Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 5/15 bl. 21-24
  • ‘Loof Jehovah, o my siel’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Loof Jehovah, o my siel’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah ‘vergewe al jou ongeregtigheid’
  • Hy ‘eis jou lewe terug’
  • Jehovah verlos sy volk
  • ‘Loof Jehovah, al sy werke’
  • Jehovah verdien ewige lof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jehovah se barmhartigheid red ons van wanhoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wie sal die Koning loof?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Laat ons Jehovah se naam saam verhef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 5/15 bl. 21-24

‘Loof Jehovah, o my siel’

“IN DIE afgelope paar maande het my bediening eentonig geword, en ek put geen vreugde daaruit nie”, sê Nancy.a Sy dien nou al sowat tien jaar lank as ’n pionier, ’n voltydse verkondiger van die goeie nuus. Maar sy voeg by: “Ek hou nie daarvan om so te voel nie. Dis asof ek die Koninkryksboodskap meer uit gewoonte as uit my hart aanbied. Wat moet ek doen?”

Beskou ook die geval van Keith, ’n ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Hoe verbaas was hy tog toe sy vrou vir hom sê: “Jy’t seker iets op die hart. Toe jy nou gebid het, het jy dankie gesê vir die kos al gaan ons nie nou eet nie!” Keith erken: “Ek kan sien dat my gebede meganies geword het.”

Jy wil ongetwyfeld nie hê dat jou lof aan Jehovah God onpersoonlik en oppervlakkig moet wees nie. Inteendeel, jy wil hê dat dit opreg moet wees en uit ’n gevoel van dankbaarheid moet voortspruit. Maar ’n gevoel kan nie soos ’n kledingstuk aan- of uitgetrek word nie. Dit moet uit die hart kom. Hoe kan ’n mens in jou hart dankbaar voel? Die 103de Psalm gee ons insig in hierdie verband.

Koning Dawid van eertydse Israel het die 103de Psalm gekomponeer. Hy begin met die woorde: ‘Loof Jehovah, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!’ (Psalm 103:1). “Die woord loof, wanneer dit op God toegepas word”, sê een naslaanwerk, “. . . impliseer altyd innige liefde vir hom sowel as ’n gevoel van dankbaarheid.” Aangesien Dawid Jehovah graag met ’n hart vol liefde en waardering wil prys, moedig hy sy eie siel—homself—aan om ‘Jehovah te loof’. Maar wat laat hierdie innige gevoel in Dawid se hart ontstaan teenoor die God wat hy aanbid?

Dawid sê voorts: “Vergeet geeneen van sy [Jehovah se] weldade nie!” (Psalm 103:2). ’n Gevoel van dankbaarheid teenoor Jehovah hou klaarblyklik daarmee verband om met waardering oor “sy weldade” te peins. Presies watter weldade van Jehovah het Dawid in gedagte? As ’n mens na Jehovah God se skepping kyk, soos na die sterrehemel op ’n helder aand, kan dit jou hart inderdaad met dankbaarheid teenoor die Skepper vul. Die sterrehemel het ’n diep indruk op Dawid gemaak (Psalm 8:4, 5; 19:2). In die 103de Psalm onthou Dawid egter ander dade van Jehovah.

Jehovah ‘vergewe al jou ongeregtigheid’

In hierdie psalm vertel Dawid ons van God se dade van liefderyke goedhartigheid. Hy verwys na die grootste hiervan en sing: ‘Jehovah vergewe al jou ongeregtigheid’ (Psalm 103:3). Dawid was beslis bewus van sy eie sondige toestand. Nadat die profeet Natan Dawid met sy owerspelige verhouding met Batseba gekonfronteer het, het hy erken: “Teen U [Jehovah] alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë” (Psalm 51:6). Hy het met ’n gebroke hart gesmeek: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde” (Psalm 51:3, 4). Hoe dankbaar moes Dawid tog gewees het om vergewe te word! As ’n onvolmaakte mens het hy ook ander sondes in sy lewe gepleeg, maar hy het altyd berou getoon, teregwysing aanvaar en veranderinge aangebring. Nadat Dawid oor God se wonderlike dade van goedhartigheid teenoor hom gepeins het, het dit hom beweeg om Jehovah te loof.

Is ons nie ook sondig nie? (Romeine 5:12). Selfs die apostel Paulus het hierdie feit betreur: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is. Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” (Romeine 7:22-24). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah nie boekhou van ons oortredings nie! Hy wis dit met graagte uit wanneer ons berou toon en vergifnis vra.

Dawid herinner homself hieraan: ‘Jehovah genees al jou krankhede’ (Psalm 103:3). Aangesien genesing ’n daad van herstelling is, behels dit meer as vergifnis van sonde. Dit behels die verwydering van “krankhede”—die slegte gevolge van ons verkeerde dade. In die nuwe wêreld wat Jehovah tot stand gaan bring, sal hy inderdaad die fisiese gevolge van sonde, soos siekte en die dood, verwyder (Jesaja 25:8; Openbaring 21:1-4). Maar selfs vandag genees God ons van geestelike krankhede. Vir sommige sluit dit ’n slegte gewete en ’n verbroke verhouding met hom in. ‘Moenie vergeet’ wat Jehovah reeds in hierdie verband vir elkeen van ons as individue gedoen het nie.

Hy ‘eis jou lewe terug’

‘Jehovah eis jou lewe terug uit die kuil’, sing Dawid (Psalm 103:4, NW). “Die kuil” is die mensdom se gemeenskaplike graf—Sjeool, of Hades. Selfs voordat Dawid ’n koning oor Israel geword het, het hy hom in die kloue van die dood bevind. Saul, die koning van Israel, het byvoorbeeld ’n moorddadige haat teenoor Dawid gekoester en het hom by verskeie geleenthede probeer doodmaak (1 Samuel 18:9-29; 19:10; 23:6-29). Die Filistyne wou Dawid ook dood hê (1 Samuel 21:10-15). Maar Jehovah het hom elke keer uit “die kuil” gered. Hoe dankbaar moes Dawid tog gevoel het wanneer hy aan hierdie weldade van Jehovah gedink het!

Wat van jou? Het Jehovah jou onderskraag deur tye van neerslagtigheid of toe jy iemand aan die dood afgestaan het? Of weet jy van gevalle in ons tyd waar hy die lewe van sy getroue Getuies uit die kuil van Sjeool teruggeëis het? Jy is moontlik al diep geraak deur verslae van sy verlossingsdade wat jy in hierdie tydskrif gelees het. Waarom sit jy nie tyd opsy om met waardering oor hierdie weldade van die ware God te peins nie? En ons almal het natuurlik rede om dankbaar teenoor Jehovah te wees vir die opstandingshoop.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

Jehovah gee ons die lewe sowel as dinge om die lewe genotvol en die moeite werd te maak. Die psalmis sê dat God ‘jou met liefderyke goedhartigheid en barmhartighede kroon’ (Psalm 103:4, NW). Wanneer ons in nood verkeer, laat Jehovah ons nie in die steek nie, maar hy kom ons te hulp deur middel van sy sigbare organisasie en die aangestelde ouer manne, of herders, in die gemeente. Sulke hulp stel ons in staat om ’n moeilike situasie die hoof te bied sonder dat ons ons selfrespek en waardigheid verloor. Christenherders gee baie om vir die skape. Hulle moedig die siekes en terneergedruktes aan en doen alles in hulle vermoë om diegene wat geval het weer op te help (Jesaja 32:1, 2; 1 Petrus 5:2, 3; Judas 22, 23). Jehovah se gees beweeg hierdie herders om medelydend en liefdevol teenoor die kudde te wees. Sy “liefderyke goedhartigheid en barmhartighede” is inderdaad soos ’n kroon wat ons versier en waardigheid aan ons gee! Laat ons Jehovah en sy heilige naam loof en nooit sy weldade vergeet nie.

Die psalmis Dawid vermaan homself verder deur te sing: ‘Jehovah versadig jou siel met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ’n arend’ (Psalm 103:5). Jehovah gee ons ’n lewe van bevrediging en blydskap. Ja, die blote feit dat ons die waarheid ken, is vir ons iets van onskatbare waarde en ’n bron van onbeskryflike vreugde! En dink aan hoe uiters bevredigend die werk is wat Jehovah ons gegee het, naamlik om die predikingswerk te doen en dissipels te maak. Wat ’n vreugde is dit tog om iemand te vind wat daarin belangstel om aangaande die ware God te leer en daardie persoon te help om Jehovah te leer ken en hom te loof! Maar of enigiemand in ons gebied nou luister of nie, dit is ’n baie groot voorreg om deel te neem aan ’n werk wat met die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit verband hou.

Wie van ons word nie moeg of mat terwyl ons volhard in die verkondiging van God se Koninkryk nie? Maar Jehovah gee sy knegte gedurig nuwe krag en maak hulle ‘soos arende’ wat sterk vlerke het en tot hoog in die lug kan vlieg. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ons liefdevolle hemelse Vader ons sulke “dinamiese energie” gee sodat ons dag na dag ons bediening getrou kan uitvoer!—Jesaja 40:29-31, vgl. NW.

Ter toeligting: Clara werk voltyds en wy ook omtrent 50 uur elke maand aan die veldbediening. Sy sê: “Ek voel soms moeg, en ek dwing myself om in die velddiens uit te gaan omdat ek gereël het om saam met iemand te werk. Maar as ek eers uit is, voel ek altyd of ek nuwe krag het.” Dalk het jy ook al ondervind hoe God jou met krag in die Christelike bediening onderskraag. Mag jy, soos Dawid in die openingswoorde van hierdie psalm, beweeg word om te sê: ‘Loof Jehovah, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!’

Jehovah verlos sy volk

Die psalmis sing ook: “Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word. Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade” (Psalm 103:6, 7). Dawid dink waarskynlik aan die ‘verdrukking’ van die Israeliete onder Egiptiese onderdrukkers in die dae van Moses. Dit het sekerlik ’n gevoel van dankbaarheid in Dawid se hart laat ontstaan om te peins oor hoe Jehovah sy metodes van verlossing aan Moses bekend gemaak het.

Dit kan ons eweneens met dankbaarheid vul as ons oor God se handelinge met die Israeliete peins. Maar ons moet ook oor die ondervindinge van Jehovah se hedendaagse knegte peins, soos dié wat in hoofstukke 29 en 30 van die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk gemeld word. Die verslae wat daarin verskyn asook dié in ander publikasies van die Wagtoringgenootskap stel ons in staat om te sien hoe Jehovah sy volk in hedendaagse tye gehelp het om gevangeneming, gepeupelgeweld, verbooie, konsentrasiekampe en slawearbeidskampe die hoof te bied. Daar was beproewinge in oorloggeteisterde lande, soos Burundi, Liberië, Rwanda en die voormalige Joego-Slawië. Wanneer vervolging ook al plaasgevind het, het Jehovah se hand altyd sy getroue knegte onderskraag. As ons oor hierdie weldade van ons groot God, Jehovah, peins, kan dit dieselfde uitwerking op ons hê as wat dit op Dawid gehad het toe hy oor die verslag van die verlossing uit Egipte nagedink het.

Dink ook aan die liefdevolle wyse waarop Jehovah ons van die las van sonde verlos. Hy het “die bloed van die Christus” voorsien om “ons gewetens van dooie werke [te] reinig” (Hebreërs 9:14). Wanneer ons berou toon oor ons sondes en vergifnis vra op grond van Christus se vergote bloed, verwyder God ons oortredings ver van ons af—“so ver as die ooste verwyderd is van die weste”—en herstel ons in sy guns. En dink aan Jehovah se voorsienings in die vorm van Christelike vergaderinge, opbouende omgang, herders in die gemeente en Bybelpublikasies wat ons deur “die getroue en verstandige slaaf” ontvang (Matteus 24:45). Help al hierdie weldade van Jehovah ons nie om ons verhouding met hom te versterk nie? Dawid sê: “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. . . . Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie” (Psalm 103:8-14). As ons oor Jehovah se liefdevolle sorg peins, kan dit ons beslis beweeg om hom te verheerlik en sy heilige naam te prys.

‘Loof Jehovah, al sy werke’

In vergelyking met die onsterflikheid van Jehovah, “die ewige God”, is die ‘dae van die mens’ inderdaad kort—“soos die gras”. Maar Dawid sê met waardering: “Die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen” (Genesis 21:33; Psalm 103:15-18). Jehovah vergeet nie diegene wat hom vrees nie. Op sy bestemde tyd sal hy hulle die ewige lewe gee.—Johannes 3:16; 17:3.

Dawid spreek sy waardering vir Jehovah se koningskap uit deur te sê: “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles” (Psalm 103:19). Hoewel Jehovah sy koningskap ’n tyd lank op sigbare wyse deur die koninkryk van Israel uitgeoefen het, is sy troon in werklikheid in die hemel. As Skepper is Jehovah die Soewereine Heerser oor die heelal en oefen hy sy Goddelike wil in die hemel en op aarde uit volgens sy eie voornemens.

Dawid spoor selfs die hemelse engeleskepsele aan. Hy sing: “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!” (Psalm 103:20-22). Behoort dit ons nie ook te beweeg om Jehovah te loof as ons oor sy dade van liefderyke goedhartigheid teenoor ons peins nie? Beslis! En ons kan daarvan seker wees dat God die lof wat ons persoonlik aan hom bring, sal kan hoor tussen die magtige gedruis van al sy lowers se stemme, wat selfs die regverdige engele insluit. Mag ons ons hemelse Vader heelhartig prys en altyd met lof van hom praat. Trouens, laat ons Dawid se woorde ter harte neem: ‘Loof Jehovah, o my siel.’

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prent op bladsy 23]

Dawid het oor Jehovah se dade van liefderyke goedhartigheid gepeins. Doen jy dit?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel