Verlewendig jou ywer deur wenke in Die Wagtoring toe te pas
1 Christus Jesus is die volmaakte voorbeeld van ’n ywerige prediker van die goeie nuus. Sy opregte begeerte om sy Vader se wil te doen en sy lewendige belangstelling in mense het hom beweeg om persoonlik oor ander besorg te wees. Sy bediening was lewendig, en hy het welslae behaal. Die bediening het hom verkwik. Hy het dit beskou as “voedsel” wat hom krag gegee het (Joh. 4:34). Hy het redding aan ander verkondig terwyl hy die werk volbring het wat sy Vader hom opgedra het. Dit het sy lewe betekenisvol en doelgerig gemaak.
2 Die apostels en ander eerste-eeuse volgelinge van Christus Jesus het sy ywer vir die bediening nagevolg. Hoewel hulle soms hewig vervolg is, kon hulle ywer nie gedemp word nie (Hand. 5:28-32; 8:1, 4). Dit is vandag ook die geval. Die goeie nuus word in feitlik elke hoekie van die aarde verkondig deur individue wat die voorbeeld van Jesus Christus navolg. As Jehovah se Getuies is hulle altyd “ywerig in goeie werke”.—Tit. 2:14.
3 As ons te min ywer het, word ons werk meganies, en ons persoonlike betrokkenheid raak oppervlakkig. Gevolglik put ons dalk nie meer vreugde uit ons diens nie. As ons onsself in hierdie situasie bevind, moet ons maniere soek om ons ywer te verlewendig en om die uitdagings te aanvaar wat die veldbediening bied. Die artikel met die titel “Skenk voortdurend aandag aan jou leer” in Die Wagtoring van 15 Julie 1988 bevat praktiese wenke om ons te help om ons ywer in Koninkryksdiens te versterk of te verlewendig.
UITDAGINGS WAARVOOR ONS TE STAAN KOM
4 In talle dele van die wêreld is daar baie min nuwe gebied of gebied waarin daar selde gewerk word. In grootstadsgebiede is dit nie ongewoon dat gemeentes hulle gebied een keer per maand of selfs een keer per week dek nie. Dit kan ’n uitdaging wees aangesien talle huisbewoners reeds weet wie ons is en dikwels probeer om die gesprek te beëindig voordat ons hulle iets kan aanbied. Miskien kla hulle: ‘’n Getuie was net verlede week hier.’ Baie van ons bure is nie tuis nie, of ons vind dalk dat die mense in ons gebied onverskillig is. Dit kan alles ontmoedigend wees. Maar het jy die wenke in paragrawe 4-7 van die bogemelde Wagtoring-artikel toegepas?
5 Miljoene is reeds by die “groot menigte” “ander skape” gevoeg, en miljoene ander slaan steeds ag op die goeie nuus van die Koninkryk (Openb. 7:9; Joh. 10:16). Maar aanbiedings wat in die verlede geslaagd was, wek dalk nie meer belangstelling in ons gebiede nie. Ons moet let op watter soort aanbiedings ons maak, wat die gehalte daarvan is en of dit doeltreffend is, en bereid wees om die nodige aanpassings te maak.
6 Die Wagtoring het in verband met hierdie onderwerp ’n paar interessante wenke gegee oor hoe ons ons bediening kan verbeter. Dit het maniere voorgestel waarop ons ’n deeglike getuienis kan gee wanneer ons onverskilligheid teëkom, en wanneer ons met mense in gebied wat dikwels gedek word en huisbewoners wat kla, praat. Pas ons hierdie wenke toe, en pas ons ons aanbiedings aan by die behoeftes in die gebied? Maak ons gebruik van die middele tot ons beskikking om dit te doen? As ons die wenke volg, sal dit ons help om ’n sinvoller aandeel in die bediening te hê. Wanneer ons ons daarop toelê om die wenke toe te pas, word ons verstandelik gestimuleer en word die bediening ons hele lewe. Sodoende word ons ywer verlewendig en vergroot.
7 As ons na huidige wêreldtoestande kyk, is dit heel duidelik dat die groot verdrukking naby is. Dit onderstreep die feit dat ons boodskap dringend is en dat dit noodsaaklik is dat ons as ’n ‘lig vir die wêreld’ skyn (Matt. 5:14,16). Laat ons vlytig wees om die wenke toe te pas wat ons ontvang het en sodoende ons ywer vir die bediening vergroot.