Voortdurende vermeerdering vereis die vereenvoudiging van prosedures
1 Die inleidende woorde van Jesaja hoofstuk 54 doen ’n beroep op Jehovah se gemalin-organisasie om vir vreugdevolle vermeerdering voor te berei. Groei, uitbreiding en hernieude krag is ophande. Die vervulling van daardie opwindende profesie het gelei tot die fenomenale uitbreiding van ware aanbidding wat ons nou sien namate Jehovah die insamelingswerk bespoedig.—Jes. 54:1-4; 60:22, NW.
2 Kan Jehovah se georganiseerde volk tred hou met hierdie huidige Godgegewe vermeerdering? Die gevolge van Jehovah se seën bied ’n uitdaging wat die hoof gebied moet word, en ons is bly om te sien dat Jehovah sy volk die nodige wysheid en insig gegee het (Kol. 1:9, 10). Ons moet saamstem dat Jesus Christus sake doeltreffend deur die getroue “dienskneg”-klas gerig het sodat Jehovah se voorneme op ’n wonderlike manier uitgevoer kon word.—Matt. 24: 45-47.
VEREENVOUDIGING NOODSAAKLIK
3 Die vereenvoudiging van prosedures het grootliks bygedra tot die oplossing van probleme wat weens vinnige groei ontstaan. Jehovah se sigbare organisasie het getoon dat hy bewus is van hierdie belangrike feit. In onlangse jare het ons gesien hoe talryke vereenvoudigings aangebring is in huisvesting- en voedselreëlings by byeenkomste, lektuurbestellings en -versendings, die verkryging van gemeentelike voorrade, Gedenkmaaluitnodigings, strooibiljette en kringbyeenkomsprogramme. Verkondigers, pioniers, gemeentes, ouere manne en bedieningsknegte, reisende opsieners en die Genootskap het almal grootliks hierby baat gevind.
4 Dit blyk nou verstandig en raadsaam te wees om addisionele vereenvoudigde prosedures in te stel. Ons vertrou dat Jehovah dit ook sal seën, aangesien dit ons in staat sal stel om verdere toename in lofbetuiginge aan hom te behartig.
WAT GROEI BETEKEN HET
5 Daar was gedurende die afgelope paar jaar uitstekende vermeerdering in die aantal gemeentes wat deur die Suid-Afrikaanse tak bedien word. Daar was selfs ’n groter vermeerdering in die aantal pioniers. Gedurende die afgelope vier jaar alleen is 61 nuwe gemeentes gestig, en die aantal gewone pioniers het met meer as 110 persent toegeneem! Nou is daar ver oor die 2 900 gewone pioniers, en byna 1 100 gemeentes rapporteer elke maand velddiens aan die Genootskap. Hoe opwindend is dit tog om te sien dat broers en susters oral beweeg word om hulle werk in die oes uit te brei, en dat duisende die pionierdiens kon betree!—Matt. 6:33.
6 Verdere vereenvoudiging is nodig om na al die werk om te sien wat deur die vermeerdering teweeggebring word. Baie tyd word elke maand daaraan bestee om die nagenoeg 4 100 rapporte van gemeentes en individuele gewone pioniers in die Genootskap se verslae op te teken. Daar was ook ’n ooreenkomstige vermeerdering in pos wat van gemeentes en pioniers ontvang word. Omdat die pos toegeneem het, kan ons nie altyd belangrike korrespondensie so gou beantwoord soos ons graag wil nie, veral gedurende sekere besige tye van die jaar. Dit is dus heeltemal duidelik dat sekere prosedures vereenvoudig moet word sodat ons geld en tyd ten beste bestee kan word.
VEREENVOUDIGDE RAPPORTEERREËLING
7 ’n Vereenvoudigde manier om die rapporte van gewone pioniers te tabelleer en aan die Genootskap te stuur, sal op 1 September 1986 in werking tree. Hierdie prosedure, tesame met ander gewysigde organisatoriese prosedures, is alreeds aan die ouere manne verduidelik. Die informasie wat in hierdie byvoegsel voorsien word, behoort almal te help om die vereenvoudigde prosedure te verstaan rakende die manier waarop pioniers hulle velddiens rapporteer. Deur deeglik vertroud te raak met hierdie inligting, sal ouere manne en pioniers gou besef watter voordele dit vir hulle sowel as vir die Genootskap inhou, en sal almal hierdie prosedure maklik kan volg wanneer die velddiensrapporte vir September saamgestel word.
8 Die individuele maandelikse Rapport van gewone pionier (S-200) sal nie meer aan die Genootskap gestuur word nie; voorrade hiervan is dus nie vir die 1987-diensjaar aan die gemeentes gestuur nie. Vanaf September 1986 sal alle gewone pioniers die Velddiensrapport (S-4) gebruik wanneer hulle hul veldbediening aan die gemeente rapporteer. Die uurvereiste vir gewone pioniers word op ’n jaarlikse grondslag uitgewerk. Die gemeentelike sekretaris sal steeds elke maand noukeurig die pionier se velddiensrapport op ’n verkondigersverslag-kaart (S-21) neerskryf. Dit sal verseker dat die gemeente die pionier se juiste aantal ure, plasings en ander bedrywighede aan die einde van die diensjaar sal hê. Wanneer ’n pionier nie aan die uurvereiste vir die maand voldoen het nie, moet hy die rede agterop sy S-4-rapport verstrek, net soos hy voorheen op die Rapport van gewone pionier (S-200) gedoen het. Die sekretaris sal hierdie rede in die kolom vir opmerkings op die verslagkaart verstrek. Soos hierdie byvoegsel later sal toon, sal daar voorsiening gemaak word om die Genootskap aan die einde van elke diensjaar in kennis te stel van elke pionier se aantal ure, en enige rede waarom daar nie aan die uurvereiste voldoen is nie, sal ook op daardie rapport aangedui word.
9 Die gemeentelike sekretaris moet, net soos voorheen, elke maand die Gemeenterapport (S-l) aan die Genootskap stuur. Al die velddiensbedrywighede van verkondigers, hulp- en gewone pioniers moet op die rapport aangedui word. Dit het nie verander nie. Een aspek van die rapport wat sal verander, is dat daar agterop die S-l-vorm plek sal wees om die Genootskap te laat weet wanneer ’n pionier van gemeente of van naam verander, soos wanneer ’n suster trou. Voorheen kon pioniers die Genootskap van ’n gemeente- of naamverandering in kennis stel deur die informasie agterop die pionierrapport te verstrek. Nou is dit die sekretaris se verantwoordelikheid om ons van veranderinge te verwittig deur dit agterop die Gemeenterapport te skryf. Wanneer ’n naamverandering gerapporteer word, moet die sekretaris die pionier se identifikasiekaart (S-202) aan die Genootskap stuur, wat ’n nuwe kaart met die verandering daarop aan die pionier sal uitreik.
10 Soos in vorige jare moet die sekretaris steeds aan die einde van die diensjaar die Ontledingsrapport oor gemeente (S-10) aan die Genootskap stuur. Vanaf September vanjaar moet die sekretaris agterop die S-10-vorm die name verstrek van almal wat vanaf 1 September aktiewe gewone pioniers is en hulle aantal ure vir die maande wat hulle pioniers was tot aan die einde van die diensjaar opeenvolgend aangee.
11 Teen hierdie tyd behoort gemeentes al ’n voorraad van die vereenvoudigde Aansoek om gewone pionierdiens-vorm (S-205) te hê. Slegs die hersiene aansoekvorm moet gebruik word. Ons sal met elke pionieraanstelling ’n blanko aansoekvorm stuur sodat die gemeente altyd ’n paar in voorraad sal hê.
MEER PERSOONLIKE BYSTAND MOET VERLEEN WORD
12 Die hele liggaam van ouere manne, en veral die Gemeentelike Dienskomitee, moet persoonlike belangstelling in die pioniers toon. Die volgende vrae sal die ouere manne help om te sien waar hulle bystand aan die pioniers kan verleen: Is hulle bekwaam in die meeste aspekte van die bediening, of het hulle opleiding nodig om herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou? Toon hulle die vrugte van die gees en werk hulle in vrede en harmonie saam? (Rom. 14:19). Het enigiemand hulp nodig om ’n praktiese rooster uit te werk? Lyk dit of hulle goeie studiegewoontes het, en neem die pioniers aan die vergaderinge deel? Ouere manne wat die pioniers se belange op die hart dra, sal bewus wees van pioniers se behoeftes en omstandighede en sal gereeld met hulle kommunikeer.
13 Die ouere manne se liefdevolle belangstelling in die welstand van die pioniers word opreg waardeer. Pioniers spreek dikwels in hulle briewe aan die Genootskap waardering uit vir ’n liefdevolle liggaam van ouere manne wat ’n lewendige belangstelling in hulle toon. Dit het party al gehelp om in die voltydse diens te kon bly.
14 Daar word van ouere manne verwag om toe te sien dat die hoë standaarde wat vir pioniers gestel word, met inbegrip van die uurvereiste, gehandhaaf word. Maar wakker ouere manne sal terselfdertyd gou hulp verleen indien ’n pionier tydelike probleme ondervind wat veroorsaak dat hy nie aan die uurvereiste voldoen nie, pleks van te sê dat die pionier, indien hy nie verbeter nie, afgesit sal word. Hulle moenie toelaat dat probleme maande lank voortduur voordat hulle hulp verleen nie; anders kan die pionier so ver agterraak met sy tyd dat hy mismoedig word en wil tou opgooi.
15 Kan die probleem binne ’n paar maande opgelos word? Indien wel, hoe kan die ouere manne help? Indien dit ’n persoonlike probleem is wat die pionier self moet oplos, kan die ouere manne hulp verleen deur hom aan te moedig, te prys en praktiese raad te gee.
16 Ouere manne moet oppas dat hulle nie onnodig betrokke raak by persoonlike of gesinsake indien hulle nie om hulp gevra word nie. As dit egter ’n ernstige probleem is en dit lyk of die pionier maande lank nie aan die uurvereiste sal kan voldoen nie, kan die ouere manne besluit dat dit beter sal wees as die pionier van die lys afgehaal word totdat die probleem opgelos is.
17 Pioniers moet enige probleem wat hulle ondervind met die ouere manne bespreek pleks van aan die Genootskap te skryf. In die meeste gevalle sal dit beter wees as die ouere manne skryf indien verdere hulp verlang word. Gedurende die kringopsiener se besoek moet pioniers die vrymoedigheid hê om hom te nader oor sake rakende hulle pionierdiens. Dit hou ’n aantal voordele in as hierdie prosedure gevolg word. Die ouere manne ken die individu persoonlik. Hulle is in ’n posisie om sy persoonlikheid en gesindheid te verstaan—of hy fluks of luierig is, goed gedissiplineerd of ietwat ongeorganiseerd is. Hulle is bewus van sy gesinsomstandighede, sy gesondheid, sekulêre werkrooster en ander faktore wat sy vermoë raak om as ’n pionier te dien. Ons glo dat die ouere manne in ’n baie goeie posisie is om te besluit of iemand moet probeer om in die pionierdiens te volhard en of dit beter sal wees om sy voltydse diens ’n ruk lank te staak.
18 Indien die ouere manne, nadat hulle ’n vergadering met die pionier gehou het, vasstel dat die probleem tydelik van aard is, en dat hy die verlore tyd voor die einde van die diensjaar sal kan inhaal, kan hulle hom aanmoedig en nuttige wenke gee en hoef die saak nie verder gevoer te word nie. Maar as die pionier hom in ’n buitengewone situasie buite sy beheer bevind wat veroorsaak dat hy so ver agterraak met sy tyd dat hy die agterstand nie voor die einde van die diensjaar sal inhaal nie, moet die ouere manne besluit of daar ’n spesiale toegewing, soos in paragrawe 18-20 van Ons Koninkryksbediening vir Maart 1978 uiteengesit word, vir hom gemaak moet word. Indien hulle meen dat daar grond vir ’n spesiale toegewing is, kan hulle dit agterop die verkondigersverslagkaart aanstip en die pionier aanmoedig om van daardie tydstip af hard te werk om aan die uurvereiste te voldoen sonder om hom oor die agterstand te bekommer. Indien die ouere manne besluit dat die probleem nie van korte duur is nie en dat omstandighede die persoon noodsaak om sy pionierdiens ’n ruk lank te staak, moet hulle die Genootskap daarvan in kennis stel deur die gepaste vorm in te stuur. Slegs wanneer die ouere manne onseker is oor die toepassing van die informasie in daardie byvoegsel kan die Gemeentelike Dienskomitee aan die Genootskap skryf om meer inligting. Hulle moet volledige besonderhede oor die probleem verstrek, asook ’n verslag van die pionier se velddiensure vir die huidige diensjaar.
19 Die Gemeentelike Dienskomitee moet aan die einde van elke diensjaar, wanneer hulle die name van alle gewone pioniers en die som van hulle velddiensure vir die jaar agterop die Ontledingsrapport oor gemeente verstrek, ’n kort brief skryf en die redes verstrek waarom ’n pionier nie aan die uurvereiste vir die jaar voldoen het nie. Kommentaar moet gelewer word oor wat die kanse is dat die pionier gedurende die nuwe diensjaar sal verbeter. Die Genootskap sal nie op sulke kommentare antwoord nie, tensy hulle dit nodig ag.
20 Ons vra ook dat kringopsieners meer aandag aan die behoeftes van die pioniers moet skenk. Die kringopsiener se besoek aan die gemeente is van korte duur en hy kan dalk nie baie tyd saam met elke pionier deurbring nie. Hy sal egter sien waar hulp en aanmoediging nodig is wanneer hy die verslae nagaan, ’n vergadering met die pioniers hou en saam met hulle velddiens doen. Hy moet saam met soveel pioniers en verkondigers velddiens doen soos wat sy rooster toelaat. Waar daar baie pioniers is, kan hy gedurende die een besoek saam met party werk en gedurende die volgende besoek saam met die ander. Hy sal die ouere manne inlig indien hy opmerk dat iemand hulp nodig het en voorstel wat hulle kan doen om die pioniers te help verbeter.
VOLDOEN JY AAN DIE VEREISTES VIR GEWONE PIONIERDIENS?
21 ’n Individu moet ten minste ses maande gedoop en ’n gereelde verkondiger wees as hy die gewone pionierdiens wil betree. Hy moet in ’n posisie wees om aan die jaarlikse velddiensvereiste van 1 000 uur te voldoen. Dit is ook belangrik dat hy goeie sedes handhaaf en dat hy ’n voorbeeldige Christen is (omAF bl. 113-114). Wat behels dit? Na watter eienskappe moet die ouere manne by ’n aansoeker om pionierdiens soek?
22 Voorbeeldige gedrag beteken dat ’n mens rein in liggaam en gees is. ’n Persoon wat vir pionierdiens goedgekeur word, moet ’n reputasie vir goeie Christelike gedrag binne en buite die gemeente hê. ’n Huisvrou wat die pionierdiens wil betree en kinders tuis het, moet hierdie verantwoordelikheid behoorlik nakom en hulle nie alleen by die huis laat nie. ’n Voorbeeldige gesinslewe is noodsaaklik sodat Jehovah se naam en sy organisasie geen smaad aangedoen word nie. ’n Pionier moet heelhartig en ten volle aan Jehovah toegewy wees. Hy moet die vrugte van God se gees in sy lewe openbaar. Dit moet vir die pionier van die grootste belang wees om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak. Hy moet die Bybel bekwaam by die deure gebruik, herbesoeke op belangstellendes doen en tuisbybelstudies begin en hou. Pioniers moet hulle volle samewerking aan die liggaam van ouere manne gee wat velddiens- en vergaderingreëlings betref.
23 ’n Hele jaar moet verstryk nadat ’n persoon regterlik tereggewys of na uitsetting herstel is voordat hy in aanmerking kan kom vir hulp- of gewone pionierdiens. Daarbenewens sal ’n persoon op wie ’n regterlike komitee beperkings gelê het nie aan die vereistes vir pionierdiensvoorregte voldoen nie totdat alle beperkings opgehef is.
24 Moet ’n mens ’n paar maande hulppionierdiens doen voordat jy as ’n gewone pionier aanbeveel kan word? Nee. Maar dit is gewoonlik makliker om by die rooster van ’n gewone pionier te bly as ’n mens eers as ’n hulppionier gedien het. Ouere manne moet redelik seker wees dat die aansoeker elke maand 90 uur sal kan rapporteer en aan die einde van die diensjaar aan die vereiste van 1 000 uur sal voldoen. Vereistes wat nie deur die Genootskap vermeld word nie, moet nie gestel word nie.
25 Wanneer ’n gemeentelid ’n Aansoek om gewone pionierdiens invul en aan die presiderende opsiener vir goedkeuring oorhandig, moet die Gemeentelike Dienskomitee dit dadelik bespreek. Die aansoek moenie vertraag word omdat daar vir ’n ouere man op die komitee gewag word wat ’n week of twee weg is nie. ’n Ander ouere man kan vir hom instaan. As die Gemeentelike Dienskomitee die aansoek goedkeur, moet die liggaam van ouere manne daarvan in kennis gestel word voordat die aansoek weggestuur word sodat hulle enige verdere waarnemings van ander ouere manne kan bespreek.
26 Die hersiene Aansoek om gewone pionierdiens vereis dat die ouere manne die individu se gemiddelde velddiensbedrywigheid vir die afgelope ses maande verstrek. Ouere manne moet redelik seker wees dat die aansoeker gereeld die uurvereiste sal kan nakom. ’n Verkondiger se gemiddelde vir ses maande is dalk nie ’n ware aanduiding van wat hy oor ’n lang tydperk kan doen nie. As een of twee maande aansienlik hoër is as die ander omdat ’n buitengewone poging gedurende daardie maande aangewend is, moet dit in ag geneem word. Met ander woorde, die ouere manne moet ’n geheelbeskouing hê van die toekomstige pionier se velddiensbedrywighede die afgelope ses maande. Die persoon se gemiddelde ure is dalk hoog maar hy bereik nie veel in die bediening nie. Die ouere manne kan dan voorstel dat hy hom eers toelê op die aspekte van sy bediening wat verbeter moet word voordat hy om pionierdiens aansoek doen. As die ouere manne die aansoek nie kan goedkeur wanneer hulle dit ontvang nie, moet hulle vir hom sê dat hulle nie die aansoekvorm instuur nie en die redes daarvoor verstrek. Die ouere manne moet verduidelik waarop hy hom moet toelê om aan die vereistes te kan voldoen. As die ouere manne later meen dat hulle die aansoekvorm kan goedkeur en die oorspronklike aansoekvorm gebruik, moet die verlangde begindatum dienooreenkomstig verander word.
VOORWAARTS MET YWER!
27 Daar is in 1962 besluit om gewone pioniers onder die plaaslike gemeentereëling te bring. Is daardie stap deur Jehovah geseën? As ons kyk na die toename in die maandelikse gemiddelde van 33 560 gewone en “vakansie”-pioniers wêreldwyd in 1962 tot 322 821 gewone en hulppioniers in 1985, kan ons net een logiese gevolgtrekking maak. Ja, Jehovah het reëlings om die pioniers te help en Koninkryksbelange te bevorder ryklik geseën. Nou is ons daarvan seker dat hy die verdere wysigings sal seën wat ons in voorgaande paragrawe bespreek het. Jesus het gesê: “Die wysheid is geregverdig deur sy werke” (Matt. 11:19, NW). Hoe waar was dit tog ten opsigte van die progressiewe vereenvoudiging van organisatoriese reëlings en prosedures deur die jare heen om om te sien na die vinnig toenemende “groot menigte” wat nou na Jehovah se ware aanbidding versamel word.—Openb. 7:9; Jes. 54:2.
28 Ywerige pioniers is inderdaad ’n seën vir die gemeentes. Hulle vorm ’n uitstekende deel van die antwoord op ons hartgrondige gebede tot “die Here van die oes” om meer werkers in hierdie laaste dae van die groot oes uit te stuur (Matt. 9:37, 38; Joh. 4:35, 36). Mag elkeen van ons getrou ons bes doen om die hande te versterk van almal wat hulle sake gereël het om in die pionierdiens te wees (Spr. 3:27). Watter geluk sal dit ons tog voortdurend verskaf namate ons verenig ons hemelse Vader verheerlik deur veel vrug te dra en te toon dat ons Christus se dissipels is!—Joh. 15:8, NW.