Gee elke dag ag op Jehovah se Woord!
1 Elke dag word ’n mens se geloof op nuwe maniere op die proef gestel. Dalk plaas ’n wêreldse kennis druk op jou om saam met hom of haar uit te gaan. Jou onderwyser wil hê dat jy ’n sekulêre loopbaan moet volg of jou werkgewer wil hê dat jy langer ure moet werk. Jou gesondheid gaan dalk agteruit. Hoewel jy enige tyd voor sulke toetse te staan kan kom, is jy nie alleen nie. Jehovah is gereed om jou die wysheid te gee wat nodig is om hierdie dinge die hoof te bied. Een manier waarop jy Jehovah se Woord gereeld kan inneem, is om die Bybelteks en kommentare in die Dagteksboekie te lees. Maak jy gebruik van hierdie voorsiening?
2 Hulp is beskikbaar: Jesaja 30:20 (NW) beskryf Jehovah as die “Grootse Onderrigter” tot wie God se volk hulle kan wend vir hulp. Hy voorsien jou met net wat jy nodig het om toetse van jou geloof die hoof te bied. Hoe? Die volgende vers verduidelik: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop.’” Vandag stuur Jehovah sy “woord” uit deur die Skrif en die publikasies van ‘die getroue slaaf’ (Matt. 24:45). Net in die ouer Wagtoring-artikels alleen is daar ’n skat van wysheid, wat oor feitlik elke aspek van die Christelike lewe handel. As jy dié hersien wat in die Dagteksboekie aangehaal word, help dit jou om ’n skatkamer van kennis op te bou wat van baie groot waarde is om alle soorte toetse te deurstaan.—Jes. 48:17.
3 Maak tyd daarvoor: Al was die oggende ’n besige tyd het een moeder gesorg dat sy die teks en kommentare lees en met haar seun bespreek terwyl hy sy ontbyt eet. Hierdie woorde asook ’n gebed was die laaste woorde wat hy elke oggend gehoor het voordat hy skool toe gegaan het. Dit het hom versterk om seksuele toenaderings te weerstaan, om ’n ferm standpunt in te neem teen nasionalistiese bedrywighede en om ’n moedige getuienis te gee voor leerlinge sowel as onderwysers. Hoewel hy die enigste Getuie by die skool was, het hy nooit alleen gevoel nie.
4 Vertrou op Jehovah en sy Woord vir leiding. Dan sal hy vir jou ’n werklikheid wees, soos ’n betroubare vriend. Wend jou elke dag tot hom! Mag jy, saam met die miljoene regoor die wêreld wat daagliks God se Woord raadpleeg, vind dat jou oë “oë word wat jou Grootse Onderrigter sien”.