Hou aan wandel in Jehovah se weg
“Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit.”—PSALM 37:34.
1, 2. Wat moes koning Dawid doen om in Jehovah se weg te wandel, en wat vereis dit vandag van ons?
“MAAK my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U” (Psalm 143:8). Christene van vandag stem heelhartig saam met hierdie woorde van koning Dawid. Hulle wil graag Jehovah behaag en in sy weg wandel. Wat behels dit? Vir Dawid het dit beteken dat hy God se wet moes onderhou. Dit het ingesluit dat hy op Jehovah moes vertrou en nie op bondgenootskappe met die nasies nie. Ja, en dit het beteken dat hy Jehovah lojaal moes dien, nie die gode van naburige volke nie. Vir Christene behels dit meer om in Jehovah se weg te wandel.
2 Om vandag in Jehovah se weg te wandel, beteken eerstens dat ons geloof moet beoefen in Jesus Christus se losprysofferande en hom moet erken as “die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 3:16; 14:6; Hebreërs 5:9). Dit beteken ook dat ons “die wet van die Christus” moet vervul, wat insluit dat ons liefde aan mekaar en veral aan Jesus se gesalfde broers moet betoon (Galasiërs 6:2; Matteus 25:34-40). Diegene wat in Jehovah se weg wandel, het sy beginsels en gebooie lief (Psalm 119:97; Spreuke 4:5, 6). Hulle heg groot waarde aan hulle kosbare voorreg om aan die Christelike bediening deel te neem (Kolossense 4:17; 2 Timoteus 4:5). Gebed vorm ’n deel van hulle lewe (Romeine 12:12). En hulle ‘let voortdurend streng op hoe hulle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses’ (Efesiërs 5:15). Hulle offer beslis nie geestelike rykdom op vir tydelike materiële voordele of ongeoorloofde vleeslike plesier nie (Matteus 6:19, 20; 1 Johannes 2:15-17). Daarbenewens is lojaliteit teenoor Jehovah en vertroue in hom uiters belangrik (2 Korintiërs 1:9; 10:5; Efesiërs 4:24). Waarom? Omdat ons situasie baie soos dié van eertydse Israel is.
Die belangrikheid van vertroue en lojaliteit
3. Waarom sal lojaliteit, geloof en vertroue ons help om op Jehovah se weg te bly?
3 Israel was ’n klein nasie wat omring was deur vyandige buurnasies wat aan losbandige seremonies in die aanbidding van afgode deelgeneem het (1 Kronieke 16:26). Net Israel het die een ware en onsigbare God, Jehovah, gedien, en hy het vereis dat hulle hoë sedelike standaarde handhaaf (Deuteronomium 6:4, NW). Vandag is daar eweneens net ’n paar miljoen mense wat Jehovah aanbid, en hulle lewe in ’n wêreld met bykans sesmiljard mense wie se standaarde en godsdiensbeskouings grootliks van hulle s’n verskil. As ons onder daardie paar miljoen is, moet ons op ons hoede wees dat ons nie beïnvloed word om ’n verkeerde weg in te slaan nie. Hoe kan ons dit doen? Lojaliteit teenoor Jehovah God, geloof in hom en ’n vaste vertroue dat hy sy beloftes gaan vervul, sal ons help (Hebreërs 11:6). Dit sal voorkom dat ons ons vertroue stel in die dinge waarop die wêreld hoop.—Spreuke 20:22; 1 Timoteus 6:17.
4. Waarom is die nasies “verstandelik in duisternis”?
4 Die apostel Paulus het getoon hoe Christene van die wêreld moet verskil toe hy geskryf het: “Dít sê ek dus en getuig ek van in die Here, dat julle nie langer moet aanhou wandel soos ook die nasies in die nutteloosheid van hulle verstand wandel nie, terwyl hulle verstandelik in duisternis is en vervreemd is van die lewe wat tot God behoort, weens die onkunde wat in hulle is, weens die ongevoeligheid van hulle hart” (Efesiërs 4:17, 18). Jesus is “die ware lig” (Johannes 1:9). Enigeen wat hom verwerp of wat beweer dat hulle in hom glo maar nie “die wet van die Christus” gehoorsaam nie, is “verstandelik in duisternis”. Hulle wandel beslis nie in Jehovah se weg nie, maar is “vervreemd . . . van die lewe wat tot God behoort”. Al dink hulle ook hulle is so wêreldwys, het hulle ‘onkunde in hulle’ wat die kennis van Jehovah God en Jesus Christus betref, die enigste kennis wat tot die lewe lei.—Johannes 17:3; 1 Korintiërs 3:19.
5. Waarom is baie mense se hart onontvanklik, al skyn die lig van waarheid in die wêreld?
5 Tog skyn die lig van waarheid in die wêreld! (Psalm 43:3; Filippense 2:15). “Die Wysheid roep hardop daarbuite” (Spreuke 1:20). Verlede jaar het Jehovah se Getuies meer as ’n miljard uur daaraan gewy om hulle medemens van Jehovah God en Jesus Christus te vertel. Honderdduisende het gunstig daarop gereageer. Moet ons egter verbaas wees dat baie ander nie gunstig gereageer het nie? Nee. Paulus het gepraat van “die ongevoeligheid van hulle hart”. Party het onontvanklike harte weens selfsug of liefde vir geld. Ander word deur valse godsdiens beïnvloed of deur die wêreldlike beskouing wat vandag so algemeen is. Swaarkry het veroorsaak dat baie mense God die rug toekeer. Ander weier om volgens Jehovah se hoë sedelike standaarde te lewe (Johannes 3:20). Kan die hart van iemand wat in Jehovah se weg wandel in hierdie opsigte ongevoelig word?
6, 7. By watter geleenthede het die Israeliete afgedwaal hoewel hulle aanbidders van Jehovah God was, en waarom?
6 Dit het inderdaad met eertydse Israel gebeur, soos Paulus getoon het. Hy het geskryf: “Hierdie dinge het voorbeelde vir ons geword, dat ons nie mense moet wees wat skadelike dinge begeer, net soos hulle dit begeer het nie. Moet ook nie, soos party van hulle, afgodedienaars word nie; net soos daar geskrywe staan: ‘Die volk het gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om ’n vrolike tyd te hê.’ Laat ons ook nie hoerery beoefen, soos party van hulle hoerery gepleeg het nie, sodat hulle geval het, drie-en-twintigduisend van hulle op een dag.”—1 Korintiërs 10:6-8.
7 Paulus verwys eerstens na die keer toe Israel aan die voet van die berg Sinai ’n goue kalf aanbid het (Exodus 32:5, 6). Dit was lynreg in stryd met ’n opdrag van God wat hulle net ’n paar weke tevore gesê het hulle sal gehoorsaam (Exodus 20:4-6; 24:3). Daarna verwys Paulus na die keer toe Israel saam met die dogters van Moab voor Baäl neergebuig het (Numeri 25:1-9). Kalfaanbidding is deur oordrewe selfbevrediging gekenmerk, “om ’n vrolike tyd te hê”.a Baälaanbidding het met skaamtelose geslagsonsedelikheid gepaardgegaan (Openbaring 2:14). Waarom het die Israeliete hierdie sondes gepleeg? Omdat hulle toegelaat het dat hulle hart “skadelike dinge begeer”—hetsy dit die afgodediens of die losbandige gebruike was wat daarmee gepaardgegaan het.
8. Wat kan ons uit Israel se ondervindinge leer?
8 Paulus het getoon dat ons uit hierdie gebeure moet leer. Wat moet ons leer? Dit is hoogs onwaarskynlik dat ’n Christen voor ’n goue kalf of ’n Moabitiese god van die ou tyd sal buig. Maar wat van onsedelikheid of onbeheerste selfbevrediging? Hierdie dinge is vandag algemeen, en as ons toelaat dat ’n begeerte hierna in ons hart ontwikkel, sal dit tussen ons en Jehovah kom. Die gevolg sal dieselfde wees soos om afgodediens te beoefen—vervreemding van God. (Vergelyk Kolossense 3:5; Filippense 3:19.) Trouens, Paulus sluit sy bespreking van hierdie gebeure af deur sy medegelowiges te vermaan: “Vlug vir die afgodery.”—1 Korintiërs 10:14.
Hulpmiddele om in God se weg te wandel
9. (a) Watter hulp ontvang ons om in Jehovah se weg te bly wandel? (b) Wat is een manier waarop ons die ‘woord agter ons’ hoor?
9 As ons vasbeslote is om in Jehovah se weg te bly wandel, word ons nie sonder hulp gelaat nie. Jesaja het voorspel: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21). Hoe hoor ‘ons ore’ daardie ‘woord agter ons’? Wel, niemand hoor vandag ’n letterlike stem of ontvang ’n persoonlike boodskap van God af nie. Die “woord” wat ons hoor, kom na ons almal op dieselfde manier. Dit kom allereers deur die geïnspireerde Skrif, die Bybel, wat die gedagtes van God en ’n verslag van sy handelinge met mense bevat. Aangesien ons daagliks blootgestel word aan propaganda uit bronne wat “vervreemd is van die lewe wat tot God behoort”, moet ons gereeld die Bybel lees en daaroor peins om goeie geestelike gesondheid te geniet. Dit sal ons help om “ydele dinge” te vermy en om “volkome bevoeg . . . , ten volle toegerus vir elke goeie werk” te wees (Handelinge 14:14, 15; 2 Timoteus 3:16, 17). Dit sal ons versterk en ons help om ‘voorspoedig in ons weë te wees’ (Josua 1:7, 8). Jehovah se Woord spoor ons derhalwe aan: “Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar. Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie.”—Spreuke 8:32, 33.
10. Wat is ’n tweede manier waarop ons die ‘woord agter ons’ hoor?
10 Die ‘woord agter ons’ kom ook na ons deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” wat “voedsel op die regte tyd” voorsien (Matteus 24:45-47). Een manier waarop hierdie voedsel voorsien word, is in die vorm van gedrukte Bybelpublikasies, en in die laaste jare was daar ’n oorvloed van hierdie voedsel beskikbaar. Die Wagtoring help ons byvoorbeeld om profesieë beter te verstaan. In hierdie tydskrif is ons aangemoedig om in die predikings- en dissipelmaakwerk te volhard ten spyte van toenemende onverskilligheid, ons is gehelp om slaggate te vermy en ons is aangespoor om goeie Christelike eienskappe te ontwikkel. Hoe waardeer ons tog sulke voedsel op die regte tyd!
11. Verduidelik ’n derde manier waarop ons die ‘woord agter ons’ kan hoor.
11 Die getroue en verstandige slaaf voorsien ook voedsel deur ons gereelde vergaderinge. Dit sluit vergaderinge van plaaslike gemeentes in, asook halfjaarlikse vergaderinge van kringe en groter jaarlikse streekbyeenkomste. Daar is sekerlik nie ’n getroue Christen wat sulke samekomste nie hoog op prys stel nie. Dit is ’n lewensbelangrike hulpmiddel wat ons die krag gee om in Jehovah se weg te wandel. Aangesien talle Christene baie tyd by die werk of op skool moet deurbring saam met persone wat nie dieselfde geloofsoortuiging as hulle het nie, is gereelde Christenassosiasie as ’t ware lewensreddend. Vergaderinge bied ons ’n goeie geleentheid ‘om mekaar tot liefde en voortreflike werke aan te spoor’ (Hebreërs 10:24). Ons het ons broers lief, en ons geniet dit om met hulle te assosieer.—Psalm 133:1, NW.
12. Wat is Jehovah se Getuies vasbeslote om te doen, en hoe het hulle dit onlangs in woorde uitgedruk?
12 Bykans sesmiljoen mense word vandag deur sulke geestelike voedsel versterk om in Jehovah se weg te wandel, en miljoene ander bestudeer die Bybel sodat hulle kan leer wat hulle moet doen. Voel hulle mismoedig omdat hulle so min in vergelyking met die miljarde van die aarde se bevolking is? Beslis nie! Hulle is vasbeslote om aan te hou om die ‘woord agter hulle’ te gehoorsaam en lojaal Jehovah se wil te doen. As ’n openbare bewys van hierdie vasbeslotenheid het die byeenkomsgangers by die “God se weg van die lewe”-internasionale en streekbyeenkomste in 1998/99 ’n resolusie aangeneem wat hulle hartgrondige standpunt in woorde uitdruk. Hier volg die inhoud van daardie resolusie.
Resolusie
13, 14. Watter realistiese beskouing het Jehovah se Getuies van die wêreldsituasie?
13 “Ons, as Jehovah se Getuies wat by die ‘God se weg van die lewe’-byeenkoms vergader is, stem heelhartig daarmee saam dat God se weg die beste weg is om te volg. Ons besef egter dat die meeste mense vandag nie so voel nie. Die mensegemeenskap het al met talle begrippe, filosofieë en godsdiensidees geëksperimenteer om te bepaal wat die beste lewensweg is. ’n Eerlike kykie na die mens se geskiedenis en hedendaagse wêreldtoestande bevestig die waaragtigheid van die Goddelike verklaring in Jeremia 10:23: ‘Dit behoort nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.’
14 “Ons sien elke dag al hoe meer getuienis wat daardie woorde waar bewys. Die mensegemeenskap slaan oor die algemeen geen ag op God se weg van die lewe nie. Mense volg ’n weg wat reg lyk in hulle eie oë. Dit het tragiese gevolge meegebring—die verbrokkeling van die gesinslewe, wat kinders sonder leiding laat; die grootskaalse najaging van materiële dinge, wat op ’n leë lewe en frustrasie uitloop; die sinnelose misdaad en geweld, wat tallose slagoffers eis; die etniese konflikte en oorloë, wat ontsaglik baie menselewens eis; onsedelikheid wat aan die orde van die dag is en tot ’n epidemie van seksueel oordraagbare siektes lei. Dit is maar ’n paar van die menigte ingewikkelde probleme wat die strewe na geluk, vrede en veiligheid bemoeilik.
15, 16. Watter vasbeslotenheid is in die resolusie uitgespreek oor God se weg van die lewe?
15 “Met die oog op die mensdom se benarde situasie en die nabyheid van ‘die oorlog van die groot dag van God die Almagtige’ wat Armageddon genoem word (Openbaring 16:14, 16), verklaar ons as Jehovah se Getuies dat ons ons die volgende voorneem:
16 “Een: Ons beskou onsself as persone wat aan Jehovah God behoort, aangesien ons ons as individue onvoorwaardelik aan hom toegewy het, en ons sal onwrikbare geloof handhaaf in Jehovah se voorsiening van die losprys deur sy Seun, Jesus Christus. Ons is vasbeslote om in God se weg van die lewe te wandel deur as sy Getuies te dien en ons te onderwerp aan sy soewereiniteit soos dit deur die heerskappy van Jesus Christus uitgeoefen word.
17, 18. Watter standpunt sal Jehovah se Getuies aanhou handhaaf wat sedelike standaarde en die Christenbroederskap betref?
17 “Twee: Ons sal voortgaan om by die hoë sedelike en geestelike standaarde van die Bybel te bly. Ons is vasbeslote om nie te wandel soos die nasies wandel in die nutteloosheid van hulle verstand nie (Efesiërs 4:17-19). Dit is ons vaste voorneme om rein voor Jehovah en sonder vlek van hierdie wêreld te bly.—Jakobus 1:27.
18 “Drie: Ons sal vashou aan ons skriftuurlike posisie as ’n wêreldwye Christenbroederskap. Ons sal Christelike neutraliteit onder die nasies handhaaf en nie betrokke raak by rasse-, nasionale of etniese haat of verdeeldheid nie.
19, 20. (a) Wat sal Christenouers doen? (b) Hoe sal alle ware Christene voortgaan om hulle as Christus se dissipels te identifiseer?
19 “Vier: Dié van ons wat ouers is, sal God se weg by ons kinders inskerp. Ons sal ’n voorbeeld stel deur ’n Christelike lewenswyse te volg, wat gereelde Bybellees, gesinstudie en ’n heelhartige deelname in die Christengemeente en aan die veldbediening betref.
20 “Vyf: Ons almal sal daarna streef om die godvrugtige eienskappe aan te kweek wat deur ons Skepper weerspieël word, en ons sal sy persoonlikheid en sy weë probeer navolg, soos Jesus gedoen het (Efesiërs 5:1). Ons is vasbeslote om al ons aangeleenthede in liefde te laat geskied, en sodoende identifiseer ons ons as Christus se dissipels.—Johannes 13:35.
21-23. Wat sal Jehovah se Getuies voortgaan om te doen, en waarvan is hulle oortuig?
21 “Ses: Ons sal sonder ophou voortgaan om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en dissipels te maak, en ons sal hulle in God se weg van die lewe onderrig en hulle aanmoedig om by gemeentelike vergaderinge verder opgelei te word.—Matteus 24:14; 28:19, 20; Hebreërs 10:24, 25.
22 “Sewe: As individue en as ’n godsdiensorganisasie sal ons voortgaan om God se wil eerste in ons lewe te stel. Deur sy Woord, die Bybel, as ons gids te gebruik, sal ons nie na regs of na links afwyk nie en sodoende bevestig dat God se weg ver verhewe is bo die weë van die wêreld. Ons is vasbeslote om God se weg van die lewe te volg—standvastig en lojaal, nou en tot in alle ewigheid!
23 “Ons neem hierdie resolusie aan omdat ons volle vertroue stel in Jehovah se liefdevolle belofte dat diegene wat die wil van God doen vir ewig sal bestaan. Ons neem hierdie resolusie aan omdat ons daarvan oortuig is dat die navolging van skriftuurlike beginsels, raad en vermanings vandag die beste lewensweg is om te volg en ’n goeie fondament vir die toekoms lê, sodat ons ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry (1 Timoteus 6:19; 2 Timoteus 4:7b, 8). Bowenal neem ons hierdie resolusie aan omdat ons Jehovah God met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhet!
24, 25. Wat was die reaksie op die voorgestelde resolusie, en wat is diegene wat in Jehovah se weg wandel vasbeslote om te doen?
24 “Almal wat by hierdie byeenkoms teenwoordig is en wat ten gunste van hierdie resolusie is, sê asseblief JA!”
25 Honderde sale en stadions regoor die wêreld het weergalm toe al die aanwesiges met ’n harde stem “JA!” gesê het. Jehovah se Getuies twyfel glad nie dat hulle sal voortgaan om in Jehovah se weg te wandel nie. Hulle stel hulle volle vertroue in Jehovah en het geloof dat hy sy beloftes gaan vervul. Hulle bly lojaal aan hom ongeag wat gebeur. En hulle is vasbeslote om sy wil te doen.
‘God is vir ons’
26. In watter gelukkige posisie is diegene wat in Jehovah se weg wandel?
26 Jehovah se Getuies onthou die psalmis se aansporing: “Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit” (Psalm 37:34). Hulle vergeet nie Paulus se aanmoedigende woorde nie: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees? Hy wat selfs nie sy eie Seun gespaar het nie, maar hom vir ons almal oorgelewer het, waarom sal hy ons dan nie ook saam met hom alle ander dinge goedgunstig gee nie?” (Romeine 8:31, 32). Ja, as ons aanhou wandel in Jehovah se weg, sal hy ons “alles ryklik vir ons genot verskaf” (1 Timoteus 6:17). In watter beter posisie kan ons wees as waarin ons nou is—om in Jehovah se weg te wandel saam met ons dierbare broers en susters. Met Jehovah aan ons kant moet ons vasbeslote wees om in daardie posisie te bly en tot die einde toe te volhard, met die vaste vertroue dat ons op sy bestemde tyd sal sien hoe hy al sy beloftes vervul.—Titus 1:2.
[Voetnoot]
a Met verwysing na die Griekse woord wat hier met ‘’n vrolike tyd hê’ vertaal word, sê ’n kommentator dat dit na die danse verwys wat deel van heidense feeste was, en hy voeg by: “Baie van hierdie danse, soos algemeen bekend is, was juis bedoel om die mees onbeteuelde drange op te wek.”
Onthou jy?
◻ Wat word van ’n Christen vereis om in Jehovah se weg te wandel?
◻ Waarom moet ons vertroue in Jehovah en lojaliteit teenoor hom aankweek?
◻ Watter hulpmiddele is beskikbaar terwyl ons in Jehovah se weg wandel?
◻ Noem ’n paar glanspunte van die resolusie wat by die “God se weg van die lewe”-byeenkomste aangeneem is.
[Prente op bladsy 18]
By die “God se weg van die lewe”-internasionale en streekbyeenkomste is ’n belangrike resolusie aangeneem