Wandel deur geloof!
“Ons [het] altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon. Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”—2 KORINTHIËRS 5:6, 7.
1. Wat is sommige van die seëninge wat ons geniet omdat ons kan sien?
EEN van die wonders van die menseliggaam is die oog. Deur middel van hierdie verstommende, fotografiese meganisme vermy ons nie alleen hindernisse nie, maar neem ons ook ’n oneindige aantal beelde in, waarvan baie ons verhoudinge met ander raak. Dit is duidelik dat die Ontwerper van die oog nie wou hê dat ons hier op ons planeettuiste in duisternis moet rondtas nie. Bowendien was dit sy doel dat ons sy wonderlike skeppingswerke—mense en diere, berge en riviere, mere en see, blomme en ander plante, die lug en die verruklike skakerings van ’n sonsondergang—moet aanskou en geniet. Waarderende aanskouers kan saam met die psalmis uitroep: “Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”—Psalm 104:24.
2. Waarom is dit nie genoeg om deur aanskouing te wandel nie, en wat het Paulus in hierdie verband gesê?
2 Maar hoewel ons fisieke gesigsvermoë wonderlik is, hou dit groot gevaar in om net daardeur te wandel. As ons goddelike guns wil geniet, moet ons wandel deur geloof in die Ontwerper van die menslike oog. Ons moet sy leiding soek sodat ons kan doen wat goed is. In ’n brief aan mede- gesalfde Christene het die apostel Paulus gepas gesê: “Ons [het] altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon. Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon [deur te ontslaap en tot hemelse lewe opgewek te word]. Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”—2 Korinthiërs 5:6-10.
3. Wat moet die begeerte van alle toegewyde knegte van Jehovah wees, en watter vrae verdien ons aandag?
3 Alle toegewyde knegte van Jehovah—hetsy hulle van die gesalfde oorblyfsel of van die groeiende “groot menigte” met aardse verwagtinge is—wil doen wat goed is (Openbaring 7:9). Maar waarom kan daar gesê word dat dit so gevaarlik is om ‘deur aanskouing te wandel’? En wat beteken dit om ‘deur geloof te wandel’?
Waarom dit gevaarlik is om ‘deur aanskouing te wandel’
4. (a) Waarom moet ons nie alles sonder meer aanvaar nie? (b) Hoe beskou die Maker van die oog dinge?
4 As ons alles sonder meer aanvaar en net op die skyn afgaan, bestaan die gevaar dat ons tot ons eie nadeel mislei kan word. Iemand kan byvoorbeeld op sand loop en dan skielik in dryfsand beland. Of ’n persoon kan om die bos gelei word deur die vriendelike voorkoms van iemand wat uiteindelik ‘’n wolf in skaapsklere’ blyk te wees (Mattheüs 7:15). Daarom moet ons waaksaam wees. Die Maker van die oog laat hom nie deur blote skyn of voorkoms lei nie. Hy het vir die profeet Samuel gesê: “Nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Ja, die Maker van die oog sien die innerlike gedagtes en bedoelings, en sy beoordeling van iemand of iets is altyd akkuraat. (Vergelyk Hebreërs 4:12.) Uit hoofde van sy volmaakte gesig en insig, is hy waarlik die Alsiende.
5. Waarom is dit lewensbelangrik dat ons gewaarsku word teen die gevare wat dit inhou om ‘deur aanskouing te wandel’?
5 As blote mense kan ons egter nie duidelik uitmaak wat in iemand anders se hart is nie. Selfs met ons Godgegewe vermoëns is ons onvolmaak en word ons dikwels mislei. Trouens, ons eie hart kan ons mislei, want dit “is bedriegliker as enigiets anders” (Jeremia 17:9, NAV). Daarom is dit lewensbelangrik dat ons gewaarsku word teen die gevare wat dit inhou om ‘deur aanskouing te wandel’. Het Jehovah in hierdie dringende behoefte voorsien? Hy het inderdaad! Tot ons lering het hy ’n verslag laat opteken van sekere belangrike gebeurtenisse wat toon hoe gevaarlik dit is om deur blote aanskouing te wandel.—Romeine 15:4.
6. Wat het met die Israeliete gebeur omdat hulle ‘deur aanskouing gewandel het’?
6 Die ondervindinge van God se eertydse volk, die Israeliete, is baie relevant. Ofskoon daardie hoogbegunstigde nasie altyd die onfeilbare raad van Jehovah tot hulle beskikking gehad het, het die afvallige volk “in hul eie planne” gewandel (Psalm 81:13). Hulle het ‘deur aanskouing gewandel’ en hulle gewend tot die aanbidding van afgode wat vir die natuurlike oog sigbaar was. Omdat hulle hulle deur die skyn laat lei het, het hulle gebewe uit vrees vir hulle vyande se groot getalsoorwig. En omdat hulle ‘deur aanskouing gewandel het en nie deur geloof nie’, het die Israeliete boonop Moses se Godgegewe leierskap betwis en oor hulle lewenslot gekla. (Vergelyk Judas 16.) Ja, en dit wil voorkom of baie van hulle jaloers was op die oënskynlike vryheid en voorspoed van omliggende nasies, maar die feit geignoreer het dat daardie mense verdorwe en onder demoninvloed was.—Levitikus 18:1-3, 30.
7. Wat het gebeur met die Israeliete wat goddelike leiding verwerp het?
7 Wat het met die Israeliete gebeur wat daarop aangedring het om hulle eie kop te volg en goddelike leiding verwerp het? Hulle het hulle natuurlik Jehovah se misnoeë op die hals gehaal, en hy het sy beskermende sorg onttrek sodat hulle deur hulle vyande verslaan is! Selfs in die Beloofde Land het die Israeliete dikwels die slawe van hulle genadelose vyande geword (Rigters 2:17-23). Anders as Moses, wat hom nie deur die wêreldlike geriewe van Egipte se heersersklas laat behaag het nie, het die volk Israel “die kortstondige genieting van sonde” verkies en nie aangehou wandel soos mense “wat die onsienlike God sien” nie. Hulle het nie geloof gehad nie. En onthou, “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag”.—Hebreërs 3:16-19; 11:6, 24-27, NAV.
8. Waarom moet Jehovah se hedendaagse knegte ’n waarskuwende les neem uit die ondervindinge van die eertydse Israeliete?
8 Jehovah se hedendaagse knegte kan ’n waarskuwende les neem uit daardie gebeure van die verlede. Ons loop ook gevaar om swak te word in die geloof of selfs ons geloof te verloor. Is dit nie so dat ons te veel beïnvloed kan word deur die voorkoms van dinge en dan weer “deur aanskouing” kan begin wandel nie? Ja, en dit is waarom Jehovah goedgunstig leiding verskaf het aan die wat hom in geloof wil dien. Hy het die Israeliete en sy handelinge met hulle as lesse vir latere geslagte, met inbegrip van ons s’n, gebruik (1 Korinthiërs 10:11). So word ons versterk deur juiste kennis, deur sterk hoop en deur volharding.
9. Hoe kan ons sekere dade en teokratiese reëlings beskou as ons ‘deur aanskouing wandel’?
9 Sonder hierdie onfeilbare leiding van ons liefdevolle Skepper sou ons gevaar loop om die Grotere Moses, Jesus Christus, uit te daag; ons kan vergeet dat God en Christus vandag ware Christene lei. (Vergelyk 1 Korinthiërs 11:3; Efesiërs 5:24.) Ons kan begin dink dat die organisasie van Jehovah se Getuies van bloot menslike oorsprong is en dat ons gevolglik maar kan doen wat reg is in ons eie oë. (Vergelyk Rigters 21:25). Daarbenewens kan ons in dieselfde dwaling verval as sommige wat skynbaar dink dat enige optrede in orde is mits dit nie hulle gewete kwel nie. Ander kan begin dink dat die teokratiese organisasie vir hulle gemak en gerief bestaan en dat al sy vereistes maklik gemaak moet word sodat geen selfopoffering van hulle vereis word nie. Nog ’n gevaar is die beskouing dat die reëlings van die organisasie ons eie wil moet bevredig in plaas van die wil van God. Ons Voorbeeld, Jesus Christus, het egter altyd vreugdevol die wil van sy hemelse Vader gedoen.—Psalm 40:9; Hebreërs 10:5-10.
10. Hoe kan ons beskouing van die veldbediening en ander teokratiese bedrywighede beïnvloed word as ons goddelike leiding oor die hoof sien of lig opneem?
10 Omdat hulle goddelike leiding oor die hoof sien of dit lig opneem, kan sommige dink dat ons vergaderinge verkort moet word, byeenkomsplekke nie so ver moet wees nie en studiemateriaal altyd eenvoudig moet wees en nooit “vaste spys” moet insluit nie (Hebreërs 5:12). In lande waar Christene rus en vrede geniet, kan sommige die Koninkrykseëninge as vanselfsprekend beskou en dink dat heilige diens geen inspanning behoort te verg nie. As sulke gesindhede by ons posvat, kan ons selfs “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” word, miskien deur so te sê elke naweek vir ontspanning te gebruik in plaas van daardie tyd te bestee aan die veldbediening en ander teokratiese bedrywighede wat ons heelhartige toewyding aan Jehovah weerspieël (2 Timotheüs 3:1, 4). Sou ons dan eerlik waar kon sê dat ons ‘deur geloof wandel en nie deur aanskouing nie’?
11. Wat kan die gevolge wees as ons onsself vertroetel, maar wat moet ons wel doen?
11 Daar bestaan ook die gevaar dat ons onsself kan vertroetel. Ons kan ons maklik daarvan oortuig dat ’n ligte hoofpyn of soortgelyke probleem erger is as wat dit werklik is. Ons onvolmaakte vlees kan maak dat ons dit as verskoning gebruik om ’n verantwoordelikheid, soos ’n toespraak in die Teokratiese Bedieningskool, te ontduik. Maar is dit moontlik dat ons nooit sou toelaat dat dieselfde ongesteldheid ons van deelname aan die een of ander vorm van ontspanning weerhou nie? Ons moet natuurlik goeie oordeel aan die dag lê en nie ernstige simptome lig opneem nie. Nietemin moet ons al ons kragte inspan (Lukas 13:24, NAV). En geloof moet beslis ’n belangrike rol speel in ons besluite sodat ons nie net ‘deur aanskouing wandel’ volgens ons eie oordeel nie.—Romeine 12:1-3.
12. In watter soort stryd is ons gewikkel, en watter gesindheid vereis dit van ons?
12 Moet nooit vergeet dat ons in ’n stryd teen bose geeste gewikkel is nie (Efesiërs 6:11-18). Ons groot vyand, Satan die Duiwel, kan geweldige invloede op ons uitoefen deur middel van sy wapens wat bedoel is om ons geloof in Jehovah te vernietig. Satan sal ’n beroep doen op elke selfsugtige neiging in mense en sal van elke oorredingsmiddel gebruik maak om ons denke te vertroebel. As ons verbonde is aan “die oorblywendes” van “die saad” van God se “vrou”, of hemelse organisasie, is ons in ’n oorlog. Dit is een waarvan daar geen verlof kan wees totdat Jehovah, wat ons versterk om die sataniese aanval te weerstaan, die Duiwel se ganse organisasie te gronde rig nie (Openbaring 12:16, 17, NW; 1 Petrus 5:6-11). Moet ons dan nou moedig wees en met ’n gevoel van dringendheid werk? Ons moet gewis!—Psalm 31:25.
Wat dit beteken om ‘deur geloof te wandel’
13. Wat beteken dit om ‘deur geloof te wandel’?
13 Wanneer ons ‘deur geloof wandel’, beteken dit dat ons deur moeilike toestande heen beweeg met geloof in God, in sy vermoë om ons voetstappe te rig en in sy bereidwilligheid om ons na veiligheid te bring (Psalm 22:4-6; Hebreërs 11:6). Dit beteken dat ons ons nie deur die blote skyn van dinge of deur menseredenasie alleen laat lei nie. Geloof sal ons laat wandel in die rigting wat Jehovah aandui, hoe moeilik die pad ook al is. As ons ‘deur geloof wandel’, sal ons soos Dawid wees, wat van God gesê het: “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig” (Psalm 16:11). As ons toelaat dat Jehovah ons voetstappe rig, sal hy ons gemoedsrus gee en ons help om die oorwinning te behaal, hoe ongelyk die stryd ook al is (Johannes 16:33; Filippense 4:6, 7). As ons ‘deur geloof wandel’, sal ons ook gereeld saam met ons geestelike broers en susters vergader vir gesamentlike Bybelstudie en gebed.—Hebreërs 10:24, 25.
14, 15. (a) Wat was Jesus se beskouing van rykdom, aansien en betrokkenheid by die politiek? (b) Hoe het Jesus God se leiding beskou, soos blyk uit die Skrif?
14 Wanneer ons ‘deur geloof wandel’, word ons in werklikheid ook die metgeselle van Jehovah se getroue knegte van die verlede. Die vernaamste onder hulle was Jesus Christus, “die Leidsman en Voleinder van die geloof”. Wat vind ons wanneer ons ‘sy voetstappe navolg’?—Hebreërs 12:1-3; 1 Petrus 2:21.
15 Jesus het nooit by wêreldlike politiek betrokke geraak nie en het nie rykdom en aansien nagejaag soos so baie ander nie. Hy het eerder daarop gewys dat sy Koninkryk “nie van hierdie wêreld” is nie. En hy was allermins ’n materialis, want hy het ‘geen plek gehad waar hy sy hoof kon neerlê nie’ (Johannes 6:14, 15; 18:36; Lukas 9:57, 58). Hoewel Jesus ’n volmaakte verstand gehad het, het hy nie onafhanklik opgetree nie maar hom op sy hemelse Vader verlaat vir leiding.—Johannes 8:28, 29.
16. Wat kan, met die oog op Jesus se voorbeeld, oor die gesindheid van Jehovah se Getuies gesê word?
16 Wat kan, met die oog op Jesus se voorbeeld, vandag van Jehovah se Getuies gesê word? Wel, as voorstanders van God se hemelse Koninkryk eerbiedig ons die goewermentele “hoëre owerhede”, maar bly ons neutraal in politieke aangeleenthede (Romeine 13:1-7; Mattheüs 6:9, 10; Johannes 17:16). Ons streef ook nie na rykdom en aansien in hierdie wêreld nie, maar “soek eers die koninkryk”, vol vertroue dat Jehovah in die lewensbehoeftes sal voorsien (Mattheüs 6:24-34; Psalm 37:25). En soos Jesus ‘steun ons nie op ons eie insig nie’, maar aanvaar ons dankbaar die leiding van ons liefdevolle God (Spreuke 3:5, 6). Dit alles help ons beslis om ‘deur geloof te wandel’.
Toetse en seëninge
17. Wat moet Jehovah se volk verduur wanneer hulle ‘deur geloof wandel’? Lig dit asseblief toe.
17 In baie lande moet ons medegetuies van Jehovah buitengewone ongerief en beproewinge, selfs wrede vervolging, verduur terwyl hulle ‘deur geloof wandel’. Gelooftoetse kan natuurlik verskillende vorme aanneem. Beskou byvoorbeeld die moeilikhede en getroue diens van een bejaarde Ecuadoriaanse broer. Hy het op die ouderdom van 80 met die waarheid in aanraking gekom, waarna hy geleer het om te lees en te skryf. Twee jaar later is hy gedoop. Omdat hy in die bos gewoon het, moes hy drie uur loop om by die Koninkryksaal te kom. Sy geopponeerde vrou het gereeld sy klere en geld weggesteek om te verhinder dat hy Christelike vergaderinge bywoon. Maar hierdie probleme het nie die getroue broer oorweldig nie. Hy het tien jaar lank elke maand as ’n tydelike pionier, of hulppionier, gedien en in baie dorpies gepreek, waar die inwoners hom dikwels sleg behandel het. Toe pioniers en sendelinge egter later in daardie gebiede getuig het, het baie mense hulle genader en Bybelstudies gevra. Die harde werk van hierdie ywerige broer het dus goeie vrugte afgewerp. Hy is in die ouderdom van 92 jaar aan kanker oorlede, maar het 40 uur aan die bediening bestee gedurende die maand waarin hy dood is.
18. (a) Wat moet ons doen as ons God se guns wil geniet? (b) Watter beloninge sal ons ontvang as ons aanhou om ‘deur geloof te wandel en nie deur aanskouing nie’?
18 Ons moet ook volhard ondanks probleme en ontberinge (Mattheüs 24:13). As ons God se guns wil geniet, is dit noodsaaklik dat ons sy raad toepas, op hom vertrou en afgeskeie bly van die wêreld, wêreldse gesindhede en wêreldse weë (Psalm 37:5; 1 Korinthiërs 2:12; Jakobus 1:27). Laat ons dan ons Voorbeeld, Jesus Christus, navolg. Laat ons selfopofferend wees, gewillig om ons in Jehovah se glorieryke diens in te span. Dan sal ons met vertroue kan uitsien na die vervulling van ons hemelse Vader se wonderlike beloftes aan sy lojale aanbidders. En tot watter heerlike seëninge sal dit tog nie in sy beloofde Nuwe Orde lei nie! Die feit dat ons ‘deur geloof wandel en nie deur aanskouing nie’, sal bowenal beteken dat ons die beloning ontvang om deel te hê aan die regverdiging van Jehovah se universele soewereiniteit.
Onthou jy?
◻ Watter gevare hou dit in om ‘deur aanskouing te wandel’?
◻ Watter waarskuwing bied die ondervinding van die Israeliete vir Jehovah se hedendaagse volk?
◻ Wat moet ons doen in plaas van onsself te vertroetel?
◻ Wat sal ons doen as ons ‘deur geloof wandel’?
[Prente op bladsy 12]
Is jy en jou gesin dikwels op pad na die een of ander ontspanningsoord terwyl medegetuies van Jehovah aan teokratiese bedrywighede deelneem?
[Prent op bladsy 14]
Jesus Christus het vir ons ’n uitmuntende voorbeeld gestel. Wandel jy, soos hy, “deur geloof”?