 Wanneer jy teruggaan na mense wat tydskrifte geneem het: As jy die traktaat saam met ’n stel tydskrifte gelaat het, kan jy teruggaan en sê: “Toe ek jou laas besoek het, het ek Die Wagtoring by jou gelaat. Jy het dalk opgelet die volle titel van die tydskrif is: Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. Vandag wil ek graag aan jou verduidelik wat hierdie Koninkryk is en wat dit vir jou en jou gesin sal beteken.” Maak die Vereis-brosjure dan oop by les 6. Begin by die eerste paragraaf en lees en bespreek soveel as waarvoor die huisbewoner tyd het. Reël dan om op ’n ander dag terug te gaan en die les klaar te maak.

11 Moenie jou traktate laat opraak nie: Die diensopsiener en die broers wat die lektuurvoorraad behartig, moet te alle tye genoeg Ken die Bybel-traktate in die gemeente in voorraad hê. Hou ’n paar traktate in jou sak of handsak, in jou motor, by jou werk, by die skool, naby jou voordeur—waar dit ook al byderhand is. Hou natuurlik ’n paar in jou velddienstas vir wanneer jy iemand ontmoet met wie jy oor die Bybel kan praat.

12 Mag Jehovah ons pogings seën: ’n Goeie doelwit vir alle Christene is om iemand anders die waarheid te leer (Matt. 28:19, 20). Hou jy op die oomblik ’n tuisbybelstudie? Kan jy, as jy wel een hou, die tyd vind om nog een in jou weeklikse rooster in te pas? As jy nie nou ’n studie hou nie, wens jy ongetwyfeld dat jy wel een kan hou. Bid tot Jehovah om jou pogings te seën om iemand te vind met wie jy kan studeer. Tree dan in ooreenstemming met daardie gebede op.—1 Joh. 5:14, 15.

13 Ons het ’n nuwe hulpmiddel om studies te begin! Raak vertroud daarmee. Versprei dit vryelik. Doen alles in jou vermoë om “goed te doen, om ryk te wees in voortreflike werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam” met wat jy oor die Woord van God geleer het.—1 Tim. 6:18.

[Venster op bladsy 4]

GELEENTHEDE OM DIE TRAKTAAT TE VERSPREI

◼ Daaglikse gesprekke

◼ Wanneer iemand ons lektuur neem

◼ Wanneer niemand tuis is nie

◼ Wanneer ons herbesoeke doen

◼ Wanneer ons iemand in straatgetuieniswerk ontmoet

◼ Wanneer ons in sakegebied getuig

◼ Wanneer ons informele getuieniswerk doen

◼ Wanneer ons briewe skryf

◼ Wanneer ons openbare vervoer gebruik

◼ Wanneer iemand aan ons deur klop

◼ Wanneer ons met familielede, bure, werksmaats, skoolmaats en ander kennisse praat

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel