Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 3/15 bl. 15-20
  • Probeer ander sien soos Jehovah hulle sien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Probeer ander sien soos Jehovah hulle sien
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Onbevooroordeelde kykie na Jona
  • ’n Gebalanseerde beskouing van Petrus
  • ’n Hedendaagse toepassing van die les
  • Hy het uit sy foute geleer
    Volg hulle geloof na
  • Hy het uit sy foute geleer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Jona leer aangaande Jehovah se barmhartigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Bybelboek nommer 32—Jona
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 3/15 bl. 15-20

Probeer ander sien soos Jehovah hulle sien

“God sien nie soos die mens sien nie.”—1 SAMUEL 16:7.

1, 2. Hoe het Jehovah se beskouing van Eliab verskil van Samuel s’n, en wat kan ons hieruit leer?

IN DIE 11de eeu v.G.J. het Jehovah die profeet Samuel op ’n geheime sending gestuur. Hy het die profeet beveel om na die huis van ’n man met die naam Isai te gaan en een van Isai se seuns as die toekomstige koning van Israel te salf. Toe Samuel Isai se eersgebore seun, Eliab, sien, was hy seker dat hy die een gevind het wat God gekies het. Maar Jehovah het gesê: “Moenie na sy voorkoms en na sy hoë gestalte kyk nie, want ek het hom verwerp. Want God sien nie soos die mens sien nie, want die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is” (1 Samuel 16:6, 7). Samuel het Eliab nie gesien soos Jehovah hom gesien het nie.a

2 Hoe maklik is dit tog vir mense om ander verkeerd te beoordeel! Aan die een kant word ons dalk beïndruk deur persone wat goed voorkom maar wat eintlik beginselloos is. Aan die ander kant is ons moontlik streng en onbuigsaam in ons beoordeling van opregte persone wie se karaktertrekke ons irriteer.

3, 4. (a) As ’n probleem tussen twee Christene ontstaan, wat moet albei vasbeslote wees om te doen? (b) Watter vrae moet ons ons afvra wanneer ons ’n ernstige meningsverskil met ’n medegelowige het?

3 Probleme kan ontstaan wanneer ons gou is om ander te oordeel—selfs dié wat ons al jare lank ken. Dalk het jy ’n uitval met ’n Christen gehad wat ’n goeie vriend was. Wil jy graag julle vriendskap herstel? Wat sal jou help om dit te doen?

4 Waarom staan jy nie stil en neem ’n deeglike, positiewe kykie na jou Christenbroer of -suster nie? En doen dit in die lig van Jesus se woorde: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Vra jou dan af: ‘Waarom het Jehovah hierdie persoon na Sy Seun getrek? Watter aantreklike eienskappe het hierdie persoon? Sien ek nie hierdie eienskappe raak nie of heg ek nie juis waarde daaraan nie? Waarom het ons in die eerste plek vriende geword? Wat het my tot hierdie persoon aangetrek?’ Aanvanklik sal dit dalk vir jou moeilik wees om aan goeie punte te dink, veral as jy al ’n ruk lank seergemaak voel. Maar dit is ’n noodsaaklike stap as jy die kloof tussen julle wil herstel. Om toe te lig hoe dit gedoen kan word, kan ons kyk na positiewe karaktertrekke in twee manne wat soms in ’n negatiewe lig beskou word. Hulle is die profeet Jona en die apostel Petrus.

’n Onbevooroordeelde kykie na Jona

5. Watter opdrag is aan Jona gegee, en hoe het hy gereageer?

5 Jona het in die dae van koning Jerobeam II, die seun van Joas, as ’n profeet vir die noordelike koninkryk van Israel gedien (2 Konings 14:23-25). Op ’n dag het Jehovah Jona beveel om Israel te verlaat en na Nineve, die hoofstad van die magtige Assiriese Ryk, te gaan. Sy toewysing? Om die inwoners te waarsku dat hulle groot stad vernietig gaan word (Jona 1:1, 2). In plaas van God se opdrag te gehoorsaam, het Jona gevlug! Hy het op ’n skip geklim wat op pad was na Tarsis, ver van Nineve af.—Jona 1:3.

6. Waarom het Jehovah Jona gekies om na Nineve te gaan?

6 Wat kom in jou gedagtes op wanneer jy aan Jona dink? Dink jy aan hom as ’n ongehoorsame profeet? ’n Vlugtige kykie na hom laat ’n mens dalk tot dié slotsom kom. Maar het God Jona as ’n profeet aangestel omdat hy ongehoorsaam was? Natuurlik nie! Jona het sekerlik gewenste eienskappe gehad. Kom ons kyk na watter soort profeet hy was.

7. Onder watter omstandighede het Jona Jehovah in Israel gedien, en hoe beïnvloed hierdie kennis jou beskouing van hom?

7 Jona het getrou in Israel gearbei, ’n uiters onontvanklike gebied. Die profeet Amos, wat omtrent dieselfde tyd as Jona gelewe het, het die Israeliete van daardie tyd as materialistiese liefhebbers van genot beskryf.b Slegte dinge het in die land gebeur, maar die Israeliete het dit heeltemal geïgnoreer (Amos 3:13-15; 4:4; 6:4-6). Tog het Jona dag na dag sy opdrag om vir hulle te getuig, getrou uitgevoer. As jy ’n verkondiger van die goeie nuus is, weet jy hoe moeilik dit is om met mense te praat wat selfvoldaan en onverskillig is. Terwyl ons Jona se swakhede erken, moet ons dus nie die getrouheid en volharding waarmee hy vir die ontroue Israeliete getuig het, oor die hoof sien nie.

8. Voor watter uitdagings sou ’n Israelitiese profeet in Nineve te staan kom?

8 Die toewysing om na Nineve te gaan, het ’n selfs moeiliker uitdaging gebied. Om by daardie stad uit te kom, moes Jona ongeveer 800 kilometer te voet aflê—’n veeleisende reis wat nagenoeg ’n maand sou neem. Wanneer die profeet daar aankom, sou hy vir die Assiriërs moes preek, wat bekend was vir hulle wreedheid. Sadistiese marteling was ’n algemene kenmerk van hulle oorlogvoering. Hulle het selfs gespog oor hulle wreedheid. Geen wonder dat Nineve “die stad van bloedvergieting” genoem is nie!—Nahum 3:1, 7.

9. Watter eienskappe het Jona geopenbaar toe ’n hewige storm die seemanne se lewens in gevaar gestel het?

9 Jona was teësinnig om Jehovah se bevel te gehoorsaam en het op ’n skip geklim wat hom al hoe verder van sy toewysing af geneem het. Jehovah het nietemin nie sy profeet verwerp of gereël dat iemand hom vervang nie. Jehovah het Jona eerder tot besinning probeer bring. God het ’n hewige storm oor die see laat opkom. Die skip waarop Jona was, is deur die golwe rondgeslinger. Onskuldige mense sou enige oomblik sterf, en dit alles weens Jona! (Jona 1:4). Hoe sou Jona reageer? Jona wou nie hê dat die matrose op die skip hulle lewe as gevolg van hom verloor nie en het vir hulle gesê: “Tel my op en gooi my in die see, en die see sal vir julle stil word” (Jona 1:12). Hy het geen rede gehad om te dink dat Jehovah hom uit die see sou red as die seemanne hom oor boord sou gooi nie (Jona 1:15). Jona was egter bereid om die hoogste prys te betaal sodat die matrose nie sou sterf nie. Sien ons nie hier hoe die eienskappe moed, nederigheid en liefde na vore kom nie?

10. Wat het gebeur nadat Jehovah Jona weer dieselfde toewysing gegee het?

10 Jehovah het Jona uiteindelik gered. Het die manier waarop Jona kort tevore opgetree het, hom onbevoeg gemaak om God ooit weer in ’n amptelike hoedanigheid te dien? Nee, Jehovah het barmhartig en liefdevol die profeet se opdrag herhaal om vir die Nineviete te gaan preek. Toe Jona in Nineve aangekom het, het hy die inwoners moedig vertel dat God hulle verdorwenheid gesien het en dat hulle stad in 40 dae vernietig gaan word (Jona 1:2; 3:4). Nadat die Nineviete Jona se reguit boodskap gehoor het, het hulle berou getoon, en hulle stad is gespaar.

11. Wat toon dat Jona ’n waardevolle les geleer het?

11 Jona het nog steeds nie die regte beskouing gehad nie. Maar deur ’n praktiese les het Jehovah Jona geduldig geleer dat Hy nie net die voorkoms sien nie. Hy ondersoek die hart (Jona 4:5-11). Dat Jona ’n waardevolle les geleer het, blyk duidelik uit die openhartige verslag wat hy self opgeteken het. Sy bereidwilligheid om sy tekortkominge met al die pynlike besonderhede neer te skryf, lewer verdere bewys van sy nederigheid. Dit verg moed om ’n fout te erken!

12. (a) Hoe weet ons dat Jesus dieselfde beskouing van mense het as Jehovah? (b) Watter beskouing van die mense aan wie ons die goeie nuus bekend maak, word ons aangespoor om te behou? (Sien venster op bladsy 18.)

12 Eeue later het Jesus Christus ’n positiewe stelling oor ’n voorval in Jona se lewe gemaak. Hy het gesê: “Net soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van die reusagtige vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matteus 12:40). Wanneer Jona opgewek word, sal hy uitvind dat Jesus Sy tyd in die graf met hierdie donker tydperk in die profeet se lewe vergelyk het. Is ons nie bly dat ons ’n God dien wat nie sy knegte verwerp wanneer hulle foute maak nie? Die psalmis het geskryf: “Soos ’n vader barmhartigheid aan sy kinders bewys, het Jehovah barmhartigheid bewys aan dié wat hom vrees. Want hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:13, 14). Ja, hierdie “stof”—wat onvolmaakte mense van vandag insluit—kan baie verrig met die hulp van God se heilige gees!

’n Gebalanseerde beskouing van Petrus

13. Watter eienskappe van Petrus kom dalk in ons gedagte op, maar waarom het Jesus hom as ’n apostel gekies?

13 Kom ons kyk nou kortliks na ’n tweede voorbeeld, dié van die apostel Petrus. Sou jy, as jy gevra word om Petrus te beskryf, dadelik aan eienskappe dink soos voortvarend, impulsief, selfs aanmatigend? Petrus het wel soms sulke eienskappe geopenbaar. Maar sou Jesus Petrus as een van sy 12 apostels gekies het as Petrus werklik ’n voortvarende, impulsiewe of aanmatigende persoon was? (Lukas 6:12-14). Natuurlik nie! Jesus het ongetwyfeld verder as hierdie swakhede gekyk en Petrus se goeie eienskappe raakgesien.

14. (a) Wat verklaar moontlik waarom Petrus skynbaar so uitgesproke was? (b) Waarom moet ons dankbaar wees dat Petrus dikwels vrae gevra het?

14 Petrus het by tye as ’n woordvoerder vir die ander apostels opgetree. Party beskou dit dalk as ’n bewys dat hy nie beskeie was nie. Maar is dit noodwendig so? Daar is beweer dat Petrus dalk ouer as die ander apostels was—miskien selfs ouer as Jesus. As dit die geval was, help dit om te verklaar waarom Petrus so dikwels eerste gepraat het (Matteus 16:22). Maar daar is nog ’n faktor wat ons in ag moet neem. Petrus was ’n geestelike mens. Sy dors na kennis het hom beweeg om vrae te vra. Dit strek ons tot voordeel. Jesus het ’n hele aantal waardevolle stellings in antwoord op Petrus se vrae gemaak, en dit is in die Bybel bewaar. Dit was byvoorbeeld in antwoord op iets wat Petrus gesê het dat Jesus van “die getroue bestuurder” gepraat het (Lukas 12:41-44). En dink aan Petrus se vraag: “Ons het alles verlaat en u gevolg; wat sal daar dan vir ons wees?” Dit het gelei tot Jesus se bemoedigende belofte: “Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of landerye ter wille van my naam verlaat het, sal baie keer soveel ontvang en die ewige lewe beërf.”—Matteus 15:15; 18:21, 22; 19:27-29.

15. Waarom kan ons sê dat Petrus werklik lojaal was?

15 Petrus het nog ’n goeie eienskap gehad—hy was lojaal. Toe baie van die dissipels Jesus verlaat het omdat hulle een van sy leringe nie verstaan het nie, was dit Petrus wat namens die 12 apostels gesê het: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe” (Johannes 6:66-68). Hoe moes daardie woorde tog Jesus se hart verbly het! Later, toe ’n oproerige skare gekom het om die Heer in hegtenis te neem, het die meeste van sy apostels gevlug. Maar Petrus het die skare op ’n afstand gevolg en tot reg in die binnehof van die hoëpriester gegaan. Dit was moed, nie lafhartigheid nie, wat hom daarheen laat gaan het. Terwyl Jesus ondervra is, het Petrus by ’n groep Jode gaan staan wat hulle by ’n helder vuur warm gemaak het. Een van die hoëpriester se slawe het hom herken en hom daarvan beskuldig dat hy saam met Jesus was. Ja, Petrus het sy Heer verloën, maar ons moenie vergeet dat Petrus weens lojaliteit en besorgdheid oor Jesus in daardie gevaarlike situasie was nie, een waarin die meeste van die apostels nie die moed gehad het om hulle te begewe nie.—Johannes 18:15-27.

16. Om watter praktiese rede het ons die positiewe eienskappe van Jona en Petrus bespreek?

16 Petrus se positiewe eienskappe het sy tekortkominge ver oortref. Dieselfde geld vir Jona. Net soos ons Jona en Petrus in ’n positiewer lig beskou het as wat ons miskien gewoonlik sou gedoen het, moet ons ook leer om ’n positiewer beskouing van ons geestelike broers en susters van vandag te ontwikkel. Dit sal tot ’n beter verhouding met hulle lei. Waarom is dit so belangrik?

’n Hedendaagse toepassing van die les

17, 18. (a) Waarom kan daar wrywing tussen Christene ontstaan? (b) Watter Bybelraad kan ons help om probleme met medegelowiges op te los?

17 Manne, vroue en kinders van alle ekonomiese vlakke sowel as opvoedkundige en rasseagtergronde dien Jehovah vandag eensgesind (Openbaring 7:9, 10). Wat ’n groot verskeidenheid persoonlikhede sien ons tog in die Christengemeente! Aangesien ons God in noue omgang dien, is dit onvermydelik dat daar soms wrywing sal wees.—Romeine 12:10; Filippense 2:3.

18 Hoewel ons nie blind is vir die tekortkominge van ons broers nie, spits ons ons nie daarop toe nie. Ons probeer Jehovah navolg, van wie die psalmis gesing het: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Psalm 130:3). Ons konsentreer nie op eienskappe wat ons kan verdeel nie, maar ‘streef die dinge na wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is’ (Romeine 14:19). Ons probeer mense sien soos Jehovah hulle sien deur nie op hulle tekortkominge te let nie maar op hulle goeie eienskappe te konsentreer. Wanneer ons dit doen, help dit ons om ‘aan te hou om mekaar te verdra’.—Kolossense 3:13.

19. Meld praktiese stappe wat ’n Christen kan neem om ernstige misverstande uit die weg te ruim.

19 Sê nou misverstande ontstaan wat ons eenvoudig nie in ons hart kan oplos nie? (Psalm 4:4). Het dit al met jou en ’n medegelowige gebeur? Waarom probeer jy nie die saak regstel nie? (Genesis 32:13-15). Eerstens, nader Jehovah in gebed en vra sy leiding. Hou dan die persoon se goeie eienskappe in gedagte wanneer jy hom nader met die “sagmoedigheid wat by wysheid behoort” (Jakobus 3:13). Sê vir hom dat jy graag vrede wil maak. Onthou die geïnspireerde raad: “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Die raad om ‘stadig te wees om toornig te word’, impliseer dat die ander persoon dalk iets sal doen of sê wat jou kwaad kan maak. As dit gebeur, moet jy Jehovah vra om jou te help om jou selfbeheersing te behou (Galasiërs 5:22, 23). Laat jou broer sê wat op sy hart is, en luister aandagtig. Moet hom nie in die rede val nie, al stem jy nie saam met alles wat hy sê nie. Sy beskouing is dalk verkeerd, maar dit is nietemin sy beskouing. Probeer die probleem uit sy oogpunt sien. Dit sal dalk beteken dat jy jou deur jou broer se oë moet sien.—Spreuke 18:17.

20. Watter verdere stappe sal moontlik tot versoening lei as jy ’n geskil probeer oplos?

20 Wanneer dit jou beurt is om te praat, moet jy aangename woorde gebruik (Kolossense 4:6). Sê vir jou broer wat jy omtrent hom waardeer. Vra om verskoning vir jou aandeel in die misverstand. As jou nederige pogings tot ’n versoening lei, moet jy Jehovah daarvoor dank. As dit nie versoening meebring nie, moet jy Jehovah om leiding bly vra terwyl jy ander geleenthede soek om vrede te maak.—Romeine 12:18.

21. Hoe het hierdie bespreking jou gehelp om ander te sien soos Jehovah hulle sien?

21 Jehovah het al sy knegte lief. Dit behaag hom om ons almal in sy diens te gebruik ten spyte van ons onvolmaakthede. Namate ons meer oor sy beskouing van ander leer, sal ons liefde vir ons broers en susters toeneem. As ons liefde vir ’n mede-Christen afgekoel het, kan dit weer aangewakker word. Hoe geseënd sal ons tog wees as ons ’n doelgerigte poging aanwend om ’n positiewe beskouing van ander te hê—ja, om hulle te sien soos Jehovah hulle sien!

[Voetnote]

a Dit het later duidelik geword dat die aantreklike Eliab nie die eienskappe gehad het om ’n geskikte koning vir Israel te wees nie. Toe die Filistynse reus Goliat die Israeliete tot ’n geveg uitgedaag het, het Eliab, tesame met die ander manne van Israel, uit vrees teruggedeins.—1 Samuel 17:11, 28-30.

b As gevolg van ’n paar groot oorwinnings en die herstelling van voormalige gebied en die skatting wat waarskynlik as gevolg daarvan ingevorder is, het Jerobeam II blykbaar die rykdom van die noordelike koninkryk grootliks vermeerder.—2 Samuel 8:6; 2 Konings 14:23-28; 2 Kronieke 8:3, 4; Amos 6:2.

Hoe sou jy antwoord?

• Hoe beskou Jehovah die tekortkominge van sy getroue knegte?

• Watter positiewe eienskappe van Jona en Petrus kan jy noem?

• Watter beskouing van jou Christenbroers is jy vasbeslote om te behou?

[Venster op bladsy 18]

Dink aan hoe God ander beskou

Kan jy, terwyl jy oor die Bybelverslag van Jona peins, sien dat jy met nuwe oë moet kyk na die mense aan wie jy gereeld die goeie nuus bekend maak? Dit lyk miskien of hulle selfvoldaan of onverskillig is, soos die Israeliete, of hulle is dalk gekant teen God se boodskap. Hoe beskou Jehovah God hulle nietemin? Selfs party vooraanstaande mense in hierdie stelsel van dinge kan hulle eendag tot Jehovah wend, net soos die koning van Nineve berou getoon het as gevolg van Jona se predikingswerk.—Jona 3:6, 7.

[Prent op bladsy 15]

Sien jy ander soos Jehovah hulle sien?

[Prent op bladsy 16, 17]

Jesus het iets positiefs gevind om oor Jona se ondervinding te sê

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel