Hoe belangrik is Christelike omgang?
1 “Geen mens is ’n eiland nie.” Hierdie stelling deur ’n 17de-eeuse digter beaam bloot wat die Bybel sê oor ’n basiese menslike behoefte—omgang (Spr. 18:1). Ons Christelike omgang voorsien in hierdie behoefte. Op watter voordelige maniere?
2 In die bediening: Een van die vernaamste voordele is die manier waarop ons broers ons in die openbare bediening versterk en ondersteun. Jesus het sy dissipels “twee-twee” uitgestuur om die predikingswerk te doen (Mark. 6:7; Luk. 10:1). In ooreenstemming met hierdie voorbeeld ondervind ons hoe waar Prediker 4:9, 10 is wanneer ons saam met ander velddiens doen. Terwyl ons saam ons bediening uitvoer, besiel die geloof, gehoorsaamheid en liefde van ons metgeselle ons met moed en hernieu dit ons ywer.
3 Vir persoonlike hulp: Ons broederskap is ook ’n bron van aanmoediging en leiding om druk die hoof te bied en versoekinge te weerstaan. Ons Christenmetgeselle kan ons aandag vestig op tekste wat verband hou met ons persoonlike bekommernisse. Hulle kan selfs ten behoewe van ons bid, net soos ons vir hulle doen (2 Kor. 1:11). En hulle goeie voorbeeld motiveer ons beslis om regte werke te doen en dit versterk ons.
4 By die vergaderinge: Ons geniet die seëning van Christelike omgang wanneer ons gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon (Heb. 10:24, 25). Die program is ryk aan geestelike onderrigting, en ons teenwoordigheid by die vergaderinge hou ons na aan ons medegelowiges. Hierdie vergaderinge gee ons die geleentheid om te hoor hoe ons broers en susters hulle geloof uitspreek, hetsy dit van die verhoog af of uit die gehoor is (Rom. 1:12). Ons vriendskapsband word versterk wanneer ons voor en ná die vergaderinge met mekaar gesels. Sulke tye bied ons die geleentheid om ons eie geloofversterkende ondervindinge te vertel. Ons persoonlikheid word positief beïnvloed wanneer ons vryelik omgaan met diegene wat Jehovah, sy Woord, sy werk en sy volk liefhet.—Fil. 2:1, 2.
5 Ons het ons Christenmetgeselle nodig. Sonder hulle sou dit moeiliker wees om op die smal pad te wandel wat na die lewe lei. Maar met hulle liefde en aanmoediging kan ons op die pad na Jehovah se regverdige nuwe wêreld bly.—Matt. 7:14.