Titus—“’n Medewerker in julle belang”
PROBLEME het soms in die eerste-eeuse Christengemeente ontstaan. Dit moes opgelos word en het moed en gehoorsaamheid geverg. Titus was ’n man wat meer as een van hierdie uitdagings die hoof gebied het. As iemand wat saam met die apostel Paulus gewerk het, het hy hom beywer om ander te help om dinge op Jehovah se manier te doen. Paulus het gevolglik vir Christene in Korinte gesê dat Titus ‘’n medewerker in hulle belang’ was.—2 Korintiërs 8:23.
Wie was Titus? Hoe het hy probleme help oplos? En hoe kan ons daarby baat vind as ons sy handelswyse ondersoek?
Die besnydeniskwessie
Titus was ’n onbesnede Griek (Galasiërs 2:3).a Aangesien Paulus hom “’n ware kind volgens ’n gemeenskaplike geloof” noem, was Titus moontlik een van die apostel se geestelike kinders. (Titus 1:4; vergelyk 1 Timoteus 1:2.) Titus was saam met Paulus, Barnabas en ander van Antiogië, Sirië, toe hulle omstreeks 49 G.J. na Jerusalem gegaan het om die vraag oor die besnydenis te bespreek.—Handelinge 15:1, 2; Galasiërs 2:1.
Aangesien die bespreking in Jerusalem oor die bekering van onbesnede nie-Jode gehandel het, is daar al gesê dat Titus saamgeneem is om te toon dat Jode en nie-Jode God se guns kon verkry, ongeag of hulle besny was of nie. Party lede van die Jerusalem-gemeente wat Fariseërs was voordat hulle die Christelike geloof aangeneem het, het geredeneer dat nie-Joodse bekeerlinge besny moes word en die Wet moes onderhou, maar hierdie argument is teëgestaan. Om Titus en ander nie-Jode te dwing om besny te word, sou dieselfde wees as om te ontken dat redding van Jehovah se onverdiende goedhartigheid en van geloof in Jesus Christus afhang en nie van werke van die Wet nie. Dit sou ook ’n verwerping van getuienis wees dat nie-Jode, of mense van die nasies, God se heilige gees ontvang het.—Handelinge 15:5-12.
Na Korinte toe gestuur
Toe die besnydeniskwessie opgelos is, het Paulus en Barnabas die opdrag gekry om vir die nasies te preek. Hulle het terselfdertyd ook die armes in gedagte gehou (Galasiërs 2:9, 10). Trouens, wanneer Titus ongeveer ses jaar later weer in die geïnspireerde verslag verskyn, is hy in Korinte as Paulus se gesant om die insameling vir die heiliges te reël. Terwyl Titus egter met hierdie werk besig was, het hy hom in nog ’n spanningsvolle situasie bevind.
Paulus se brief aan die Korintiërs toon dat hy aanvanklik aan hulle geskryf het om “op te hou om met hoereerders om te gaan”. Hy het vir hulle gesê dat hulle ’n onberouvolle hoereerder uit hulle midde moes verwyder. Ja, Paulus het aan hulle ’n kragtige brief geskryf, en hy het dit “met baie trane” gedoen (1 Korintiërs 5:9-13; 2 Korintiërs 2:4). Titus is intussen na Korinte toe gestuur om te help met die insameling wat daar vir die behoeftige Judese Christene gedoen is. Hy is moontlik ook gestuur om te sien hoe die Korintiërs op Paulus se brief reageer.—2 Korintiërs 8:1-6.
Hoe sou die Korintiërs op Paulus se raad reageer? Paulus was gretig om uit te vind en het Titus moontlik van Efese oor die Egeïese See na Korinte gestuur, met die opdrag om so gou moontlik aan hom verslag te doen. As hierdie sending voltooi is voordat skeepvaart vir die winter (in ongeveer middel-November) opgehou het, kon Titus per skip na Troas gegaan het of die langer roete oor land via die Hellespont gevolg het. Paulus het waarskynlik vroeër by die afgesproke vergaderplek in Troas aangekom, aangesien die oproer wat deur die silwersmede veroorsaak is daartoe gelei het dat hy Efese gouer verlaat het as wat hy verwag het. Nadat Paulus angstig in Troas gewag het, het hy besef dat Titus nie per skip sou kom nie. Gevolglik het Paulus oor land gegaan in die hoop dat hy hom langs die pad sou ontmoet. Toe Paulus eers op Europese grond was, het hy waarskynlik die Via Egnatia gevolg en Titus uiteindelik in Masedonië teëgekom. Tot Paulus se groot verligting en vreugde het hy goeie nuus uit Korinte ontvang. Die gemeente het gunstig op die apostel se raad gereageer.—2 Korintiërs 2:12, 13; 7:5-7.
Hoewel Paulus bekommerd was oor die soort verwelkoming wat sy gesant sou ontvang, het God Titus gehelp om sy opdrag uit te voer. Titus is met “vrees en bewing” ontvang (2 Korintiërs 7:8-15). Om die woorde van die kommentator W. D. Thomas te gebruik: “Ons kan aanneem dat [Titus] op vaardige en taktvolle wyse by die Korintiërs gepleit het sonder om die krag van Paulus se bestrawwing af te water; en hy het hulle verseker dat Paulus, toe hy hulle so aangespreek het, slegs hulle geestelike welsyn in gedagte gehad het.” Titus het die Korintiese Christene begin liefkry vanweë hulle gehoorsame gees en positiewe veranderinge. Hulle prysenswaardige gesindheid was vir hom ’n bron van aanmoediging.
Wat van die ander aspek van Titus se sending na Korinte—om die insameling vir die heiliges in Judea te reël? Titus was ook daarmee besig, soos ons kan aflei uit die inligting wat in 2 Korintiërs gevind word. Daardie brief is heel moontlik tydens die herfs van 55 G.J. in Masedonië geskryf, kort nadat Titus en Paulus ontmoet het. Paulus het geskryf dat Titus, wat die insameling aan die gang gesit het, nou saam met twee helpers, wie se name nie genoem word nie, teruggestuur word om dit te voltooi. Omdat Titus opreg in die Korintiërs belanggestel het, was hy baie gewillig om terug te gaan. Terwyl Titus na Korinte op pad was, het hy waarskynlik Paulus se tweede geïnspireerde brief aan die Korintiërs by hom gehad.—2 Korintiërs 8:6, 17, 18, 22.
Titus was nie net ’n goeie organiseerder nie, maar hy was ook die soort man wat met delikate opdragte in moeilike situasies toevertrou kon word. Hy was moedig, volwasse en standvastig. Paulus het blykbaar gemeen dat Titus die voortgesette uitdagings van Korinte se “uitnemende apostels” die hoof sou kon bied (2 Korintiërs 11:5). Hierdie indruk van Titus word bevestig die volgende keer wat hy in die Skrif gemeld word, in nog ’n veeleisende toewysing.
Op die eiland Kreta
Paulus het moontlik iewers tussen 61 en 64 G.J. aan Titus geskryf, wat destyds op die Mediterreense eiland Kreta gedien het. Paulus het hom daar agtergelaat om ‘die dinge wat gebrekkig was reg te stel’ en om ‘in stad na stad ouer manne aan te stel’. Oor die algemeen het die Kretensers die reputasie gehad dat hulle “leuenaars, skadelike wilde diere, werklose vrate” was. In Kreta sou Titus derhalwe weer met moed en fermheid moes optree (Titus 1:5, 10-12). Dit was ’n baie verantwoordelike taak, want dit sou waarskynlik die toekoms van die Christelike geloof op die eiland bepaal. Onder inspirasie het Paulus Titus gehelp deur in besonderhede te sê waarna daar in potensiële opsieners gesoek moes word. Daardie kwalifikasies word vandag nog in ag geneem wanneer Christen- ouer manne aangestel word.
Die Skrif sê nie wanneer Titus Kreta verlaat het nie. Hy was lank genoeg daar sodat Paulus hom gevra het om in die behoeftes te voorsien van Senas en Apollos, wat op die een of ander onbepaalde tyd op hulle reis daar sou aandoen. Maar Titus sou nie baie lank op die eiland wees nie. Paulus was van plan om Artemas of Tigikus daarheen te stuur, en dan sou Titus die apostel in Nikopolis ontmoet, waarskynlik die vername stad met daardie naam wat in die noordweste van Griekeland geleë is.—Titus 3:12, 13.
Die Bybel se laaste, vlugtige verwysing na Titus toon vir ons dat Paulus hom omstreeks 65 G.J. op nog ’n toewysing gestuur het. Dit het hom na Dalmasië geneem, ’n gebied oos van die Adriatiese See in die hedendaagse Kroasië (2 Timoteus 4:10). Daar word nie vir ons gesê wat Titus daar moes gaan doen nie, maar na bewering is hy daarheen gestuur om gemeentelike aangeleenthede te reël en aan sendingbedrywighede deel te neem. Indien wel, sou Titus in ’n soortgelyke hoedanigheid opgetree het as toe hy in Kreta was.
Hoe dankbaar is ons tog vir ervare Christenopsieners soos Titus! Hulle duidelike begrip van skriftuurlike beginsels en hulle moedige toepassing daarvan help om die geestelikheid van die gemeente te beskerm. Laat ons hulle geloof navolg en soos Titus wees deur die geestelike belange van ons medegelowiges te bevorder.—Hebreërs 13:7.
[Voetnote]
a Galasiërs 2:3 sê dat Titus ’n Griek (Helʹlen) was. Dit beteken moontlik dat hy van Griekse herkoms was. Maar daar word beweer dat party Griekse skrywers die meervoudsvorm (Helʹle·nes) gebruik het om na nie-Grieke te verwys wat in taal en kultuur Grieks was. Dit is moontlik dat Titus in hierdie sin Grieks was.
[Prent op bladsy 31]
Titus was ’n moedige medewerker in die belang van Christene in Korinte en op ander plekke