Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 4/15 bl. 24-26
  • Titus pak ’n moeilike taak aan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Titus pak ’n moeilike taak aan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe dinge reggemaak moes word
  • Die aanstelling van opsieners
  • Beklemtoon regte begeertes
  • Ons moet op ons woorde let
  • Werke wat God behaag
  • Behou die regte gesindheid
  • Bybelboek nommer 56—Titus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Titus—“’n Medewerker in julle belang”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Bly gesond in die geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 4/15 bl. 24-26

Titus pak ’n moeilike taak aan

“AAN TITUS, my ware kind volgens die gemeenskaplike geloof.” Hierdie woorde moes Titus se hart verbly het toe hy ’n opdragbrief begin lees het wat die apostel Paulus aan hom geskryf het. Hy is in Kreta gelaat om as ’n reisende opsiener te dien en die verskillende gemeentes te besoek. Titus het bewys van sy opregtheid gelewer en was dus bekwaam vir die verantwoordelikhede wat aan hom toevertrou is.—Titus 1:3.

Sowat 12 of meer jaar tevore het Paulus Titus na Jerusalem geneem. Hierdie “ware”, onbesnede Griekse Christen was ongetwyfeld aanwesig toe die apostels en ouere manne die regte gevolgtrekking oor die besnydenisgeskil gemaak het. Nadat hulle ’n klomp getuienis oorweeg het, het hulle besluit dat dit nie vir nie-Joodse Christene, soos Titus, nodig was om besny te word en al die vereistes in die Wet van Moses na te kom nie. Watter geloofversterkende ondervinding moes dit tog gewees het om daardie geskiedkundige vergadering by te woon!—Handelinge 15:1-29; Galasiërs 2:1-3.

Maar in Kreta was daar manne wat aan die gemeentes verbonde was wat steeds “die besnydenis” aangehang het. Hulle het met die bestuursliggaam in Jerusalem verskil. In plaas daai sulke menings vir hulself te hou, het hierdie ‘tugtelose’ manne geleer dat besnydenis nodig was vir redding. Nog erger, hierdie manne wat ‘onsin gepraat’ het, was voorstanders van “Joodse fabels” en gebooie wat nie in die Wet van Moses aangetref is nie. Hierdie “verleiers” het die geloof van “hele huise” onderstebo gekeer. Die gemeentes in Kreta is deur verdeeldheid bedreig.—Titus 1:10, 11, 14.

Nog ’n bedreiging was die berugte milieu waaruit Kretiese Christene gekom het. ’n Kretiese profeet het erken: “Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike.” Soos hierdie uitdrukking getoon het, was die Kretense soos wilde diere wat vermink en doodmaak; hulle het behae daarin geskep om ander se reputasie deur valse skinderstories te verskeur. Sulke slegte eienskappe het die Christengemeentes op Kreta binnegesypel.—Titus 1:12; 3:2.

In sy brief het Paulus duidelik uiteengesit hoe hierdie probleme hanteer moes word. Titus moes in twee belangrike behoeftes voorsien: “Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy [1] nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en [2] van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het.”—Titus 1:5.

Hoe dinge reggemaak moes word

Dit was ’n moeilike opdrag. Titus moes ’n standpunt vir die waarheid inneem en “vashou aan die betroubare woord” ten spyte van onrusstokers. Party sou hom verag en sy gesag in twyfel trek. Maar Titus het teokratiese ondersteuning gehad. Hy kon wys op ’n opdragbrief wat sê: “Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns. Laat niemand jou verag nie.”—Titus 1:9; 2:15.

Gestel iemand het die teregwysing verwerp en simpatie by ander in die gemeente gesoek? Sulke persone sou barmhartig ’n “eerste en tweede vermaning” ontvang. Indien dit nie gehelp het nie, is Titus beveel: ‘Onttrek jou aan hom.’ Dit beteken dat hy uitgesit moes word.—Titus 3:10, 11.

Weens die sorglose atmosfeer het party Kretiese Christene raad nie ernstig opgeneem nie. Titus moes “hulle skerp bestraf. Selfs bejaarde broers moes daaraan herinner word om “nugter” en “waardig” te wees.—Titus 1:13; 2:2.

Die aanstelling van opsieners

Die gemeentes in Kreta het goeie toesig nodig gehad. Moes Titus die invloedrykste lid kies en hom as ’n “priester” oor die gemeente orden? Nee, sy instruksies was om “in stad na stad ouere manne” aan te stel. Dit beteken dat hy moes sorg dat ’n liggaam van ouere manne aangestel word om oor die gemeente se bedrywighede toesig te hou.—Titus 1:5, NW.

Paulus meld ’n aantal vereistes wat Titus moes lei wanneer hy hierdie opsieners gekies het. Dit gaan om gedrag. Die eerste vereiste was dat ’n man “onberispelik” moes wees. Hoewel ’n hoë geleerdheid nie ’n vereiste was nie, moes hierdie manne God se “woord” ken en getrou daarby bly wanneer hulle ander geleer en ‘teësprekers weerlê’ het. Hierdie vereistes is net so belangrik wanneer manne vandag vir posisies van toesig oorweeg word. Paulus het byvoorbeeld geskryf: “’n Opsiener moet . . . lojaal wees.” Sulke lojaliteit word geopenbaar deur ‘vas te hou aan die betroubare woord’ soos dit in die publikasies van Jehovah se hedendaagse Christenorganisasie verduidelik word.—Titus 1:6-9, vgl. NW.

Daar was ander belangrike sake wat Titus voortdurend ‘beslis moes bevestig’ (Titus 3:8). Hierdie dinge kan in vier groepe verdeel word—begeertes, woorde, werke en gesindheid.

Beklemtoon regte begeertes

Paulus meld “die hoop van die ewige lewe” twee keer in sy brief aan Titus. Ons kan met veiligheid ons harte op hierdie hoop stel, want “God, wat nie kan lieg nie”, het dit beloof (Titus 1:2; 3:7). Hoe inkonsekwent en gevaarlik sou dit andersyds wees om toe te laat dat “wêreldse begeerlikhede” hierdie “salige hoop” in verband met “die verskyning van die heerlikheid . . . van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus”, verdring.—Titus 2:11-14.

Hierdie “verskyning” van God se heerlikheid deur ons Verlosser, Christus Jesus, is ophande. Daardie verskyning sal gepaard gaan met die vernietiging van die hele goddelose stelsel en almal wat hulle lewens gebou het om die materiële en sinlike verlokkings daarvan. Hoe belangrik is dit dus tog dat ons “wêreldse begeerlikhede . . . verloën”, ja, met wortel en tak uit ons harte uitroei, sodat ons “vroom in die teenwoordige wêreld [kan] lewe”!—Titus 2:11-14.

Ons moet op ons woorde let

Die uitdrukkings “onsin praat”, “leuenaars”, “teëpraat”, “belaster” en “dwase strydvrae” toon dat die tong op die eiland Kreta misbruik is. Dit was selfs vir Titus nodig om bejaarde susters te waarsku om nie “kwaadspreeksters” te wees nie. Dieselfde raad is vandag nodig.—Titus 1:10, 12; 2:3, 9; 3:2, 9.

In een gemeente was daar byvoorbeeld ’n bejaarde suster wat ywerig in die velddiens was, maar die neiging gehad het om kwaad te spreek oor haar volwasse, toegewyde kinders en haar ongelowige man. Sonder om haar naam te noem, was dit nodig dat een van die ouere manne ’n toespraak oor hierdie saak voor die gemeente hou. Het ons waarlik die reg om van enige lewende mens kwaad te spreek? Paulus se geïnspireerde brief aan Titus antwoord: “Moet van niemand kwaadpraat nie.” Christene moet hulle eerder daarop toelê om woorde te spreek wat “gesond en onweerspreeklik” is.—Titus 3:2, NTP; 2:8.

Werke wat God behaag

“Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke” (Titus 1:16). Onrusstokers in die Kretiese gemeentes het aan hierdie beskrywing voldoen. Paulus beklemtoon daarenteen vier keer die nodigheid vir “goeie werke” (Titus 2:7, 14; 3:8, 14). Paulus, wat ’n voorbeeld gestel het in die allerbeste werk, het gepraat van “die prediking wat aan my toevertrou is” (Titus 1:3). Jesus het hierdie belangrike werk aan al sy volgelinge toevertrou; dit moet dus hoog bo-aan ons lys gereelde “goeie werke” wees.—Mattheüs 28:19, 20.

“Goeie werke” sal ook vaders se pogings om “gelowige kinders” groot te maak, insluit. Vir eggenotes sal dit onder meer beteken dat hulle “huislik, . . . aan hul eie mans onderdanig [moet wees], sodat die woord van God nie belaster word nie”. Al is diegene wat sekulêre werk doen nie slawe nie, sal hulle die beginsel in Titus 2:9, 10 toepas deur hulle werkgewers eerbiedig te gehoorsaam. Daar word ook van Christene verwag om “onderdanig te wees aan owerhede en magte” en “bereid tot elke goeie werk” te wees.—Titus 1:6; 2:5; 3:1.

Behou die regte gesindheid

Kretiese Christene moes die regte gesindheid teenoor wêreldlike sondaars behou deur hulle nie te belaster nie, maar deur “aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys”. Ons moet vandag dieselfde doen. Anders sal ons pogings om hulle te help om die Koninkryksboodskap aan te neem, misluk. En net soos in antieke Kreta moet ons oppas met wie ons assosieer. Hoe anders kan ons gehoorsaam wees aan die bevel om “wêreldse begeerlikhede te verloën . . . en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe”?—Titus 3:2; 2:12.

“Ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ’n dwaalweg”, het die apostel Paulus gesê. Was Jehovah verplig om ons uit hierdie sondige toestand te red? Nee, dit was “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid dat Hy ons gered” het. Deur in Christus se vergote bloed te glo, kan Christene vergifnis vir sondes van die verlede ontvang en die wonderlike “hoop van die ewige lewe” verkry. Dit is voortreflike “genade” en ’n kragtige rede om verkeerde begeertes te vermy en heilsame woorde te spreek, goeie werke te verrig en ’n barmhartige gesindheid teenoor ons naaste te openbaar.—Titus 3:3-7.

Hoe dankbaar moes Titus tog gewees het oor hierdie liefdevolle hulp in sy moeilike toewysing! Hy het ongetwyfeld Paulus se brief dikwels gelees, en baie maal daaruit aangehaal wanneer hy onderrig en raad gegee het. Miljoene gebruik hierdie geïnspireerde brief op soortgelyke wyse met groot voordeel vir hulself en ander. Die inhoud daarvan is inderdaad goed en nuttig.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel